Wys tans plasings met die etiket Sondag 14 Heidelbergse Kategismus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sondag 14 Heidelbergse Kategismus. Wys alle plasings

18 September 2011

Jesus Christus het ’n ware menslike natuur aangeneem sodat Hy tussen ons en die straf vir ons sonde kan staan


Fil. 2 v 5 tot 11 & 2 Kor. 5 v 11 tot 21 ; 
Sondag 14 Heidelbergse Kategismus
Teksverse Fil. 2 v 7 & 2 Kor. 5 v 21
18 Sep. 2011 (RB)
Lof-Psalm Ps. 92 v 1(OAB)
Na Wet Ps. 38 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 38 v 17 (OAB)
Slotsang Ps. 130 v 1 & 2 (OAB)
 
SONDAG 14
35  Vraag:  Wat beteken:  wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?
Antwoord:  Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is (a) en bly (b), die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria (c) deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het (d).  So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid (e), in alles aan sy broers gelyk (f), behalwe die sonde (g).
(a) 1 Joh 5:20;  Joh l:l;  17:3;  Rom 1:3, Kol 1:15.  (b) Rom 9:5.  (c) Gal 4:4;  Luk 1:31, 42, 43.  (d) Matt 1:20;  Luk 1:35.  (e) Rom 1:3;  Ps 132:11;  2 Sam 7:12;  Luk 1:32;  Hand 2:30.  (f)  Fil 2:7;  Heb 2:14, 17.  (g) Heb 4:15.

36  Vraag:  Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?
Antwoord:  Dat Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).
(a) Heb 7:26, 27.  (b) 1 Pet 1:18, 19;  3:18;  1 Kor 1:30, 31;  Rom 8:3, 4;  Jes 53:11;  Ps 32:1.

Inleiding

Die Heidelbergse Kategismus staan as ’n troosboek bekend en tog kan dit so maklik gebeur dat ons dit as ’n vervelige teorie beleef. Dit gebeur wanneer ons byvoorbeeld die leer oor Jesus Christus se menswording slegs teoreties hanteer en nie werklik uitkom by wat dit vir ons beteken nie.

Hoe word ons getroos deur die wete dat Jesus Christus waarlik mens geword het? Eerstens moet ons weet, wat dit is wat ons bely van Jesus Christus se menswording en dan wat beteken dit vir ons. Dit is inderdaad hoe Sondag 14 dit hanteer. Vraag 35 handel oor die menswording van Jesus Christus en vraag 36 verduidelik vir ons hoe ons getroos word deur die wete dat Jesus Christus waarlik mens geword het deur die menslike natuur aan te neem.

In die eerste plek staan ons stil by:

Jesus Christus het mens geword

Die menswording van Jesus Christus is iets wat ons nie werklik ten volle kan begryp nie. Dit bly ’n misterie oor hoe Jesus terselfde tyd volledig God en volledig mens kan wees. Tog verduidelik die Here vir ons so iets daarvan soos ons hoor in Fil. 2v7:
maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
Die sleutelwoord hier, is “aangeneem” en dit is wat ons ook bely “Jesus Christus het die menslike natuur aangeneem”. Daar staan nie dat Jesus Christus wat God is, in ’n mens verander het nie. Nee, Hy het gebly wat Hy was, ’n ware en ewige God, maar terselfde tyd het Hy ook volledig mens geword.

Hierdie menswording het wel beteken dat Hy die heerlikheid wat Hy by sy Vader in die hemel gehad het, tydelik afgelê het en die eerlose kleed van mens-wees aangeneem het soos ons hoor in Fil. 2v8 & 9:
En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
Al het Hy van kleed verwissel en onder ons gewoon as ’n mens en selfs as ’n dienskneg, het Hy God gebly en is Hy steeds aanbiddenswaardig tot in ewigheid.

Dit is eers wanneer ons verstaan dat Jesus Christus doelbewus gekies het om ook mens te word dat ons sy liefde kan begin verstaan. Wanneer ons gebore word het ons geen keuse of ons dit wil doen of nie. Christus se geboorte was ’n doelbewuste keuse wat Hy uitgeoefen het. Hierin sien ons sy liefde vir ons raak in sy geboorte. Christus wat God is het doelbewus gekies om ’n eenvoudige mens te word ter wille van ons.

Alhoewel Jesus dus God is en bly het Hy in alle opsigte aan ’n mens gelyk geword met een groot uitsondering. In 2 Kor. 5v21 hoor ons:
Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.
Christus was sonder sonde sodat Hy as mens ons sonde op Hom kon neem om in ons plek vir ons sondes te betaal. Om die straf te kon dra moes Hy egter ook God wees, want ’n mens kan nie die straf vir die sonde dra nie.

Ons belydenis dat Christus ons vlees en bloed aangeneem het is nie maar net ’n droë leerstuk nie, want dit wys vir ons op Christus se alles opofferende liefde vir ons. Hy het geweet dat toe Hy ons menslike natuur aangeneem het, dit ’n brose en sterflike natuur is. Hy het ook geweet dat Hy aan dié liggaam bitter sou moes ly vir sy uitverkore volk. Tog was Hy bereid om dit te doen uit liefde vir sy bruidskerk.

Jesus Christus het ’n menslike natuur aangeneem. Hy is dus volledig mens uitgesonderd die sonde, maar Hy is terselfde tyd ook volledig God. In hierdie leerstuk is daar geweldig baie troos opgesluit.

Ons word getroos deur die wete dat Jesus Christus mens geword het

Hoe word ons getroos deur die wete dat Jesus Christus mens geword het? In Heb. 2v18 hoor ons:
“Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word”
Omdat Hy ’n mens geword het, verstaan Hy ons situasie. Geen deel van die menslike lewe is vir Hom vreemd nie. Hy het honger, dors, pyn eensaamheid ens. ervaar net soos wat enige mens dit ervaar. Daarom weet Hy hoe ons voel. Hy weet hoe ons voel wanneer ons moedeloos is. Hy weet hoe ons voel wanneer ons bang en onseker oor die toekoms is wanneer ons oor die nuus hoor dat daar oproermakers is wat meen dat ons grond sonder vergoeding gevat moet word. Hy verstaan wanneer ons, ons bekommer of daar vir ons kinders ’n toekoms sal wees.

In vraag 36 van ons belydenis word die vraag gevra:
Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?
Met ander woorde, watter voordeel hou die menswording van Jesus Christus vir ons in? Die antwoord dat Hy ons middelaar is hou vir ons weer eens ontsettend baie troos in. Die wete dat Jesus Christus as middelaar tussen ons en God se straf vir die sonde kom staan, troos ons. Dit sê vir ons dat Christus ons sondes waarin ons ontvang en gebore is voor God bedek met sy onskuld en volkome heiligheid.
Wat beteken dit prakties vir ons? Dit beteken dat ons vergifnis ontvang. Dit is Jesus se geskenk aan ons en dit beteken dat ons voor God kan staan met al ons behoeftes, met al ons swakhede, met al ons tekortkominge sonder dat ons vir God hoef bang te wees. Ek as sondige mens kan voor God in al sy heiligheid kom staan sonder dat ek Hom vrees. Want dit is eers wanneer ek sonder vrees voor God staan dat ek werklik sy liefde kan ervaar soos ons ook hoor in 1 Joh. 4v18:
Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.

Is dit nie wonderbaarlik dat al my sondes van die verlede, al my huidige sondes en al my toekomstige sondes reeds volkome bedek is met die bloed van Jesus Christus nie? Dit beteken dat ek nie verskonings hoef uit te dink om myself voor God te regverdig nie. Ek hoef nie te probeer om my skuldgevoel met my eie geregtigheid reg te stel nie. Ek hoef nie myself beter te laat voel deur my skuld op iemand anders te pak nie. Ek kan voor God kom staan net soos ek is sonder enige vrees omdat ek in Jesus Christus wat uit liefde vir my mens geword het heeltemal in totaliteit vergewe is.

As ek dus onseker is oor die toekoms, kan ek na God toe kom om vertroosting by Hom te soek. Ek hoef nie enige iets vir God te bewys nie, want Hy het my lief net soos ek is. Ek kan na God toe kom sodat Hy die slawekettings van die sonde kan losmaak en dat ek hiervandaan werklik kan lewe. Ek kan na God toe kom met die ware hoop en vertroue dat ek eendag vir ewig saam met Hom sal wees op ’n plek waar daar geen hartseer trane pyn en lyding sal wees nie.

Wees getroos met die wete dat Jesus Christus ’n menslike natuur aangeneem het en dat Hy tussen ons en die straf vir die sonde kom staan het. Wees getroos met die wete dat ons na God toe kan kom met al ons bekommernisse, hartseer en pyn sonder dat ons vir Hom hoef bang te wees.

Aanvaar Jesus se uitnodiging:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
en ervaar die rus en vrede wat net by God beskikbaar is.
Amen