Fil. 2 v 5 tot 11
& 2 Kor. 5 v 11 tot 21 ;
Sondag 14
Heidelbergse Kategismus
Teksverse Fil. 2 v
7 & 2 Kor. 5 v 21
18
Sep. 2011 (RB)
Lof-Psalm Ps. 92 v 1(OAB)
Na
Wet Ps. 38 v 1 (OAB)
Na
Gebed Ps. 38 v 17 (OAB)
Slotsang Ps. 130 v 1 & 2 (OAB)
SONDAG
14
35 Vraag: Wat
beteken: wat ontvang is van die Heilige
Gees, gebore is uit die maagd Maria?
Antwoord: Dat
die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is (a) en bly (b), die ware
menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria (c) deur die werking
van die Heilige Gees aangeneem het (d).
So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid (e), in alles aan sy
broers gelyk (f), behalwe die sonde (g).
(a)
1 Joh 5:20; Joh l:l; 17:3;
Rom 1:3, Kol 1:15. (b) Rom
9:5. (c) Gal 4:4; Luk 1:31, 42, 43. (d) Matt 1:20; Luk 1:35.
(e) Rom 1:3; Ps 132:11; 2 Sam 7:12;
Luk 1:32; Hand 2:30. (f)
Fil 2:7; Heb 2:14, 17. (g) Heb 4:15.
36 Vraag: Watter nut
verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?
Antwoord: Dat
Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde
waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).
(a)
Heb 7:26, 27. (b) 1 Pet 1:18, 19; 3:18;
1 Kor 1:30, 31; Rom 8:3, 4; Jes 53:11;
Ps 32:1.
Inleiding
Die Heidelbergse
Kategismus staan as ’n troosboek bekend en tog kan dit so maklik gebeur dat ons
dit as ’n vervelige teorie beleef. Dit gebeur wanneer ons byvoorbeeld die leer
oor Jesus Christus se menswording slegs teoreties hanteer en nie werklik uitkom
by wat dit vir ons beteken nie.
Hoe word ons getroos deur
die wete dat Jesus Christus waarlik mens geword het? Eerstens moet ons weet,
wat dit is wat ons bely van Jesus Christus se menswording en dan wat beteken
dit vir ons. Dit is inderdaad hoe Sondag 14 dit hanteer. Vraag 35 handel oor
die menswording van Jesus Christus en vraag 36 verduidelik vir ons hoe ons
getroos word deur die wete dat Jesus Christus waarlik mens geword het deur die
menslike natuur aan te neem.
In die eerste plek staan
ons stil by:
Jesus
Christus het mens geword
Die menswording van Jesus
Christus is iets wat ons nie werklik ten volle kan begryp nie. Dit bly ’n
misterie oor hoe Jesus terselfde tyd volledig God en volledig mens kan wees.
Tog verduidelik die Here vir ons so iets daarvan soos ons hoor in Fil. 2v7:
maar Hy
het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense
gelyk te word.
Die sleutelwoord hier, is “aangeneem”
en dit is wat ons ook bely “Jesus Christus het die menslike natuur aangeneem”.
Daar staan nie dat Jesus Christus wat God is, in ’n mens verander het nie. Nee,
Hy het gebly wat Hy was, ’n ware en ewige God, maar terselfde tyd het Hy ook
volledig mens geword.
Hierdie menswording het
wel beteken dat Hy die heerlikheid wat Hy by sy Vader in die hemel gehad het,
tydelik afgelê het en die eerlose kleed van mens-wees aangeneem het soos ons
hoor in Fil. 2v8 & 9:
En toe
Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot
in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste
eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
Al het Hy van kleed
verwissel en onder ons gewoon as ’n mens en selfs as ’n dienskneg, het Hy God
gebly en is Hy steeds aanbiddenswaardig tot in ewigheid.
Dit is eers wanneer ons
verstaan dat Jesus Christus doelbewus gekies het om ook mens te word dat ons sy
liefde kan begin verstaan. Wanneer ons gebore word het ons geen keuse of ons
dit wil doen of nie. Christus se geboorte was ’n doelbewuste keuse wat Hy
uitgeoefen het. Hierin sien ons sy liefde vir ons raak in sy geboorte. Christus
wat God is het doelbewus gekies om ’n eenvoudige mens te word ter wille van
ons.
Alhoewel Jesus dus God is
en bly het Hy in alle opsigte aan ’n mens gelyk geword met een groot
uitsondering. In 2 Kor. 5v21 hoor ons:
Christus
was sonder sonde, maar God
het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met
Christus, deur God vrygespreek kan wees.
Christus was sonder sonde
sodat Hy as mens ons sonde op Hom kon neem om in ons plek vir ons sondes te
betaal. Om die straf te kon dra moes Hy egter ook God wees, want ’n mens kan
nie die straf vir die sonde dra nie.
Ons belydenis dat Christus
ons vlees en bloed aangeneem het is nie maar net ’n droë leerstuk nie, want dit
wys vir ons op Christus se alles opofferende liefde vir ons. Hy het geweet dat
toe Hy ons menslike natuur aangeneem het, dit ’n brose en sterflike natuur is.
Hy het ook geweet dat Hy aan dié liggaam bitter sou moes ly vir sy uitverkore
volk. Tog was Hy bereid om dit te doen uit liefde vir sy bruidskerk.
Jesus Christus het ’n
menslike natuur aangeneem. Hy is dus volledig mens uitgesonderd die sonde, maar
Hy is terselfde tyd ook volledig God. In hierdie leerstuk is daar geweldig baie
troos opgesluit.
Ons
word getroos deur die wete dat Jesus Christus mens geword het
Hoe word ons getroos deur
die wete dat Jesus Christus mens geword het? In Heb. 2v18 hoor ons:
“Omdat
Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word”
Omdat Hy ’n mens geword
het, verstaan Hy ons situasie. Geen deel van die menslike lewe is vir Hom
vreemd nie. Hy het honger, dors, pyn eensaamheid ens. ervaar net soos wat enige
mens dit ervaar. Daarom weet Hy hoe ons voel. Hy weet hoe ons voel wanneer ons
moedeloos is. Hy weet hoe ons voel wanneer ons bang en onseker oor die toekoms
is wanneer ons oor die nuus hoor dat daar oproermakers is wat meen dat ons
grond sonder vergoeding gevat moet word. Hy verstaan wanneer ons, ons bekommer
of daar vir ons kinders ’n toekoms sal wees.
In vraag 36 van ons
belydenis word die vraag gevra:
Watter
nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?
Met ander woorde, watter
voordeel hou die menswording van Jesus Christus vir ons in? Die antwoord dat Hy
ons middelaar is hou vir ons weer eens ontsettend baie troos in. Die wete dat
Jesus Christus as middelaar tussen ons en God se straf vir die sonde kom staan,
troos ons. Dit sê vir ons dat Christus ons sondes waarin ons ontvang en gebore
is voor God bedek met sy onskuld en volkome heiligheid.
Wat beteken dit prakties
vir ons? Dit beteken dat ons vergifnis ontvang. Dit is Jesus se geskenk aan ons
en dit beteken dat ons voor God kan staan met al ons behoeftes, met al ons
swakhede, met al ons tekortkominge sonder dat ons vir God hoef bang te wees. Ek
as sondige mens kan voor God in al sy heiligheid kom staan sonder dat ek Hom
vrees. Want dit is eers wanneer ek sonder vrees voor God staan dat ek werklik
sy liefde kan ervaar soos ons ook hoor in 1 Joh. 4v18:
Waar
liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want
vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.
Is dit nie wonderbaarlik
dat al my sondes van die verlede, al my huidige sondes en al my toekomstige
sondes reeds volkome bedek is met die bloed van Jesus Christus nie? Dit beteken
dat ek nie verskonings hoef uit te dink om myself voor God te regverdig nie. Ek
hoef nie te probeer om my skuldgevoel met my eie geregtigheid reg te stel nie.
Ek hoef nie myself beter te laat voel deur my skuld op iemand anders te pak
nie. Ek kan voor God kom staan net soos ek is sonder enige vrees omdat ek in
Jesus Christus wat uit liefde vir my mens geword het heeltemal in totaliteit
vergewe is.
As ek dus onseker is oor
die toekoms, kan ek na God toe kom om vertroosting by Hom te soek. Ek hoef nie
enige iets vir God te bewys nie, want Hy het my lief net soos ek is. Ek kan na
God toe kom sodat Hy die slawekettings van die sonde kan losmaak en dat ek
hiervandaan werklik kan lewe. Ek kan na God toe kom met die ware hoop en
vertroue dat ek eendag vir ewig saam met Hom sal wees op ’n plek waar daar geen
hartseer trane pyn en lyding sal wees nie.
Wees getroos met die wete
dat Jesus Christus ’n menslike natuur aangeneem het en dat Hy tussen ons en die
straf vir die sonde kom staan het. Wees getroos met die wete dat ons na God toe
kan kom met al ons bekommernisse, hartseer en pyn sonder dat ons vir Hom hoef
bang te wees.
Aanvaar Jesus se
uitnodiging:
“Kom na
My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
en ervaar die rus en vrede
wat net by God beskikbaar is.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking