12 Januarie 2014

Vertrou op die Here in 2014 sodat ons vir ander ’n seën kan wees

5 Jan 2014 (GKE) Gen. 11:27 – 12:9 tv Gen. 12:3b
Sing    Lofsang: Ps. 91-1:1 & 6
           Na wet:    Ps. 99-1 v 1  & 5
           Na gebed Sb. 15-7 v 4 & 5
           Slotsang  Ps. 46-1 v 1 & 6
Inleiding
2014 lê uitgestrek voor ons. Kenners gee oorsigte oor wat ons in die komende jaar kan verwag, maar een ding is seker, ons nie weet wat die jaar vir ons gaan inhou nie! Hoe beplan mens die jaar as die enigste sekerheid wat jy het is dat jy nie regtig weet wat in hierdie jaar vir jou voorlê nie? Die enigste sinvolle manier is om te glo dat jy hulp sal ontvang om wat ook al oor jou pad kom te kan hanteer. Jy moet jou vertroue op iets of iemand stel sodat jy die storms wat gaan kom, sal kan hanteer.

Ten spyte daarvan dat ons nie regtig weet wat in die jaar vir ons voorlê nie, het ons tog sekere doelwitte wat ons in die komende jaar wil bereik. Ons kinders wil die volgende standerd in die skool deurkom en vir sommige lê die finale skooljaar voor. Ander wil begin met universiteit of selfs ’n werk. Party van ons grootmense het baie spesifieke doelwitte wat ons wil bereik terwyl daar ook van ons is wat weet dat ek teen die einde van die jaar nie presies dieselfde mens gaan wees wat ek nou is nie. Ek gaan ouer wees en hopelik sal ek so bietjie meer lewenswysheid hê.

Vertrou op die Here
Ek wonder wat in Abram se gemoed omgegaan het toe die Here vir hom gesê het:
“Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
In die verhaal hier in Genesis 12 hoor ons egter nie wat in Abram se gemoed omgegaan het nie. Wat ons wel weet is dat hy gehoorsaam was aan die Here en dat hy op Hom vertrou het op die onbekende pad wat vir hom voorgelê het.
Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek.

Voor hierdie ontmoeting met God het Abram Hom nie geken nie. Abram is een van die geloofshelde waarvan daar meer as 300 keer melding gemaak word in die Bybel. Ons vergeet dus maklik dat hy eers op 75 jarige ouderdom die Here leer ken het. Hy het groot geword in ’n huis waarin sy pa Tera afgode aanbid het, heelwaarskynlik die maangod Sin wat in Ur sowel as in Haran vereer is. Dink net hoe aangrypend hierdie roeping van ’n God was wat vir Abram tot op daardie stadium onbekend was.

Die Here kom met twee spesifieke opdragte na Abram toe gekoppel aan sekere beloftes by elkeen. Die eerste opdrag was:
Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
Die Here het met hierdie roeping van Abram ’n baie spesifieke doel gehad. Sy gehoorsaamheid het ’n groot seën tot gevolg gehad. Die drie beloftes wat met hierdie roeping gepaard gegaan het was
i.  ’n Groot nageslag
ii.  ’n seëning vir Abram en
iii. dat die Here hom ’n man van groot betekenis sou maak.

Die gehoorsaamheid aan die eerste opdrag het hom in staat gestel om die tweede opdrag na te kom:
jy moet tot ’n seën wees
Weereens is daar drie beloftes:
i.  Ek sal seën wie jou seën
ii.  hom vervloek wat jou vervloek
iii. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.
Met ander woorde, as Abram die Here vertrou sal die Here hom in staat stel om die opdrag na te kom. Dit is dus nie Abram wat seën uitdeel nie, dit kom van die Here af. Verder sal die Here hom beskerm teen vyande wat hom vervloek. Hy wil Abram as instrument gebruik om sy seën na die mensdom te bring.

Ons kan hierdie roeping van Abraham soos volg opsom: God sê vir Abram “vertrou My want Ek wil jou gebruik om My seën op die mensdom uit te stort.” Dink net bietjie na oor hoe ’n groot besluit dit vir Abram moes gewees het. Hy moes alles wat vir hom bekend was agterlaat en ’n nuwe begin aanpak. Verder het hy ook nie presies geweet waarheen hy op pad was nie en dit in opdrag van ’n God wat hy tot nou toe nog nie geken het nie! Hoe sou jy reageer het as jy in Abram se skoene was?

Abram se reaksie wys vir ons wat ’n ware geloof is. Hy het die Here vertrou soos ons hoor in Gen. 12:4-5:
Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek. Abram was vyf en sewentig toe hy uit Haran weggetrek het. Hy het sy vrou Sarai en sy broerskind Lot en al die besittings wat hulle bymekaargemaak het en al die slawe wat hulle in Haran aangeskaf het, saamgevat en hulle het weggetrek na Kanaän toe.
In Heb. 11:1 verduidelik die Here vir ons wat geloof is:
Om te glo , is om seker te wees van die dinge wat ons hoop , om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

Dit is wat Abram gedoen het soos ons hoor in Heb. 11:8
Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.
Toe Abram wel by sy bestemming uitgekom het, het hy met ’n skok ontdek dat die land reeds deur die Kanaäniete bewoon is. Die Here het hom egter gerusgestel soos ons hoor in Gen. 12:7
“Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.”

Aan hierdie belofte het Abram vasgehou. Die Here se tydsberekening werk baie maal anders as ons sin. Abram het vasgehou aan God se belofte sonder om te sien hoe dit vervul is soos ons hoor in Heb. 11:13
Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.
Dit is wat dit beteken om die Here te vertrou. Ons sien nie altyd die groter prentjie waarmee Hy besig is nie. Ons moet egter doen waarvoor Hy ons roep met die vaste vertroue dat Hy ook met dit wat Hy van ons vra, besig is om sy doel te bereik.

Wees ’n seën vir die volke van die aarde.
Hoe het Abram gehoor gegee aan die opdrag van die Here om ’n seën te wees vir die volke van die aarde? Hy het gedoen wat die Here van hom gevra het. Hy het geglo en daardie geloof uitgeleef. Toe hy by die Kanaäniete se aanbiddingsplek in Sigem aangekom het, het hy ’n altaar vir die Here gebou. Met ander woorde hy het die Here se naam uitgedra te midde van die afgodsdiens in daardie land. Toe hy by Bet-El kom, het hy dit weer gedoen.

Wat was die Here se groter doel wat Abram nie gesien het nie? Uit sy nageslag is die Verlosser amper 2 000 jaar later gebore wat sou kom om die Koninkryk van God weer te vestig om sodoende die wêreld wat deur die vyand ingeneem is, terug te neem vir God. Abram het met sy altare wat hy opgerig het, begin om Kanaän terug te neem van die heidense afgodsaanbidding. Selfs dit het Abram nie in sy leeftyd gesien nie. Die seën wat die Here deur Abram gebring het, is dat die uitverkore kinders van God weer deur Jesus Christus na God toe gebring word.

Ons opdrag vir 2014
Wat sê hierdie roeping en seën van Abram vir ons vir die jaar wat voorlê? Die Here se opdrag aan Abram was: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.” Met ander woorde: “vertrou My en kom weg van die heidense invloed op jou lewe.”

Wat is die Here se roeping vir ons? “Vertrou My en kom weg van die wêreldse manier van dink waarin julle vasgevang is. Maak julle los van die najaag na wêreldse goed en besittings.” Is ons bereid om die Here te vertrou op die onbekende pad wat in 2014 vir ons voorlê? Is ons bereid om ons los te maak van die wêreldse invloed in ons lewens?

Die tweede opdrag aan Abram was om ’n seën te wees. Hy was ’n seën deurdat hy die Here se naam aangeroep en uitgedra het te midde van die heidense wêreld om hom. So het hy die Here se aanspraak op sy eiendom help vestig. Deur sy gehoorsaamheid is die Verlosser uit sy nageslag gebore.

Wat is die Here se tweede opdrag aan ons? Jesus se laaste opdrag aan sy kerk voor Hy opgevaar het, was: (Mat 28:19-20)
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Hoe gaan die Gereformeerde Kerk in Empangeni ’n verskil in hierdie wêreld maak in 2014? Gaan ons die Here vertrou, selfs met die wete dat ons nie noodwendig enige resultate op ons werk gaan sien nie? Gaan ons wegbreek van die wêreldse manier van doen en dink? Gaan ons ’n seën vir die wêreld in 2014 wees? Gaan ons soos Abram ook gehoorsaam aan die Here se roeping wees?

Kom ons Vertrou op die Here in 2014 sodat ons vir ander ’n seën kan wees.
Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking