08 Desember 2020

Die HERE sluit jou toe binne sy ark van veiligheid teen die storms van die lewe

 This medetation is also available in English


Die HERE sluit jou toe binne sy ark van veiligheid teen die storms van die lewe

Gen. 7 v 13 – 16

'Dit was die dag waarop Noag en sy seuns, Sem, Gam en Jafet, en sy vrou en sy drie skoondogters almal saam in die ark ingegaan het. Hulle, en elke soort wilde dier en mak dier, en al die soorte diere wat kruip, en elke soort voël, alles wat vlieg, het ingegaan. Van al wat leef, het daar pare-pare na Noag toe in die ark gekom. Hulle het ingekom, manlik en vroulik, soos God vir Noag gesê het. En toe het die HERE die ark agter Noag toegesluit.' (eie beklemtoning)

 Noag het die ergste storm in die geskiedenis van die mensdom in die gesig gestaar. Daar was net een moontlike uitkoms vir oorlewing. Hy moes 'n ark bou presies volgens die voorskrifte wat die HERE vir hom gegee het. En hy het dit gedoen soos ons hoor in Gen. 6 v 22: 'Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het.'

 Is dit omdat Noag alles gedoen het presies soos God hom beveel het, wat verseker het dat hy, sy gesin en al die diere veilig oorleef het? Nee. Die rede hoekom Noag en almal wat saam met hom op die ark oorleef het was omdat die HERE die ark agter Noag toegesluit het.

 Ons het 'n verantwoordelikheid wat ons nie mag nalaat nie, maar dit is die HERE wat ons veilig toesluit binne sy ark van veiligheid teen die storms van die lewe.

 Jy moet verantwoordelik lewe, maar onthou altyd, dit is nie die feit dat jy jou huis toegesluit het, wat jou snags veilig hou nie. Dit is nie jou goeie bestuursvernuf wat jou veilig op die pad hou nie en ook nie jou gesonde eetgewoontes wat jou gesond hou nie. Dit is net die HERE wat ons veilig toesluit binne sy ark van veiligheid teen die storms en gevare van die lewe.

 Hou vas aan die troos dat dit jou Vader in die hemel is wat jou veilig hou. Maar onthou ook dat jy Hom net Vader mag noem indien jy die evangelie glo dat Jesus Christus vir jou sondes gesterf het sodat jy met God versoen kan word.

 Kyk terug na hierdie jaar en besef hoeveel keer God jou gedra en gehelp het deur soveel dinge wat jy nie op jou eie sou kon doen nie. Onthou, dit is die HERE wat jou toesluit binne sy ark van veiligheid teen die storms van die lewe.

Amen





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking