13 Mei 2012

Word wakker uit julle doodslaap!


Word wakker uit julle doodslaap!
13 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Open.:1-6 Teksvers: Open. 3:2

Sing    Lofsang:  Ps. 8 v 1 & 4       (OAB)
           Na wet:     Ps. 40 v 4            (OAB)
           Na gebed Ps. 119 v 7          (OAB)
           Slotsang   Ps. 84 v 3            (OAB)

Inleiding
Julle het die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood! Wat ’n verskriklike aanklag teen die kerk. Op die oog af volgens julle reputasie net in naam lewendig, maar eintlik is julle lankal dood! Dit is die aanklag wat Jesus teen die gemeente van Sardis gebring het. In die brief aanhef spreek Jesus weereens op ’n unieke wyse die gemeente aan wat spesifiek by daardie gemeente pas, net soos Hy met elk van die ander gedoen het, soos ons hoor in Open 3:1:
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis:
So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het:

Die sewe Geeste verwys na die volheid van die Heilige Gees en dit simboliseer die besondere teenwoordigheid van die Here self. Dit is net die volheid van die Heilige Gees wat die sluimerende en dooie Sardis weer tot lewe kan opwek. Die sewe sterre verwys na verwys simbolies na die sewe voorgangers waardeur Christus sy boodskap aan die gemeentes bring, dit wil sê Christus se boodskap kom deur die prediking na die gemeentes toe.

Anders as die ander gemeentes was die Gemeente in Sardis nie onder bedreiging of intimidasie van die heidense godsdienste of die Jode nie. Hulle was relatief welaf want Sardis was bekend as ’n sterk stadsvesting en sy handelsware soos goud en tekstielware. Op die oog af het dit gelyk of dit goed gaan met die gemeente, maar Jesus wys hulle daarop dat daar ’n baie ernstige probleem is. Hulle is geestelik dood! Anders as die ander gemeentes het Sardis ook nie sterk punte waarvoor hulle geprys kan word nie en dit dui vir ons op die erns van hul situasie.

Wat is die oorsaak van Geestelike doodsheid?
As ons wonder waarom Sardis geestelik dood was moet ons maar weer na Bybel toe draai om te hoor wat veroorsaak geestelike doodsheid. In Rom. 6:23 hoor ons:
Die loon wat die sonde gee, is die dood
Op verskeie ander plekke in die Bybel hoor ons hierdie selfde waarheid soos ook byvoorbeeld in Jak. 1:15:
Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.
Geestelike doodsheid word deur sonde veroorsaak.

Wat is die gevolg van geestelike doodsheid?
Hoe lyk geestelike doodsheid? Dit is ’n algemene apatie, dit wil sê ’n onverskillige gevoelloosheid teenoor alles. Dit is mense wat net nie meer opgewonde is oor die lewe nie. Dit is ’n mens wat sinies geword het in die lewe, dit wil sê iemand wat nie meer die mooi en die wonder van die lewe raaksien nie. Al wat hy raaksien is net donkerte en probleme. Niks is reg nie en niks word meer waardeur nie.

Moedeloosheid weens ’n gebrek aan vertroue in die sorg van ons hemelse Vader veroorsaak verder dat mens lamgelê word. Dit is amper asof ’n tipe depressie jou oorval deurdat jy nie werklik lus het om iets te doen of om betrokke te wees nie. Kommer veroorsaak naderhand dat mens die kleinste probleempie buite verband opblaas. Mens sien naderhand net nie meer kans vir die lewe nie. Dit is daardie gevoel wat jy het wanneer jy wakker word dat jy wens die nag wil net aanhou sodat jy weer in jou droomwêreld in kan ontsnap van die werklikheid waarmee jy nou weer te make het. Onvergewensgesindheid is ’n ander sonde wat mens lamlê. Dit is soos ’n bitter wortel wat in jou groei en al jou lewensvreugde steel. Hierdie is maar slegs enkele voorbeelde van sonde in ’n mens se lewe.

Hoe meer mens by sonde betrokke raak, hoe meer word mens afgestomp vir die lewe. Sonde het dieselfde effek as drank en/of dwelms in ’n mens se lewe. ’n Drank verslaafde begin heel onskuldig by een of twee drankies elke aand. Naderhand is een of twee nie meer genoeg nie en word dit naderhand vier of vyf en selfs die vyf is naderhand nie meer genoeg nie. Die wet van dalende meer opbrengs geld hier, met ander woorde jy moet al hoe meer gebruik vir al hoe minder plesier. Op die uiteinde vreet dit jou op sodat daar niks van jou oorbly nie. Dit is wat sonde in ’n mens se lewe doen.

Dit sluk jou naderhand heel in en ’n mens sien die effek daarvan in jou lewe. In plaas daarvan om liefde teenoor mekaar te bewys heers daar net ’n algemene selfsugtigheid waar elkeen vir homself is en die duiwel vang die agterse een. Daar is ’n grootskaalse onbetrokkenheid en geen sprake daarvan dat Christus se opdrag om die evangelie uit te dra nagekom word nie. So ’n geestelike doodsheid by sommige lidmate hou die gevaar in dat dit ook die ander lidmate kan oorval soos ’n dief in die nag. Wanneer iemand of ’n groepie konstant negatief is steek dit naderhand ook die ander aan wat positief is. Net soos wat een vrot appel in ’n vrugtebak die gesonde appels aantas.

Wat is die oplossing?
In Open 3:2 & 3a sê Jesus vir ons hoe ons van geestelike doodsheid ontslae moet raak. Die oplossing word ferm en kragtig in vyf definitiewe bevele gegee.
Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle.

Die eerste bevel: “Word wakker!” Die gelowiges moet wakker word uit hulle slaap van selfvergenoegdheid. Raak ontslae van die apatie waarin julle so vasgevang is. Die tweede bevel is: “Versterk wat nog by julle oorgebly het.” Net soos wat mens uit die as van ’n vuur wat byna dood is die een of twee kooltjies voed wat nog warm is moet daar gekonsentreer word op dit wat nog goed en reg is. Die derde bevel is: “Onthou hoe julle die evangelie ontvang het en daarna geluister.” Stap terug op julle geestelike pad en kom weer terug op die pad daar waar julle die pad byster geraak het. Die vierde opdrag is: “Hou daarmee vol.” Bly gehoorsaam. Volhard daarin. Sardis wat bykans oninneembaar was vanweë sy strategiese posisie is twee maal oorval deur die vyand omdat hulle nie waaksaam was nie. Daarom is die opdrag dan ook, hou aan om te volhard en gedurig deur waaksaam te wees teen die sonde wat mens so maklik wil oorval. Die laaste opdrag is “bekeer julle.” Draai in jou spore terug weg van die sonde en die pad na die dood terug na die pad van die lewe. Bekering is slegs moontlik as mens in geloof vashou aan die soenverdienste van Jesus aan die kruis en sy oorwinning oor die dood deur sy opstanding. As mens in ’n geestelike doodsheid verval het, moet jy weer by God se genade by kruis uitkom. Dit sal jou in staat stel om radikaal anders as wat jy tot nou toe gedoen het, te begin leef.

As mens nie by die kruis en opstanding uitkom nie, wag daar baie ernstige gevolge soos ons in Open 3:3b hoor:
As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie.
Diegene wat God se genade en liefde in Jesus Christus verwerp sal die volle impak van God se wraak voel.

Troos
Alhoewel hierdie brief op ’n baie negatiewe manier begin, bevat dit tog ’n stukkie troos vir diegene wat bly vashou aan God se genade soos ons hoor in Open 3:5:
Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.
Hulle sal vind dat die belofte wat die Here alreeds in Rom. 8:38 & 39 gemaak het, absoluut waar is. Anders as mense gaan God nie terug op sy beloftes nie:
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here
Kyk na binne!
Die brief word afgesluit met uitdaging soos ons hoor in Open 3:6:
Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.
In die lig van hierdie uitdaging moet ons nou vir onsself afvra: “Is ons gemeente geestelik dood?” Die moeilike deel van hierdie vraag is dat nie een van ons kan terugstaan en so na die gemeente kyk en die ander oordeel nie. Elkeen van ons is deel van die gemeente en daarom vereis hierdie vraag ’n kliniese en harde introspeksie by elkeen van ons, dit wil sê elkeen moet na binne kyk, daar waar dit ongemaklik is omdat dit naby aan my lyf is! Die vraag is dus eintlik: “Is daar van die simptome van geestelike doodsheid in my lewe te bespeur? Is ek besig om geestelik dood te gaan of nog erger, is ek reeds geestelik dood?”

Ek dink as ons eerlik is dan moet ons erken dat daar tot ’n mindere of meerdere mate by elkeen van ons van die simptome van geestelike doodsheid teenwoordig is. Daarom moet ons luister na wat die Gees vir ons sê: “word wakker uit die doodslaap waarin ons so stilweg ingeglip het!”                                      
Amen

Soek jou vreugde in die Woord van die HERE en nie by die goddelose nie


6 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Psalm 1. Teksverse: Ps. 1 v 1 & 2

Sing    Lofsang:  Ps. 91 v 1            (OAB)
           Na wet:     Ps. 119 v 1          (OAB)
           Na gebed Ps. 119 v 2          (OAB)
           Slotsang   Ps. 1 v 1 - 3         (OAB)

Inleiding
Is jy werklik gelukkig? Wat bepaal ware geluk in die lewe? Ps. 1 verskaf vir ons antwoorde op hierdie vrae. Ps. 1 is die ingangsportaal wat ons bekendstel aan die groot skat wat God vir ons in die Psalms gegee het. Die hoofkarakters wat in die Psalms aan die woord is, word in hierdie Psalm aan ons bekendgestel. Daar is drie persone wat ’n sleutelrol in die Psalms speel, naamlik die gelowige mens en teenoor die gelowige staan die goddelose. Die derde Persoon wat ons in die Psalms ontmoet is God, dié Een wat ’n mens se lewensgeluk bepaal.

In Ps. 1 word hierdie twee groepe mense en hul verhouding tot God aan ons voorgestel. Aan hierdie beskrywing kan ek myself toets en vasstel of ek waarlik gelukkig is of nie. In hierdie Psalm word die verskil tussen regverdiges en Goddeloses teenoor mekaar gestel. Ons sien ook wat die oordeel ten opsigte van elkeen is.

Die regverdige
Verse 1 tot 4 skets vir ons by wyse van kontras die verskil tussen die Goddelose en die regverdige is. In vers 1 hoor ons dat dit goed gaan met die regverdige. Die Hebreeuse woord wat met hierdie sinsnede vertaal is, beteken letterlik gelukkig en daarom is dit in die Ou Afrikaanse vertaling vertaal met welgeluksalig. Hierdie Hebreeuse woord het ’n baie sterker betekenis as om net bloot die situasie te beskryf. Dit gee ’n versekering aan die betrokke persoon dat dit goed sal gaan met hom. Dit sê nie dat dit moontlik goed gaan nie of dat dit behoort goed te gaan nie. Nee, dit is baie sterker. Dit SAL goed gaan.

In Psalm 1 word hierdie regverdige net aan ons voorgestel. Verder aan in die Psalms hoor ons wat die regverdige se karaktereienskappe is. Dit is ’n mens wat God heelhartig dien. Dit is ’n mens wat sy krag by die HERE soek en absoluut op Hom vertrou. Hierdie persoon lewe in God se lig en hy doen slegs iets as dit tot God se eer strek. Dit is vir hom ’n loutere vreugde om gedurigdeur sy gedagtes besig te hou met die Woord van die HERE. Sy kennis van God se Woord leer hom om na swakkes om te sien en te sorg dat reg geskied.

Die Goddelose
Teenoor die regverdige word goddelose beskry wat absoluut op ’n pad van agteruitgang is. Dit is die mens wat afkerig is teenoor God en sy Woord, wat God blameer wanneer dit sleg gaan sonder om self verantwoordelikheid te aanvaar vir dit wat hy oor homself bring. Sy leefwyse bevestig dit ook omdat hulle hul lewe in sonde deurbring. Dit wat die Woord van die HERE vir uitwys as verkeerd, doen hulle en hulle hou daardie optrede as reg voor.

In plaas van om op te bou breek hulle af. Dit is die mens wat altyd negatief in die lewe is en alles en almal om hom moet dit ontgeld. Hulle word nie net ten kwade beïnvloed deur die geselskap waarin hulle verkeer nie, maar hulle werk self ook aktief mee daaraan om diegene om hulle aan te hits om sonde te doen. Hierdie mense het geen eerbied vir God en sy Woord nie en hulle gaan selfs so ver om God se Woord te verdraai om hulle eie sondige en verkeerde optrede te regverdig. Dit is die persoon wat God verag en opstandig is teenoor God. Hy steur hom nie aan God se wet nie en doen alles wat verkeerd is met oorgawe.

Die lot van die regverdige
In Psalm 1 hoor ons ook wat word op die uiteinde van die regverdige en die Goddelose. Dit word deur twee beelde beskryf. Die regverdige word deur ’n boom wat by ’n waterstroom staan uitgebeeld. ’n Boom wat langs ’n standhoudende waterstroom staan se wortels kry altyd water. Dit verseker dat daardie boom groei en sterk word sodat dit stewig vasgeanker is. Wanneer die stormwinde waai bly die boom staan. Dit is hoe die regverdige is. Die persoon wat vasgeanker is in die lewende Woord van God groei en is in staat om die lewensstorms te trotseer. Wanneer dit swaar gaan in sy lewe dan vind hy sy sterkte in die HERE en nie in homself nie.

Wanneer ons hoor dat dit goed gaan met die regverdige, dan moet ons verstaan dat dit nie eintlik soseer na fisiese omstandighede verwys nie, maar veel eerder na ’n innerlike vrede wat in God sy oorsprong het. ’n Regverdige verstaan dat dit nie sy omstandighede of materiële rykdom of sy status in die lewe is wat aan hom vrede gee nie, maar dat dit die teenwoordigheid van God is wat vrede in sy gemoed gee. Ware geluk word net by God gevind en nie in rykdom of status of baie besittings nie. Ware geluk en vrede word nie in die gebrek aan teenspoed gevind nie, maar wel in die teenwoordigheid van God in my lewe.

Die regverdige word verseker dat hy God se seën in hierdie lewe ontvang en ook dat hy in die hiernamaals met God se liefdevolle teenwoordigheid geseën sal wees.

Die lot van die Goddelose
Teenoor die regverdige staan die Goddelose wat deur middel van kaf uitgebeeld word. Kaf is die droë blaarbedekking in ’n koringaar waarin die koringkorrels toegevou is. In teenstelling met die sterk lewende boom is kaf dood en droog. Anders as die boom wat ’n stormwind kan weerstaan word kaf deur die ligste windjie weggewaai.

Dit is hoe die Goddelose is. Selfs al gaan dit op die oog af goed met hom, is daar ’n gebrek aan innerlike vrede omdat hy van God geskei is. Die Goddelose soek daardie vrede op baie plekke, maar vind dit nie. So neem party hulle toevlug tot drank en dwelms. Ander soek dit weer in harde werk en die najaag van rykdom en status.

Teenoor die regverdige wat God se liefde ontvang staan die Goddelose wat God se oordeel ontvang. Net soos wat kaf nie teen die wind staande kan bly nie, sal die goddelose nie staande kan bly teen God se oordeel nie.

Waar staan ek?
Die vraag is: “waar pas ek in?” Pas ek in by die regverdige of pas ek in by die Goddelose? Ek moet sê dat ek baie ongemaklik was nadat ek die Psalm gelees het, want ek het besef dat daar baie meer van die Goddelose se eienskappe in my lewe is as wat daar van die regverdige se eienskappe in my lewe is en dat die lot van die Goddelose eerder as die regverdige my voorland is. As dit van my afhang gaan ek nooit by die ideaal kom wat vir die regverdige gestel word nie!

In die geskiedenis van die wêreld is daar een Mens wat op grond van sy eie verdienste 100% regverdig is. Hy het egter gekies om die straf van die Goddelose te dra sodat daar vir ons hoop is. In 1 Pet. 3:18 hoor ons:
Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

In Joh. 1:1 hoor ons:
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.
Jesus Christus is die Woord. In Ps. 1 hoor ons dit gaan goed met die mens wat sy vreugde in die Woord van die HERE vind. Ons moenie die fout maak om te dink dat die Woord van God net ’n lang lys is van onmoontlike moets en moenies nie. Die ware Woord is God se genade in Jesus Christus wat in ons plek as verlore sondaars die straf vir ons sonde gedra het sodat ons weer met God versoen kan word.

In Jesus Christus is ons regverdig voor God en daarom kan ons ook soos die regverdige begin leef. Daarom kan ons God heelhartig dien. Ons kan ons krag by die HERE soek en absoluut op Hom vertrou. Ons kan in God se lig lewe en slegs dit doen wat tot God se eer strek. Dit is moontlik om loutere vreugde te vind deur gedurigdeur ons gedagtes besig te hou met die Woord en om deur ons kennis van God se Woord te leer om na die swakkes om te sien en te sorg dat reg geskied.

Ons het nie nodig om die pad van die Goddelose te volg nie. Ons hoef gedurig net af te breek in plaas van om op te bou nie. Ons hoef nie geselskap by die Goddelose te soek wat ons beïnvloed om sonde te doen nie. Ons hoef self ook nie ’n negatiewe invloed op diegene rondom ons uit te oefen nie. Ons hoef God se Woord te verdraai om ons eie verkeerde sondige optrede te regverdig nie. Ons hoef nie meer soos vyande van God te leef deur ons nie aan Hom te steur nie en om sy wet te verontagsaam nie.

Kom ons vind ons vreugde in die Woord, dit wil sê in Jesus Christus en weet dat ons daarin ware geluk en vrede sal vind.
Amen

22 April 2012

Pasop vir valsheid in die kerk


22 Apr. 2012 (RB)
Skriflesing: Open 2 v 18 - 29. Teksvers: Open. 2 v 20

Sing    Lofsang:   Ps. 92 v 1            (OAB)
           Na wet:      Ps. 112 v 1          (OAB)
           Na gebed  Ps. 119 v 63        (OAB)
           Slotsang    Ps. 107 v 1          (OAB)

Het u al ooit ’n vrug geëet wat van buite heerlik en aanloklik lyk, maar binne is ’n vrotkol of ’n wurm? Van buite lyk dit so lekker, maar binne is dit glad nie so lekker nie! Die brief aan die gemeente in Tiatire waarsku ons teen so ’n situasie binne die kerk van die Here. Op die oog af ’n goeie welvarende gemeente, maar binne in is daar ’n kanker wat die hele gemeente kan lamlê.

Tiatira was ’n welvarende handelstad waar wol, leer en linne goedere asook gekleurde materiaal gemaak is. Daar was skoenmakers, bronssmede, pottebakkers en slawe handelaars. As gevolg van hierdie industrieë wat daar in Tiatira was, was daar baie gildes of vakbonde soos ons dit vandag ken. Hierdie vakbonde was die spil waarom die sosiale, politieke en godsdienstige lewe van die stad gedraai het. Elke vakbond of gilde het ’n eie god of godin as beskermer gehad aan wie groot feeste gewy is. Om vir die gemeenskap aanvaarbaar te wees, was dit dus nodig om te deel in hierdie feeste en afgodspraktyke wat daarmee gepaard gegaan het. As jy nie deel was van hierdie gildes of vakbonde nie, was dit bykans onmoontlik om ’n kommersiële bestaan te maak. Dit is binne hierdie omstandighede wat die gemeente in Tiatira moes funksioneer.

Hierdie brief is dan ook in die eerste plek aan dié gemeente gerig om hulle te waarsku teen valsheid binne die kerk. Hierdie brief volg dan ook die patroon van die ander ses briewe wat ons in Openbaring vind. Daar is ’n inleidende gedeelte wat die Skrywer bekendstel, ’n briefliggaam wat die probleem en oplossing uitspel en ’n gevolgtrekking met ’n belofte vir diegene wat luister na die Gees.

In die inleidende gedeelte stel Christus Homself bekend met ’n spesifieke eienskap soos in elk van die ander ses briewe ook gedoen word. In elk van die sewe briewe word daar ’n verskillende eienskap van Christus bekendgestel en gesamentlik gee dit ’n beeld in totaliteit van wie en wat Christus werklik is.

In hierdie brief word daar drie eienskappe van Christus uitgelig:
i. Christus is die Seun van God. Die beklemtoning van Christus as Seun dui daarop dat Hy die enigste ware Seun van God is in teenstelling met die aanbidding van Apollo die seun van Zeus wat die hoofgodsdiens in Tiatira was.
ii Sy oë vlam soos vuur. Die vlammende oë simboliseer Jesus se deurdringende insig en oordeel. Niks ontsnap sy aandag nie.
iii Sy voete is soos geelkoper. Dit simboliseer sy standvastigheid en duursaamheid.

In die briefliggaam word die gemeente se situasie uitgespel soos ons hoor in Open 2:19 hoor:
Ek weet alles wat julle doen.
Christus ken hulle situasie. Hy weet wat hulle sterkpunte is, liefde, geloof, diens en volharding. Hy weet wat ook wat hulle swakpunt is, naamlik dat hulle Isebel laat begaan. Hierdie swakpunt stel vir ons die regte perspektief op die goeie punte wat genoem is, want daarin lê ’n ernstige waarskuwing. ’n Kerk kan op die oogaf baie goed lyk, maar tog is dit nie ware kerk van die Here nie. Dit is moontlik dat die kerk vol is met baie aktiwiteit omdat die mense daar deel van die kerk is om vermaak te word. Hulle wil net gesus word eerder as wat hulle met hulle sonde gekonfronteer word. In wese is dit op die uiteinde net ’n hoogs suksesvolle Christian klub eerder as wat dit waarlik liggaam van Christus is.

In ons teksvers hoor ons dat daar ’n sekere Isebel was wat die kerk wou verlei. Dit herinner mens aan Isebel in die Ou Testament, die vrou van koning Agab wat afgodsdiens in Baalaanbiding onder die volk ingevoer het. Ons weet nie veel van hierdie vrou nie. Wat wel duidelik is, is dat sy nie die kerk wou vernietig nie, maar sy wou nuwe praktyke in die kerk inbring wat effektief die gemeente se geloof vernietig het.

Daar is twee maniere hoe sy dit bewerk het soos ons hoor in Open 2v20:
Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet.
Die verleiding tot onsedelikheid en die eet van vleis wat aan afgode geoffer is. Beide hierdie praktyke hou verband met mekaar en het ten doel om die fokus en vertroue op Christus alleen te vernietig. In die Ou en Nuwe Testament word owerspel telkemale as beeldspraak gebruik om die volk van God se ontrouheid aan Hom uit te beeld. Dink maar aan die boek Hosea waar hy met ’n prostituut moes trou om die volk se ontrouheid aan die Here aan te dui. In die Nuwe Testament word die kerk as die bruid van Christus uitgebeeld. Wanneer ’n bruid ontrou is aan haar man is dit owerspel.

In Open 2v24 hoor ons hoe diegene wat by hierdie leer van Isebel betrokke was, die “diep geheimenisse van die satan” leer ken het. Satan se hoofdoel is ’n teenstander en verleier en dit is ook wat die naam satan letterlik beteken. In die Bybel sien ons ook dan dat hy ten doel het om die mens van God afvallig te maak. In Tiatira kon iemand net deel van die gildes word as hulle meegedoen het aan die feeste wat aan die gilde se beskermgod gewy is. Die leer van Isebel het dan ook behels dat die gelowiges daaraan kon deelneem. Die effek daarvan was dat hulle hul geloof in Christus moes vermeng met die afgodsdiens aan die gilde se gode en daarmee het hul effektief van die Here af weggedraai. Binne die gemeente was daar dus die kanker van diegene wat ’n veelgodery voorgestaan het.

Die vraag is geliefdes, “wat het hierdie brief met ons as gemeente te doen?” Ons het tog nie meer guldes of vakbonde wat van ons verwag om mee te doen aan feeste wat aan afgode gewy is nie. Maar tog, as ons mooi gaan kyk dan sal ons sien dat die gevaar wat die gemeente in Tiatira bedreig het net so groot probleem vir die kerk van die Here in hierdie tyd is. Ons leef in ’n wêreld wat al hoe meer vyandig is teenoor die Christendom. Die samelewing verwag al hoe meer van die Christene om aan te pas by wêreldse standaarde, om praktyke wat die Bybel ons leer sondig is, te aanvaar.

Ons leef in ’n wêreld wat die valse teenstelling maak tussen geloof en wetenskap en wat van ons verwag om die kern van ons geloof (Jesus wat as Seun van God vir ons sondes gesterf) te versaak. Ons leef in ’n wêreld wat van ons verwag om die Christelike geloof te sien as net nog een van die vele wêreldgelowe en dat dit op gelyke voet daarmee staan. Hiervolgens het die Christelike geloof nie die enigste bron van waarheid nie, maar het ons net ’n stukkie van die groter waarheid beet. Die valse leer dat Jesus nie die enigste verlosser is nie en ook dat Hy nie God is nie. Die valse leer dat God maar net ’n onpersoonlike mag is wat geen invloed op hierdie wêreld het nie. Dat die mens in homself oor die mag besit om sy eie saligheid te bewerk. Die hele beweging wat elemente van die Oosterse spiritualiteit soos meditasie in die kerk inbring. Die valse leer dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar dat dit slegs ’n menslike geskrif is van die mens se nadenke oor God. Die hele gedagtegang dat daar nie iets soos sonde is nie en dat ons maar net wêreldse liefde en vrede moet najaag en dat die mens dit self sonder God kan bereik.

Maar nog nader. Ons is so geneig om te dink dat hierdie dinge daar buite en ver van ons is. Dit is egter nader aan die lyf as wat ons dink. Daar waar ons binne ’n beroep staan en daar soms van ons verwag word om ons beginsels prys te gee om die besigheid se belange op so ’n onetiese manier te bevorder. Daar waar mense binne die kerk is wat wêreldse praktyke soos saambly in die plek van die huwelik stel. Jong mense wat met dwelms eksperimenteer en hulself blootstel aan okkultiese invloede wat daarmee gepaard gaan. Die misbruik van drank kom algemeen voor en selfs kinders is daarby betrokke.

Die Here waarsku ons baie ernstig teen hierdie wanpraktyke en sy oordeel daaroor sal nie uitbly nie soos ons hoor in Open 2v22 en 23:
Kyk, Ek gee haar aan ’n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding—as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.

Vir die wat getrou aan die Here is en nie deel in die vermenging van die wêreld se valse godsdiens nie troos die Here. Elkeen wat vashou aan die Bybelse leer dat Jesus nie net nog een van die Verlossers is nie of selfs dat Hy die hoof Verlosser is nie, maar bly by die waarheid dat Hy die enigste Verlosser is, ontvang die belofte dat hulle die verleiding van hierdie wêreld sal oorwin en dat hulle die môrester as prys sal ontvang. In Open 22v16 hoor ons:
“Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.”
Ons ontvang die troos dat ons deur Jesus, wat die helder Môrester is, ware gemeenskap met God hê

Pasop vir die valsheid in die kerk wat deur die verleiding van hierdie wêreld kom en hou vas aan die waarheid dat Jesus die enigste Verlosser is wat ons met God kan versoen.
Amen

17 April 2012

God dra ons deur die léwe vanaf geboorte tot in ons ouderdom


15 Apr. 2012 (RB)
Skriflesing: Jes. 46
Teksverse: Jes. 46 v 3 & 4

Sing    Lofsang:  Ps. 89 v 1            (OAB)
           Na wet:     Ps. 1 v 1              (OAB)
           Na gebed Ps. 46 v 1            (OAB)
           Slotsang   Ps. 91 v 1            (OAB)

Soms beland ons in situasies waaroor ons geen beheer het nie. Dit is soos om in ’n rivier te beland wat in volle vloed is. Die enigste ding wat mens kan doen is om te probeer om kop bo water te hou terwyl jy deur die vloedwaters meegesleur word. Die lewe is soms soos ’n rivier in wat in vloed is waarin ons geval het. Sekere gebeure sleur ons mee sonder dat ons beheer daaroor het. Soms is dit vanweë verkeerde sondige besluite wat ons self geneem het en soms is dit as gevolg van sondige optrede van ander mense wat ’n direkte invloed op ons uitoefen.

Die ballingskap was vir Israel so ’n gebeurtenis waaroor hulle geen beheer gehad het nie. In hulle geval was dit omdat hulle agter die afgode van die volke daar rondom hulle aan geloop het. Die uiteinde daarvan was dat hulle in Ballingskap as slawe deur Babilonië weggevoer is. In die eerste nege en dertig hoofstukke van Jesaja hoor ons hoe die profeet hulle indringend waarsku, maar hulle wou nie luister nie. In die tweede deel van Jesaja ;hoofstukke 44 tot 66; hoor ons hoe die Here sy volk in Ballingskap troos met die versekering dat hulle wel gered gaan word. Jes. 40 v 1 begin dan ook:
Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê.

In Jes. 46 hoor ons hoe dit net die lewende God is wat sy volk kan red in teenstelling met die afgode wat niks kan doen nie. Die Here gebruik vir Kores die koning van die Mede en Perse om die Babiloniërs te straf. Net soos wat die Babiloniërs vir Israel in ballingskap weggevoer het, gaan hulle nou self in ballingskap weggevoer word. In Jes. 46 v & 2 hoor ons hoe magteloos die afgode is waarop hulle vertrou het:
Bel het ineengestort, dis klaar met Nebo! Julle gode wat deur julle rondgedra is, word nou op diere, op beeste gelaai. Hulle het ’n vrag geword vir moeë diere. Dit is klaar met julle gode, hulle het ineengestort hulle kan hulle vrag nie dra nie en word self in ballingskap weggevoer.

Bel en Nebo is die hoofgode van Babilonië. In plaas daarvan dat hulle die Babiloniërs dra en beskerm in hul tyd van krisis, moet hulle self gedra word en word waar hulle inderdaad ’n vrag vir die moeë diere is wat hulle wegdra. In Jes. 46 v 3 & 4 hoor ons wat die lewende God doen in teenstelling met die magtelose afgode:
Luister na My, nageslag van Jakob, almal wat oor is uit die nageslag van Israel, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.
Die mense en moeë trekdiere moet die afgode dra in tye van krisis, maar die lewende God dra sy volk dwarsdeur hulle lewe in die goeie en slegte tye.

Hierdie is ’n interessante verhaal van die Israeliete en hulle betrokkenheid by die Babiloniërs se afgode, maar die vraag is geliefdes: “wat het dit met ons te doen?” Ons het tog nie meer afgodsbeelde van goud en silwer wat aanbid word nie! Hoe kan die verhaal van afgode enigsins vir ons relevant wees? As ons mooi gaan kyk sal ons sien dat ons in hierdie moderne tyd van ons dalk nog meer afgode het as wat die ou volke gehad het. ’n Afgod is tog enige iets wat ons in die plek van God stel. As ons, ons vertroue op iets anders as die lewende God stel, dan is dit ’n afgod. As ons iets belangriker ag as God, dan is dit ’n afgod. Is ons bekommernisse en probleme nie ook maar ’n afgod nie omdat ons meer tyd en aandag daaraan spandeer as aan God nie?

In Jes. 46 v 5 hoor ons hoe die Here vir Israel sê hoe onsinnig dit is om hul vertroue op afgode te stel:
Met wie kan julle My vergelyk, aan wie kan julle My gelykstel, met wie kan julle My op een lyn stel, wie kan ’n vergelyking met My deurstaan?
In Jes. 46 v 6 & 7 hoor ons hoe die mense afgodsbeelde van goud en silwer maak en dit dan op ’n plek in ’n tempel neersit en daar staan hy. Dit kan nie beweeg nie en as iemand in nood na hom roep dan kan hy nie antwoord nie! Hiermee sê die Here vir ons dat ons nie ons vertroue op verkeerde goed moet plaas nie. Ons moenie op dinge vertrou wat ons nie kan help nie en wat nie hoor wanneer ons roep nie.

Wanneer ons, ons probleme en bekommernisse self probeer dra dan plaas ons, ons vertroue op die verkeerde plek. Toe Israel van die Here af weggedraai het en hulle vertroue op die afgode van hul buurvolke geplaas het, het hulle hul vertroue op die verkeerde plek geplaas. Dit het hulle duur te staan gekom, want hulle is as gevolg daarvan in ballingskap weggevoer. As ek op verkeerde dinge in my lewe vertrou, dan beland ek ook in ’n krisis. As ek op my geld of my eie vermoë en slimmigheid vertrou in die lewe, beland ek ook in ’n ballingskap van sonde wat my soos ’n slaaf vasbind. Hoe kom ek los uit slawebande van die sonde? Hoe kry ek dit reg om God te glo wanneer Hy vir my sê dat Hy my van geboorte af gedra het tot nou toe en dat Hy my nog verder sal dra in my ouderdom in?

In Jes. 46 v 11 tot 13 hoor ons hoe die Here vir Israel vertel van die redding wat Hy vir hulle gaan bring:
Ek roep ’n roofvoël uit die ooste, uit ’n ver land roep ek ’n man wat my besluit sal uitvoer. Ek het dit gesê, en Ek sal hom laat kom, Ek het dit beplan en Ek sal dit doen. Luister na My, julle hardkoppiges, julle wat geen redding verdien nie. Ek laat die redding naderkom, dit is nie meer ver nie, die verlossing wat Ek bring, sal nie lank uitbly nie. Ek bring verlossing vir Sion en openbaar my mag in wat Ek met Israel doen.
Die Here stuur vir Kores van die Mede en die Perse om Israel uit die kloue van die Babiloniërs te verlos selfs al verdien hulle dit nie. Dit is wat genade is, wanneer die Here ons verlos, selfs al verdien ons dit nie. Wanneer die Here my verlos wanneer ek verdien om nie verlos te word nie omdat ek my vertroue op iets anders as die lewende God gestel het.

Die Here sal heeltemal geregverdig wees as Hy vir my sê: “jy wil mos op die afgode in jou lewe vertrou. Kyk nou of hulle jou gaan red.” Hy doen dit egter nie. Inteendeel Hy doen net mooi die teenoorgestelde. Hy wat die ewige God is het mens geword in Jesus Christus. Jesus het bange Godverlatenheid aan die kruis ervaar. Hy het in ons plek die straf vir ons sondige rebelsheid teen die Here gedra.

Wanneer die lewe soos ’n rivier in vloed word wat ons meedoenloos voortsleur, hou u oë op die kruis. Hou vas aan Jesus se oorwinning oor die dood, want Hy gee dit uit genade aan ons, sonder dat ons dit verdien. Wanneer die bekommernisse en probleme van die lewe te veel word, hou dan vas aan die wete dat God dra ons deur die léwe vanaf geboorte tot in ons ouderdom.
Amen

08 April 2012

Met sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons hoe lief Hy ons werklik het


07 Apr. 2012 (RB)
Skriflesing: Luk. 23:13 – 43 ; Joh. 19:17-35 ; Mat. 27:45 – 46
Teksverse: Luk. 23;34, 43, 46; Joh. 19: 26-28, 30; Mat 27:46

Sing    Lofsang:   Ps. 116 v 8 - 10            (OAB)
           Na wet:      Ps. 130 v 2 & 4             (OAB)
           Na gebed  Sb. 18-6 v 1 , 3 & 5      (OAB)
           Slotsang   Ps. 31 v 3 , 4 & 12        (OAB)
Inleiding
Wat beteken Paasfees werklik vir ons? Volgens die winkeladvertensies lyk dit of Paasfees gaan oor sjokolade paashase en sjokolade eiers. Die haas en die eier is oeroue simbole van vrugbaarheid, want die tydperk waarin ons Paasfees vier, is in die noordelike halfrond vroeë lente, ’n tydperk van nuwe lewe. Vir Christene is dit egter nie waaroor Paasfees gaan nie. Christene herdenk met Paasfees die kruisiging en opstanding van Jesus Christus 2000 jaar gelede wat plaasgevind het in die tyd wat Joodse Paasfees gevier is.

Wat is die werklike betekenis van Jesus se kruisiging en opstanding vir ons? Hierdie betekenis kom duidelik na vore uit die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het. Met sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons hoe lief Hy ons werklik het en daarom gaan ons vanoggend stilstaan by die sewe kruiswoorde. Sewe is die volheidsgetal van God en met sewe kruiswoorde hoor ons die volle omvang van Jesus se liefde vir ons.

In die eerste kruiswoord bid Jesus vir sy vyande.
Luk. 23 v 34 : “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Wie is Jesus se vyande? Die maklike antwoord is hulle wat Hom gekruisig het. Hulle wat saam geskree het “kruisig Hom!” Daarmee wys ons gerieflik die vinger weg van onsself af. Die korrekte antwoord is dat alle mense as gevolg van sonde vyande van God is. Die ongemaklike antwoord is dat ek Jesus se vyand is en daarmee wys die vinger direk terug na my toe! Die troos wat ons in hierdie bede van Jesus vind is dat Hy ook vir my aan die kruis gesterf het soos ons ook hoor in Rom. 5 v 8:
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Hierin sien ons hoe ware liefde van God haat oorwin. Die verantwoordelikheid wat hieruit voortspruit is dat ek ook my vyande moet vergewe soos wat God my vergewe. Is ek bereid om God se liefde in my lewe te laat werk of leef ek nog in vyandskap met God en my naaste?

In die tweede kruiswoord sien ons Jesus se liefde in die verlossing wat Hy aan boetvaardige mense skenk.
Saam met Jesus het is daar twee misdadigers gekruisig. Een van hulle het die vertroostende woorde van Luk. 23 v 34 gehoor:
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Waarom het net een hierdie troos gehoor? Slegs een het besef hoe verlore hy in sy sonde is terwyl die ander een Christus gespot het en ander vir sy sonde blameer het. Die een wat gered is het in diepe ootmoed by Jesus gesmeek soos ons hoor in Luk. 23 v 42: “dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

Volhard ek nog in my sonde waar ek alles en almal blameer of het ek al tot die diepe besef van my verlorenheid gekom sodat ek by Jesus verlossing kan soek? Die troos wat ons in die tweede kruiswoord ontvang is Jesus se liefde vir verlore sondaars wat by Hom verlossing vind.

In die derde kruiswoord hoor ons die ware vertroosting van Jesus se liefde vir diegene wat naby Hom is.
Joh. 19v26-27: “Daar is u seun ........ daar is jou moeder”
In Jesus se diepe nood dink Hy nie aan homself nie, maar sien Hy steeds die pyn en lyding van hulle wat vir Hom dierbaar is raak. Met hierdie kruisgebeure het die profesie van Simeon aan Jesus se moeder waar geword:
En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan
In hierdie derde kruiswoord sien ons Jesus se liefde raak in sy omgee vir die pyn en lyding van elkeen wat naby Hom is. Sy liefde bied ware vertroosting omdat Hy empatie het met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.

Die troos wat ons hierin vind is dat Jesus ook vir ons omgee en dat ons met vertroue na Hom toe kan gaan vir troos wanneer ons pyn en lyding ervaar. Net soos wat Johannes vir Maria in sy huis geneem het, sal ons hemelse Vader al sy kinders in sy huis opneem waar Jesus vir hulle plek voorberei het.

Na hierdie derde kruiswoord was daar drie uur duisternis. Voor die duisternis rig Jesus Hom tot die mense. Na die duisternis rig Hy Homself tot sy lyde in die vierde en vyfde kruiswoorde. Die duisternis dui ook vir ons die dieptepunt van Jesus se lyding aan.

In die vierde kruiswoord hoor ons Jesus se uitroep van Godverlatenheid.
Mat. 27v46:  “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Deur die eeue heen hoor ons hoe mense kerm van Godverlatenheid. Daar was egter net een geval in die geskiedenis waar God werklik sy rug op iemand gedraai, toe Hy Homself van Jesus ontrek het. Dit is wat die ware hel is, naamlik om totaal deur God verlaat te word. Daardeur het Jesus die volle straf gedra van die uitverkorenes.

Die troos wat ons in die vierde kruiswoord ontvang is dat Jesus uit liefde Godverlatenheid ervaar het sodat ons nooit hoef uit te roep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” In ons swaarste aanvegtinge kan ons verseker weet dat God ons nooit alleen laat nie. Hy is daar en daarom kan ons met vertroue by hom hulp en skuiling soek wanneer die lewe moeilik raak en kan ons vashou aan sy belofte wat Hy in Rom. 8 v 38 – 39 vir ons gee:
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Met die vierde kruiswoord hoor ons Jesus se liefde in sy geestelike lyde wat Hy in ons plek gedra het.

In die vyfde kruiswoord hoor ons van Jesus se liggaamlike lyde.
Joh. 19v28 “Ek is dors.”  Jesus het na liggaam en siel gely en daarmee bewys Hy sy liefde vir ons deurdat Hy ons liggaamlik en geestelik verlos. Hiermee kry ons die troos dat ons by Jesus die lewende water kan kry wat vir ons ’n lafenis vir ons lyding en droefheid hier op aarde. Die troos is ook verder dat Jesus ons daarmee verseker dat die lyding hier op aarde van verbygaande aard is. Ons sien daarna uit om na hierdie lewe vir ewig by God te wees waar daar geen hartseer pyn of lyding sal wees nie en dat God self al ons trane sal afdroog. Ons kan nou reeds troos by God vind met die sekere wete dat “die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” soos hy ons belowe in Rom. 8 v18. Gaan soek ons, ons troos by die Here of verval ons nog steeds in ’n troostelose moedeloosheid wanneer die lewe ons omdop?

Die vierde en vyfde kruiswoorde was uitroepe van smart en daarmee troos Jesus se liefde ons omdat Hy bereid was om in ons plek die smart te dra. Die sesde en sewende kruiswoorde is uitroepe van oorwinning.

In die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde vir ons ’n nuwe begin in die lewe gee.
Joh. 19 v 30: “Dit is volbring!” Hiermee sê Jesus vir ons dat sy werk as slaaf voltooi is en dat sy werk as Koning begin. Hy het die oorwinning behaal deur volledig vir ons sondes te betaal. Dit is dan ook ’n draaipunt in die wêreldgeskiedenis. Die mag van die sonde is gebreek. Sonde het nie meer ’n houvas op ons nie. Ons het nou ’n nuwe lewe saam met God.

In die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde die troos op ons lewensweg is. Al dreig my lewe om sy doel te mis en doelloos te wees is daar vir my die hoop van ’n nuwe begin saam met God. Vir elkeen wat die sesde kruiswoord ter harte neem is daar die hoop dat my lewe sinvols sal wees en dat ek my lewensdoel saam met God sal bereik.

Met die sewende kruiswoord sê Jesus vir ons dat Hy nou ’n nuwe betekenis aan die dood gee.
Luk. 23v46. “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Met sy lewe het Jesus vir ons gewys hoe om te leef. Nou wys Hy vir ons hoe om te sterf. Een ding in die lewe is seker, naamlik dat ons gaan sterf. Dit wat agter die dood lê bly vir ons ’n onsekerheid. Hier wys Jesus vir ons dat ons, ons nou ook in die dood veilig in die Vader se hande kan toevertrou omdat die dood nie meer ’n straf is nie.

Vir die ongelowige is die dood ’n absolute hopeloosheid en ’n einde aan alles. Vir die gelowige is die dood egter slegs ’n deurgang na ’n volgende bedeling waar ons ewig saam met God sal wees. Omdat Jesus in ons plek die straf vir die sonde gedra het hoef ons nie God se woede in die dood te vrees nie en daarom kan ons vertrou dat God ons veilig sal bewaar. Die troos wat ons hierdeur ontvang is die wete dat ek nou in ’n toestand van onsekere donkerte ingaan waar ek myself nie kan beskerm nie. Daarom vertrou myself aan God se troue Vaderlike sorg toe. Ek vertrou dat U my in die nuwe dag sal wakker maak.

Daarom is die dood vir die gelowige nie die einde nie, maar ’n deurgang tot die nuwe dag van heerlikheid saam met God.

Samevatting
Die ware betekenis van Jesus se kruisdood en opstanding kom duidelik na vore uit die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het. Met die sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons hoe lief Hy ons werklik het In die eerste kruiswoord bid Jesus vir sy vyande en daarin sien ons hoe God se liefde ons haat oorwin. In die tweede kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde vir verlore sondaars wat by Hom verlossing vind. In die derde kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde wat ware vertroosting bied omdat Hy empatie het met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.

In die vierde en vyfde kruiswoorde hoor ons van Jesus se lyde. Hy het geestelik en liggaamlik gely. Met die vierde kruiswoord hoor ons van sy Godverlatenheid sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie. In die vyfde kruiswoord hoor ons dat niks ons van sy liefde kan skei nie en dat ons uitsien na ’n bedeling waar daar geen lyding meer sal wees nie. Die sesde en sewende kruiswoorde is uitroepe van oorwinning. Met die sesde kruiswoord hoor ons dat daar ’n nuwe begin is vir elkeen wat deur sonde ontspoor is. In die sewende kruiswoord hoor ons dat die dood vir die gelowige nie die einde is nie, maar ’n deurgang tot die nuwe dag van heerlikheid saam met God.

Kom ons vind ons verlossing en vertroosting in die liefde van Jesus wat Hy aan die kruis vir ons gewys het en nie in die oppervlakkigheid van hierdie wêreld nie.
Amen

Die HERE gee in die oorvloed van sy troue verbondsliefde vir ons skuiling teen storms van die lewe


25 Mar. 2012 (RB) Ps. 5 ; Teksverse Ps. 5 v 8 & 9

Sing    Lofsang: Ps. 34 v 1 , 2 & 5          (OAB)
           Na wet:    Ps. 119 v 1                    (OAB)
           Na gebed Ps. 86  v 3                    (OAB)
           Slotsang  Ps. 31 v 1 & 17             (OAB)

Inleiding

Soms dop die lewe ons om. Dinge gebeur waaroor ons geen beheer het en dit voel of ons maar net meegesleur word. Die ergste is daardie gevoel dat ons niks daaraan kan doen nie. Dit is wanneer mens moedeloos word en nie weet watter kant toe nie. Elkeen van ons weet maar alte goed watter dinge in die lewe ons moedeloos maak. Dit is daardie dinge wat dit vir ’n mens laat voel of ons in ʼn hoek gedruk word waaruit ons maar net nie self kan uitkom nie.

Geliefdes: Wat doen mens wanneer dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het en jy weet nie watter kant toe nie?

In Psalm 5 sien ons dat Dawid ook so benoud gevoel het. Ons leer egter in Ps. 5 dat Dawid gevind het dat die enigste antwoord by God lê. Die HERE sê vir ons in Ps. 5 dat Hy in die oorvloed van sy troue verbondsliefde vir ons skuiling gee teen storms van die lewe.

Met Ps. 5 antwoord God drie belangrike vrae in ons lewens:
F    Waar kry ek antwoorde op my lewenskrisse?
F    Waar kry ek geloofsekerheid?
F    Hoe verander my geloofsvertroue my lewe?

Waar kry ek antwoorde op my lewenskrisse?

In ons teks sien ons dat Dawid in ʼn worstelstryd betrokke was waar sy vyande leuens oor hom versprei het. Uit die Psalm weet ons egter nie wat die omstandighede was wat aanleiding gegee het dat Dawid hierdie Psalm geskryf het nie. Dit is wel in die Psalm baie duidelik dat dit meer was as wat hy as mens kon hanteer.

Dit sien ons duidelik in die intensiteit van sy gebed. In verse 2 en 3 bid hy:
“Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.”
Dawid is benoud en sy gebed raak al hoe intenser hoe verder hy gaan. HERE hoor my gebed! Verstaan my probleem, HERE help my! Hoor u Dawid se benoudheid geliefdes? Deur die eeue heen het gelowiges vertroosting gevind in die Psalms. In die Psalms praat die Psalmdigters met God. Hulle stort hulle diepste emosies teenoor God uit. Hulle prys God en besing sy lof in die Psalms, maar hulle lê ook hul diepste wroegings voor God neer. In die Psalms leer God ons ook dat ons met ons vreugdes en lewenskrisse na Hom toe moet kom. As jy nie weet wat om te bid nie, haal dan die Psalms aan in jou gebede en weet dat die Heilige Gees jou daardeur help bid want die Psalms is ook die geïnspireerde Woord van God. As jy werklik benoud is en nie weet watter kant toe nie, bid maar gerus :
        “Luister tog na my woorde, Here,
        hoor hoe ek sug. Gee tog aandag aan my hulpgeroep,
        my Koning en my God,
        want tot U bid ek.”

Waar kry ek antwoorde op my lewenskrisse? Ek kry alleen by God antwoorde wanneer ek in gebed tot Hom nader. Wanneer ek in ’n worstelstryd is het ek geloofsekerheid nodig sodat ek op God kan vertrou om my te help in krisistye.

Waar kry ek geloofsvertroue?

Ps. 5 toon die Heilige Gees vir ons baie duidelik aan wat die oorsprong van ’n mens se geloofsekerheid is. In ons teksvers hoor ons hoe Dawid in vertroue tot God nader. Waar kom hierdie vertroue vandaan? Verse 5 tot 8 maak dit duidelik waar dit vandaan kom.

Dawid sê in sy gebed dat God hoogmoediges en leuenaars uitroei en dat Hy moordenaars en bedrieërs verafsku.
“U is nie ’n God wat onreg verdra nie,
die kwaad het by U geen  plek nie.
 Hooghartiges durf nie voor U kom nie.
U haat almal wat onreg doen,
U roei alle leuenaars uit.
Die Here verafsku moordenaars en bedrieërs.”
Sulke mense het geen reg om tot God te nader nie! Tog sê Dawid in vers 8 dat hy tot die HERE mag nader en in sy teenwoordigheid Hom mag aanbid. Bedoel Dawid hiermee dat hy beter is as die mense wat hy in verse 5 tot 7 genoem het?

Nee geliefdes! Dit is dieselfde Dawid wat as gevolg van sy owerspel met Batseba moord gepleeg het. Dawid roem nie hier op sy goeie hoedanighede nie. Hy probeer God nie tevrede stel met sy vroom lewe nie. Dawid sê nie hier: “Ek is beter as daardie slegte mense en daarom is ek vir God aanvaarbaar terwyl hulle nie is nie.” Kom ons luister weer mooi na wat hy sê:
        “Maar ek, ek mag deur u groot liefde in u huis ingaan
        en in u heilige tempel buig met die eerbied
        wat aan U verskuldig is.”
Die Hebreeuse woord wat met groot liefde vertaal is, kan ook vertaal word met troue verbondsliefde.

Die grondrede van Dawid se geloofsekerheid lê dus nie in sy eie pogings om God te probeer tevrede stel nie, maar wel in God se troue verbondsliefde wat Hy teenoor sondaars bewys. God se verbondsliefde verwys na sy verbond wat Hy in die eerste plek met Abraham opgestel het en wat Hy met Abraham se nageslag herbevestig het, ook met Dawid. Die verbond kom volledig van God af waarin Hy belowe om ’n God te wees vir sy volk en Hy van hulle verwag om sy volk te wees. In die verbond bevestig God sy liefde vir sy volk en Hy gee daardie liefde sonder dat Hy verplig is om dit te doen.

God se verbond is ook weer in die Nuwe Testament in Christus met ons as Abraham se geestelike nageslag herbevestig. Op grond van hierdie verbond gee God sy liefde aan die ons. Die inisiatief vir die verbond het immers van God af gekom op grond van sy liefde vir ons. Dit is op hierdie verbondsliefde wat Dawid hom beroep.

God vertel vir ons in die Nuwe Testament hoe groot hierdie liefde van Hom werklik is. In 1 Johannes 4:9-10 sê die HERE vir ons baie duidelik presies wat God se liefde behels:
        “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar,
        dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het,
        sodat ons deur Hom kan lewe.
        Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie,
        maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het
        as ’n versoening vir ons sondes.”

U sien dus geliefdes, ons geloofsekerheid is gevestig in God se troue verbondsliefde. God het ons so lief dat Hy sy Seun gestuur het as versoening vir al ons sondes. Uit ons eie sal ons nooit goed genoeg wees vir God nie, maar in Christus staan ons vlekkeloos voor God. Ons hoef niks te doen om vir God aanvaarbaar te wees nie. Christus het alles reeds klaar vir ons gedoen!

God se troue verbondsliefde in Jesus Christus is die fondament waarop my geloofsvertroue gebou word.

Hoe verander my geloofsvertroue my lewe?
In vers 9 bid Dawid dat die HERE hom moet leer wat reg is en dat die HERE hom moet help om sy wil te doen. Letterlik staan daar soos die 33/53 vertaling dit ook vertaal:
“Here, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil;
        maak u weg voor my reg.”

Wanneer Dawid die HERE vra om hom te lei in sy geregtigheid, dan vra hy vir die HERE om hom te lei om die sonde te vermy en om die wil van die HERE te doen. Christus som dit soos volg in Mat 22:37 op:
“‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele  siel’ en met jou hele verstand..
In wese vra Dawid dus vir die HERE om hom te help om die HERE ten volle te vertrou en volmaak lief te hê.

In die tweede plek vra Dawid vir die HERE:
        “maak u weg voor my reg”
Wat Dawid hier vir die HERE vra is dat die HERE sy pad wat Hy vir Dawid uitgelê het moet reguit maak. Dawid vra dus hier dat die Here hom moet help om die pad te loop wat die Here vir hom uitgelê het. Om dit van die Here te bid vra geloofsvertroue en geloofsvertroue vind ons slegs in God se troue verbondsliefde wat Hy ten volle in Jesus Christus aan ons bewys het. Geloofsvertroue maak dat ek by God vrede vind, selfs wanneer alles in my lewe skeefloop. Deur God se krag kan ons die pad loop wat Hy vir ons uitgelê het.

Hoe verander geloofsvertroue my lewe? Met geloofsvertroue kan ek die pad loop wat God vir my uitgelê het. Geloofsvertroue gee vir my moed om selfs die moeilikste lewensomstandighede aan te pak want ek weet dat God my daardeur sal dra.

Slot
Geliefdes,
·        wanneer alles in die lewe skeef loop,
·        wanneer dit vir voel of daar geen einde aan al die moeilikhede gaan wees nie,
·        wanneer dit vir my voel of die lewe soos ʼn tsunami oor my spoel en ek net meer kan asemhaal nie, moet Ons weet: 

Ons kry antwoorde op ons lewenskrisse wanneer ons in gebed tot God nader. Die geloofsvertroue wat ons daarvoor nodig het is in God se troue verbondsliefde geanker. God bewys sy troue verbondsliefde aan ons in Jesus Christus wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het en wat deur sy oorwinning oor die dood aan ons ’n nuwe lewe saam met God gee. Die wonderlike genade van God is dat geloofsvertroue vir my moed gee sodat ek kans sien vir die moeilikste lewensomstandighede omdat ek weet dat God my daardeur sal dra.

Wanneer die lewe te veel word weet dan dat Hy in die oorvloed van sy troue verbondsliefde vir ons skuiling gee teen storms van die lewe.
Amen