25 Januarie 2026

Op die pad van geloofsgroei

Lees:

Inleiding

Wat verwag die HERE van ons? Dit is ’n vraag waarmee ons as gelowiges dikwels stoei. Wat wil die HERE hê dat ons moet doen? Verwag Hy dat ek gereeld kerk toe moet kom? Verwag Hy dat ek ten minste 2 ure per dag Bybellees? Verwag Hy dat ek dat ek ten minste 3 ure per dag moet bid? Hierby kan ons nog ’n hele string moets en moenies byvoeg? Wat verwag die HERE van ons?

Ons kan op hierdie vraag baie maklik allerlei menslike voorskrifte voorhou, maar dan maak ons maar net soos die Fariseërs van ouds. Dit is inderdaad ook dikwels wat gebeur. Ons moenie dink dat die Fariseërs net in Jesus se tyd bestaan het nie. Hulle is nou nog steeds by ons teenwoordig. Ons hoef nie baie ver te gaan soek nie geliefdes. Ek hoef nie eers na die persoon langs my te kyk nie, want ek vind die Fariseër sommer hier in my eie hart. Ek is dikwels die persoon wat allerlei menslike voorskrifte aan die HERE se wil koppel.

Ons hoef egter nie baie te wonder oor wat die HERE van ons verwag nie, want Hy sê dit baie duidelik in sy Woord vir ons. Hier in Deut. 10 sê die HERE vir Israel wat Hy van hulle verwag wanneer hulle die beloofde land binnegaan. In Gen 12 v 3 & 4 hoor ons dat die HERE aan Abraham belowe het dat hy ’n groot nageslag gaan hê en dat hulle ’n land gaan kry om in te woon.

Dit is nou ongeveer 430 jaar later waar die nageslag van Abraham op die punt staan om die beloofde land binne te gaan. Israel is verlos van die slawerny in Egipte en nou nadat hulle 40 jaar in die woestyn rondgetrek het, staan hulle gereed om die beloofde land binne te gaan. Hulle is tans aan die oostekant van die Jordaanrivier. Aan die westekant tussen die Jordaanrivier en die Middellandse see lê Kanaän, die beloofde land. Moses is besig om die volk voor te berei oor hoe hulle moet leef wanneer hulle in die beloofde land woon. Hier in Deut. 10v12 & 13 vind ons ’n samevatting van wat die HERE van Israel verwag. In hierdie samevatting sê die HERE ook vir ons wat Hy van ons verwag.

12“En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer , sy wil moet gehoorsaam , Hom moet liefhê en dien met hart en siel. 13Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee. Dit sal tot jou voordeel wees.

Hier sê die HERE vir ons:

    i.        Wat Hy van ons verwag

   ii.        Hoe ons dit moet doen en

 iii.        Hoekom die HERE dit van ons verwag.

Wat verwag die HERE van ons?

Die HERE verwag van ons dat ons Hom moet eer en dat ons Hom moet liefhê en dien met hart en siel. In die Ou Vertaling is die woord wat in die Nuwe vertaling met eer vertaal is met vrees vertaal. Dit beteken egter nie dat ons vir die HERE moet bang wees nie. Ons praat dikwels in die kerk daarvan dat ons die HERE moet vrees en dit kan maklik misverstaan word omdat die betekenis van vrees in Afrikaans verander het van eerbied na bang wees.

Die betekenis van die Hebreeuse woord dui daarop dat dit verwys na heilige eerbied vir die HERE. Met ander woorde dit beteken dat ons aan die HERE die nodige erkenning moet gee vir wie Hy is. In Deut. 10v14 hoor ons:

Die hemel, selfs, die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop.

Ons moet die Here erken vir wie Hy is, naamlik die enigste ware God wat die Hemel en die aarde uit niks geskep het. Dit beteken egter nie dat ons vir die HERE moet bang wees nie, maar dat ons aan Hom moet eer bewys en daarom is dit in die nuwe vertaling met eer vertaal.

Hoe eer ons die HERE? Ons eer die HERE wanneer ons vir Hom lief is deur Hom te dien met hart en siel. Ons die ’n die HERE wanneer Hy die no. 1 prioriteit in ons lewe is. Ons het die HERE lief vir wat Hy vir ons gedoen het en vir wie Hy is. In Deut. 10v15 sê die HERE vir ons:

En tog het Hy sy liefde net aan jou voorvaders betoon en vir julle, hulle nageslag, uit al die volke uitgekies. Dit is nou nog so.

Die God wat hemel en die aarde geskep het buig Homself neer na ons as nietige mense. Hy het Israel uitverkies as sy volk. Uit Israel is die Messias gebore. Net soos Israel van ouds uit die slawekettings van Egipte verlos is, verlos Jesus Christus vandag nog God se uitverkore kinders uit die slawerny van die sonde. Israel het vooruit gekyk na die liefde van God se verlossing deur die voorbeeld van hul verlossing uit Egipte. Ons kyk vandag terug na God se liefde vir ons in Jesus Christus soos Hy ook so duidelik in 1 Joh. 4v9&10 vir ons sê.

9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Op grond van God se uitverkiesende liefde wat Hy in Jesus Christus se kruisoffer en oorwinning oor dood aan ons bewys het kan ons die HERE eer. Ons eer die HERE wanneer ons Hom alleen erken as die enigste God en ons is lief vir Hom en dien Hom met ons hele wese wanneer ons NIKS of NIEMAND in sy plek stel nie.

Hoe moet ons die HERE liefhê en dien met ons hele wese?

In Deut. 10v13a sê die HERE vir ons:

Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee.

Hierdie gebooie en voorskrifte is die wet van die HERE wat Moses net kort tevore vir ’n tweede keer aan die volk gegee het. Dit is dikwels op hierdie punt waar ons die gevaar loop om Fariseërs te word. Hoe word ons Fariseërs? Ons word Fariseërs wanneer ons die HERE se voorskrifte vervang met ons eie godsdienstige reëls. Wanneer ons verder hierdie reëls van ons voorhou as voorwaarde om vir die HERE aanvaarbaar te wees. As jy nie hierdie reëls nakom nie, dan kan jy nie ’n kind van die HERE wees nie en so span ons die kar voor die perde.

En tog is die wet van die HERE eintlik baie eenvoudig. Jesus som die wet op met liefde. Liefde vir God bo alles en liefde vir jou naaste soos Hy dit in Mat 22v37-40 vir ons sê:

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Dit is ook nie iets nuuts wat Jesus uit die lug gryp nie. Hy haal maar eintlik net die Ou Testament aan wanneer Hy dit sê. Liefde vir God uit Deut. 5v6 en liefde vir jou naaste uit Lev. 19v18. In wese kom hierdie selfde opsoming ook in Deut. 10 voor. In Deut. 10v16 sê die HERE vir ons:

16“Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie.

17Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.

Wat is dit anders as dat jy die HERE jou God met jou hele hart en jou hele verstand bo alles moet liefhê?

In Deut. 10v18 sê Hy vir ons:

18“Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. 19Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte.

In wese sê die HERE hier vir ons dat ons vir mekaar moet omgee. Ons moet dus nie in selfsug net op onsself gefokus wees nie. Ons moet mekaar liefhê deur mekaar se belange op die hart te dra.

Ons dien die HERE wanneer ons Hom bo alles liefhet en wanneer ons, ons naaste net soos onsself liefhet. Die HERE sê egter nie net vir ons wat ons moet doen en hoe ons dit moet doen nie. Hy sê ook vir ons hoekom ons dit moet doen.

Waarom moet ons die gebooie en voorskrifte van die HERE nakom?

Ons sê so maklik dat ons die HERE se gebooie en voorskrifte moet nakom omdat die HERE so sê. Dit sou seker genoeg motivering wees, maar die HERE verduidelik ook in sy liefde vir ons hoekom dit nodig is. Die HERE gee nie sy voorskrifte om die lewe vir ons moeilik te maak nie. Hy gee dit vir ons met ’n baie spesifieke rede. Die rede wat die HERE gee is eintlik baie eenvoudig. in Deut. 10v13 sê Hy eenvoudig vir ons:

Dit sal tot jou voordeel wees.

Ons verstaan hierdie ook so dikwels verkeerd. Ons dink so maklik dat die voordeel daarin lê dat as ons God se gebooie en voorskrifte nakom dan vermy ons sy straf. Ek moet luister wat die HERE sê anders gaan Hy my straf. As dit ons siening is, dan verstaan ons egter nog bitter min van die HERE se liefde vir ons. Die HERE verwag dat ons mekaar moet liefhê omdat dit in ons eie belang is dat ons dit doen.

Die HERE weet hoe afbrekend selfsug en kritiek is. Hy weet hoe haat en bitterheid ons van ons lewensvreugde beroof. Hy weet hoe eensaam ons word wanneer ons, ons in selfsug van ons naaste afsonder. Wanneer die HERE vir ons sê dat ons mekaar moet liefhê en dat ons vir mekaar moet omgee, doen Hy dit omdat Hy weet hoeveel vreugde mens ervaar wanneer jy liefde uitdeel en as gevolg daarvan weer liefde terugontvang.

Dit is die wonder van God se liefde. Hoe meer ons daarvan uitdeel, hoe meer ontvang ons terug. Dit is onmoontlik om al God se liefde uit te deel, want jy ontvang altyd meer terug as wat jy uitdeel. As jy egter in selfsug God se liefde net vir jouself wil hou, dan verdwyn God se liefde en het jy naderhand niks daarvan oor nie.

Nou kry ons ook ’n ander fokus op God en sy liefde. As God eerste in my lewe is, dan kan ek nie anders as om vir my naaste om te gee nie. Dan is dit nie vir my moeite om eredienste by te woon nie, maar eerder ’n vreugde omdat ek daar saam met my broers en susters in die geloof in die heerlike teenwoordigheid van ons Vader gaan wees. Dan lees ek Bybel omdat ek my Vader se stem wil hoor. Dan bid ek tot die HERE omdat ek graag met Hom wil praat. Dan dien ek die HERE omdat dit vir my ’n vreugde is en nie omdat dit ’n sware plig is nie.

Ons kom die HERE se gebooie en voorskrifte na omdat dit tot ons voordeel strek om dit te doen want dit is goed vir ons om die HERE en ons naaste lief te hê.

Samevatting

Geliefdes, wat verwag die HERE van ons?

Die HERE verwag dat ons Hom alleen moet eer deur niks of niemand in sy plek te stel nie. Ons eer die HERE wanneer ons sy gebooie en voorskrifte nakom deur God bo alles lief te hê en ons naaste soos onsself lief te hê. Ons doen dit in die volle wete en vertroue dat dit tot ons voordeel strek om dit te doen want dit is goed om die HERE en ons naaste lief te hê.

Dien die HERE alleen deur jou volkome liefde en totale toewyding aan sy wil!

Amen

 

18 Januarie 2026

Jesus bring hoop vir moedelose en gebroke mense

Op die pad van geloofsgroei deur die vuur van beproewing


 Lees:

Jesaja 42:1-9 & 2 Korintiërs 12:7-10

Ons leef in ’n wêreld wat nie baie geduld met swakheid het nie. As jy nie meer funksioneer soos daar van jou verwag word nie, word jy eenkant toe gestoot en weggegooi, want daar is nie tyd of plek vir swakheid nie. Daar word van jou verwag om sterk te wees. Die wêreldse standaard is: Moenie vir die wêreld wys dat jy kwesbaar is nie. Maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie, sorg dat jy glimlag.

Daarom kry ons ook sulke motiverende spreekwoorde soos: “maak nie saak hoe jy voel nie, staan op, trek aan en veg vir wat joune is” of “wat ook al die lewe na jou kant toe bring, selfs as dit seermaak, wees net sterk en maak of alles goed en reg is. Onthou sterk mure skud, maar hulle val nie om nie.”

Dit klink alles baie mooi, maar eintlik skuil daar ’n troostelose boodskap agter sulke mooi klinkende spreekwoorde. Wat sê dit eintlik vir jou? Moenie vir die wêreld jou swaarkry wys nie, want niemand gee om nie! Sorteer jou probleme by jouself uit en moenie ander daarmee pla nie!

Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik. Hulle wat nie die paal haal nie word eenkant toe gestoot. Die wêreld het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. Die probleem is egter dat die dat wêreld vol is van stukkende en moedelose mense.

God het gelowiges geroep om as sy kerk sy lig in ’n donker wêreld wat Hom nie ken nie, in te dra. Die probleem is egter dat elkeen van ons ook maar een of ander stukkie seer het wat ons met ons saamdra. Hoe kan ons God se troos aan ’n moedelose en stukkende wêreld bring wanneer ons self ook soms stukkend en moedeloos is?

As ons volgens wêreldse maatstawe meet is ons nie goed genoeg nie, maar God werk egter anders as die wêreld. Sy werk word gedoen deur gebroke mense, mense wat die nood en seerkry van die wêreld verstaan omdat hulle self daardeur gaan. In Jes. 42 leer die Here ons dat Hy deur middel van ons gebrokenheid en onvolmaaktheid sy wil met die wêreld bereik.

Jesaja 40 – 66 is geskryf om die Israeliete wat daar in die vreemde van Babilon in gevangenskap is, te bemoedig. Vir hierdie klein hopelose klompie Israeliete sê God deur sy profeet Jesaja: “daar IS hoop is vir die toekoms!”

Die boodskap van hoop is nie net in die verlossing van Israel uit ballingskap nie. Dit is veel groter want God wil deur die swak, nederige, magtelose groepie ballinge sy verlossingswerk laat uitkring tot aan die uithoeke van die aarde. God gee aan hulle die spesiale taak om sy wil aan al die nasies bekend te maak en om die moedelose mense te inspireer om weer lig te sien soos ons hoor in Jes.42:1-9.

Die beginsel dat God deur gebrokenheid sy wil met die wêreld bereik, word vir ons duidelik gewys deur die lewe en werk van Jesus Christus. In Hom kry die “onlogiese” logika van God prakties gestalte. God bereik sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid en selfs die dood heen.

God roep ons ook in ons gebrokenheid om sy wil aan die wêreld bekend te maak. Die troos wat ons het is dat Hy ons met sy Gees toerus om die werk te doen waartoe Hy ons geroep het. Volgens die voorbeeld wat Christus gestel het toe Hy sy werk gedoen het, moet ons ook sagkens werk en deernis betoon aan dié wat gebroke en moedeloos is. Ons moet omgee vir ons broers en susters wat swaar trek. Ons kan dit doen omdat God met ons ook sagkens werk en dat Hy vol deernis is vir ons gebrokenheid soos ons hoor in Jes. 42:3

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.

Die beeld van ’n lamppit wat dof brand, is dalk nie so bekend in ons moderne tyd nie. 'n Lamp in die Bybelse tyd was 'n kleinerige kleipotjie wat met olie gevul was. Aan die voorpunt was daar 'n gaatjie waarin 'n stukkie tou gedruk is wat van vlas gemaak is. Wanneer die olie min raak, brand die lont al hoe flouer en gee byna geen lig af nie terwyl dit begin rook. So 'n lamp het nie eintlik meer nut om lig te gee nie.

Is dit nie hoe ons ook maar baie maal voel nie? ’n Vlammetjie wat so flou en rokerig brand dat die geringste windjie dit sal uitblaas. Elkeen van ons het elkeen maar sy eie bekommernisse en seerkry wat ons met ons saamdra. Dikwels voel dit vir ons dat ons nie eens genoeg lig het om ons eie donkerte in die lewe te verlig nie, wat nog daarvan om ’n lig te wees vir ander?

Jes. 42 v 3 wys dan profeties heen na Jesus wat nie die laaste gloeiende kooltjie van hoop sal uitdoof nie, want dit is juis dan wanneer ons bruikbaar is soos ons ook hoor in 2 Kor. 12:9a

My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

Wanneer ons nie meer krag het om aan te gaan nie is dit juis Christus se krag wat ons dra soos ons hoor in 2 Kor. 12:9b & 10

Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Die Here sê hier vir ons dat ons nie in eie krag die lewe moet aanpak nie, maar dat ons, ons krag in Hom alleen moet vind. Die wêreldse standaard sê vir jou dat jy moet sterk wees, maak nie saak hoe swaar dit gaan nie. Teenoor dit sê die Here sê vir ons: “jy hoef nie sterk te wees nie, want Ek is jou sterkte.”

Die wêreld is in nood omdat sonde veroorsaak dat die mens se verhouding met God deur sonde vernietig is. Dit het meegebring dat mense se onderlinge verhoudings ook beskadig is. In Jes. 42:6 & 7 hoor ons dat God vir Christus as sy dienaar geroep het om die gebroke verhouding tussen God en die mens en tussen mense onderling te herstel.

Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.

God se verbond is ’n vaste ooreenkoms wat Hy reeds met Abraham gemaak het met die belofte dat daardie verbond ook vir sy nageslag van krag sal wees en telkemale het Hy dit weer bevestig met die gelowiges wie Hy uitverkies het. Die Bybel leer ons dat elkeen wat in Jesus Christus glo ook die nageslag van Abraham is en dat God se verbond ook vir hulle bedoel is.

Die inhoud van daardie verbond / ooreenkoms is dat Hy onderneem om ons God te wees en dat ons sy volk moet wees. Met ander woorde God onderneem om die gebroke verhouding wat deur ons sonde veroorsaak is te herstel. In Jes. 42:7 hoor ons dat Hy sy verbond deur Jesus Christus wat sy Kneg is, bekragtig.

Jesus Christus het met sy offer aan die kruis die gebroke verhouding tussen God en die mense kom herstel. Dit is die goeie nuus, dit wil sê die evangelie wat ons aan die wêreld moet uitdra. Jesus laat mense wat deur sonde verblind word vir God se liefde, weer sien dat God liefde is. Dit is die goeie nuus dat mense wat deur sonde vasgevang is daarvan bevry kan word.

Jesus het sy kerk (d.w.s elkeen wat in Hom glo) geroep om hierdie goeie nuus aan die wêreld uit te dra. Hierdie werk van God word in ons gebrokenheid gedoen en ons kan dit doen omdat ons krag in Jesus Christus gesetel is.

Die wonderlike troos hierin is dat Jesus nie net vir ons sondes in die verlede gesterf het nie. Hy het ook gesterf vir alles wat ons nou in die lewe moet deurmaak omdat Jesus hoop bring vir moedelose en gebroke mense.

Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik en het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. In Jesus Christus bereik God sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid selfs die dood heen.

Geliefdes, As die lewe jou moedeloos gemaak het. As jy uitgeput en oorlaai is weet dat jy nie nodig het om in eie krag die lewe hoef aan te durf nie. Kom na Jesus toe. Hy is jou krag en sterkte en Hy sal jou rus gee.

Amen

 


11 Januarie 2026

Die krag van ʼn lewende hoop

 

Lees 1 Petrus 1

Teksverse: 1 Pet. 1 v 3-5

Inleiding

Geliefdes, wat maak dit moontlik om die lewe in die oë te kyk? Hoop! Die krag van lewende hoop wat jou staande hou wanneer jy binne die swaarkry en onsekerhede van die lewe vasgevang word.

Om die lewende hoop te verstaan waarvan die Here hier praat gaan ons na die volgende aspekte daarvan kyk:

1)         Wat is lewende hoop?

2)         Hoe kry jy lewende hoop?

3)         Wat beteken lewende hoop vir jou?

1) Wat is hierdie lewende Hoop?

Dit is anders as wat ons gewoonlik aan hoop dink. Wêreldse hoop werk op die basis dat jy die wens uitspreek dat iets goed sal afloop, maar daar is altyd die kans dat dit skeef kan uitloop en nie goed eindig nie. Byvoorbeeld, jy hoop dat jou span gaan wen, maar daar is altyd ’n kans dat hulle tog kan verloor.

Die uitkoms van wêreldse hoop is nie vas en seker nie. Wanneer jou lewe omgedop word en jy nie weet watter kant toe nie, dan sê die wêreld vir jou: “wees sterk. Hou net aan. Moenie dat dit jou onder kry nie.” Die probleem met hierdie raad is dat daar geen waarborg is dat dit jou lewe beter gaan maak nie.

Lewende hoop is anders soos ons hoor in
1 Pet 1 v 3 & 4

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Die lewende hoop is ons hoop op ‘n nuwe lewe saam met God. Die erfenis van die sondeval is die ewige dood. Nou gee God vir ons hoop van lewe i.p.v. dood. Dis nie ’n hoop van miskien sal dit gebeur nie. Dis die vaste sekerheid dat God teenwoordig is in jou lewe en dat jy nie alleen is nie.

Die lewende hoop van ’n nuwe lewe saam met God is geanker in Jesus se opstanding. Hy het die prys vir die sonde betaal met sy dood, maar nog meer. Hy het die dood oorwin. Jesus leef en daarom kan ons vashou aan sy belofte van ’n lewende hoop op ’n nuwe lewe saam met God.

Wêreldse hoop van ’n beter lewe dra geen waarborge nie. Daar is geen waarborg dat dit wat jy hoop, wel waar gaan word nie. Teenoor dit is daar God se lewende hoop wat vir jou ’n nuwe lewe saam met God waarborg. Daar is geen kans dat dit nie sal gebeur nie, want die waarborg daarvan is die lewende God wat die hemel en die aarde gemaak het.

2) Hoe kry jy lewende hoop?

Heel eenvoudig soos ons hoor in 1 Pet. 1:5

En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.

En in 1 Pet. 1:8-9 hoor ons:

Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is.

Jy moet glo!

Wat moet jy glo?

Jy moet glo dat Jesus uit die dood opgestaan het. Hoekom het Jesus gesterf? Hy het aan ’n vervloekte kruishout gesterf om die prys vir die sonde te betaal wat geen mens self kan betaal nie. Sonde het verwydering tussen God en mens gebring en omdat God lewe is, het sonde verwydering tussen die mens en lewe gebring. Met sy opstanding uit die dood het Jesus vir die mens die lewende hoop van lewe gebring.

Om daardie lewende hoop te kry moet jy glo dat Jesus Christus vir jou gesterf het en dat Hy vir jou die dood oorwin het. Jy moet glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is.

Maar hiermee saam is daar ’n belangrike punt wat jy moet verstaan. Jy hoef niks te doen om die lewende hoop te verdien nie. God gee dit vir jou, verniet! Ons hoor in 1 Pet. 1:3 “Hy (God) het ons die nuwe lewe geskenk.” En dis met jou geloof in Jesus Christus dat jy dit vasgryp.

Hiermee saam is hoor ons ook hoe groot God se genade werklik is. Selfs die geloof wat Hy vra, gee Hy vir ons deur die Heilige Gees. Ons hoor in 1 Pet. 23:

Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.

Weergebore, beteken dat God jou bring op ’n plek waar jy die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus Christus hoor. Die Heilige Gees verander jou en gee vir jou die geloof sodat jy sal glo dat Jesus jou so lief het, dat Hy sy lewe vir jou afgelê het en dat Hy die dood oorwin het sodat jy kan lewe.

God het jou lief en daarom gee Hy vir jou die lewende hoop van ’n nuwe lewe saam met Hom. Jy moet dit glo.

Glo julle dit, geliefdes?

3) Wat beteken lewende hoop vir jou?

In 1 Pet. 1:6 hoor ons dat lyding en swaarkry nog steeds ’n werklikheid is in hierdie lewe.

Lewende hoop beteken dat lyding nie kan keer dat jy nie die nuwe lewe saam met God kan leef nie. Verder beteken dit ook dat jy nie alleen staan teen die lyding van lewe nie, omdat God saam met jou is. God is daar by jou. Hy hou jou vas en wanneer dit nodig word dra Hy jou.

Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap sal Hy keer dat lyding jou vernietig, want Hy gee vir jou die krag wat jy nodig het. Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap dan maak lyding jou ook meer intens bewus van God se teenwoordigheid in jou lewe.

Verder beteken lewende hoop ook dat selfs die dood nie God se liefde in jou lewe kan wegvat nie. Die lewende hoop is ’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word.

Ons hoef nie meer vir die dood bang te wees nie, want dit is nie die einde nie. Dit is alleen maar net ’n heerlike deurgang tot die ewige heerlik saam met God, daar waar daar geen lyding, dood, hartseer of pyn meer sal wees nie.

Dit is ook die troos wat die Here vir ons gee wanneer ons met die dood van ’n geliefde gekonfronteer word. Lewende hoop maak dit moontlik dat jy nie hoef te treur soos hulle wat geen hoop het nie. Ons treur oor ons geliefdes, maar ons doen dit met die wete dat lewende hoop ons waarborg dat die dood nie die einde is nie.

Lewende hoop beteken ook dat God sy liefde in jou ingeplant het soos ons ook in 1 Pet. 1:22 hoor:

Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.

God gee sy liefde vir ons en nou vra Hy: “gaan leef My liefde teenoor mekaar uit.” Lewende hoop beteken dat ons inderdaad God se liefde kan leef. Dit beteken dat dit nie meer ons eie sondige natuur is wat ons lewens regeer nie, maar dat dit God se liefde is wat dit doen.

Slot

Wat maak dit moontlik om die lewe in die oë te kyk?

Hoop!

Dis die vaste sekerheid dat God teenwoordig is in jou lewe. Die sekerheid van die krag van die lewende hoop van ’n lewe saam met God wat jou staande hou wanneer jy binne die swaarkry en onsekerhede van die lewe vasgevang word.

Gryp daardie lewende hoop in geloof vas. Glo dat Jesus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruis gesterf het en dat Hy met sy opstanding vir jou ’n nuwe lewe gegee het.

Lewende hoop beteken dat jy nie alleen staan teen die lyding van lewe nie, omdat God saam met jou is. Dit beteken ook dat jy nie vir die dood hoef bang te wees nie omdat dit slegs ’n deurgang is na die ewige heerlikheid saam met God.

Lewende hoop beteken dat God se liefde nou jou lewe bepaal en dat jy God se liefde kan uitleef.

Gryp die lewende hoop vas wat God jou gee en gaan leef dit!

Amen


04 Januarie 2026

Soek eers die Koninkryk van God


 Teks: Mat. 6:19-34

Teksvers: Mat. 6:33

Inleiding

Ons staan aan die begin van ’n nuwe jaar wat voor ons uitgestrek lê. Voordat die jaar volspoed begin weghardloop is dit goed dat ons net so bietjie stilstaan en perspektief kry. Wat gaan 2026 vir ons inhou? Wat is dit wat die lewe die moeite werd maak? Wat is dit wat vir jou ware geluk in die jaar wat voorlê gaan gee?

In ons teks gee die Here vir ons goeie riglyne om ons daarmee te help sodat ons perspektief kan kry oor wat belangrik is en waar ons ons prioriteite behoort te stel. Ons leef in ’n wêreld wat baie klem op rykdom besittings stel en dit kan ons so maklik op die dwaalspoor plaas om ons prioriteite op die verkeerde plek te plaas. Een van die geliefkoosde leuens van die ou duiwel wat ons tog so graag wil glo, is: “As jy net eers ’n miljoenêr is, gaan jy baie gelukkig wees!”

Jesus waarsku ons daarteen:
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Dan gebruik Hy die beeld van ’n oog wat verkeerd kyk om nog verder te waarsku teen ’n verkeerde fokus. Verkeerde fokus veroorsaak “donker” in jou lewe en dit lei tot verdeelde lojaliteit soos ons hoor in
Mat. 6:24.

“Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Met ander woorde, dit lei tot ’n lewe wat nie op God gefokus is nie en dit lei tot ’n lewe vol onsekerhede en kommer wat jou lewensvreugde steel en wat inderdaad die lewe vir jou “donker” gaan maak.

Geliefdes waar ons hier aan die begin van ’n nuwe jaar staan moet ons seker maak dat dit nie vir ons ook ’n “donker” jaar gaan wees nie. In ons teks sê Jesus vir ons wat dit is wat die jaar vir ons “donker” kan maak? Bekommernisse. Bekommernisse oor hoe ons vir onsself gaan sorg. Bekommernisse omdat ons onseker is oor die toekoms.

Jesus sê nie hier vir ons dat ons nie moet werk of voorsiening moet maak of verantwoordelikheid moet neem nie. Nee, die kernvraag wat Hy hier aanspreek is die vraag: “wie regeer jou lewe?” Is dit God, of is dit bekommernisse? Jesus spreek hier ’n hart aan wat God se plek met wêreldse dinge wil volmaak.

Verder verduidelik Jesus ook hier wat se nadelige gevolge bekommernisse op jou lewe het. Dit lei jou van God af weg omdat dit jou geloof ondermyn en Hy beklemtoon hoe nutteloos kommer is. “Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?”

Bekommernis verander niks nie. Dit is soos om op ’n rystoel te ry. Jy beweeg, maar jy kom nêrens nie. Dit steel jou lewensvreugde en dit verlam jou. Dit maak inderdaad die lewe vir jou “donker”!

Jesus beklemtoon hier dat ons ons vertroue op ons hemelse Vader moet stel, want Hy sal vir ons sorg net soos Hy in die verlede gesorg het.

Die vraag is: “Hoe kom jy vry van die bekommernisse wat jou so lamlê in die lewe?” Jesus gee vir ons die antwoord: soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Hierin lê die geheim oor wat 2026 vir ons die moeite werd sal maak. Maar om te verstaan wat Jesus hier vir ons sê, moet ons net kortliks stilstaan by wat die Koninkryk van God is. God se Koninkryk is nie primêr ’n plek nie, maar God se heerskappy oor elke aspek van die lewe.

Sy Koninkryk het in Jesus Christus sigbaar geword. Met Jesus wat Mens geword het, het dit naby gekom. Satan se mag is gebreek en verlossing het ’n werklikheid geword, maar dit is nog nie volledig hier nie. Die wêreld is nog gebroke en sonde en lyding is nog teenwoordig. Wanneer Jesus weer kom gaan die sonde, lyding, swaarkry en dood finaal vernietig word en die Koninkryk van God gaan perfek wees soos Hy dit van die begin af beplan.

Wat is God se geregtigheid? Dit is om in ’n regte verhouding met God en volgens sy wil te leef.

Die volgende vraag is: “Hoe soek ons die koninkryk van God en sy geregtigheid?” Die antwoord is heel eenvoudig. Deur geloof en bekering soos ons byvoorbeeld in Mar. 1:15 hoor: “Die bestemde tyd is vervul, en die koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Erken dat jy ’n verlore sondaar is en glo dat Christus die prys betaal het sodat jy met God versoen kan word. Jesus se geregtigheid word ons sin omdat Hy die prys betaal het wat ons nie kon nie. Ons kry deel daarin deur dit met geloof vas te gryp. Eenvoudig gestel: “Glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is.”

Nou dat ons weet wat die Koninkryk van God en sy geregtigheid is en hoe ons daarin kan deel is die volgende vraag: “Hoe doen ons dit prakties? Wat presies moet mens doen om eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek?”

U    In Mat. 5:3 sê Jesus: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Met ander woorde, jy moet weet dat as God nie deel is van jou lewe nie, dan is die lewe inderdaad “donker”.

U    In Mat. 5:4 sê Jesus: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” Met ander woorde, Soek God se geregtigheid deur sy troos en herstel te ontvang.

U    In Mat. 5:5 sê Jesus: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Met ander woorde, Koninkryk soekers vertrou op God se heerskappy, nie op eie krag nie.

U    In Mat. 5:6 sê Jesus: “Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.” Met ander woorde Stel jouself in op God se geregtigheid en beywer jouself daarvoor.

U    In Mat. 5:7 sê Jesus: “Salig is die barmhartiges...” Met ander woorde, soek die koninkryk deur barmhartigheid en liefde in praktyk uit te leef.

U    In Mat. 5:8 sê Jesus: “Salig is die rein van hart…” Met ander woorde, sorg dat jou fokus onverdeeld op God gerig is.

U    In Mat. 5:9 sê Jesus: “Salig is die vredemakers…” Met ander woorde, Koninkryk soekers werk aktief aan vrede en versoening.

U    In Mat. 5:10-11 sê Jesus: “Salig is die wat vervolg word ter wille van geregtigheid…” Met ander woorde, soek die koninkryk beteken volharding, selfs onder teenstand, omdat die beloning in die hemel is.”

In Mat. 5:3-11 hoor ons wat die waardes en die karakter van die Koninkryk is en in Mat. 6:33 gee Jesus vir ons die opdrag om dit bo alles te soek en te prioritiseer.

Wat moet ons prioriteit wees vir die nuwe jaar wat voorlê? Soek jou identiteit daarin om ’n koninkryksmens te wees deur God bo alles in jou lewe te soek en op Hom alleen te vertrou. Gee jou bekommernisse vir Hom. Maak tyd vir Hom in jou lewe. Maak tyd om na Hom te luister deur Bybel te lees, eredienste en Bybelstudies by te woon. Praat met God deur gebed.

Gaan 2026 in met die volle vertroue dat daar waar jy jou aan God heerskappy onderwerp, dat kommer sy mag verloor. Leef daarom in gehoorsame vertroue saam met God in die wete dat vandag se genade genoeg is.

Amen