27 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Ef.:3 Teksverse: Ef. 3:6, 10
& 11
Sing
Lofsang: Ps. 92 v 1 (OAB)
Na
wet: Ps.
1 v 1 & 3 (OAB)
Na
gebed Ps. 31 v 1 & 17 (OAB)
Slotsang Ps. 84 v 3 (OAB)
Inleiding
Wie van ons wil nie graag
weet wat die geheim is wanneer ons daarvan hoor nie? Dit is nou maar so dat wanneer
ons van ’n geheim hoor, ons gewoonlik baie nuuskierig is om te hoor wat dit
beteken. In hierdie gedeelte vertel die Here aan ons ’n geheim wat nog nooit
tevore in die geskiedenis aan die mensdom bekend gemaak is nie. Dit is ook net
’n gewone geheim nie, nee dit is ’n geheim wat besig is om die hele wêreld te
verander!
Wat is hierdie geheim?
Dwarsdeur ons teksgedeelte
word daar na hierdie geheim verwys. Hierdie groot geheim is dat God alle mense
baie baie lief het soos ons in ons teksvers hoor:
deur die
verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus,
word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en
lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat
God belowe het.
Tot op die punt wat
hierdie brief aan die gemeente in Efese geskryf is het daar ’n persepsie by die
Jode bestaan dat die volk Israel eksklusiewe reg op God het. Dit het
inderwaarheid aan die Jode ’n meerderwaardigheids gevoel gegee. Hulle het
gedink dat hulle beter as die heidene was. Elkeen wat nie van Joodse afkoms was
nie, is ’n heiden genoem, met ander woorde as jy nie deel is van die volk van
God nie, dan is jy ’n heiden en dit is net Jode wat deel was van die volk van
God. Indien dit waar is, beteken dit dat nie een van ons gered kon word nie!
Dan was ons vir ewig verlore!
Die geheim wat die Here
egter hier bekend maak is dat ook nie Jode deel kan word van die volk van God.
Dit is nie jou afkoms wat bepaal of jy deel is van God se uitverkore volk nie,
maar wel jou verbondenheid aan Jesus Christus. Die Evangelie is vir alle nasies
beskore.
Evangelie beteken die
Goeie Nuus van God se liefde soos ons hoor in Joh. 3:16:
“God het
die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom
glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Die groot geheim wat hier
bekend gemaak word is dat God ook vir my baie lief het. As gevolg van die sonde
is ons bang vir God en sy straf. Hy het tog immers gesê dat die straf vir ons
sondes die ewige dood is! Die geheim wat God hier aan ons bekend maak is dat
ons nie vir God bang hoef te wees nie omdat Hy ons oneindig baie lief het. Maak
nie saak wie of wat ek is nie, God het my lief! Hierdie geheim moet nou aan die
hele wêreld bekend gemaak word.
Hoe moet hierdie geheim
bekend gemaak word?
Die Here sê vir ons dat
hierdie geheim deur sy kerk aan die wêreld bekend gemaak moet word soos ons
hoor in Ef.. 3:10&11:
Maar nou
het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word
aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem
het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.
Verder sê die Here vir ons
in Ef. 3:7 dat hierdie werk wat Hy aan sy kerk toevertrou het ’n groot voorreg
is. Paulus het besef watter groot voorreg dit was en daarom het hy die hele
Asië deur gereis om hierdie opdrag van die Here uit te voer.
Hy was selfs in die tronk
gegooi omdat hy die Evangelie verkondig het, maar dit het hom nie ondergekry
nie. In hierdie brief leer die Here ons wat dit werklik beteken om kerk van die
Here te wees. Ons het so dikwels ’n verkeerde idee van wat dit beteken om kerk
van die Here te wees. Dit gaan so dikwels net om my en watter voordeel ek uit
die kerk kry. Dit is dan wanneer ek gedurig krities is oor alles wat in die
kerk gebeur.
Dit is dan wanneer ek so
maklik vinger wys en indien ek enigsins van my negatiewe kritiek af kan wegkom
dan is dit gewoonlik julle of hulle moet sorg dat hulle dit of dat doen of
verander. Dit kom nie eers by my op dat dinge nie na my smaak verloop nie omdat
ek nie bereid is om bietjie my moue op te rol en iets te doen nie. Nee dit is
baie lekkerder om eerder kritiek te lewer op die werk wat ander doen. Dan gaan
dit nie om die Here se opdrag om die Evangelie uit te dra nie. Dit gaan net oor
my en watter voordeel ek daaruit kan kry.
’n Verdere gevolg van
sulke denke is dat mense dikwels die houding in neem dat hulle nie deel van die
kerk wil wees nie. Dit is dan ook wanneer hulle daardie hoogmoedige houding het
van “ek wil niks met daardie skynheilige klomp in die kerk te doen hê nie! Ek
dien die Here by myself en ek het nie die kerk daarvoor nodig nie.” As iemand
so redeneer dan sê so ’n persoon eintlik dat hy beter is as die mense wat hy so
kritiseer. Die probleem hiermee is dat iemand wat so ’n houding in neem
ongehoorsaam is aan Christus, want Christus vergader die uitverkorenes deur
middel van sy kerk met sy Woord en Gees. Verder is daar ’n groot klomp selfsug
betrokke deurdat die persoon nie bereid is om sy gawes en liefde met ander
gelowiges te deel nie.
Wanneer hierdie tipe
hoogmoed aanwesig is by mense binne die kerk of by diegene wat hulself van die
kerk afsonder dan is dieselfde sondige houding by hulle teenwoordig as wat daar
by die Jode was. Hulle dink dat God eksklusief net vir hulle bedoel is. Die
Here wys vir ons in hierdie gedeelte dat hoogmoed en selfsug nie plek het sy
kerk nie. Die kerk van die Here moet nederig wees soos ons hoor in Ef. 3:8
Hoewel
ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee
om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te
verkondig.
Die kerk van die Here (dit
wil sê ons as gelowiges) moet aan die Here gehoorsaam wees en nie ons eie
selfsugtige begeertes najaag nie. Die taak wat die Here aan ons as sy kerk
gegee het is om die liefde wat Hy in ons geplant het aan die wêreld te
weerkaats. Met ander woorde ons moet aan die wêreld van God se liefde vertel,
sy liefde wat Hy deur Jesus Christus vir ons bewys het. Ons moet deur middel
van ons optrede God se liefde wys. Die wêreld word gedryf deur selfsug en die
eie ek. Die kerk word gedryf deur liefde en omgee vir ons medemens.
Ons moet ongelukkig erken
dat ons so dikwels deur selfsug en hoogmoed gemotiveer word en dat ons nie aan
die Here gehoorsaam is nie.
Waar kry ons krag vandaan
om die groot geheim van God se liefde aan die wêreld te verkondig?
In die gebed van Paulus
vir die kerk van die Here wys Hy vir ons waar ons krag vandaan kom om aan Hom
gehoorsaam te wees soos ons hoor in Ef.3:14-21:
Daarom
kniel ek in gebed voor die Vader 15aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in
die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16Ek bid dat Hy deur sy Gees
uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk
te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in
die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam
met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van
Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan,
en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
20Aan
Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat
ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid
met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
Slot
Geliefdes, kom laat ons
deur die krag van die Heilige Gees wegbeweeg van ons selfsug en hoogmoed. Kom
laat ons gehoorsaam wees aan ons Here. Kom ons vertel aan die wêreld deur ons
woorde en deur ons optrede van God se groot liefde. Kom laat ons die wêreld
vertel:
“God het
die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom
glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Amen