5 Jan 2014 (GKE) Gen. 11:27 – 12:9 tv Gen. 12:3b
Sing
Lofsang: Ps. 91-1:1 & 6
Na
wet: Ps. 99-1 v 1 & 5
Na
gebed Sb. 15-7 v 4 & 5
Slotsang Ps. 46-1 v 1
& 6
Inleiding
2014
lê uitgestrek voor ons. Kenners gee oorsigte oor wat ons in die komende jaar
kan verwag, maar een ding is seker, ons nie weet wat die jaar vir ons gaan
inhou nie! Hoe beplan mens die jaar as die enigste sekerheid wat jy het is dat
jy nie regtig weet wat in hierdie jaar vir jou voorlê nie? Die enigste sinvolle
manier is om te glo dat jy hulp sal ontvang om wat ook al oor jou pad kom te
kan hanteer. Jy moet jou vertroue op iets of iemand stel sodat jy die storms
wat gaan kom, sal kan hanteer.
Ten
spyte daarvan dat ons nie regtig weet wat in die jaar vir ons voorlê nie, het
ons tog sekere doelwitte wat ons in die komende jaar wil bereik. Ons kinders
wil die volgende standerd in die skool deurkom en vir sommige lê die finale
skooljaar voor. Ander wil begin met universiteit of selfs ’n werk. Party van
ons grootmense het baie spesifieke doelwitte wat ons wil bereik terwyl daar ook
van ons is wat weet dat ek teen die einde van die jaar nie presies dieselfde
mens gaan wees wat ek nou is nie. Ek gaan ouer wees en hopelik sal ek so
bietjie meer lewenswysheid hê.
Vertrou
op die Here
Ek
wonder wat in Abram se gemoed omgegaan het toe die Here vir hom gesê het:
“Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou
familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
In
die verhaal hier in Genesis 12 hoor ons egter nie wat in Abram se gemoed
omgegaan het nie. Wat ons wel weet is dat hy gehoorsaam was aan die Here en dat
hy op Hom vertrou het op die onbekende pad wat vir hom voorgelê het.
Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord
van die Here, en Lot het saam met hom getrek.
Voor
hierdie ontmoeting met God het Abram Hom nie geken nie. Abram is een van die
geloofshelde waarvan daar meer as 300 keer melding gemaak word in die Bybel.
Ons vergeet dus maklik dat hy eers op 75 jarige ouderdom die Here leer ken het.
Hy het groot geword in ’n huis waarin sy pa Tera afgode aanbid het,
heelwaarskynlik die maangod Sin wat in Ur sowel as in Haran vereer is. Dink net
hoe aangrypend hierdie roeping van ’n God was wat vir Abram tot op daardie stadium
onbekend was.
Die
Here kom met twee spesifieke opdragte na Abram toe gekoppel aan sekere beloftes
by elkeen. Die eerste opdrag was:
Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou
familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
Die
Here het met hierdie roeping van Abram ’n baie spesifieke doel gehad. Sy
gehoorsaamheid het ’n groot seën tot gevolg gehad. Die drie beloftes wat met
hierdie roeping gepaard gegaan het was
i. ’n Groot nageslag
ii. ’n seëning vir Abram en
iii. dat die Here hom ’n man van groot betekenis sou
maak.
Die
gehoorsaamheid aan die eerste opdrag het hom in staat gestel om die tweede
opdrag na te kom:
jy moet tot ’n seën wees
Weereens
is daar drie beloftes:
i. Ek sal seën wie jou seën
ii. hom vervloek wat jou vervloek
iii. In jou sal al die volke van die aarde geseën
wees.
Met
ander woorde, as Abram die Here vertrou sal die Here hom in staat stel om die
opdrag na te kom. Dit is dus nie Abram wat seën uitdeel nie, dit kom van die
Here af. Verder sal die Here hom beskerm teen vyande wat hom vervloek. Hy wil
Abram as instrument gebruik om sy seën na die mensdom te bring.
Ons
kan hierdie roeping van Abraham soos volg opsom: God sê vir Abram “vertrou
My want Ek wil jou gebruik om My seën op die mensdom uit te stort.” Dink
net bietjie na oor hoe ’n groot besluit dit vir Abram moes gewees het. Hy moes
alles wat vir hom bekend was agterlaat en ’n nuwe begin aanpak. Verder het hy
ook nie presies geweet waarheen hy op pad was nie en dit in opdrag van ’n God
wat hy tot nou toe nog nie geken het nie! Hoe sou jy reageer het as jy in Abram
se skoene was?
Abram
se reaksie wys vir ons wat ’n ware geloof is. Hy het die Here vertrou soos ons
hoor in Gen. 12:4-5:
Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord
van die Here, en Lot het saam met hom getrek. Abram was vyf en sewentig toe hy
uit Haran weggetrek het. Hy het sy vrou Sarai en sy broerskind Lot en al die
besittings wat hulle bymekaargemaak het en al die slawe wat hulle in Haran
aangeskaf het, saamgevat en hulle het weggetrek na Kanaän toe.
In
Heb. 11:1 verduidelik die Here vir ons wat geloof is:
Om te glo , is om seker te wees van die dinge wat
ons hoop , om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Dit
is wat Abram gedoen het soos ons hoor in Heb. 11:8
Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe
God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou
ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.
Toe
Abram wel by sy bestemming uitgekom het, het hy met ’n skok ontdek dat die land
reeds deur die Kanaäniete bewoon is. Die Here het hom egter gerusgestel soos
ons hoor in Gen. 12:7
“Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.”
Aan
hierdie belofte het Abram vasgehou. Die Here se tydsberekening werk baie maal
anders as ons sin. Abram het vasgehou aan God se belofte sonder om te sien hoe
dit vervul is soos ons hoor in Heb. 11:13
Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense
gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte
gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs
vreemdelinge en bywoners is.
Dit
is wat dit beteken om die Here te vertrou. Ons sien nie altyd die groter
prentjie waarmee Hy besig is nie. Ons moet egter doen waarvoor Hy ons roep met
die vaste vertroue dat Hy ook met dit wat Hy van ons vra, besig is om sy doel
te bereik.
Wees
’n seën vir die volke van die aarde.
Hoe
het Abram gehoor gegee aan die opdrag van die Here om ’n seën te wees vir die
volke van die aarde? Hy het gedoen wat die Here van hom gevra het. Hy het geglo
en daardie geloof uitgeleef. Toe hy by die Kanaäniete se aanbiddingsplek in
Sigem aangekom het, het hy ’n altaar vir die Here gebou. Met ander woorde hy
het die Here se naam uitgedra te midde van die afgodsdiens in daardie land. Toe
hy by Bet-El kom, het hy dit weer gedoen.
Wat
was die Here se groter doel wat Abram nie gesien het nie? Uit sy nageslag is
die Verlosser amper 2 000 jaar later gebore wat sou kom om die Koninkryk
van God weer te vestig om sodoende die wêreld wat deur die vyand ingeneem is,
terug te neem vir God. Abram het met sy altare wat hy opgerig het, begin om
Kanaän terug te neem van die heidense afgodsaanbidding. Selfs dit het Abram nie
in sy leeftyd gesien nie. Die seën wat die Here deur Abram gebring het, is dat
die uitverkore kinders van God weer deur Jesus Christus na God toe gebring
word.
Ons
opdrag vir 2014
Wat
sê hierdie roeping en seën van Abram vir ons vir die jaar wat voorlê? Die Here
se opdrag aan Abram was: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou
familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.” Met ander woorde:
“vertrou My en kom weg van die heidense invloed op jou lewe.”
Wat
is die Here se roeping vir ons? “Vertrou My en kom weg van die wêreldse manier
van dink waarin julle vasgevang is. Maak julle los van die najaag na wêreldse
goed en besittings.” Is ons bereid om die Here te vertrou op die onbekende pad
wat in 2014 vir ons voorlê? Is ons bereid om ons los te maak van die wêreldse
invloed in ons lewens?
Die
tweede opdrag aan Abram was om ’n seën te wees. Hy was ’n seën deurdat hy die
Here se naam aangeroep en uitgedra het te midde van die heidense wêreld om hom.
So het hy die Here se aanspraak op sy eiendom help vestig. Deur sy
gehoorsaamheid is die Verlosser uit sy nageslag gebore.
Wat
is die Here se tweede opdrag aan ons? Jesus se laaste opdrag aan sy kerk voor
Hy opgevaar het, was: (Mat 28:19-20)
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my
dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige
Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek
is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Hoe
gaan die Gereformeerde Kerk in Empangeni ’n verskil in hierdie wêreld maak in
2014? Gaan ons die Here vertrou, selfs met die wete dat ons nie noodwendig enige
resultate op ons werk gaan sien nie? Gaan ons wegbreek van die wêreldse manier
van doen en dink? Gaan ons ’n seën vir die wêreld in 2014 wees? Gaan ons soos
Abram ook gehoorsaam aan die Here se roeping wees?
Kom
ons Vertrou op die Here in 2014 sodat ons vir ander ’n seën kan wees.
Amen