Word wakker uit julle doodslaap!
13 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Open.:1-6 Teksvers: Open. 3:2
Sing
Lofsang: Ps. 8 v 1 & 4 (OAB)
Na
wet: Ps.
40 v 4 (OAB)
Na
gebed Ps. 119 v 7 (OAB)
Slotsang Ps. 84 v 3 (OAB)
Inleiding
Julle het die naam het dat
julle lewe, en tog is julle dood! Wat ’n verskriklike aanklag teen die kerk. Op
die oog af volgens julle reputasie net in naam lewendig, maar eintlik is julle
lankal dood! Dit is die aanklag wat Jesus teen die gemeente van Sardis gebring
het. In die brief aanhef spreek Jesus weereens op ’n unieke wyse die gemeente
aan wat spesifiek by daardie gemeente pas, net soos Hy met elk van die ander
gedoen het, soos ons hoor in Open 3:1:
Skrywe
aan die leraar van die gemeente in Sardis:
So sê Hy
wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het:
Die sewe Geeste verwys na
die volheid van die Heilige Gees en dit simboliseer die besondere
teenwoordigheid van die Here self. Dit is net die volheid van die Heilige Gees
wat die sluimerende en dooie Sardis weer tot lewe kan opwek. Die sewe sterre
verwys na verwys simbolies na die sewe voorgangers waardeur Christus sy
boodskap aan die gemeentes bring, dit wil sê Christus se boodskap kom deur die
prediking na die gemeentes toe.
Anders as die ander
gemeentes was die Gemeente in Sardis nie onder bedreiging of intimidasie van
die heidense godsdienste of die Jode nie. Hulle was relatief welaf want Sardis
was bekend as ’n sterk stadsvesting en sy handelsware soos goud en
tekstielware. Op die oog af het dit gelyk of dit goed gaan met die gemeente,
maar Jesus wys hulle daarop dat daar ’n baie ernstige probleem is. Hulle is
geestelik dood! Anders as die ander gemeentes het Sardis ook nie sterk punte
waarvoor hulle geprys kan word nie en dit dui vir ons op die erns van hul
situasie.
Wat is die oorsaak van
Geestelike doodsheid?
As ons wonder waarom
Sardis geestelik dood was moet ons maar weer na Bybel toe draai om te hoor wat
veroorsaak geestelike doodsheid. In Rom. 6:23 hoor ons:
Die loon
wat die sonde gee, is die dood
Op verskeie ander plekke
in die Bybel hoor ons hierdie selfde waarheid soos ook byvoorbeeld in Jak.
1:15:
Daarna,
as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde
ryp geword het, loop dit uit op die dood.
Geestelike doodsheid word
deur sonde veroorsaak.
Wat is die gevolg van
geestelike doodsheid?
Hoe lyk geestelike
doodsheid? Dit is ’n algemene apatie, dit wil sê ’n onverskillige
gevoelloosheid teenoor alles. Dit is mense wat net nie meer opgewonde is oor
die lewe nie. Dit is ’n mens wat sinies geword het in die lewe, dit wil sê
iemand wat nie meer die mooi en die wonder van die lewe raaksien nie. Al wat hy
raaksien is net donkerte en probleme. Niks is reg nie en niks word meer
waardeur nie.
Moedeloosheid weens ’n
gebrek aan vertroue in die sorg van ons hemelse Vader veroorsaak verder dat
mens lamgelê word. Dit is amper asof ’n tipe depressie jou oorval deurdat jy
nie werklik lus het om iets te doen of om betrokke te wees nie. Kommer
veroorsaak naderhand dat mens die kleinste probleempie buite verband opblaas.
Mens sien naderhand net nie meer kans vir die lewe nie. Dit is daardie gevoel
wat jy het wanneer jy wakker word dat jy wens die nag wil net aanhou sodat jy
weer in jou droomwêreld in kan ontsnap van die werklikheid waarmee jy nou weer
te make het. Onvergewensgesindheid is ’n ander sonde wat mens lamlê. Dit is
soos ’n bitter wortel wat in jou groei en al jou lewensvreugde steel. Hierdie
is maar slegs enkele voorbeelde van sonde in ’n mens se lewe.
Hoe meer mens by sonde
betrokke raak, hoe meer word mens afgestomp vir die lewe. Sonde het dieselfde
effek as drank en/of dwelms in ’n mens se lewe. ’n Drank verslaafde begin heel
onskuldig by een of twee drankies elke aand. Naderhand is een of twee nie meer
genoeg nie en word dit naderhand vier of vyf en selfs die vyf is naderhand nie
meer genoeg nie. Die wet van dalende meer opbrengs geld hier, met ander woorde
jy moet al hoe meer gebruik vir al hoe minder plesier. Op die uiteinde vreet
dit jou op sodat daar niks van jou oorbly nie. Dit is wat sonde in ’n mens se
lewe doen.
Dit sluk jou naderhand
heel in en ’n mens sien die effek daarvan in jou lewe. In plaas daarvan om
liefde teenoor mekaar te bewys heers daar net ’n algemene selfsugtigheid waar
elkeen vir homself is en die duiwel vang die agterse een. Daar is ’n
grootskaalse onbetrokkenheid en geen sprake daarvan dat Christus se opdrag om
die evangelie uit te dra nagekom word nie. So ’n geestelike doodsheid by
sommige lidmate hou die gevaar in dat dit ook die ander lidmate kan oorval soos
’n dief in die nag. Wanneer iemand of ’n groepie konstant negatief is steek dit
naderhand ook die ander aan wat positief is. Net soos wat een vrot appel in ’n
vrugtebak die gesonde appels aantas.
Wat is die oplossing?
In Open 3:2 & 3a sê
Jesus vir ons hoe ons van geestelike doodsheid ontslae moet raak. Die oplossing
word ferm en kragtig in vyf definitiewe bevele gegee.
Word
wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood
te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie.
Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou
daarmee vol en bekeer julle.
Die eerste bevel: “Word
wakker!” Die gelowiges moet wakker word uit hulle slaap van
selfvergenoegdheid. Raak ontslae van die apatie waarin julle so vasgevang is.
Die tweede bevel is: “Versterk wat nog by julle oorgebly het.” Net soos
wat mens uit die as van ’n vuur wat byna dood is die een of twee kooltjies voed
wat nog warm is moet daar gekonsentreer word op dit wat nog goed en reg is. Die
derde bevel is: “Onthou hoe julle die evangelie ontvang het en daarna
geluister.” Stap terug op julle geestelike pad en kom weer terug op die pad
daar waar julle die pad byster geraak het. Die vierde opdrag is: “Hou
daarmee vol.” Bly gehoorsaam. Volhard daarin. Sardis wat bykans
oninneembaar was vanweë sy strategiese posisie is twee maal oorval deur die
vyand omdat hulle nie waaksaam was nie. Daarom is die opdrag dan ook, hou aan
om te volhard en gedurig deur waaksaam te wees teen die sonde wat mens so maklik
wil oorval. Die laaste opdrag is “bekeer julle.” Draai in jou spore
terug weg van die sonde en die pad na die dood terug na die pad van die lewe.
Bekering is slegs moontlik as mens in geloof vashou aan die soenverdienste van
Jesus aan die kruis en sy oorwinning oor die dood deur sy opstanding. As mens
in ’n geestelike doodsheid verval het, moet jy weer by God se genade by kruis
uitkom. Dit sal jou in staat stel om radikaal anders as wat jy tot nou toe
gedoen het, te begin leef.
As mens nie by die kruis
en opstanding uitkom nie, wag daar baie ernstige gevolge soos ons in Open 3:3b
hoor:
As julle
nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet
wanneer Ek op julle sal afkom nie.
Diegene wat God se genade
en liefde in Jesus Christus verwerp sal die volle impak van God se wraak voel.
Troos
Alhoewel hierdie brief op
’n baie negatiewe manier begin, bevat dit tog ’n stukkie troos vir diegene wat
bly vashou aan God se genade soos ons hoor in Open 3:5:
Elkeen
wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit
die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele
verklaar dat hy aan My behoort.
Hulle sal vind dat die
belofte wat die Here alreeds in Rom. 8:38 & 39 gemaak het, absoluut waar
is. Anders as mense gaan God nie terug op sy beloftes nie:
Hiervan
is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of
toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die
skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in
Christus Jesus ons Here
Kyk na binne!
Die brief word afgesluit
met uitdaging soos ons hoor in Open 3:6:
Elkeen
wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.
In die lig van hierdie
uitdaging moet ons nou vir onsself afvra: “Is ons gemeente geestelik dood?” Die
moeilike deel van hierdie vraag is dat nie een van ons kan terugstaan en so na
die gemeente kyk en die ander oordeel nie. Elkeen van ons is deel van die
gemeente en daarom vereis hierdie vraag ’n kliniese en harde introspeksie by
elkeen van ons, dit wil sê elkeen moet na binne kyk, daar waar dit ongemaklik
is omdat dit naby aan my lyf is! Die vraag is dus eintlik: “Is daar van die
simptome van geestelike doodsheid in my lewe te bespeur? Is ek besig om
geestelik dood te gaan of nog erger, is ek reeds geestelik dood?”
Ek dink as ons eerlik is
dan moet ons erken dat daar tot ’n mindere of meerdere mate by elkeen van ons
van die simptome van geestelike doodsheid teenwoordig is. Daarom moet ons
luister na wat die Gees vir ons sê: “word wakker uit die doodslaap waarin ons
so stilweg ingeglip het!”
Amen