3 Maart. 2013 1 Kor. 3 : 1 - 9 . Teksverse 1 Kor. 3
: 6 & 7
Lof-Psalm Ps. 89v1 (OAB)
Na Wet Ps. 138 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 119 v 18
& 19 (NAB)
Slotsang Ps. 133 v1 (OAB)
Inleiding
Hoe meet ons of die kerk besig
is om te groei of nie? Ons is so geneig om te kyk na die gemeentes wie se
getalle toeneem en dan dink ons dat daardie gemeente lewenskragtig is. Volgens
daardie maatstaf groei ons gemeente beslis nie. Is dit hoe die Bybel groei
definieer?
Wat leer die Here ons in
sy Woord oor wat groei in die kerk is?
In hierdie brief aan die
gemeente aan Korinte wys die Here ons wat belemmer groei in die kerk. Daardeur
leer Hy ons ook wat groei werklik is. Om die boodskap te verstaan is dit nodig
dat ons so bietjie van die gemeente in Korinte te wete kom. In Handelinge 18
sien ons dat Paulus die gemeente tydens sy tweede sendingreis gestig het. Die
mense in die stad Korinte het van oor die hele bekende wêreld van daardie tyd
gekom en as gevolg daarvan was daar ’n hoë vlak van sedeloosheid. Prostitusie
en afgodsdiens het daar hoogty gevier en dit het ook ’n invloed op die gemeente
gehad. Paulus skryf hierdie brief om sekere sake waarvan hy verneem het reg te
stel asook om sekere vrae oor praktiese probleme wat die gemeente gevra het te
beantwoord. As ons moet saamvat waaroor die briewe gaan kan ons dit as volg
opsom: “Briewe aan ’n probleemgemeente.”
In ons teksgedeelte sien
ons dan ook hoe hierdie probleme wat die gemeente ondervind negatief op die
gemeente inwerk. In 1 Kor. 3 : 1 – 9 spreek Paulus die probleem van
verdeeldheid aan. Daar was twis en jaloesie onder die gemeentelede aanwesig en
alhoewel hulle verlostes is, tree hulle in praktyk soos die heidene op. Die
groepe wat so gevorm het, het dan ook vir Paulus teenoor Apollos wat na hom
gekom het afgespeel. Paulus verwys hier na sy lesers as babatjies en
verduidelik met hierdie beeld dat hulle bakleiery en kliekvorming veroorsaak
dat die gemeente nog in sy babaskoene staan terwyl hulle al eintlik baie verder
gevorderd moes wees.
’n Belangrike beginsel wat
hier na vore kom is dat dit nie die gemeente se ouderdom of getalle is wat
bepaal of hulle groei of nie. Hulle groei word bepaal deur die vordering in
hulle geloofslewe. Hierin het hulle nog bitter min gevorder en die bewys
daarvan is dat hulle nog steeds soos die heidense gemeenskap om hulle optree.
Dieselfde onsedelikheid en bakleiery wat daar voorkom is ook in die gemeente
teenwoordig. Daarom beskryf Paulus hulle nog as babatjies wat slegs melk kan
drink en nog nie gereed is om vaste kos in te neem nie.
Die vraag wat ons onsself
vandag moet afvra, het ons gemeente al gegroei? Hoe het ons met ons geloofslewe
gevorder? Lyk ons nog soos die wêreld om ons? As daar ’n wet teen Christenskap
uitgebring word, sal die toepasers van daardie wet genoeg getuienis teen ons
kan insamel om ons aan te kla? Hoe lyk ons geloofsgroei en het ons enigsins in
die afgelope drie jaar verdiep in ons geloof? Het ons tot ’n dieper besef van
God se genade in Jesus Christus gekom? Is Jesus se kruisiging en sy opstanding net
iets wat ons net met die verstand van kennis neem of is dit ’n hartsaak wat ons
tot ’n diepere besef van God se groot genade bring? Is daardie verdieping in
ons lewens sigbaar?
Kan die gemeenskap
daarbuite sien dat ons gemeente ’n verskil in Reddersburg maak of is ons nog
net soos babatjies wat net melkkos kan inneem? As ons nog net in ons babaskoene
staan, dan is ons nog nie besig om die roeping van hierdie gemeente uit te voer
nie. As my geloofslewe nog so oppervlakkig is dat daar nie ’n verskil merkbaar
is nie, kan ek mos nie met oortuiging aan iemand gaan vertel dat Jesus Christus
’n verskil in sy lewe maak nie!
Hoe vind geloofsverdieping
in my lewe plaas? Dit gebeur wanneer ek ’n hartsverstaan van God se genade in Jesus
Christus begin ontwikkel. Ek self kan dit nie doen nie. In 1 Kor. 3:1 hoor ons
hoe mense wat hulle deur die Gees van God laat lei al hoe meer volwasse in hul
geloofslewe word. Hoe meer die Gees beheer van my lewe oorneem en hoe minder ek
deur my sondige natuur gelei word, hoe meer groei ek in die geloof. Hoe meer
volwasse ek in my geloof word, hoe meer word ek bruikbaar in God se Koninkryk.
Die gemeente in Korinte
wou Paulus en Apollos teenoor mekaar afspeel, maar Paulus wys hulle daarop dat
die werk in God se koninkryk nie om wedywering gaan nie. In die wêreld lê die
klem daarop dat mens beter as die mense om jou moet wees om bo uit te kom en as
dit nodig word, dan moet jy op mense trap om bo uit te kom! Elkeen vir homself
en die duiwel vang die agterste ou! In die kerk van die Here werk dit egter nie
so nie. Elkeen het sy spesifieke werk, maar ding nie met mekaar mee nie. Paulus
verduidelik hierdie beginsel so mooi wanneer hy vir die Korinte skryf (1 Kor.
3:6&7):
Ek het
geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan
dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat
groei.
Elkeen het sy werk volgens
die gawes wat God vir ons gegee het. Die volgende beginsel wat ook hier ter
sprake kom is dat ons so dikwels bekommer oor die opbrengs van die werk wat ons
doen. Ons wil resultate sien en wanneer dit nie volgens ons standaard plaasvind
nie, wil ons inklim en maak en breek om sake reg te kry. Hierdie houding is een
van die grootste bronne wat konflik tussen gemeentelede veroorsaak. Hier leer
die Here ons egter dat dit nie ons is wat groei veroorsaak nie. Ons moet die
werk doen. Ons moet plant en natgooi, maar dit is die Here wat laat groei.
Elkeen in die gemeente
moet sy werk doen waarvoor die Here ons geroep het. Deur al die aktiwiteite
stel dit die gemeente in staat om haar roeping uit te leef. Die een is egter
nie belangriker as die ander nie soos ons hoor in 1 Kor. 3:8:
Die een
wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet
Hiermee voeg die Here ’n
belangrike beginsel by. Hy beoordeel die gehalte van elkeen se werk. God sal
elkeen beloon volgens sy werk. Ons is so geneig om dop te hou hoe goed die
ander werk dat ons vergeet om self goed te werk. God besluit egter oor die
gehalte van ons werk en daarvolgens sal ons, ons genadeloon ontvang.
Die laaste beginsel wat
hier na vore kom is dat ons saam moet werk soos ons hoor in 1 Kor. 3:9:
Ons is
medewerkers in diens van God,
Die Griekse woord wat
medewerkers vertaal is, beteken letterlik om saam met mekaar te werk op so ’n
manier dat die een die ander ondersteun. In die saailand van God moet elkeen
volgens sy gawes plant, natgooi, onkruid uittrek ens. Dit is egter God wat laat
groei.
Samevatting
Sonde belemmer
geloofsgroei in die gemeente en dit veroorsaak dat ons nie geestelik groei nie.
Om geestelik te groei moet ons, ons lewens deur die Gees van God laat lei sodat
Jesus Christus se sterwe en opstanding ’n hartsaak word. Dan is ons in staat om
elkeen volgens ons Godgegewe gawes te werk en mekaar in daardie werk te
ondersteun.
As ons die werk doen hoef
ons nie verder daaroor te bekommer nie, want dis God wat laat groei. Ons moet
net sorg dat die evangelie boodskap geplant en natgegooi word, God sal sorg dat
dit in die harte van mense groei.
Kom ons verdiep ons geloof
deur ons deur die Gees van God te laat lei sodat ons ook medewerkers in diens
van God kan wees.
Amen