30 November 2025

Jesus het mens geword sodat ons in oorvloed kan lewe


 

Genesis 3
Teksvers Gen. 3 v 20

Die jaar snel ten einde en ons is al weer by daardie tyd van die jaar waar ons begin regmaak vir Kersfees. Kersfees beteken baie dinge vir verskillende mense. Met Kersfees onthou Christene dat God mens geword het toe Jesus so bietjie meer as 2000 jaar gelede gebore is.

So tussen deur die regmaak en beplanning vir al die feestelikhede is dit goed dat ons net so bietjie stil word om na te dink wat Christus se geboorte vir ons beteken. Daarmee saam om ook net weer te besef wat se verskil dit aan ons lewe maak.

Om werklik die betekenis te verstaan van dit wat ons met Kersfees herdenk, gaan ons vandag eers weer terug na daardie gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom wat dit nodig gemaak het dat God in Jesus Christus mens geword het.

Wanneer ons aan Genesis 3 dink, dan haak ons so maklik vas by die vrug en die slang en die gebeure rondom dit. Vandag gaan ons so bietjie besin oor wat die implikasies was van daardie hap aan die vrug.

In Gen. 2 v 16 & 17 hoor ons dat God die mens ’n opdrag gee en wat die gevolge sal wees indien die mens nie gehoorsaam is aan daardie opdrag nie.

16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

Ongehoorsaamheid hou baie ernstige gevolge in. Met ongehoorsaamheid word lewe vir dood verruil. In Gen. 3 hoor ons dan ook die hartseer verhaal hoe die mens en sy vrou die lewe vir dood verruil het.

En die vrou het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

God het vir hulle gesê hulle moenie, maar hulle het besluit hulle wil en toe het hulle die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet.

Die gevolge van hierdie daad het verrykende gevolge vir hulle en hul nageslag ingehou. Hulle het lewe verruil vir dood. Van daardie oomblik af was hulle liggame onderwerp aan aftakeling wat op die uiteinde tot liggaamlike dood lei, nie net vir hulle nie, maar vir hulle hele nageslag.

Verder ook het hulle hele bestaan nou moeite geword soos ons hoor in Gen. 3:16-19:

16Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.

Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”

17Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Die leefwêreld van die mens wat vir hulle vreugde verskaf het, het verander in ’n omgewing wat moeite en lyding veroorsaak.

Die ergste is dat daar ’n vervreemding tussen God en die mens ingetree het. In die plek van liefde in hul verhouding met God is nou vrees. Die mens het bang geword vir God en daarom het hulle probeer wegkruip toe hulle God hoor naderkom.

As die verhaal hiermee geëindig het, sou dit inderdaad ’n baie droewige hartseer verhaal gewees het. Dan het dood die laaste sê gehad. Dood het egter nie die laaste sê nie, want verweef binne in die verhaal tussen al die hartseer gebeure, is ’n boodskap van hoop.

Ons hoor dit reeds in Gen. 3 v 15 met ’n belofte van vyandskap tussen die nageslag van die mens en die bose. Die vyandskap bring verwydering tussen die mens en die bose en daarmee saam ook die belofte dat die bose oorwin gaan word. Die bose het nie die laaste sê nie.

In Gen. 3 v 20 hoor ons hoe die man hierdie boodskap van hoop aangryp. Tot nou toe is daar na die mense in hierdie verhaal net verwys as man en vrou. Nou gee die man vir sy vrou ’n naam. “Die mens het sy vrou Eva genoem.” Die betekenis van die Hebreeuse woord wat in ons Bybel met Eva vertaal is, beteken lewe.

Adam verklaar: “Sy is Lewe, want God sal deur haar lewe voortbring.” Die naam “Eva – Lewe” bevestig God se verlossingsplan. Dit is ’n boodskap van hoop van voortgaande lewe ná die sondeval en die belofte van die uiteindelike koms van die Messias.

En dan bevestig die verteller van die verhaal dat daar inderdaad lewe vanuit die vrou voortgevloei het. “sy was die moeder van al die mense.” Eva is die moeder van die mensdom en sy is die draer van God se belofte van verlossing. Eva is inderdaad ’n geloofsverklaring dat God se lewegewende belofte sal voortgaan ondanks die sondeval en dat dit uiteindelik in Christus vervul sal word.

En dan sluit die verhaal af met nog ’n boodskap van hoop op lewe. Ons hoor hoedat hulle uit die tuin verban was sodat hulle nie toegang tot die boom van lewe sou verkry het nie. Op die oog af klink dit of dit deel is van hulle straf, maar dit is nie. Dit vertel vir ons van God se genade. Hy keer hiermee dat hulle in hul sondige toestand van die boom van die lewe eet en so vir ewig in hul sondige toestand vasgevang sou word.

As hulle op daardie stadium van die boom van die lewe sou eet sou dit nie lewe gee nie, maar dood waar hulle vir ewig van God vervreem sou wees vanweë hulle sonde. Deur hulle uit die tuin te verban, maak God dit moontlik dat die beloftes wat Hy gegee het dat die bose oorwin sal word, waar word.

Wat beteken hierdie verhaal uit ons oeroue geskiedenis vir ons vandag en hoe pas dit in by Kersfees? In Joh. 10 v 10 hoor ons die volgende woorde van Jesus:

Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Hiermee bevestig Jesus die belofte van lewe wat ons reeds in Gen. 3 gehoor het. Hy is die Verlosser wat mens geword het uit die nageslag van EVA wat lewe beteken en hier bevestig Hy dat Hy gekom het om lewe te bring.

Met Kersfees herdenk ons dat Jesus wat God is, as mens gebore is. Hy is as mens gebore sodat die belofte van lewe in Gen. 3 waar kon word. Dit is egter nie net gewone lewe wat Jesus bring nie. Dit is lewe in oorvloed! Dit beteken dat elkeen wat die belofte van lewe in Jesus Christus met geloof omhels, deel in daardie lewe van oorvloed wat Jesus gebring het.

Wat beteken Kersfees dus prakties vir ons, geliefdes? Dit beteken dat die vloek van ’n doodsbestaan nie meer die laaste sê het in ons lewens nie. Dit is waar dat ons nog nie heeltemal bevry is van die gevolge van die sonde nie. Ons lewens is nie nou van terugslae en swaarkry vrygeskeld nie, maar die terugslae en swaarkry het nie die laaste sê nie. Midde in die terugslae en swaarkry beleef ons God se liefdevolle teenwoordigheid en ons beleef hoe Hy ons daardeur dra.

Die belofte van lewe in Gen. 3 wat deur Jesus waar geword het, beteken dat die vervreemding wat sonde tussen jou en God gebring het, nie meer daar is nie. Jy kan reeds in hierdie lewe die oorvloed van God se liefde beleef, veral hoe Hy jou dra deur ’n lewe wat nie perfek is nie.

Ek is seker dat elkeen van ons kan terugkyk hoe God ons gedra het deur die stampe en die stote van die lewe. Ons sien ook uit na die belofte dat die swaarkry in hierdie lewe net tydelik is. Ons het ’n lewende hoop op ’n ewigdurende lewe saam met God sonder hartseer trane of pyn.

Kersfees herinner ons net weer dat God ons ook in die toekoms sal dra deur die stampe en die stote van die lewe. Kersfees herinner ons dat die swaarkry van hierdie lewe net tydelik is en dat ons op pad is na ’n ewige heerlikheid saam met God sonder hartseer trane of pyn.

Kersfees sê vir ons dat Jesus mens geword het sodat ons in oorvloed kan lewe.

Amen


16 November 2025

Uit die wanhoop van die doodloopstrate van sonde, gee die Here lewe en hoop

Eseg. 37v1 tot 14

Teksvers Eseg. 37v3

Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? Dit is seker een van die ingrypendste vrae wat die Here vir ’n mens kan vra. Kan daar weer lewe kom in dit waar daar geen hoop meer vir lewe is nie?

Die Here gebruik hier ’n baie grafiese beeld om ’n situasie van doodsheid uit te beeld. Dit beskryf die situasie van die Jode wat in Ballingskap weggevoer is. Hier sit hulle in Babel in ’n vreemde land ver van hulle eie land sonder ’n tempel waar hulle God kan aanbid. Die tempel wat die sentrum is van die Jode se ontmoeting met God in Jerusalem is afgebreek.

Esegiël het as profeet opgetree in hierdie tyd van die Jode se Ballingskap. Hier in ons teksgedeelte gebruik die Here hierdie beeld om die Jode se wanhoop en hopeloosheid vir ons te teken. In Ps. 137 kry ons ook ’n idee van die Jode se hopelose situasie:

1By die riviere van Babel,

daar het ons gesit,

en ons trane het gevloei

as ons aan Sion dink.

2Aan die wilgerbome in daardie land

het ons ons liere opgehang

3toe dié wat vir ons gevange

weggevoer het,

ons gevra het om ’n lied te sing,

toe dié wat vir ons leed aangedoen het,

van ons vrolikheid wou hê:

“Sing vir ons ’n lied oor Sion!”

4Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land?

Kan u hierdie prentjie sien wat die Here vir ons skets? ’n Laagte vol bene! Dink net as ons so op die kruin van die laagte se rand staan. Hier voor ons lê die hele laagte vol ou uitgedroogte mensbeendere alles deurmekaar en uitgebleik deur die son en die weer. Hulle is al so droog en uitgebleik dat die bekende doodsreuk van ’n dooie nie eers meer daar is nie.

Effektief beskryf hierdie beeld die doodsheid wat daar bestaan het in Israel se verhouding met die Here. Vanweë hulle afgodery is daar van hulle verbondsverhouding met die Here geen sprake meer nie. Daar is vir hulle geen lewe meer in die verbondswoorde nie:

julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees

Dit is wat sonde doen. Dit bring verwydering tussen ’n mens en die Bron van lewe. As jy byvoorbeeld ’n tak van ’n boom afbreek dan is dit verwyder van die hoofstam wat lewe verskaf. Daardie tak verdroog en gaan dood. Dit is dan ook daardie geestelike doodsheid wat hier beskryf word. Israel het bly afdwaal en wegdraai van God af.

Die Here beskryf vir ons in Eseg. 36v18-19 wat die gevolg was van Israel se sondes:

18Ek het my toorn oor hulle laat losbreek oor die bloed wat hulle vergiet het en oor die afgode  waarmee hulle die land verontreinig het. 19Ek het hulle verstrooi onder die ander nasies en hulle na ander lande toe uitmekaargejaag. Ek het hulle gestraf oor hulle optrede en hulle gedrag.

Die vraag is nou geliefdes: “Wat het hierdie donker somber prentjie van Israel se geskiedenis van bykans twee en ’n half duisend jaar gelede met ons te maak? Is dit nodig dat ons met so ’n swartgallige prentjie van ’n vallei vol doodsbeendere gekonfronteer word? Het ons nie eerder ’n boodskap van hoop nodig om ons te inspireer vir die pad vorentoe nie?

Geliefdes, hierdie IS ’n boodskap van hoop!

Hierdie verhaal beskryf vir ons hoe die Here ook vir ons uit die wanhoop van ons doodloopstrate weer nuwe lewe en hoop kan gee. Dit is nodig dat ons opnuut weer ’n voorraadopname maak van waar ons staan met ons verhouding met die Here. Ons raak so maklik in ’n gemaksone vasgevang. Ons is mos besig met godsdiensbeoefening. Ons kom dan kerk toe. Ons doen al die “regte” dinge. Die probleem is egter dat ons so maklik in ’n valse gerustheid vasgevang kan word net soos Simson was toe Delila hom aan die Filistyne oorgegee het. (Vgl. Rig. 16v19-20)

19Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak en ’n man geroep, en hy het Simson se sewe haarlokke afgeskeer. So het sy hom laat swak word, sy krag het verdwyn. 20Toe sy sê: “Die Filistyne is hier, Simson!” het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk.

Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie.

Ons wonder dikwels hoekom groei die kerk nie? Is dit nie maar ook omdat daar ’n geestelike doodsheid in die kerk teenwoordig is nie? Is die beskrywing van 2 Tim. 3v5 nie ook waar van ons nie?

Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie.

Is die krag van die Heilige Gees nog in ons lewens teenwoordig? Dit is ’n vraag wat elkeen persoonlik antwoorde voor moet gaan soek. Die Here gee vandag vir ons boodskap van troos. Uit die wanhoop van doodloopstrate gee die Here lewe en hoop.

 Hy beveel vir Esegiël om vir daardie dooie bene te profeteer. Met ander woorde, Esegiël moet die Woord van God verkondig. Wanneer hy dit doen dan gebeur daar ’n wonderwerk.

(Vgl. Eseg. 37v7-8a)

7Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek ’n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. 8Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek.

In Heb. 1v1-2 sê die Here vir ons dat Jesus Christus die Woord van God is:

1In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

In Joh. 1v1 sê Hy dit ook baie pertinent vir ons:

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.

Daar is net een manier waarop herlewing kan plaasvind vir diegene wat vassit in die doodloopstrate van wanhoop. Jesus Christus is die antwoord. Daar kort egter ook nog iets: In Eseg. 37v8b hoor ons:

Maar daar was nog nie gees in hulle nie.

Die Hebreeuse woord wat hier met gees vertaal is het ook die betekenis van asem of wind. Ons kan dus ook sê dat hierdie klomp beendere nou in liggame verander is, maar dat daar nog geen lewensasem in hulle is nie. Daarom gee die Here dan ook die opdrag in Eseg. 3v9-10:

9Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

10Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ’n baie groot menigte.

Sonder die Heilige Gees kan ons nie deel in die lewe wat Jesus Christus vir ons verwerf het met sy kruisiging en opstanding nie. Dan gaan dit in ons lewens ook maar net soos met daardie doodsbeendere. ’n Groot gedruis en baie beweging, maar sonder die Heilige Gees se lewendgewende asem bly hulle maar net ’n klomp dooie liggame. Dit is hier waar God se genade op sy duidelikste skyn, want Hy weet dat die mens op sy eie niks kan vermag nie. Daarom gee Hy ook die belofte in Eseg. 37v14:

Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe

Geliefdes, God gee nuwe lewe uit die wanhoop van doodloopstrate waarin sonde ons laat beland soos die Here ook in Tit. 3v5 vir ons bevestig:

Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.

Geliefdes, staan u vandag in ’n doodloopstraat en u weet nie watter kant toe nie? By Jesus is daar uitkoms. Die enigste bron van vrede en blydskap is Jesus Christus, want Hy is die enigste bron van lewe.

Ons kan daardie lewe alleen verkry wanneer God dit vir ons gee. As die Heilige Gees nie vir ons die ware lewe gee nie, dan sal daar geen lewe wees nie. Die Here belowe ons egter in Luk. 11v13 dat hy die Heilige Gees sal gee as ons daarvoor bid.

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee — die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

Geliefdes om die nuwe lewe te ervaar wat die Here ons gee: glo in Jesus Christus. Glo dat Hy vir jou sondes aan die kruis gesterf het. Glo dat Hy die dood met sy opstanding oorwin het en bid vir die krag wat die Heilige Gees ons gee. Bid dat die Heilige Gees nuwe lewe in jou verhouding met God sal gee.

Amen


09 November 2025

Ware geloof erken God se genade en reageer met dankbare aanbidding

 

Skrif: Lukas 17:11-19

Teksverse: Luk. 17:15,16 & 19

Die HERE wys weer vandag vir ons met Nagmaal hoe lief Hy ons werklik het. Hy het ons gered van die ewige dood deurdat Hy sy lewe in ons plek gegee het.

Die indringende vraag wat Here vandag vir ons met sy  woordverkondiging vra is: “Hoe verander dit jou lewe?”

Verstaan ons nog die diepere betekenis van dit wat Jesus vir ons gedoen het?

God gee sy seëninge aan alle mense, maar nie alle mense word gered nie. Ons hoor in Mat. 7:11

“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

In hierdie verhaal wat Lukas vertel hoor ons dat net een persoon uit tien gered was daardie dag!

Dis ’n eenvoudige verhaal. Terwyl Jesus en sy dissipels op pad was na Jerusalem het Jesus die mense wat hulle teëgekom het geleer van die Koninkryk van God en wat dit beteken om ware burgers van die Koninkryk te wees.

En terwyl hulle op pad was na ’n sekere dorpie toe het hulle tien mans teëgekom wat melaats was. Iemand wat melaats was moes hulself afskei van die samelewing en daarom was hierdie tien buite die dorp. Terwyl hulle nog op ’n afstand was het hulle om hulp geroep.

Jesus se reaksie wys sy deernis en dat Hy omgee. Hy beveel hulle om hulself aan die priester te gaan wys, want dis net ’n priester wat kon verklaar dat ’n melaatse genees is. Jesus het nie eers gevra dat hulle een of ander voorwaarde moes nakom nie. Hy het hulle dadelik genees en beveel dat hulle na die priester toe moes gaan sodat die priester bevestig dat hulle genees is. En dis hoe God se genade werk. Hy gee vrylik sonder om iets te vra.

Maar om die volle rykdom van God se genade te ontvang vra geloof. Geloof is die hande waarmee jy die volle rykdom van God se genade jou eie maak. Ware geloof erken God se genade en reageer met dankbare aanbidding daarop.

Hier is tien mans wat smeek om hulp en elkeen ontvang uiterlike genesing. Net een van die mans, ’n Samaritaan ontvang egter iets meer.

Wat is die verskil tussen die Samaritaan en die ander nege?

Die nege Jode ontvang God se seën en gaan aan met hul lewens. Die Samaritaan draai terug en aanbid God in dankbaarheid. Hy sien God se genade raak en reageer met dankbare aanbidding.

Geliefdes, hoe dikwels is ons lewens nie ook maar net soos die nege Jode wat nie terug gedraai het nie? Wanneer daar ’n krisis is, bid ons tot God en wanneer God ons daardeur help, gaan ons aan met ons lewens asof God nie bestaan nie.

Dis maklik om noodwiel gebede te bid en meeste mense doen dit dikwels, selfs ongelowiges doen dit van tyd tot tyd. Hoe werk ’n noodwiel? Terwyl jou bande reg is en jy ry met jou motor dink jy nie eens aan die noodwiel in jou kattebak nie.

Maar wanneer jy ’n pap band het, onthou jy van jou noodwiel en vir die kort tydjie dat jy dit gebruik is dit baie belangrik vir jou. Daarna gaan jy weer met jou lewe aan sonder om daaraan te dink totdat jy dit weer nodig kry. Hoe dikwels maak ons nie ook maar so met God nie?

Teenoor die nege is die Samaritaan egter totaal anders. Jesus sê vir hom:

“Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”

Die Griekse woord wat ons met gered vertaal beteken meer as die fisiese genesing wat hy ontvang het. Dit sluit ook geestelike redding in. Met ander woorde sy verhouding met God is herstel en dit bring hom daartoe om God in sy lewe te erken.

Hoe erken mens God in jou lewe? Jy sien raak waar Hy in jou lewe besig is. Jy sien sy hand van genade raak en dank Hom daarvoor. Jy gebruik Hom nie net soos ’n noodwiel om die probleme in die lewe te systap nie.

Ons leef nie in ’n perfekte wêreld nie. Ons voel nog elke dag die gevolge van die sonde aan die lyf. Maar dit is ook so dat selfs te midde van dit is God se seën teenwoordig. Sê jy nog elke dag vir God dankie vir die mooi en die goed in jou lewe?

Sê jy vir Hom dankie dat Hy daar is vir jou wanneer die lewe jou op ’n grondpad neem? Eer en dank jy God nog as die Almagtige Skepper wat moeite met jou maak? Is jy nog intens bewus van wat Jesus vir jou aan die kruis gedoen het?

Hoe verander dit jou lewe? Waarvoor bid jy wanneer jy in moeilike omstandighede beland? Bid jy net dat God dit moet wegvat of vra jy ook dat die Heilige Gees vir jou die geduld gee om dit te hanteer? Het jy darem nog ’n vriendelike woord vir die persoon agter die toonbank nadat jy vir twee ure in die tou gestaan het?

Skel jy net die trokdrywer met wraakgedagtes wat so amper in jou vasgery het of bid jy dat die Here sy gesindheid op die pad verander? Met ander woorde dra jy hom ook aan die Here op? Vra jy die Here om jou ook te help om te vergewe?.

Ons hoor in Luk. 17:16 dat die Samaritaan voor die voete van Jesus neergeval het en Hom gedank het. Dan word daar baie pertinent genoem dat hy ’n Samaritaan was. Vir die Jode wat hierdie verhaal gehoor het was dit ’n skokkende onthulling, want hulle het neergesien op die Samaritane.

Wat die Here hier vir ons sê is dat dit nie jou afkoms is of wie jy is wat vir jou redding gee nie. Ons val so maklik in die slaggat dat ons dink dat omdat ons naam op die lidmaatregister is, dat dit genoeg is. Die Jode het gedink, ek is mos ’n Jood, ’n afstammeling van Abraham. Ek is mos ’n Christin. Ek behoort mos aan ’n kerk, maar in my dag tot dag bestaan lyk ek niks anders as die wêreld daarbuite nie. Die vraag is egter, is ek net ’n inskrywing op ’n lidmaatregister, of is ek ’n aktiewe lidmaat in die gemeente?

Die Here wys hier vir ons dat dit net geloof is wat jou red. Geloof wat God se genade erken en met dankbare aanbidding daarop reageer.

Ons gaan nou aansit by die tafel van die Here. Kom ons kyk met nuwe oë na dit wat Jesus vir ons gedoen het. Kom ons sien weer raak dat sy liggaam vir ons gebreek was en dat sy bloed vir ons uitgegiet is.

Kom ons antwoord in geloof daarop deur God se genade te erken en met dankbare aanbidding daarop te reageer.

Amen