Liturgie 23 Okt. 2011
na Votum Ps. 146 v 1 (OAB)
Na Wet Ps. 130 v 1 & 2 (OAB)
Na gebed Ps. 31 v 1 & 3
(OAB)
Slotsang Ps. 146 v 3 & 8 (OAB)
Inleiding
Vir baie van ons voel dit nog vreemd om in hierdie
nuwe Suid Afrika te lewe. Ons voel ook dikwels ontuis in die samelewing waar
nuwe skokke, soos onbeheerste misdaad, verkragting en kapings, ons telkens
tref. Daarom kom daar soms `n lam gevoel oor ons, `n gevoel dat ons dalk
vreemdelinge in ons omgewing geword het. Is dit dalk amper soos die ballinge in
Babel moes gevoel het? Wat daarby kom is dat ouderdom en `n ongeneeslike siekte
ons ook laat vra: hoekom leef ek nog en wat is die sin daarvan as ek niks meer
kan doen en my bewegings so ingeperk word?
Hoe moet ons hierdie situasie hanteer? Hoe kan ons
die betekenis van hierdie tyd verstaan en hoe kan ons gemotiveer word om te
lewe soos iemand wat voel sy/haar lewe is nog sinvol? Hierdie besondere
hoofstuk aan die eerste groepie ballinge in Babel help ons vandag nog hiermee.
Ons teksgedeelte kan eintlik so saamgevat word as `n tydige woord aan ons: Terwyl julle vashou aan die hoop wat God gee,
moet julle die belange van julle gemeenskap bevorder!
Twee aspekte staan baie skerp uit:
·
Hou vas aan die hoop wat God gee!
·
Bevorder die belange van julle gemeenskap!
1. Hou vas aan die hoop wat God gee
In hierdie hoofstuk is daar ’n warm briefwisseling
tussen Jerusalem en Babel.
Jeremia skryf eers ’n lang brief en stuur dit saam
met betroubare manne, Elasa en Gemarja, na die ballinge in Babel om hulle teen
die valse profesie van die selfaangestelde profete te waarsku: name wat genoem
word, is Agab, Sedekia en Semaja.
Semaja, ’n valse profeet in Babel, reageer skerp op
Jeremia se brief deur te skryf aan die priester Sefanja, wat dissipline moes
uitoefen in Jerusalem. Daarin vra hy dat die priester Jeremia moet stilmaak.
In ’n derde brief, een wat Jeremia skryf, reageer
hy op Semaja se brief en waarsku dat God Semaja sal straf deur hom kinderloos
te laat sterf. In hierdie preek val die klem op Jeremia se eerste brief aan die
ballinge.
Wie was hierdie ballinge?
Dit was die eerste groep, leiers en belangrike en
waardevolle persone, wat ongeveer in 597 vC, so tien jaar voor die val van
Jerusalem en die vernietiging van die tempel in 586, na Babel weggevoer is.
Hulle was nie té pessimisties oor die wegvoering nie, want die valse profete
het hulle verseker dat hulle na twee jaar sal terugkeer. In Jerusalem het alles
nog normaal gelyk, want ’n nakomeling van Dawid, Sedekia, was koning. In die
stad het almal nog met hulle gewone lewe aangegaan en die tempel het gestaan en
die offerdiens is onderhou. Hulle sou teruggaan, al moes hulle ’n rebellie teen
die onderdrukkers in Babel voer, so het die valse profete hulle aangemoedig.
Jeremia kry berig van wat die gesindheid in Babel
is en hy is hewig ontsteld oor die onrealistiese verwagting. Hy sê vir die
ballinge en vir hulle valse profete wat God se woorde is. God sê: “Ék het julle
weggevoer na Babel!” Die Here se manier van doen is dikwels vir ons met die
eerste ervaring daarvan, vreemd en onverstaanbaar. Tog kan ons daaraan vashou
dat Hy volkome in beheer van alles is, watter onaangename ervaringe ons ook al
beleef.
Dieselfde God wat hulle weggevoer het, gee aan
hulle ’n vaste belofte: “Ek sal presies oor 70 jaar vir Babel straf, julle
onder my sorg neem en julle bymekaar maak en terugbring na julle vaderland.”
Die effek van Jeremia se brief is nie vertroostend
nie, maar eintlik vernietigend vir die ballinge. Oor 70 jaar ... Nog 70 jaar
hier! Die valse profete se boodskap is baie meer aanvaarbaar: oor 2 jaar! Dit
kan nog, maar om te dink ek sien my ouers nooit weer, of my familie of my
verloofde of my land of die tempel van die Here. Dan glo ek liewer die profete
in Babel. Maar die Here leer dat die mense wat nou in Juda agtergebly het deur
swaard, hongersnood en plae geteister sal word en ’n bespotting vir die volke sal
wees. Hulle is soos slegte vye wat onbruikbaar is.
God weet wat Hy vir die ballinge beplan. Hy sê dit
ook en in die “Ek weet wat Ek vir julle beplan”, word die “weet” baie sterk
beklemtoon! Hy wil nie die ballinge seermaak nie, maar in die 70 jaar sy tug
oor die volk uitoefen, ’n nuwe begin maak, hulle lei tot ware bekering. Daarom
moet hulle vashou aan die hoop wat God gee. Hulle moet téén hoop óp hoop
vertrou, soos wat Abraham dit gedoen het (oa toe hy op was om Isak te gaan
offer). Sewentig jaar is kort in die oë van die Here, maar dit is die leeftyd
van drie geslagte. Wie bly hoop en elke volgende geslag laat vashou aan die
hoop, het ’n vaste punt van hoop. Die ballinge kan maar die tyd aftel: nog 40
jaar, nog 30, 20, 10, nog net vyf. Nou is dit die tyd! God sal hulle
bymekaarmaak en terugbring op sy tyd. God bepaal die tyd waarop die hoop
werklikheid sal word. Daar mag egter nie valse hoop wees nie.
Hoop is so belangrik vir die ballinge om te kan
doen wat God hulle beveel.
God se beloftes is soos die saad van hoop wat klaar
daar is, maar wat deur volharding moet groei en sterker word. Met die koms en
sterwe en opstanding en hemelvaart van Christus het daar vir ons ook hoop
aangebreek. Ons kan ook van 70 praat, maar dan nie letterlik nie. Tien en sewe
was die volheidsgetalle in die Bybel en 10x7 is die tyd van volheid.
Ons hoop op die wederkoms is net so belangrik om te
kan doen wat God ons beveel terwyl ons op aarde lewe. Hoop is om verseker te
weet dat Christus wat reeds gekom het, wat sy belofte in die Ou Testament van
die Messias wat sou kom, vervul het, dat hierdie Christus weer sal kom en alles
nuut sal maak: Ons en die nuwe hemel en aarde. Wie nou voel hy/sy is in
ballingskap mag vashou daaraan dat God verseker weet wanneer Hy sal kom om sy vyande
te straf en ons by ons ewige bestemming uit te bring.
2. Bevorder die belange van julle gemeenskap!
Terwyl die ballinge vashou aan die hoop, moet hulle
die belange van die gemeenskap bevorder. Hulle moet dus die ballingskap aanvaar
en nie net vol heimwee verlang na die ou dae nie.
Hulle moet bou en plant en kinders kry en
vermeerder.
Hulle moet ’n gemeenskap bou wat na 70 jaar sterk
in die geloof is, suiwer in hulle manier van lewe, en dan teruggaan na hulle
eie land. By God werk dit dikwels so dat ’n geleentheid om ’n nuwe begin te
maak, kan lei tot ’n sterk gemeenskap met vaste beginsels wat goed gemotiveer
is. Toe die Israeliete Kanaän binnegegaan het, het hulle lande gekry wat reeds
geploeg was, wingerde wat druiwe gedra het, olyflanings, huise wat klaar gebou
was, maar hulle het hierdie gawes deur die eeue vertrap.
Nou moet hulle deur selfwerksaamheid ander
karaktereienskappe ontwikkel. Hulle moet self plant en bou en so met die
basiese dinge begin. God sal hulle beskerm en lei en selfs in die vreemde kan
hulle, hulle huise aan Hom wy en die eerste vrugte van die oes aan Hom gee.
Hulle kan kinders hê en ’n gesonde gemeenskap bou.
Die ballinge het merkwaardige vryheid gehad. Hulle
kon vry beweeg, ’n normale lewe lei, behalwe dat hulle nie na Juda kon
terugkeer nie. Hulle was die goeie vye! Deur hulle werk kan hulle die land van
die Babiloniërs help herstel wat deur die lang oorlog teen die Assiriërs
verwoes is. Die feit dat hulle kon trou, sonder dat hulle ouers (wat dalk
agtergebly het) vir hulle vrouens gekies het, is simbool van hulle nuwe
geleenthede wat hulle kan benut. Hulle kan ’n nuwe leefwyse begin!
Maar nie net plant en bou en kinders hê nie.
Hulle kan in die vreemde bid, en hulle móét bid vir
die vrede en voorspoed van die stad. Dit is ’n absoluut merkwaardige opdrag en
die enigste in die Ou Testament waar opdrag gegee word om vir vyande en
ongelowiges te bid. In die Nuwe Testament beveel Jesus dit in die Bergrede,
Paulus vra in Romeine 12:21: oorwin die kwaad deur die goeie (vgl ook Tit 3:1-3;
1 Pet 2:18). God bemoedig hulle om te bid en belowe Hy sal luister. Die volk
het gedink God is nie in ’n vreemde land nie en jy kan Hom nie in die vreemde
soek en tot Hom roep nie. Nou leer Jeremia hulle dat God grense deurbreek en
dat die vreemde land nie noodwendig onrein is nie. As hulle die belange van die
stad bevorder, is hulle tegelyk ook besig om hulle eie belange as nuwe
geloofsgemeenskap te bevorder.
God se doel met die ballingskap was om hulle vir
Hom af te sonder en sterk te maak, maar ook om hulle bloot te stel aan die
vreemde om gevorm te word. Hulle kry daarby ’n missie om God se Koningskap in
die vreemde te proklameer.
Wie hierdie opdrag uitvoer, ook in die
omstandighede van vandag wat vir ons vreemd is, word bevry van selfbejammering en
’n passiewe gesindheid, negatief en nie lus om alles te gee nie. God gee aan
hulle iets om voor te lewe, al weet hulle, hulle sal self nie lewend uit die
ballingskap kom nie: hulle kan plant en bou en so entrepreneurs en ondernemers
in die vreemde word. Hulle kan deur intensiewe voorbidding vir die heidense
stad en die ongelowiges, hulleself geestelik verryk. As hulle die vestiging in
Babel aanvaar, dan hou die Here sy verhouding met hulle in stand ten spyte
daarvan dat hulle ver van die tempel en die heilige land af is.
Hulle kan bid, God soek en Hom vind.
Die klem verskuif van ’n formalistiese godsdiens na
’n intiem persoonlike verhouding met God. So leer hulle nuwe wyses van
aanbidding om God in die Gees en in waarheid te aanbid.
Die wonder vir die opkomende geslagte is dat
Jeremia hierdie beloftes op skrif gestel het. Sy brief kan bewaar word
dwarsdeur die 70 jaar en elke keer weer moed aan die volgende geslagte gee.
Wat sê dit vir ons wat ná die koms van Christus
lewe?
Die lyn van die geskiedenis loop so: Die ballinge
het na ongeveer 70 jaar in die vreemde teruggekeer en in die stukkende land
weer geplant en huise gebou, selfs die tempel herbou. Maar die bekering was van
korte duur. In Maleagi se tyd is hulle maar weer die slegte vye.
Die ware tempel, die Christus Self, moes afgebreek
word om te doen wat die ballingskap nie kon doen nie. Hy het met sy opstanding
ware bevryding uit die ewige ballingskap van die dood gebring. Hy het selfs
sover gegaan om elkeen wat in Hom glo saam met Hom uit die dood op te wek en
saam met Hom laat opvaar na die hemel.
Maar Hy het ons nie onmiddellik ewig daar laat woon
nie. Ons moes eers terug na die wêreld om ’n nuwe gemeenskap met Christus as
Hoof te bou. Daarom is ek en jy hier, maar hierdie wêreld is nie ons woning
nie. Ons het ’n lewende hoop dat ons òf by ons sterwe òf by die onverwagse
wederkoms van Christus, onmiddellik by Hom sal wees.
Hierdie hoop moet ons vashou. Ons is nie bloot stof
wat weer stof sal word nie. Ons het ’n ewige bestemming. Wie aan hierdie hoop
nie vashou nie, sal in die grootste pessimisme en selfbejammering en
verbittering verval.
Maar terwyl ons hierdie hoop vashou, moet ons die
belange van ons samelewing bevorder. En ons het ’n ongemaklike samelewing.
Dinge het drasties verander en ons worstel om te weet wat ons rol hierin is.
Dalk is die misdaad- en verkragtingsberigte so neerdrukkend dat ons dink aan
padgee uit hierdie land. Dan is die boodskap van Jeremia 29 steeds vir ons. Die
Here se manier van doen is dikwels vir ons, wanneer ons dit op ’n nuwe manier
ervaar, vreemd en onverstaanbaar, maar Hy is ook hierin altyd volkome in
beheer.
Wat sê dit vir ons oor ons verblyf nou op hierdie
plek? Twee dinge: Werk en hoop. Hou vas aan die hoop op Christus se koms en al
die ander beloftes, veral die belofte dat die Heilige Gees ons sal lei. Maar
bou en plant en bid en soek God en maak so jou aardse lewe vol betekenis.
·
Jongmense, God sal julle hier gebruik om
entrepreneurs en kreatiewe denkers te wees, wat die belange van die hele land
bevorder.
·
Ons hoogs bejaardes kan nog bid vir vrede en
voorspoed, selfs vir wie hulle as God se vyande beskou. Hulle kan die boodskap
van God se beloftes vir die volgende geslagte helder en duidelik oordra en so
die volgende geslagte se hoop versterk.
·
Ons moenie net kritiseer nie, maar betrokke raak by
die plekke waar daar geleenthede is, selfs by die plaaslike, provinsiale en
landsregering.
·
Ons moet harder werk by ons werkplekke wat nou
groter behoefte aan kreatiewe aksie en ondernemingskap het.
Want deur die belange van ons samelewing te
bevorder, bevorder ons ook die belange van die kerk van Christus. Ons het
immers die Heilige Gees om ons in alles te begelei. So kan ons meehelp om, waar
land, werksplek en samelewing deur swak bestuur en korrupsie en ander faktore
agteruitgegaan het, weer op te bou .
Hierdie nuwe begin, anders as waaraan ons gewoond
was, sal tot versterking van ons persoonlike verhouding met die Here lei. Dit
sal nuwe karaktereienskappe by ons ontwikkel en ons sal nie vassteek by heimwee
na die verlede nie. Ons sal die kwaad deur die goeie oorwin.
Dit geld ook
vir almal wat terminaal siek is: God laat daardeur sy krag, wat in ons swakheid
werk, deurbreek en sigbaar word. En dit alles is nie soetsappige
toesmeerstories nie. God het, soos met Jeremia se brief, dit alles vir ons in
die Bybel gesaghebbend gegee.
Slot
God se beloftes is soos die saad van hoop wat klaar
daar is. Hoe sterker ons vashou aan die sekerheid van sy wederkoms, hoe
sekerder sal sy wederkoms vir ons nader kom. Terwyl ons vashou aan die hoop wat
God gee, moet ons die belange van ons omgewing bevorder. Plant en bou en neem
inisiatief en bid vir almal en soek die Here. Hy sal Hom laat vind!
Amen