Liturgie 6 Nov. 2011
na Votum Ps. 18 v 1 (OAB)
Na Wet Ps. 38 v 1 & 17 (OAB)
Na gebed Ps. 33 v 5 & 11 (OAB)
Slotsang Ps. 133 v 1 & 2 (OAB)
Inleiding
Wat is ons reaksie op die
genade wat ons van God ontvang? Ons vier volgende week as die Here wil weer
Nagmaal waar ons weer op ’n sigbare wyse gaan sien hoe groot God se genade in
ons lewens is. Ons gaan in die brood en die wyn sien hoe Jesus Christus vir ons
sondes aan ’n vervloekte kruishout vasgespyker is. Ons het hierdie week
geleentheid om ons voor te berei op Nagmaal. Dit behels onder andere dat ons
opnuut weer nadink en besef hoe onmoontlik dit is om onself van die
sondeslawerny te verlos. Verder ook dat ons weet waar ons wel verlossing van
hierdie sondeslawerny kan vind en dan ook dat ons, ons opnuut weer voorneem om
soos verloste kinders van God te leef. Rom. 12v1 som dit mooi op:
op grond
van die groot ontferming van God: Gee
julleself aan God as lewende en
heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens
wat julle moet beoefen.
Hoe gee ons onself aan God
as ’n heilige offer? God gee vir ons in sy Woord baie praktiese riglyne hoe om
dit te doen. Ons gaan vanoggend fokus op die riglyne wat Hy aan die gemeente in
Tessalonika gegee het omdat dit ook vir ons gemeente van toepassing is.
Eerstens net ’n kort agtergrond oor hierdie brief aan die gemeente in
Tessalonika.
Agtergrond
In Handelinge 17 hoor ons
dat die gemeente in Tessalonika tydens Paulus se tweede sendingsreis in Asië
tot stand gekom het. Verder hoor ons ook dat Paulus nie baie lank in die
gemeente kon preek nie. Dit was nie veel meer as drie weke voordat hy vir sy
lewe moes vlug nie. In hierdie eerste brief aan Tessalonika hoor ons dat Paulus
baie bekommerd was oor die welstand van die jong gemeente wat hy so inderhaas
moes verlaat. Daarom het hy vir Timoteus gestuur om te gaan kyk hoe dit in die
gemeente gaan. Timoteus het teruggekom met die blye berig dat dit baie goed
gaan in die gemeente, maar dat hulle tog sekere geloofskennis ontbreek het.
Hulle was veral onkundig oor die wederkoms van Jesus Christus en daarom fokus
Paulus in die twee briewe wat hy aan die gemeente geskryf het om hulle baie
spesifiek ten opsigte van die wederkoms te onderrig en dat alles wat hulle doen
juis op hierdie Christelike hoop van die wederkoms gerig moet wees.
In die tweede helfte van
die brief gee hy dan ook baie praktiese riglyne aan die gemeente hoe om te leef
met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus. In ons teks gedeelte vind ons
’n samevatting daarvan. Daarin leer ons (1) hoe ons optrede teenoor die
ampsdraers in die gemeente behoort te wees; (2) hoe ons onderlinge verhoudings
behoort te wees en (3) hoe ons verhouding teenoor God behoort te wees. Uit hierdie
riglyne kan ons ook leer hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus
Christus. Wat behoort ons reaksie te wees op die genade wat ons van God
ontvang? Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onself as
lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is.
Hoe moet ons optrede teenoor die ampsdraers wees?
U het heel moontlik die
afgelope week besoek ontvang van u ouderling en indien nie sal u in die komende
week deur hom besoek word. In 1 Tess. 12 & 13 sê die Here vir ons:
Erken
die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en
teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle
werk. Leef in vrede met mekaar.
Slaan ag op die
onderwysing wat hulle uit die Woord aan julle bring en wees dankbaar vir wat
die bediening in julle lewens beteken. As dit nodig is dat ons deur hulle
tereggewys moet word dan moet ons besef dat hulle dit in opdrag van die Here
doen. As daar iets is in my lewe is wat nie reg is nie en die ouderling wys my
daarop, dan moet ek besef dat die Here deur die ouderling met my praat. Wees
dankbaar vir die werk wat die diakens doen en ondersteun hulle werk. Leef in
vrede met mekaar saam. Moenie in ’n stryd met die ampsdraers van die gemeente
betrokke raak nie.
Hoe moet ons onderlinge verhoudings wees?
Omdat ons die Here se
persoonlike liefde ervaar behoort daardie liefde ook in ons onderlinge
verhoudings sigbaar te wees. In 1 Tess 5V14-15 sê die Here dan ook vir ons hoe
ons teenoor mekaar moet optree.
Ons druk
julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die
kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. Sorg dat
niemand ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd
vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.
Ons moet op mekaar ag gee
en verkeerde gedrag moenie goedgepraat word nie. In Tessalonika was daar ’n
klomp mense wat onder die voorwendsel van die wederkoms opgehou werk het en so
op hulle gelowiges begin teer het. Sulke gedrag was onaanvaarbaar.
Verder moet ons mekaar ook
ondersteun. Daar kom tye in mens se lewe wanneer jy baie broos is weens
verskeie omstandighede soos siekte, hartseer en sulke dergelike dinge. In sulke
omstandighede moet ons mekaar ondersteun en daar wees vir mekaar. Die opdrag om
met almal geduldig te wees wys ons weereens daarop dat ons optrede deur liefde
vir mekaar gemotiveer moet word.
Moenie ’n ander mens kwaad
vir kwaad vergeld nie. As iemand ons te na gekom het dan moet ons hulle vergewe.
Vergifnis beteken nie om die ander persoon net so seer te maak soos hy/sy my
gemaak het nie! Ons moet mekaar se belange op die hart dra, met ander woorde
ons moenie ons eie belange voorop stel nie.
Hoe moet ons verhouding met God wees?
In 1 Tess 5v16 – 22 sê die
Here vir ons:
Wees
altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat
God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees
teenstaan nie. Moenie profesië uitsprake van dié wat die boodskap van God
verkondig, geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg
van alles wat sleg is.
Ons moet blymoedig wees.
Met ander woorde moenie altyd met ’n lang gesig rondloop asof die hele wêreld
op jou skouers druk nie. Ons moet IN alle omstandighede dankbaar wees omdat ons
weet dat die Here ons dra deur die moeilike tye. Dit is inderdaad soos ons in
Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely dat ons in voorspoed dankbaar
moet wees en in teenspoed geduldig moet wees in die vaste vertroue dat Here
alles ten goede laat meewerk.
Bid gedurig. Dit beteken
nie dat ons heeldag op ons knieë moet wees nie, maar dat ons in alle tye
biddend moet leef. Gebed is ons kommunikasie kanaal met God. Moet dit nie
afskeep nie. Paulus vra ook in vers 25 dat die gemeente vir hom moet bid.
Geliefdes bid julle gereeld vir julle dominee? Sonder julle gebede kan ek nie
my werk behoorlik doen nie. Ons moet vir mekaar bid.
’n Verhouding sonder
kommunikasie kan tog nie werk nie. Ons praat met God deur gebed, maar ons moet
ook na Hom luister wanneer Hy met ons praat deur prediking en ook persoonlike
Bybelstudie. Deur nie by die prediking uit te kom nie en ook nie Bybel te lees
nie, staan ons die werking van die Heilige Gees teë, want die Gees werk deur
die Lewende Woord van God. Die Gees werk nooit los van die Woord nie. Om aan
die Here gehoorsaam te wees beteken dat ons doelbewus die goeie sal kies en
wegbly van dit wat sleg is.
In 1 Tess 5v23 & 24
bid Paulus dan ook dat God die gemeente in die totaliteit van hul menswees sal
bewaar sodat hulle onberispelik sal wees wanneer Jesus weer kom. Die verlossing
in Jesus Christus is volmaak en daarom kan ons volkome vertrou dat Hy ons
volkome sal verlos van die slawebande van die sonde. In vers 24 spreuk Paulus
dan ook die vaste vertroue uit dat God dit sal doen omdat HY getrou is.
Slot
Op grond van die groot
ontferming van God behoort ons onself as lewende en heilige offers aan God te
gee wat vir Hom aanneemlik is. Ons doen dit deur die leiding van die ampsdraers
in die gemeente te respekteer. Ons doen dit deur mekaar in liefde te ondersteun
en mekaar se belange te dra. Ons doen dit deur in ’n lewendige verhouding met
God te leef deur in gebed met Hom te praat en om na Hom te luister in die
woordverkondig en persoonlike Bybelstudie. Laat ons daarom op grond van die
groot ontferming van God onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat
vir Hom aanneemlik is.
Amen