Wys tans plasings met die etiket 'n Gejaag na wind. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket 'n Gejaag na wind. Wys alle plasings

15 Mei 2016

As die HERE nie bou nie werk ons tevergeefs, maar wanneer Hy bou word ons arbeid geseën

Psalm 127 teksvers Ps. 127:2
15 Mei 2016 GKE
Sing
Ps. 84-1 v 3 & 6
Ps. 86-1 v 3 & 6
Ps. 118-1 v 12
Ps. 128-1 v 1 tot 4

Inleiding
Tevergeefs. Dit is so ’n klein woordjie. Tog is dit ’n woord wat ’n gevoel van moedeloosheid oproep. Tevergeefs ! Ag wat help dit tog, ons kan dit maar net sowel los!

As ons die betekenis van tevergeefs in die woordeboek opsoek, dan gee die woordeboek die volgende verduideliking:
nutteloos sonder doel / sonder resultaat / leeg sonder inhoud / waardeloos / stel die hoop wat daarop gevestig is teleur

Tevergeefs! Dit is die woord waarmee ons teksvers begin.
“Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak.

In kontras met hierdie moedelose hopeloosheid staan die Here se genade
Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.
Dit is dan ook die twee hooftemas wat in die Psalm na vore kom nl.
1)  ’n Tevergeefse hopeloosheid en teenoor dit,
2)  die seën van die Here.

Die Psalm begin met ’n beskrywing van
1) ’n Tevergeefse hopeloosheid
Dit is ’n tevergeefse hopeloosheid as die Here nie bou nie.
Dit is ’n tevergeefse hopeloosheid as die Here nie beskerm nie.

As die Here nie bou nie, as die Here nie beskerm nie dan
(NAV)Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak.
(OAV) Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet
Die Hebreeuse woord wat in vers 1 met swoeg vertaal is, dui op hartverskeurende moeitevolle werk
wat geen bevrediging bied nie. Dit is ’n geswoeg en gesweet wat net frustrasie bring.

Dit is nie net harde werk nie. Dit is werk wat geen bevrediging gee nie. Dit is werk wat mens moedeloos maak omdat jy daarmee niks bereik nie. Dit help nie dat jy die werk doen nie, want na al die moeite kan jy geen verskil sien nie. Dit help nie dat jy dit gedoen het nie. Jy kon dit maar net sowel gelos het, want dit sal geen verskil gemaak het nie!

Die werk op sig self is nie die probleem nie, want God beveel die mens om te werk Gen. 1 v 28.
 Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê:
“Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit.”

Sonde is die probleem, want na die sondeval het werk verander in moeitevolle arbeid. Gen. 3 v 17b
die aarde deur jou toedoen vervloek;
met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank;
Dit is die mens se lot omdat hy God verwerp het. Die mens, d.w.s. elkeen van ons het teen God gerebelleer en dit is die resultaat daarvan.

Met swaarkry sal jy brood van smarte eet!
Die mens het sy rug op God gedraai en die gevolg is? Die mens wat sonder God is, eet brood van smarte!

Om sonder God se seën te werk is tevergeefs. Ons is almal instrumente in God se hand waarmee Hy die werk doen. M.a.w., God gebruik ons om sy werk te doen. Wanneer ons besef dat dit eintlik die Here is wat ons gebruik om sy werk te doen (sy koninkryk uit te bou), dan sal ons werk nie tevergeefs wees nie.

In Psalm 127 sê die Here baie duidelik vir ons dat ons nie in eie krag moet bou nie. Ons het die voorreg van gerieflike kerkgeboue, maar dit is nie die gebou van God waaraan ons bou nie. Paulus verduidelik dit soos volg aan die gemeente in Korinte:
1 Kor. 3 v 9b tot 11
9bJulle is ook die gebou van God.
M.a.w. Ons, die lidmate, is die gebou van God. Dan sê hy verder:
10Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ’n goeie bouer die fondament gelê, en ’n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou,
11want niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.

Wanneer ons terugkyk dan sien ons die groot genade van die Here soos Hy ons gedra het. Wanneer ons vorentoe kyk sien ons dat daar nog baie werk is wat vir ons voorlê. Daarom is dit belangrik dat ons as gemeente ook vandag moet hoor wat die Here in sy Woord vir ons sê. Dit is nie alleen die dominee of die kerkraad wat dit moet hoor nie, maar die hele gemeente, want ons almal grootmense en kinders is instrumente in sy Hand waarmee Hy bou.

Die Here sê vanoggend vir ons baie duidelik :
As die Here die huis nie bou nie,
swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie,
waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap
om met moeite ’n bestaan te maak..

As ons nie op die fondament van Jesus Christus se verlossing bou nie, sal al ons werk tevergeefs wees. Die Here belowe sy seën en genade aan elkeen wat glo dat Jesus Christus vir jou sondes aan die kruis gesterf het. Elkeen wat vashou aan die wete dat Jesus met sy opstanding, die dood oorwin het en weet dit beteken dat ook ons uit ons sondedood opgewek is deel ons in sy groot genade. Diegene wat egter Jesus Christus en sy verlossing verwerp, het geen deel aan God se genade nie.

Teenoor die tevergeefse hopeloosheid van hulle wat sonder God is, beleef God se uitverkore kinders
2) Die Seën van die Here
Luister weer na die wonderlike belofte van die Here
Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.
Hierdie sin kan ook soos volg vertaal word:
Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here slaap.

Dit beteken doodeenvoudig, die Here gee alles wat ons nodig het, selfs ook rus. Ons kan in vrede slaap en ons hoef nie in die nag te lê en rondrol van bekommernis nie, want die Here gee aan ons alles wat ons nodig het! So gee die Heilige Gees aan ons selfs die geloof wat Hy van vra. Wanneer God vir ons sê, “glo in Jesus Christus” dan gee Hy eers daardie geloof aan ons wat Hy vra. Daarom moet ons met geloof en vertroue in afhanklikheid van die Here ons dagtaak aanpak, dan sal ons werk geseënd wees.

Nou vertel die Here ons verder in vers 3 van ’n besondere seën wat Hy aan sy geliefdes gee:
Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee
Ons kan die vers ook soos volg vertaal:
Kinders is ’n gawe van die Here; ’n vrug van die moederskoot
Geliefdes, kinders is besonder kosbaar vir die Here. Die Here se besorgheid oor weerlose kinders loop soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel. Ons sien bv. hierdie besorgheid raak toe Jesus se dissipels wou keer dat die mense die kinders na Hom toe bring om geseën te word:

Mark 10 v 13 en 14
13Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. 
14Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 

God se besorgheid oor die kinders is so groot dat Hy sy eie seun nie gespaar het.
Joh. 3 v16
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Tesame met hierdie geskenk van die Here gee Hy ook aan ons ’n besondere verantwoordelikheid. Ons moet ons kinders wat Hy aan ons toevertrou het leer van God se liefde vir hulle. Ons moet hulle leer dat hulle so kosbaar is vir Hom dat Hy sy eie Seun gestuur om vir hulle sondes te sterf.

Verder het ons as gemeente ook die verantwoordelikheid dat ons mekaar moet lief hê. Hierdie opdrag word telkemale herhaal soos bv. In Rom. 13 v 8
Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.
Gaan kyk maar hoeveel keer word hierdie opdrag in die Bybel herhaal.

Dit beteken dat ons ook ons kinders wat God aan ons toevertrou het moet liefhê. Elkeen kan homself maar afvra tot watter mate hierdie opdrag nagekom is. Tog is die Here se genade so groot dat wanneer ons in afhanklikheid van Hom die opdrag om mekaar lief te hê uit voer, kan ons dit doen en dat Hy ons daarin sal seën. As ons dit egter sonder Hom probeer doen, dan is dit moeitevolle werk wat geen resultate sal oplewer nie.

Wanneer die Here ons werk seën dan sal ons vind dat dit goed gaan met ons. Dan sal die belofte van die Here in vers 5 ook vir ons waar word.
Dit gaan goed met die man wat sy pylkoker so gevul het! Sulke mense het niks te vrees as hulle met die vyand in die stadspoort onderhandel nie.
Wanneer ons die vyand tegemoet gaan, d.w.s. die geestelike stryd teen die satan, sal ons nie beskaamd wees nie.

Hou vas aan die Here se belofte in Ps. 127:
As die HERE nie bou nie werk ons tevergeefs, maar wanneer Hy bou word ons arbeid geseën.
Amen

09 Oktober 2011

Niks kan in hierdie wêreld vir ons blywende geluk gee nie, slegs God kan dit doen.


9 Okt. 2011
Skriflesing Pred. 2 Teksvers Pred. 2v10&11
Liturgie
na Votum Ps. 48 v 1 & 3  (OAB)
Na Wet Ps. 119 v 1  (OAB)
Na gebed Ps. 119 v 39  (OAB)
Slotsang Ps. 46 v 1 & 6 (OAB)

Inleiding

Het u al ooit vir die grootste leuen in hierdie wêreld geval? As ek maar net ’n miljoen kan kry of wen dan sal ek gelukkig wees! As ek maar net genoeg geld het sodat ek nie meer so hoef te sukkel nie, dan sal ek gelukkig wees. As ek genoeg geld het dan kan ek bekostig om soveel plesier te hê as wat ek wil. As ek genoeg geld het dan kan ek koop wat my hart begeer. Dan kan ek daardie huis bekostig wat ek nog altyd wou gehad het. Ons dink ons so dikwels dat geld die sleutel tot geluk in hierdie lewe is. Die groot vraag is egter: “kan geld werklik vir ons blywende geluk kan verskaf?”

Hier in ons teks hoor ons hoe die Prediker (wat volgens die beskrywings in die boek Salomo is) ook geluk nagejaag het. Daarin vind ons sy soeke na geluk en die rede waarom hy dit nie gevind het nie. Daarna gaan ons ook hoor waar ons ware blywende geluk kan vind. In die eerste plek gaan ons nou stilstaan by Salomo se soeke na geluk.

Die soeke na geluk

Salomo wou bepaal hoe hy blywende geluk kon vind en daarom het hy ’n eksperiment uitgevoer om te bepaal hoe hy blywende geluk kon vind. In die eerste plek het hy plesier probeer soos ons hoor in Pred. 2v1:
Ek het by myself gedink: laat ek my oorgee aan plesier, laat ek die lewe geniet!
Dit het egter nie geslaag het nie soos ons hoor in Pred. 2v1b&2
Maar ook dit het niks opgelewer nie. Van lag moes ek sê: dis sinloos, en van plesier: wat bring dit?

Toe dit nie slaag nie het hy drank oorweeg soos ons hoor in Pred. 2v3:
Ek het gewonder wat sal gebeur as ek my aan wyn oorgee maar tog nog op soek bly na wysheid, as ek soos ’n dwaas leef totdat ek vasgestel het wat die beste is waarmee ’n mens hom sy lewe lank in hierdie wêreld besig kan hou.
Hierin kan ons sien dat hy nie maar net homself onnadenkend aan lewe van plesier en drank oorgegee het nie, maar dat hy werklik besig was om te probeer uitvind of mens daardeur blywende geluk kon vind, daarom sê hy dat hy bly soek het na wysheid.

Die volgende ding wat Salomo getoets het was om groot bouprojekte aan te pak. Hy het huise gebou het en wingerde aangeplant. Hy het tuine en parke aangelê waarin hy allerhande bome en vrugte bome geplant het. Hy het die nodige damme aangelê wat water vir die tuine moes verskaf. Verder het hy ook genoeg slawe en slavinne aangeskaf wat na al die werk moes omsien. Hy het besittings opgegaar en ook baie geld bymekaar gemaak soos ons hoor in Pred. 2v8a:
Ek het vir my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies.

Verder het hy gesorg vir genoeg ontspanning soos ons hoor in Pred. 2v8b:
Ek het vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon geniet.
Omdat hy dit kon doen, het hy alles vir hom gekry wat sy hart begeer het soos ons in Pred. 2v10 hoor:
Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie.
Dit laat mens dink aan die ryk filmsterre met hulle groot weelderige huise daar in Hollywood. Die groot partytjies wat hulle hou en al die meisies wat in sulke klien bikini’s daar om die swembad rondloop.

Dit bring ons maar net weereens by die vraag: “kan geld, werklik geluk koop?” Ons moet egter mooi dink voordat ons te vinnig “nee” antwoord omdat ons weet dat dit die regte antwoord is. Salomo het tog ook tot daardie slotsom gekom het soos ons hoor in Pred. 2v11:
Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks  was, ’n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie

As ons doodeerlik met onsself is, dan sal ons erken dat ek ook graag so ’n miljoen of twee op die Lotto sal wil wen (selfs al speel ons nie Lotto nie, en dalk koop ek maar so dan en wan ’n Lottokaartjie). Is die denke dat geld geluk kan koop, nie maar die rede waarom soveel mense vir geldslenters gevang word nie en dan al hulle reserwefondse daardeur verloor? Is dit nie die rede hoekom ons soms so maklik ons swaarverdiende geld op riskante beleggingskemas waag nie?

Dit is eers wanneer ons die werklike rede verstaan waarom geld en rykdom nie geluk kan koop nie, dat ons verlos sal word om na rykdom te smag. Dit help nie ons staan net stil by vers 11 omdat Salomo gesê het dat die soeke na rykdom maar net ’n gejaag na wind is nie. Dit help selfs nie eens as ons ’n paar voorbeelde ophaal van die superrykes in ons wêreld wat ten spyte van al hul rykdom sielsongelukkig is nie, want daar is ook ryk mense wat wel gelukkig is. Rykdom en plesier is opsigself nie boos en verkeerd nie (ons gaan later stilstaan waarom nie). Vervolgens gaan ons nou stilstaan by die rede waarom geld en rykdom op hul eie nie geluk kan verskaf nie.

Geld en rykdom kan op hul eie nie geluk verskaf nie

Waarom het Salomo tot die slotsom gekom dat alles waarmee hy homself met soveel sorg besig gehou het, op niks uitgeloop het nie. Waarom was dit ’n gejaag na wind? Hy het wel gesê dat wysheid beter as dwaasheid is soos ons hoor in Pred. 2v14a:
Die wyse weet wat hy doen, vir die dwaas is daar net donkerte
Maar tog kom hy tot die slotsom dat selfs wysheid ook nie kan help nie, want so sê hy vir ons in Pred. 2v14b:
maar dit weet ek: een en dieselfde lot tref albei.

In Pred. 2 v 16 hoor ons die rede:
Die wyse sal net so min as die dwaas altyd onthou word. In tye wat kom, word alles vergeet. Die wyse sterf net soos die dwaas!
Die wyse sterf net soos die dwaas! Salomo was baie ryk en wys soos ons hoor in Pred. 2v9:
Ek was magtiger en ryker as almal voor my in Jerusalem. My wysheid het my goed te pas gekom.
Ten spyte van sy rykdom en wysheid kon hy nog steeds nie die straf vir die sonde ongedaan maak nie. Die wyse sterf net soos die dwaas. Met die sondeval is die mens uit die Paradys verban en is die mens aan die straf vir die sonde onderwerp, naamlik die dood. Met al die rykdom en wysheid van hierdie wêreld kan die mens nie die gevolge van die sondeval ongedaan maak nie! Die wyse sterf net soos die dwaas!

Is dit dan verkeerd om die lewe te geniet en is rykdom verkeerd? Nee geliefdes, rykdom opsigself is nie verkeerd nie, solank mens besef dat dit ’n gawe van God is soos ons ook hoor in Pred. 2v24:
Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is.
Dit is slegs wanneer die soeke na rykdom en plesier ’n doel opsigself word, dat dit ’n gejaag na wind word. Wanneer mens jou geluk in rykdom en plesier soek, dan vind mens dat leeg en sinloos word. Sonder God word die lewe ’n gejaag na wind. Dit is net by God waar mens ware geluk en vrede kan vind.

Waar vind ons dus ware en blywende geluk?

Ons vind ware en blywende geluk alleen by God. Sonde veroorsaak dat ons van God afgeskei raak en wanneer ons van God geskei is, raak die lewe sinloos en leeg. Sonder God is die lewe ’n gejaag na wind. Dit is slegs deur Jesus Christus wat ons God weer kan vind omdat Hy alleen weer vir ons die lewe wat ons verloor het kan teruggee soos ons hoor in Joh. 11v25:
“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook
In Joh. 14v6 hoor ons dat Jesus die enigste weg tot die Vader is:
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Samevatting

Deur die boek Prediker wys die Here vir ons watter lewenspad na leegheid lei en help Hy ons om te ontdek wat die ware doel met die lewe is. Hierdie kennis kan ons beskerm teen die leegheid wat daar in ’n lewe sonder God is. Hy leer vir ons dat dinge soos kennis, geld, plesier, werk en gewildheid geen betekenis het nie.  Ware bevrediging kom as ’n mens weet dat die dinge wat ons doen, deel van God se plan vir ons lewens is.  Deur sy lewende Woord in die boek Prediker help die Here ons om ons te bevry van ons ewige sug na mag, goedkeuring en geld én kan ons ook daardeur nader na God gebring word.

Geliefdes moenie geluk by verkeerde plekke soos plesier en rykdom soek nie. Laat ons eerder ons geluk by die Here in Jesus Christus soek, want niks kan in hierdie wêreld vir ons blywende geluk gee nie, slegs God kan dit doen.
Amen