04 September 2011

Die HERE se troue verbondsliefde tel ons op wanneer ons in wanhoop verval


4 Sep. 2011 (RB) Psalm 13 - Teksvers Ps. 13 v 6
Sing    Lofsang:   Ps. 42  v 1 & 3 (OAB)
           Na wet: Ps. 32 v 1 (OAB)
           Na gebed Ps. 31 v 1 (OAB)
           Slotsang   Ps. 86 v 1 & 3 (OAB)

Inleiding

Hoe lank nog HERE? Dis die noodroep van gelowiges oor al die eeue heen. Hoe lank gaan U ons vergeet Here? Hoe lank moet ons nog swaarkry in hierdie lewe? Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?

In hierdie Psalm hoor ons ’n dringende roep na verlossing en dit is iets waarmee ons kan identifiseer. In hierdie Psalm hoor ons hoe Dawid sy nood na die Here toe bring. Ons weet nie presies wat die omstandighede was waarin Dawid verkeer het toe hy hierdie Psalm gedig het nie. Uit Dawid se geskiedenis weet ons wel dat hy tye in sy lewe beleef het waar hy onder erge vervolging gely het waar sy lewe in gevaar was. Dink maar aan die tyd toe hy as jongman vir sy lewe moes vlug toe koning Saul hom wou doodmaak of die tyd toe sy eie seun Absolom hom van die troon wou afsit om in sy plek koning te word.

In die Psalm self kry ons nie ’n aanduiding in watter van hierdie omstandighede Dawid in verkeer het nie. Wat wel duidelik is, is dat Dawid in ’n erge sielewroeging was toe hy hierdie Psalm geskryf het. Daarin sien ons hoe Dawid vorder vanaf wanhopige vrae na angstige versoeke tot by lofprysing en vertroue in die Here se liefde. Dawid se pad uit wanhoop deur gebed tot vertroue in die Here se liefde gee vir ons ook troos en hoop wanneer die stampe en die stote van die lewe ons moedeloos maak. Hierin sien ons hoe die Here se troue verbondsliefde ons optel wanneer ons in wanhoop verval. In hierdie Psalm sien ons dat ons, ons nood na die Here toe mag bring. Ons mag vir uitkoms vra en ons sien dat ons op die Here se troue verbondsliefde kan vertrou.


Bring jou nood na die Here toe

Hierdie Psalm begin by wanhoop. Vier keer vra Dawid die vraag “Hoe lank nog?”
s   Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?
s   Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?
s   Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?
s   Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?
Die viervoudige herhaling van die vraag wys vir ons sy intense lyding. Hierin sien ons ook dat hierdie lyding baie meer is as die fisiese omstandighede wat daartoe aanleiding gegee het. Dit is ’n absolute sielewroeging waarin Dawid verkeer. Dit voel vir hom of die Here van hom vergeet het en dat Hy nie Dawid se ellende raaksien nie. Dit voel vir hom of hy alleen staan in hierdie stryd en dat hy absoluut op homself aangewese is. Hy is op daardie punt dat hy net nie meer weet watter kant toe.

In hierdie worstelstryd van Dawid is daar vir ons geweldig baie troos. Wanneer dit voel of die lewe vir ons te veel word, dan mag ons, ons lot teenoor die Here bekla. Hier sien ons hoe Dawid wat een van die groot geloofshelde in die Bybel is na die Here toe kom met sy nood. Hiermee sê die Here vir ons: “jy mag na My toe kom wanneer die lewe vir jou te veel word.” Ons mag na die Here toe kom en vir Hom sê: “Here ek kan nie meer nie. Ek sien nie meer kans nie!” Wanneer die lewe te veel word, bring jou nood na die Here toe.
Maar meer as dit, ons mag vra vir uitkoms.

Vra vir uitkoms

Dawid het sy nood na die Here toe gebring en daarmee saam het hy die Here gesmeek om uitkoms te gee. Hy bring ’n dringende pleidooi na die HERE toe:
Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang.
Te midde van sy diepste vertwyfeling roep Dawid angstig tot Here vir uitkoms. As sy vyand oorwin, dan oorwin die boosheid die goeie en dan is alles verlore.

Soms is dit nodig dat ons tot die besef gebring moet word dat die enigste werklike uitkoms alleen by God te vinde is. In hierdie situasie besef Dawid dat daar alleen by die Here uitkoms is en daarom sy dringende gebed dat die HERE hom moet antwoord. Hy kan nie meer nie en daarom vra hy dat die HERE vir hom nuwe lewenskrag gee.

Wanneer dit met ons goed gaan dan vergeet ons so maklik dat dit maar alleen die HERE se genade is wat ons staande laat bly. As dit met my goedgaan dan dink ek maklik dat ek nie die HERE nodig het nie. Soms is dit nodig dat ’n krisis in my lewe my tot die besef moet bring dat dit net God is wat my hierdeur kan dra. Wanneer dit goed gaan plaas ons so maklik ons vertroue in ander dinge en nie op die HERE nie. Daarom moet ons weet dat ons in die goeie tye en die slegte tye alleen op die HERE moet vertrou.

Die krisisse in ons lewens help ons om te besef dat ons in goeie en slegte tye alleen op Hom moet vertrou. Wanneer die lewe te veel word mag ons, ons nood na die Here toe bring en ons mag vir uitkoms vra. Dit sal ons by die punt bring waar ons die HERE kan loof en prys uit dankbaarheid vir sy troue verbondliefde.

Vertrou op die HERE se troue verbondsliefde

Die Psalm se einde verskil radikaal van sy begin. Dawid se wanhoop het verander in ’n loflied van dankbaarheid omdat hy nou God se liefde raaksien. In Ps. 13v6 hoor ons:
Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.
Dawid se vertroue staan op die HERE se troue verbondsliefde. Hierin sien ons die liefdevolle karakter van God raak. Hy kan ons nie laat gaan nie omdat dit teen sy geaardheid sou wees om dit te doen.

God het Homself voorgeneem om sy liefde aan ons te gee. Daardie liefde sien ons raak in sy handelinge deur al die eeue heen. Nadat Adam en Eva teen Hom gerebelleer het, het Hy steeds in liefde na hulle toe uitgereik. Uit sy liefde het Hy ’n ewige verbond met Abraham aangegaan. “Ek sal vir jou ’n God wees en jy en jou nageslag behoort aan My.” Daardie verbond het Hy weer met Abraham se nageslag bevestig by Sinai. Hy het aan Dawid belowe dat een uit Dawid se nageslag vir ewig Koning sal wees. Dit is hierdie troue verbondsliefde wat Dawid deur sy krisis gedra het.

Die belofte van ’n ewige Koning het in Jesus Christus vir ons waar geword. In sy diepste nood het Jesus Christus in bange Godverlatenheid uitgeroep:
“Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mat 15v34)
Hy het dit gedoen sodat ons kan weet dat ons selfs in ons diepste krisis en nood nooit alleen sal wees nie, omdat God daar by ons is. Deur ons diepste nood en krisisse dra God se liefde ons, daardie liefde wat Hy vir ons in Jesus Christus aan die kruis bewys het. Wanneer ons na die kruis kyk, dan weet ons dat ons op die HERE se troue verbondsliefde kan vertrou.

Samevatting

Wanneer ons in nood verkeer moet ons nie die fout maak om ons blind te staar teen die omstandighede nie. Ons moet ons krisisse sien teen die wyer agtergrond van God se liefdesdade teenoor ons. God se liefde wat ons so duidelik sien teen die agtergrond van die kruisgebeure beteken nie dat ons nooit in ’n krisis sal beland nie. Dit beteken wel dat wanneer ons daarin beland dat sy troue verbondsliefde ons daardeur dra.

Wanneer ons dus in ’n krisis beland moet ons weet dat ons, ons nood voor die HERE se voete mag kom neerlê. Ons mag vir Hom vra om uitkoms te gee en ons moet weet dat sy liefde ons daardeur sal dra net soos Hy ons in die verlede gedra het. Hou dus vas aan die wete dat Die HERE se troue verbondsliefde ons optel wanneer ons in wanhoop verval.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking