04 September 2011

Die HERE se troue verbondsliefde tel ons op wanneer ons in wanhoop verval


4 Sep. 2011 (RB) Psalm 13 - Teksvers Ps. 13 v 6
Sing    Lofsang:   Ps. 42  v 1 & 3 (OAB)
           Na wet: Ps. 32 v 1 (OAB)
           Na gebed Ps. 31 v 1 (OAB)
           Slotsang   Ps. 86 v 1 & 3 (OAB)

Inleiding

Hoe lank nog HERE? Dis die noodroep van gelowiges oor al die eeue heen. Hoe lank gaan U ons vergeet Here? Hoe lank moet ons nog swaarkry in hierdie lewe? Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?

In hierdie Psalm hoor ons ’n dringende roep na verlossing en dit is iets waarmee ons kan identifiseer. In hierdie Psalm hoor ons hoe Dawid sy nood na die Here toe bring. Ons weet nie presies wat die omstandighede was waarin Dawid verkeer het toe hy hierdie Psalm gedig het nie. Uit Dawid se geskiedenis weet ons wel dat hy tye in sy lewe beleef het waar hy onder erge vervolging gely het waar sy lewe in gevaar was. Dink maar aan die tyd toe hy as jongman vir sy lewe moes vlug toe koning Saul hom wou doodmaak of die tyd toe sy eie seun Absolom hom van die troon wou afsit om in sy plek koning te word.

In die Psalm self kry ons nie ’n aanduiding in watter van hierdie omstandighede Dawid in verkeer het nie. Wat wel duidelik is, is dat Dawid in ’n erge sielewroeging was toe hy hierdie Psalm geskryf het. Daarin sien ons hoe Dawid vorder vanaf wanhopige vrae na angstige versoeke tot by lofprysing en vertroue in die Here se liefde. Dawid se pad uit wanhoop deur gebed tot vertroue in die Here se liefde gee vir ons ook troos en hoop wanneer die stampe en die stote van die lewe ons moedeloos maak. Hierin sien ons hoe die Here se troue verbondsliefde ons optel wanneer ons in wanhoop verval. In hierdie Psalm sien ons dat ons, ons nood na die Here toe mag bring. Ons mag vir uitkoms vra en ons sien dat ons op die Here se troue verbondsliefde kan vertrou.


Bring jou nood na die Here toe

Hierdie Psalm begin by wanhoop. Vier keer vra Dawid die vraag “Hoe lank nog?”
s   Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?
s   Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?
s   Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?
s   Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?
Die viervoudige herhaling van die vraag wys vir ons sy intense lyding. Hierin sien ons ook dat hierdie lyding baie meer is as die fisiese omstandighede wat daartoe aanleiding gegee het. Dit is ’n absolute sielewroeging waarin Dawid verkeer. Dit voel vir hom of die Here van hom vergeet het en dat Hy nie Dawid se ellende raaksien nie. Dit voel vir hom of hy alleen staan in hierdie stryd en dat hy absoluut op homself aangewese is. Hy is op daardie punt dat hy net nie meer weet watter kant toe.

In hierdie worstelstryd van Dawid is daar vir ons geweldig baie troos. Wanneer dit voel of die lewe vir ons te veel word, dan mag ons, ons lot teenoor die Here bekla. Hier sien ons hoe Dawid wat een van die groot geloofshelde in die Bybel is na die Here toe kom met sy nood. Hiermee sê die Here vir ons: “jy mag na My toe kom wanneer die lewe vir jou te veel word.” Ons mag na die Here toe kom en vir Hom sê: “Here ek kan nie meer nie. Ek sien nie meer kans nie!” Wanneer die lewe te veel word, bring jou nood na die Here toe.
Maar meer as dit, ons mag vra vir uitkoms.

Vra vir uitkoms

Dawid het sy nood na die Here toe gebring en daarmee saam het hy die Here gesmeek om uitkoms te gee. Hy bring ’n dringende pleidooi na die HERE toe:
Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang.
Te midde van sy diepste vertwyfeling roep Dawid angstig tot Here vir uitkoms. As sy vyand oorwin, dan oorwin die boosheid die goeie en dan is alles verlore.

Soms is dit nodig dat ons tot die besef gebring moet word dat die enigste werklike uitkoms alleen by God te vinde is. In hierdie situasie besef Dawid dat daar alleen by die Here uitkoms is en daarom sy dringende gebed dat die HERE hom moet antwoord. Hy kan nie meer nie en daarom vra hy dat die HERE vir hom nuwe lewenskrag gee.

Wanneer dit met ons goed gaan dan vergeet ons so maklik dat dit maar alleen die HERE se genade is wat ons staande laat bly. As dit met my goedgaan dan dink ek maklik dat ek nie die HERE nodig het nie. Soms is dit nodig dat ’n krisis in my lewe my tot die besef moet bring dat dit net God is wat my hierdeur kan dra. Wanneer dit goed gaan plaas ons so maklik ons vertroue in ander dinge en nie op die HERE nie. Daarom moet ons weet dat ons in die goeie tye en die slegte tye alleen op die HERE moet vertrou.

Die krisisse in ons lewens help ons om te besef dat ons in goeie en slegte tye alleen op Hom moet vertrou. Wanneer die lewe te veel word mag ons, ons nood na die Here toe bring en ons mag vir uitkoms vra. Dit sal ons by die punt bring waar ons die HERE kan loof en prys uit dankbaarheid vir sy troue verbondliefde.

Vertrou op die HERE se troue verbondsliefde

Die Psalm se einde verskil radikaal van sy begin. Dawid se wanhoop het verander in ’n loflied van dankbaarheid omdat hy nou God se liefde raaksien. In Ps. 13v6 hoor ons:
Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.
Dawid se vertroue staan op die HERE se troue verbondsliefde. Hierin sien ons die liefdevolle karakter van God raak. Hy kan ons nie laat gaan nie omdat dit teen sy geaardheid sou wees om dit te doen.

God het Homself voorgeneem om sy liefde aan ons te gee. Daardie liefde sien ons raak in sy handelinge deur al die eeue heen. Nadat Adam en Eva teen Hom gerebelleer het, het Hy steeds in liefde na hulle toe uitgereik. Uit sy liefde het Hy ’n ewige verbond met Abraham aangegaan. “Ek sal vir jou ’n God wees en jy en jou nageslag behoort aan My.” Daardie verbond het Hy weer met Abraham se nageslag bevestig by Sinai. Hy het aan Dawid belowe dat een uit Dawid se nageslag vir ewig Koning sal wees. Dit is hierdie troue verbondsliefde wat Dawid deur sy krisis gedra het.

Die belofte van ’n ewige Koning het in Jesus Christus vir ons waar geword. In sy diepste nood het Jesus Christus in bange Godverlatenheid uitgeroep:
“Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mat 15v34)
Hy het dit gedoen sodat ons kan weet dat ons selfs in ons diepste krisis en nood nooit alleen sal wees nie, omdat God daar by ons is. Deur ons diepste nood en krisisse dra God se liefde ons, daardie liefde wat Hy vir ons in Jesus Christus aan die kruis bewys het. Wanneer ons na die kruis kyk, dan weet ons dat ons op die HERE se troue verbondsliefde kan vertrou.

Samevatting

Wanneer ons in nood verkeer moet ons nie die fout maak om ons blind te staar teen die omstandighede nie. Ons moet ons krisisse sien teen die wyer agtergrond van God se liefdesdade teenoor ons. God se liefde wat ons so duidelik sien teen die agtergrond van die kruisgebeure beteken nie dat ons nooit in ’n krisis sal beland nie. Dit beteken wel dat wanneer ons daarin beland dat sy troue verbondsliefde ons daardeur dra.

Wanneer ons dus in ’n krisis beland moet ons weet dat ons, ons nood voor die HERE se voete mag kom neerlê. Ons mag vir Hom vra om uitkoms te gee en ons moet weet dat sy liefde ons daardeur sal dra net soos Hy ons in die verlede gedra het. Hou dus vas aan die wete dat Die HERE se troue verbondsliefde ons optel wanneer ons in wanhoop verval.

Amen

28 Augustus 2011

God is roekeloos spandabelrig met sy liefde vir rebelle en trotse godsdienstiges


Luk. 15 ;  Teksvers Luk. 15 v 32
21 Aug. 2011
Lof-Psalm Ps. 146 v 1 & 2(OAB)
Na Wet Ps. 25 v 1 & 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 11 (OAB)
Slotsang Ps. 146 v 3 & 8 (OAB)

Inleiding

Verstaan ons God se liefde? verlede week het ons gehoor dat God sy liefde in sagmoedige nederigheid sonder dwang vir ons gee. Ons gaan hierdie week verder leer oor God se liefde. Met hierdie gelykenis van die verlore seun hoor ons dat God roekeloos spandabelrig is met sy liefde vir rebelle en trotse godsdienstiges! Dis eers wanneer ons die ware diepte van ons verlorenheid besef, dat ons die ware diepte van God se liefde kan leer ken.

Historiese agtergrond

Die gelykenis van die verlore seun is ’n bekende gedeelte in die Bybel, maar tog word daar heel dikwels net op die gedeelte van die jongste broer gefokus wat al sy goed deur ’n losbandige lewe en wilde partytjies deurgebring het saam met vroue van lae morele waarde en hoe sy vader hom vergewe wanneer hy tot inkeer kom. Tog is daar soveel meer in hierdie gelykenis, want soos Jesus vir ons sê in Luk 15v11:
“Daar was ’n man wat twee seuns gehad het.  ................”

Dikwels skep die verhaal van die verlore seun die persepsie dat die eerste hoorders daarvan na aan trane moes gewees het oor hoe God die Vader hulle terugverwelkom het, maak nie saak wat hulle gedoen het nie. As ons egter die historiese konteks van die gelykenis in ag neem, dan sal ons agterkom dat eerste hoorders nie tot trane gebring is nie. Inteendeel, hulle was stomgeslaan, hulle het beledig gevoel en hulle was baie kwaad! Die eerste hoorders was die Fariseërs en Skrifgeleerdes van daardie tyd. In Luk. 15 v 1 & 2 hoor ons:
1Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

Met hierdie aanklag teen Jesus sien ons duidelik die veroordelende meerderwaardige gesindheid wat daar by hulle teenwoordig was. Jesus se antwoord teen hierdie aanklag van hulle is om vir hulle die gelykenis van verlorenheid te vertel wat uit drie dele bestaan: Die verlore skaap, die verlore muntstuk en dan om sy punt ten volle tuis te bring die gelykenis van die verlore seuns. Hiermee wys Jesus hulle veroordelende meerderwaardige gesindheid uit en dat die sogenaamde vroom godsdienstige mense wat vol veroordeling en meerderwaardigheid is, net so verlore is soos die losbandige sondaars wat hulle so veroordeel!

verlore seuns

In Engels staan hierdie gelykenis bekend as “The prodigal son”, dit wil sê die roekelose spandabelrige seun. In Afrikaans verwys ons daarna as die gelykenis van die verlore seun. ’n Beter opskrif sou wees: Die gelykenis van die verlore seuns (meervoud), want altwee seuns is ewe verlore!

Die jongste is die vrydenkende wat wil loskom van die gesag van sy pa en daarom gaan hy na sy pa toe en eis sy erfporsie op. Daarmee wys hy duidelik wat sy gesindheid teenoor sy pa is. Hy stel nie werklik in sy pa as persoon belang nie, maar wil alleen die materiële voordele hê wat hy van sy pa kan kry. Met sy versoek sê hy inderwaarheid dat hy wens sy pa is dood en dat hy nou wil wegkom van sy pa se gesag. Al wat hy dus op daardie stadium wou gehad het was sy pa se goed. Dis eers nadat daar in ’n ver land tot die besef gedwing word deur sy lewensstyl dat hy besef wat hy werklik mis, ’n liefdevolle vader wat vir hom omgee.

Die oudste seun aan die ander kant is in ’n sekere sin slegter af as sy jonger broer, want hy besef nie dat hy ook die vader se liefde mis nie. Die oudste broer is in alles gehoorsaam aan sy vader en hy was baie trots daarop soos ons hoor in Luk. 15v29:
Kyk, al die jare werk ek soos ’n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ’n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ’n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie.
Sy moralistiese eiegeregtigheid het een doel gehad en dit was om te verseker dat hy sy sin kry. Met sy sogenaamde gehoorsaamheid het hy probeer om sy vader te manipuleer. Hy was gehoorsaam aan sy vader op ’n baie teensinnige manier. Die ironie is dat die ouer broer nie die vader se liefde verloor as gevolg van ’n sondige losbandige lewe nie, maar wel as gevolg van ’n sogenaamde goeie lewe! Dis sy eie trots en meerderwaardigheid wat in sy pad staan om sy Vader se liefde te waardeer. Inderwaarheid sê hy vir sy pa, ek was altyd gehoorsaam en daarom MOET jy nou doen wat ek wil hê!

Hy het dieselfde doel as sy jonger broer, hy wil onder sy pa se gesag uit kom. Nie een van die twee broers stel in die vader as persoon belang nie, hulle wil albei net die pa se rykdom hê. Die enigste verskil is die manier waarvolgens hulle te werk gaan. Die jongste broer het dit gedoen deur baie sleg op te tree terwyl die oudste broer dit gedoen het deur baie “goed” te wees.

Is dit nie maar ook hoe ons is nie geliefdes? Daar is so stukkie van die jonger en die ouer broer in ons. In sekere opsigte lewe ons ook ’n slegte lewe deur God se gebooie te oortree. Aan die ander kant is ons so trots op ons eie goeie lewe dat dit aanleiding gee dat ons veroordelend is ten opsigte van die ander mense om ons. Ons misbruik die Bybel om daaruit ’n eie stel reëls op te stel. Ek neem so ’n klein stukkie uit die Bybel en buig dit heeltemal buite konteks om by my eie idee in te pas en wee die een wat nie by my stel reëls inval nie! Dit maak nie veel saak of ons met die jonger broer of die ouer broer identifiseer nie, want ons kom op die uiteinde by die ouer broer se sonde uit. Ek staan krities teenoor almal wat met my verskil.

Ouer broers verdeel die wêreld in twee, die “goeie” mense wat soos ons dink en optree en die slegte mense wat met ons verskil, is die probleem in hierdie wêreld. Jonger boeties, selfs al glo hulle nie God nie tree ook so op. Vir die jonger broer is die is die vrydenkers wat soos hulle dink, in en die tweegesig gelowige verkramptes word as die eintlike probleem beskou. Nie een van die twee dink dat hulle God se genade nodig het nie.

Wat is die kenmerke van die ouer broer sindroom?

In Luk 15 v28 tot 30 hoor ons:
28“Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; 29maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos ’n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ’n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ’n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. 30Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’
Uit hierdie onrespekvolle optrede van die oudste seun teenoor sy vader kan ons ’n paar kenmerke aflei. Hy staan krities teenoor sy pa se optrede en keur dit glad nie goed nie.

Wat is hierdie kenmerke? Ek vergelyk myself gedurig volgens ’n eie standaard met ander mense en die ander mense skiet gewoonlik ver tekort en daarom kan ek veroordelend oor hulle wees. Ek is baie trots op my godsdienstige prestasies en vergelyk die swak prestasies van my medebroers met my eie “goeie” rekord. Ek alleen is altyd reg en al die ander mense is altyd verkeerd. Ek voel alewig verontreg en die ander is altyd verkeerd en dit is nooit my skuld nie.

Ek is onvergewensgesind, selfs al sê ek dat ek ander vergewe. Dink daaroor na. As ons sê dat ons vergewe het, maar dat ons nie sal vergeet nie, dan het ons nie vergewe nie! As ek nie kan vergeet nie, is ek onvergewensgesind. Die Here sê vir ons dat ons in Kol 3v13:
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
Hoe het die Here ons vergewe? In Heb. 8v12 sê die Here vir ons hoe:
Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.
Die oudste broer kon maar net nie sy jonger vergewe nie.

Ek kritiseer gedurig ander mense. Ek is nooit self betrokke nie, maar staan altyd krities teenoor dit wat hulle doen. As iets nie volgens my idee gedoen word nie, dan ontrek ek myself en staan ek krities teenoor dit wat gedoen word. Verder stook ek so veel as moontlik kwaad en onmin en stel diegene wat wel iets doen in ’n slegte lig.

As ons op hierdie punt besig is hier in ons gedagtes rond te kyk by wie daar dalk van hierdie ouer broer eienskappe teenwoordig is, dan moet ons weet dat die ouer broer kenmerke juis by ons teenwoordig is. As ek besig is om rond te kyk, dan is ek juis besig om myself te vergelyk met die houding ek doen dit darem nie! ’n Tipiese ouer broer sindroom!

As die ouer broer sindroom by my teenwoordig is, dan is ek in effek besig om my goeie moraliteit in die plek van Jesus te stel.

Ware ouer broer

Wat moet ek maak as ek merk dat die ouer broer sindroom by my teenwoordig is? In die gelykenis sien ons hoe die jonger broer tot inkeer kom en na sy vader terugkeer. Die vraag of die ouer broer op die vader se pleidooi reageer het of nie word nie in die gelykenis beantwoord nie. Dit is ’n vraag wat elkeen vir homself moet beantwoord of ons saam met ons Hemelse Vader wil ingaan en gaan feesvier.

As ons net op die jongste broer in die gelykenis fokus dan kan dit gebeur dat ons genade as goedkoop beskou. Die jongste broer het teruggekom en die vader het hom teruggeneem in die familie en dit het niks gekos nie. Die genade is dus goedkoop sou ons redeneer. Dit is egter nie goedkoop nie, want die jongste broer kon net ten koste van die ouer broer in die familie teruggeneem word. Die pa se goed was klaar tussen die twee broers verdeel. Dit wat oorgebly het, het die ouer broer toegekom. Om die jongste broer terug te neem sou beteken dat ’n deel van die goed wat die ouer broer toekom afgestaan moes word sodat die jongste weer ’n erfporsie kon kry.

Die ouer broer in die gelykenis tree nie soos ’n ware ouer broer op nie. Volgens die Midde Oosterse kultuur waarin die gelykenis afspeel was die oudste broer verantwoordelik om die familie bymekaar te hou en hy moes die jongste broer gaan soek het en teruggebring het, al was dit ten koste van homself. Daar is ’n ouer broer wat bereid was om dit te doen, Jesus Christus. Hy was bereid om ten koste van sy lewe na ons te gaan soek. Daarom rig Jesus ook die uitnodiging aan ons (vgl Mat 11v28-30):
28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Jonger boeties probeer deur rebelsheid van ons Hemelse Vader se gesag weg te kom. Ouer broers probeer deur middel van ’n uiterlike vroom lewe ons Hemelse Vader onder ’n verpligting stel om goed te doen aan hulle. So probeer elkeen op sy eie manier net die voordele te verkry sonder God self. Om egter werklik by God uit te kom moet ons by Jesus Christus uitkom, dan alleen kan ons God werklik leer ken en eers dan sal ons eers werklik God se roekelose spandabelrige liefde vir rebelle en trotse godsdienstiges leer ken. Kom in en vier fees saam met ons Hemelse Vader. Maak gebruik van Jesus se uitnodiging. Kom na Hom almal wat uitgeput en oorlaai is en ervaar sy ewige rus.
Amen

14 Augustus 2011


1 Joh. 2v28 – 3v24; teksvers 1 Joh. 3v1
14 Aug. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm    Sb 12-3 v 1 & 2 (Enigste Here, enkele Wese Art 1 NGB)
Na Wet        Sb 9-3 v 1 & 2 Voor u wet, Heer, staan ons skuldig Rom. 13v8-14
Na Gebed    Ps 40 v 4 (OAB)
Slotsang      Sb 2-4 v 1 & 3 (SB 33) Wat ’n liefde beryming van 1 Joh. 3v1-4

SONDAG 13
33  Vraag:  Waarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem terwyl ons tog ook kinders van God is?
Antwoord:  Omdat alleen Christus die ewige natuurlike Seun van God is (a), terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem is (b).
(a) Joh 1:14;  Heb 1:1, 2;  Joh 3:16;1 Joh 4:9;  Rom.  8:32.  (b) Rom 8:16;  Joh 1:12;  Gal 4:6;  Ef 1:5, 6.
34  Vraag:  Waarom noem jy Hom ons Here?
Antwoord:  Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).
(a) 1 Pet 1:18, 19;  2:9;  1 Kor 6:20;  1 Tim 2:6;  Joh 20:28.
Inleiding
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook! Dit is een van die beelde wat die Here gebruik om ons verhouding met Hom aan ons te verduidelik. Ons staan in ’n verhouding tot God soos wat ’n kind teenoor sy ouer is. God is ons ouer en ons is sy kinders. Ons belydenis in Sondag 13 van die Heidelbergse Kategismus handel juis oor ons verhouding met God vanuit ’n perspektief van ouer en kind.

In die eerste plek word die oënskynlike teenstrydigheid verklaar van Jesus as die eniggebore Seun van God terwyl ons ook kinders van God genoem word. In die tweede plek word die betekenis van Jesus se naam as ons Here verklaar. Ons kan tereg Sondag 13 van die Heidelbergse Kategismus soos volg opsom:
Jesus Christus, die eniggebore Seun van God maak ons kinders van God en daarom is Hy ons Here.

In die eerste plek staan ons stil by die vraag:
Hoe is dit moontlik dat ons kinders van God kan wees as Christus die eniggebore Seun van God is?
Christus is alleen die ewige natuurlike Seun van God. In Joh. 1v1&2 sê God vir ons:
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2 Hy was reeds in die begin by God.
Hieruit is dit duidelik dat Christus van ewigheid af die Seun van God is. Net so ewig as wat die Vader is, net so ewig is die Seun. Jesus het nie eers die Seun van God geword toe Hy in Betlehem gebore is nie. Met sy geboorte in Betlehem het Hy ’n menslike natuur ter wille van ons aangeneem.

In 1 Joh. 3v16 hoor ons:
Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.
Christus wat God is, was bereid om ’n menslike gestalte ter wille van ons aan te neem en Hy was ook bereid om die prys vir ons sondes te betaal sodat ons tot kinders van God aangeneem kan word. Dit is dan die verskil tussen ons en Christus. Jesus Christus is van ewigheid af die eniggebore Seun van God en Hy maak ons kinders van God.

Wat beteken dit vir ons om kind van God te wees? Met ander woorde watse verskil maak dit in ons lewens? Dit hou vir ons groot voordele in soos byvoorbeeld dat dit ons help om sonde te oorwin omdat Christus wat geen sonde in Hom het nie, gekom het om die sonde weg te neem soos ons hoor in 1 Joh. 3v5:
Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie.
Ons stry daagliks teen die sonde in ons lewens en elkeen van ons weet tog watter sondes daar in ons lewens is waarmee ons sukkel. Die feit dat ons kinders van God is beteken dat ons nie moedeloos hoef te word in die stryd nie, omdat ons in Christus daardie sondes kan oorwin.

Verder beteken dit dat ons liefde teenoor ons medemens kan betoon soos ons hoor in 1 Joh. 3v11 naamlik dat ons mekaar behoort lief te hê. Dit is dan ook waaroor verlede week se preek gehandel het, naamlik dat mekaar behoort lief te hê net soos Christus ons lief het.

Om ’n kind van God te wees beteken ook dat ons nie meer hoef bang te wees vir die ewige oordeel nie. In 1 Joh. 3v19-21 hoor ons:
19 Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons, ons gewete voor Hom tot rus bring. 20 As ons gewete ons veroordeel—God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.
21 Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan;
’n Kind van God hoef nie met skuldgevoelens rond te loop nie want ons word nie deur vrees gemotiveer nie, maar deur liefde. Die liefde van God wat in ons brand, maak dat ons teen die sonde stry en dat ons ook vir mekaar lief is.

As kinders van God is ons in ’n sekere sin dan ook broers en susters van Jesus Christus. Hiermee kom die vraag dan noodwendig op:
“Waarom noem ons dan vir Jesus ons Here?”
Die naam Here het beteken dat jy die eiendom is van die persoon wat jy so noem en dat hy jou baas is. Ons is inderdaad die eiendom van Jesus Christus omdat Hy ons met sy kosbare bloed losgekoop het van die sondeslawerny waarin ons vasgevang was soos ons hoor in 1 Pet 1 v 18-19:
Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

In 1 Joh. 1v5 hoor ons dat Jesus gekom het om ons sondes weg te neem. Daar is net twee moontlikhede soos ons hoor in 1 Joh. 3v6:
Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie
Of ons staan onder die heerskappy van die sonde, of ons staan onder die heerskappy van God. As mens onder die heerskappy van sonde staan, dan is jy op jouself ingestel. Selfsug is die hoofkomponent van jou verdedigings arsenaal. In alles wat ek doen of sê volg ek net een doelwit na, naamlik hoe sal dit tot my voordeel strek en weë die een wat daardie doelwit dwarsboom! Dan word my lewe gekenmerk deur konflik en onmin.

My huwelik is ’n slagveld waar ek en my huweliksmaat teen mekaar wedywer en wanneer dit wel in die skeihof eindig soos dit so dikwels die geval is, dan verhoog ons die wedywering na die volgende vlak waar ons, ons kinders as slaanstokke gebruik om mekaar mee by te kom. In hierdie wedywering hou ons die mooiste verskonings voor dat ons dit ter wille van die kinders doen en soms is ons so suksesvol hiermee dat ons dit self ook glo! Die gevolg is baie stukkende kinders wat vir die res van hulle lewens met die letsels spook. In my loopbaan jaag ek die hoogste pos na en alles word daarvoor opgeoffer. My vrou, my kinders, my kollegas. Niks is te duur wat nie geoffer kan word in my najaag van my eie persoonlike doelwitte nie.

Aan die ander kant is ’n lewe wat onder Christus se heerskappy staan. Christus het ’n baie duur prys betaal om my van die heerskappy van die sonde te verlos. Hy moes met sy kosbare bloed betaal, dit wil sê Hy moes sy lewe gee soos ons hoor in 1 Joh. 3v16:
Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.

Omdat Jesus Christus egter ook God is kon Hy die dood oorwin sodat Hy ook aan ons die lewe kan gee. Dit is ’n lewe wat onder sy heerskappy staan waar ons verlos is van die slawekettings van die sonde. Daarom is ons nie meer gebonde aan die sonde-selfsug wat net my eie voordeel najaag nie. Nou kan ons ook in gehoorsaamheid God se gebooie nakom sonder dat ons gewete ons aankla. In 1 Joh. 3v23 sê God vir ons wat Hy van ons verwag:
En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons behoort mekaar lief te hê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.
U het verlede week gehoor wat dit beteken om mekaar lief te hê. (As u vir een of ander rede nie verlede week se erediens kon bywoon nie, is u welkom om ’n afskrif van die preek by my te kry).

Wanneer ons onder die heerskappy van God staan, dan mag ons nie weer terugval in ons ou sondige praktyke soos toe ons nog onder die heerskappy van sonde gestaan het nie. Dit is soos ’n persoon wat op die doodstraf in die tronk gewag het en vrygelaat is omdat iemand sy lewe daarvoor gegee het en nou val ons maar net weer terug sodat hy weer in die dodesel opeindig. God weet egter dat ons swak is en dat ons op ons eie dit nie kan regkry om nie in sonde te verval nie en daarom help Hy ons om daardie vryheid te behou soos ons ook hoor in 1 Joh. 3v24:
Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.
Die Heilige Gees help ons om die gebod van God na te kom, naamlik om te glo dat Jesus Christus ons tot kinders van God laat aanneem het en dat ons daarom nou mekaar kan liefhê volgens die gebod wat Hy ons gegee het.

Ons vier volgende week as die Here wil die Heilige Nagmaal en daarom moet ons ook in hierdie week gaan nadink hoe groot ons sonde en ellende was toe ons nog onder die heerskappy van die sonde gestaan het. Verder moet ons ook onthou hoe ons deur Jesus Christus ons Here daarvan verlos is en tot kinders van God gemaak is sodat ons ook getroos na die Nagmaal van die Here kan kom en ons geloof daardeur versterk kan word sodat ons daarvandaan vorentoe soos ware kinders van God kan leef. Geliefdes onthou: Jesus Christus, die eniggebore Seun van God maak ons kinders van God en daarom is Hy ons Here.
Amen

07 Augustus 2011

Ons behoort mekaar lief te hê soos Christus ons lief het met selfopofferende liefde

Joh. 13 v 31 tot 35 ;  Teksvers Joh. 13 v 34
7 Aug. 2011

Lof-Psalm Ps. 118 v 1 & 12(OAB)
Na Wet Ps. 119 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 30 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 133 v l & 2 (OAB)

Inleiding

As daar net een ding is wat jy vir iemand kan sê kort voordat jy hom gaan verlaat, wat sal dit wees? Watse raad sal jy vir daardie persoon hê sodat hy sal weet wat om te doen as jy nie meer daar is nie?

Christus Het ook raad gehad vir sy dissipels kort voor sy kruisdood. Hy moes hulle daarop voorberei, want hulle het dit nog steeds nie verstaan nie, ten spyte daarvan dat Hy hulle alreeds voorheen daarvan vertel het. In die gedeelte waarna ons geluister het, vertel Hy hulle weer daarvan deur vir hulle daarop te wys dat God verheerlik sal word deur sy selfopofferende liefde aan die kruis en dat hulle daarom ook selfopofferende liefde teenoor mekaar behoort te bewys. Voordat Christus vir sy dissipels sê wat Hy van hulle verwag, wys Hy eerstens vir hulle waarom Hy verwag dat hulle liefde teenoor mekaar behoort te bewys. Die rede wat Hy gee is dat:

God verheerlik word deur ’n pad van selfopofferende liefde

In Joh. 13v18-30 hoor ons hoe Jesus sy verraaier uitwys. Tog verstaan sy dissipels nie wat Judas doen nie. Ons teks begin daar waar Judas vertrek om sy verraaierswerk te gaan doen. Hiermee word die proses in werking gestel wat op die uiteinde op Jesus se kruisdood gaan uitloop. Die kruisdood was net vir misdadigers bedoel. Die Romeine het dit as straf gebruik vir die volke wat hulle oorwin het om misdadigers onder daardie volke te straf. ’n Romeinse burger kon nie gekruisig word nie. Om deur middel van die kruisdood te sterf, was ’n absolute vernedering in daardie tyd.

Christus weet dat Hy daardie selfde nag nog in hegtenis geneem sal word omdat Judas reeds besig was om Hom te verraai. Hy het geweet dat Hy op die kruis gaan sterf en tog se Jesus (Joh. 13 v 31&32):
31 “Nou word die Seun van die mens verheerlik , en God word deur Hom verheerlik. 32 En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik.
Christus wys hiermee wat werklike liefde beteken. Dit kom nie deur met mag en krag te oorwin nie, maar wel deur selfopofferende liefde.

Wanneer ’n Romeinse generaal ’n veldslag gewen het en daardeur sy vyand oorwin het, het hy ’n optog deur die strate gelei waarin hy sy mag vertoon het. Al die buit is aan die volk vertoon asook die slawe hy gevang het. So het hy sy mag vertoon sodat hy daardeur verheerlik kan word. Teenoor dit wys Christus dat God anders is as mense. Jesus verslaan nie sy vyand deur mag en krag nie. Hy doen dit deur Homself aan ’n vervloekte kruishout te offer.

God kry die eer omdat Christus in gehoorsaamheid sy eie lewe opoffer en daardeur sy liefde bewys. Sy dissipels verstaan dit nog nie en daarom verduidelik Hy wat dit beteken (Joh. 13 v 33):
My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.
Dit is nie iets wat iemand namens Christus kan doen of iets waarmee Hy gehelp kan word nie. Dit is iets wat net Christus alleen kan doen. Net Hy alleen kan die doodstraf vir die sonde dra, want dit is net Christus wat die dood kan oorwin. Voordat Christus sê wat Hy van sy dissipels verwag, wys Hy hulle eers wat Hy verwag deur self die voorbeeld te stel en vir ons te wys dat God verheerlik word deur ’n pad van selfopofferende liefde.

Ons behoort ook selfopofferende liefde teenoor mekaar bewys

In Joh. 13v34 sê Jesus vir sy dissipels:
Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

In die Afrikaanse vertaling klink hierdie soos ’n klipharde opdrag wat ons maar net moet doen of ons wil of nie. Tog kan liefde nie afgedwing word nie. Dit is iets wat ons uit onsself moet gee omdat ons dit wil gee en dit is dan ook inderwaarheid soos dit in die Grieks weergegee word. Ons sou Joh. 13v34 ook soos volg kon vertaal:
Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle behoort mekaar lief te hê. Soos Ek julle liefhet, behoort julle mekaar ook lief te hê.

Hierdie opdrag om lief te hê is eintlik ’n baie ou opdrag. Reeds in Lev. 19v18 sê die HERE vir Israel:
Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.
Tog is daar in Jesus se opdrag iets nuuts by. Hy vervang die gedeelte “soos jouself” met “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” Hiermee wys Jesus op die radikale aard van die liefde wat Hy vra. Hoe lyk Jesus se liefde wat Hy vir ons wys?

Dis onselfsugtige liefde:

Dis nie liefde wat jou eie belang voorop stel nie. As gevolg van die sondeval is die liefde wat ons natuurlik gee grootliks op selfsug gebaseer. Dit het ten diepste die doel dat ek gee met die oog om self iets daaruit te wen. Vanweë ons sondige aard is die liefde wat ons aan ander gee, dikwels daarop gemik om my eie geluk te verseker. Ek gee liefde, maar eintlik doen ek dit om self voordeel daaruit te trek. As daar vir my ’n voordeel in is dan sal ek liefde gee, maar as daar nie vir my iets in is nie dan sal ek nie liefde gee nie! Teenoor dit wys Jesus ons wat werklike liefde is. Jesus se liefde het nooit enige selfsug in nie. Jesus dink nooit daaraan watse voordeel dit vir Hom inhou nie. Jesus se enigste begeerte is om Homself te gee vir almal wie Hy liefhet.

Dis opofferende liefde
Dis liefde wat alles vra. Jesus het alles gegee. Hy het niks teruggehou nie en het selfs sy lewe gegee. Ons is soms ook bereid om baie op te offer vir diegene wat naby aan ons is en wat vir ons liefhet. Christus het egter sy lewe opgeoffer vir mense wat Hom gehaat het soos ons hoor in Rom. 5v8:
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Ons dink so dikwels dat liefde vir ons geluk moet bring. Liefde kan egter eers baie pyn teweeg bring voordat dit geluk bring. Soms vereis liefde pynlike opoffering van ons.

Dis liefde wat verstaan

Jesus het vir drie jaar saam met sy dissipels geleef. Hy het al hulle swakhede en foute geken en ten spyte daarvan dat hulle Hom teleurgestel het, het Hy hulle nog steeds liefgehad. Hy het geweet dat Petrus drie maal gaan ontken dat hy Jesus geken het. Tog het Jesus Petrus nie verwerp nie. Jesus ken ook al ons swakhede en tog is Hy nog steeds lief vir ons. Ons vra so dikwels, moet ek nog steeds liefhê as ek weet dat daardie persoon my maar net weer gaan teleurstel. Jesus is steeds lief vir ons selfs al stel ons Hom teleur. Jesus se liefde verstaan ons tekortkominge. 

Dis liefde wat vergewe

Jesus het geweet dat sy dissipels Hom in die steek gaan laat in sy diepste uur van nood en beproewing. Hulle het nooit werklik verstaan waarom Hy as mens aarde toe gekom het nie. Jesus se dissipels het onder mekaar gestry, hulle het gesukkel om te verstaan wat Hy vir hulle wou sê en op die uiteinde was hulle ’n klomp lafaards. Tog het Jesus niks teen hulle gehou nie. Nie een van ons is perfek nie en soms doen ons dinge wat diegene wat na aan ons is baie seer maak. Liefde wat nie kan vergewe nie gaan op die uiteinde dood en verander in haat. Jesus stel vir ons hier die perfekte voorbeeld deurdat Hy al ons sondes op Hom geneem het. Daarom sê God ook vir ons in Kol 3v13:
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het.

Soos Jesus ons liefhet behoort ons mekaar ook lief te hê.

Na hierdie gebod se die Here vir ons in Joh. 13v35:
As julle mekaar liefhet, 
sal almal weet dat julle dissipels van My is.

Hieruit is dit duidelik dat liefde ’n kenmerk is van navolgers van Jesus. Dis nie ’n voorwaarde om Jesus se liefde te verdien nie. Wanneer ons hierdie onvoorwaardelike liefde ook in ons lewens opmerk, dan kom ons agter dat Jesus se liefde besig is om ons te verander. As dit nog nie so duidelik in ons lewens is nie, moet ons sterker vashou met geloof wat die Heilige Gees vir ons gee aan Jesus se verlossings daad aan die kruis en begin lewe vanuit die lewe wat Hy met sy opstanding vir ons verwerf het.

Het u al daaraan gedink dat daar moontlik mense is wat God se liefde in ons lewens kan waarneem en dat hulle daardeur ook van God se liefde bewus kan word en daardeur verander kan word? Wanneer ons mekaar liefhet is ons daarmee ook besig om vir die wêreld te wys hoe lyk dit binne God se koninkryk.

Omdat Jesus ons onvoorwaardelik lief het, behoort ons mekaar ook lief te hê net soos Jesus ons lief het. Dit is met ’n liefde wat onselfsugtig is, ’n liefde wat bereid is om alles op te offer, ’n liefde wat verstaan en ’n liefde wat vergewe.

Geliefdes, kom ons wees lief vir mekaar net soos Christus ons lief het.
Amen

21 Julie 2011

Vertrou op die HERE alleen en nie op die goddelose nie

17 Jul. 2011 Reddersburg
Skriflesing: Jes. 7 teksvers: Jes. 7 v 9b
Lof-Psalm Ps. 84 v 1 & 2 (OAB)
Na Wet Ps. 1 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 103 v 1 & 2 (OAB)
Slotsang Ps. 46 v 1 & 6 (OAB)

Inleiding

Op wie vertrou ons wanneer ’n krisis of ’n groot probleem ons in die gesig staar? Indien mens nie jou vertroue op die regte plek plaas nie, kan dit baie slegte gevolge vir jou inhou soos die geskiedenis van koning Agas van Juda baie duidelik vir ons wys. Koning Ags het ’n krisis in die gesig gestaar van twee volke wat saamgespan het om teen hom oorlog te voer. In Jes. 7v2 hoor ons dat hulle vir hierdie bedreiging so bang was dat hulle soos bome in die wind gebewe het! Om die omstandighede te van ons teksgedeelte in Jes. 7 te verstaan gaan ek net eers gou ’n kort agtergrond gee van die omstandighede wat tot hierdie bedreiging van konings Agas aanleiding gegee het.

Historiese agtergrond

Koning Agas het in die jaar 742 vC koning geword van die Suidelike ryk Juda. U onthou hoe die ryk van Israel in twee geskeur het na koning Salomo as gevolg van sy sonde en afvalligheid. Israel is verdeel in die Suidelike ryk Juda en die Noordelike ryk Israel wat ook soms Efraim genoem word. In hierdie tyd het Assirië as ’n groot wêreld mag na vore getree. Onder hulle koning Tiglat Pileser III, het hulle ’n groot bedreiging vir die Israel en Juda en die ander volke om hulle geword.

’n Aantal van hierdie volke wat Israel en Damaskus ingesluit het, het besluit om saam te staan teen Assirië. Hulle het vir koning Agas gevra om by hulle aan te sluit, maar hy het geweier, heelwaarskynlik omdat hy reeds besluit het om met Assirië saam te werk. Om hom te dwing om saam te werk het koning Peka van Israel en Resin van Damaskus besluit om Juda aan te val en om ’n ander koning in die plek van Agas aan te stel wat met hulle sou saamwerk soos ons hoor in Jes. 7v6:
Hulle het vir mekaar gesê: Kom ons val Juda aan en oorrompel hom. Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda.

In ons teksgedeelte is Agas juis besig om Jerusalem se waterkanaal te ondersoek wanneer die profeet Jesaja by hom kom. Die Here het vir Jesaja gestuur om vir Agas gerus te stel oor hierdie bedreiging van oorlog soos ons hoor in Jes. 7v3-4.

Belofte van die HERE met ’n voorwaarde

3 Die Here het toe vir Jesaja gesê: Vat jou seun Sear-Jasub saam en gaan ontmoet vir Agas op die pad na die Bleikveld toe by die punt van die kanaal uit die boonste dam. 4 Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie.
Vyf keer sê die Here vir hom dat hy moet kalm wees en dat hy nie bang hoef te wees. Die perspektief wat die Here gee is sy almag teenoor die bloot menslike natuur van die twee konings. Hulle is maar net soos twee stukke brandhout wat net rook. In Jes. 7v7 sê die Here: “Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie”. Efraim en Damaskus sal albei verwoes word sodat daar niks van hulle sal oorbly nie.

Hoe dikwels staan ons nie ook voor ’n krisis in ons lewens nie en dan bewe ons ook soos bome in die wind. Die ekonomie bedreig my inkomste of watter storm daar ook al in u lewe is. U weet wat die situasies in u lewe is wat soos ’n storm dreig om u te oorweldig. Wat doen ons wanneer die lewensstorms soos ’n weermag teenoor ons staan en dit dreig om ons te oorweldig? Agas het die verkeerde keuse gemaak. Hy het nie op die Here vertrou nie en hy het hom nie aan die waarskuwing van die Here gesteur nie (vgl. Jes. 7v9b)
Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.

Die Here het hom beveel om ’n teken te vra sodat sy geloof en vertroue in die Here versterk kan word. Ewe vroom antwoord hy dat hy nie die Here wil tart nie, maar tog doen hy dit! Sy weiering om ’n teken te vra wys op sy ongeloof. Die Here gee daarom self ’n teken soos ons hoor in Jes. 7v14. Daar hoor ons van die Immanuelteken:

Die Immanuelteken

Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.
Immanuel beteken “God by ons”. Dit wys op God se genade, maar dit wys ook op God se straf wanneer die mens sy genade verwerp. Agas het besluit om nie op die Here te vertrou nie soos ons hoor in 2 Kon 16v7:
Toe stuur Agas ’n boodskap na koning Tiglat-Pileser van Assirië: “Ek is u onderdaan en seun. Ruk op en bevry my uit die mag van die koning van Aram en van die koning van Israel, hulle val my aan.”

Immanuel is die teken wat die Here vir Agas gee om hom te herinner aan sy ongeloof. Die Hebreeuse woord wat hier met jongvrou vertaal is wys op ’n ongetroude jongvrou. Volgens die Joodse kultuur van daardie tyd sou sy dus nog ’n maagd gewees het, maar oud genoeg om te kan trou. Teen die tyd wat die vrou dus getroud was en geboorte aan ’n kind kon gee sou die bedreiging van Peka en Resin vergete wees. Binne twee jaar daarna was daar ook geen bedreiging van Peka en Resin nie en sou die Agas elke slag aan sy ongeloof herinner word wanneer hy die naam van die kind hoor, Immanuel. Die Here was met hulle en het hulle van die bedreiging gered.

Die Here het dus vir Agas die Immanuel teken gegee as ’n herinnering aan sy ongeloof en daarom het die profesie van Jes. 7v17-25 waar geword. Die land is verwoes sodat daar net distels en dorings in die wingerde en landerye oorgebly het. Agas het besluit om sy vertroue op Assirië te stel soos ons hoor in 2 Kron. 28v16:
In dié tyd het koning Agas laat hulp vra by die konings van Assirië.
Dit het hom baie duur te staan gekom soos ons hoor in 2 Kron. 28v20:
Koning Tiglat-Pileser van Assirië het opgetrek, maar téén Agas. Hy het Agas nie kom help nie, maar sake vir hom nog moeiliker gemaak. 21Agas het van die huis van die Here, die paleis en die amptenare goud gevat en dit vir die koning van Assirië gegee, maar dit het hom niks gehelp nie.

Die uiteinde van Agas se ongeloof is dat hy heeltemal van die Here weggedryf het soos ons hoor in 2 Kron. 28v22:
Toe dit so sleg met hom gaan, was hy, dié koning Agas, nog verder ontrou teenoor die Here.
In Kron. 28v24-25 hoor ons:
24 Agas het die goed wat in die tempel gebruik is, weggevat en stukkend geslaan, die deure van die huis van die Here gesluit en op elke hoek in Jerusalem altare gebou. 25 In elke stad van Juda het hy hoogtes ingerig om vreemde gode met offerandes te vereer. So het hy die Here, die God van sy voorvaders, uitgetart.
Die uiteinde van ongeloof is net hartseer en verdriet.

Vir Agas het sy ongeloof beteken dat hy by ’n heidense koning en nasie gaan hulp soek het. Hoe dikwels soek ons nie uitkoms op ander plekke as by God nie? As die finansies ons druk dan soek ons hulp by die dobbelgodin daar by die casino of die Lottokaartjie. As die lewe te veel word dan probeer ons ons sorge met drank verdrink. Ook hier is die uiteinde net hartseer en verdriet net soos wat dit vir Agas was.

Aan die ander kant is die Immanuelteken wat die Here vir Agas gegee het ook ’n teken van hoop, want die ontrouheid van mense kan nie die Here se genade tot niet maak nie. Hierdie selfde profesie wat die Here vir Agas gegee het is ook in Jesus Christus vervul soos ons hoor in Mat 1v23:
“Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.
In Jesus Christus het God mens geword vir ons. Hy het bange Godverlatenheid in ons plek deurgemaak sodat ons nooit God verlaat sal word nie.

In Jesus Christus was God by die mense gewees en na Jesus se hemelvaart het Hy die Heilige Gees in sy plek gestuur. God is altyd by ons veral ook wanneer ons krisisse en probleme moet hanteer. God is groter as enige probleem of krisis wat ons kan teenkom.

Slot

As ons nie die Here vertrou nie en as ons sy genade verwerp en uitkoms soek by die goddelose, kan dit veroorsaak dat ons naderhand heeltemal van die Here wegdraai en dit sal baie slegte gevolge vir ons in inhou. Die Here se genade is egter baie groot en daarom het Hy vir ons die Immanuelteken gegee. As ons God se genade verwerp en vertrou op die goddelose sal dit aan ons ongeloof herinner. As ons op die Here vertrou kan ons verseker wees dat God in Jesus Christus altyd by ons sal wees. Hy het die Heilige Gees vir ons gestuur sodat ons nooit sonder God sal wees nie. Ons moet op die Here vertrou veral in die krisistye in ons lewens. Laat ons daarom op die Here alleen vertrou en nie op die goddelose nie.
Amen

10 Julie 2011

Ek is ’n Christen omdat ek in Hom glo en sy volgeling is wat doen wat Hy my beveel om te doen

Skriflesing: Mat. 4 v 18 – 21; 28 v 16 – 20 teksverse: Mat. 28 v 18 – 20
Sondag 12 Heidelbergse Kategismus.
09 Jul. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 48 v 1 & 5 (OAB)
Na Wet Sb. 9-1 v 1 & 11 (Sb 26 in swart Psalmboek)
Na Gebed Ps. 119 v 39 (OAB)
Slotsang Ps. 119 v 1 & 2 (OAB)
Sondag 12 Heidelbergse Kategismus.
31  Vraag:  Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord:  Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het (c);  tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f);  tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).
(a) Ps 45:8;  Heb 1:9;  Jes 61:1;  Luk 4:18.  (b) Deut 18:15;  Hand 3:22;  7:37;  Jes 55:4.  (c) Joh 1:18;  15:15.  (d) Ps 110:4.  (e) Heb 10:12, 14;  9:12, 14, 28.  (f) Rom 8:34;  Heb 9:24;  1 Joh 2:1;  Rom 5:9, l0.  (g) Ps 2:6;  Sag 9:9;  Matt 1:5;  Luk l:33;  Matt 28:18;  Joh 10:28 Op 12:10, 11.
32  Vraag:  Waarom word jy 'n Christen genoem (a)?
Antwoord:  Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).
(a) Hand 11:26.  (b) 1 Kor 6:15.  (c) 1 Joh 2:27;  Hand 2:17.  (d) Matt 10:32;  Rom 10:10.  (e) Rom I2:1;  1 Pet 2:5, 9;  Op 1:6;  5:8, 10.  (f) 1 Pet 2:11;  Rom 6:12, 13;.  Gal 5:16, 17;  Ef 6:11;  1 Tim 1:18, 19.  (g) 2 Tim 2:12;  Matt 25:34.
Inleiding
Waarom noem ek myself ’n Christen? Het u al ooit werklik hieroor nagedink? Die maklike en vinnige antwoord is omdat ek in Christus glo. Is dit werklik al? In die Kategismus beantwoord ons die vraag soos volg:
Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het sodat ek sy Naam kan bely, myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer.
Wat beteken hierdie belydenis van ons prakties?

In Mat. 28 v 18 tot 20 sê die Here vir ons baie prakties wat dit beteken. In die eerste plek hoor ons:
Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.
Dit gee vir ons die grondrede waarom ons Christene wil wees. Christus is die ewige Koning wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat Hy vir ons verwerf het beskerm en bewaar soos ons ook bely in vraag en antwoord 31 van die Heidelbergse Kategismus. Christus het hierdie Koningskap nie deur mag en geweld verkry nie. Hy het dit verkry deur Homself te offer soos ons hoor in 1 Kor. 15v3-4:
Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.
Dit is die evangelie, die goeie nuus. Dit is wat ons moet glo.

Wat beteken hierdie geloof prakties vir ons? As ek werklik glo dat daar ’n God is aan wie ek my bestaan te danke het en dat Hy alleen bepaal waar ek my ewige bestemming gaan deurbring, dan sal ek Hom onvoorwaardelik dien. As ek werklik glo dat Christus vir my sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy deur sy opstanding aan my die ewige lewe gee dan sal ek Hom onvoorwaardelik dien!

Wat beteken dit om Christus te dien? Dit beteken dat ons sy dissipels moet wees. Christus het sy eerste dissipels geroep (vgl. Mat. 4v19) Kom hier! Kom saam met My. Dit is wat dit beteken om ’n dissipel te wees, iemand wat Christus volg en by Hom leer. Jesus beveel sy eerste dissipels om Hom te volg, dit is om by Hom te leer en te doen wat Hy hulle leer. Net voor sy hemelvaart gee Hy dan ook die opdrag aan sy dissipels (vgl. Mat 28v19):
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels

Dit is dan ook die opdrag wat Christus aan sy kerk gee. Voordat ons egter dissipels kan gaan maak is dit belangrik dat ons self eers moet weet wat ’n dissipel is en dat ons self eers dissipels moet wees. In Mat. 28 v 19 & 20 hoor ons dat daar twee goed betrokke is by die maak of word van dissipels:
1) doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees
2) leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Deur die doop word ons ingelyf in die gemeenskap van die gelowiges en daarmee kry ons ook deel aan God Drie-Enig, Vader Seun en Heilige Gees.

Die tweede aspek is dat ons moet leer om alles te onderhou wat Christus ons beveel het. Geloof in Jesus Christus beteken dus dat dit meer is as net om iets te weet of ’n emosionele lekker gevoel. Dit beteken dat ons in navolging van Christus ook moet doen wat Hy vir ons sê om te doen. Hierdie doen beteken egter nie dat ons God se genade daardeur moet verdien nie. Hierdie doen is die reaksie op God se genade. Wanneer ons in die kategismus bely dat ek:
myself as 'n lewende dankoffer aan Hom toewy en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel stry
is dit die reaksie wat God se genade in ons wakker maak. God gee eers voordat Hy vra en Hy vra nooit meer as wat Hy reeds gegee het nie.

Ons moet dus alles onderhou wat Christus ons beveel het en deur dit te doen leer ons ook ander hoe om dit te doen. Hoe onderhou ons alles wat Christus ons beveel het? Die bergpredikasie in Mat. 5 tot 7 gee vir ons ’n baie praktiese voorbeeld daarvan. In Mat. 5v13-16 hoor ons:
13“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
14“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Net soos sout smaak aan kos gee en kos bewaar moet die Christen se lewe ook anders wees as die verderf en verval van die sondige wêreld. Die Christen moet die goeie in die lewe bewaar en sy lewe moet soos ’n lig skyn in die donker wêreld daarbuite. God se genade is soos energie: dit stel ons in staat om aktief te wees en om te werk. Die gawes wat God aan ons skenk is die gereedskap wat Hy vir ons gee om ons roeping as Christen mee te vervul. Ons talente is nie status simbole waarmee ons moet spog nie, ons moet dit gebruik om ons medemens te leer om dissipels te word.

In Mat. 5v17-48 hoor ons hoe ons prakties sout en lig in die wêreld moet wees. Moenie haatdraend wees nie. Moord begin in ons kwade gevoelens teenoor mekaar. As daar onmin tussen ons is, moet ons dit uitklaar deur mekaar te vergewe. Ontrou en onkuisheid begin by ons verkeerde begeertes (vgl. byvoorbeeld Mat 5v27):
Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg
Moenie valslik ’n eed sweer nie. As ons, ons woord gegee het, dan moet ons dit nakom. (Mat. 5v37):
Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’

Moenie wraak sweer nie (vgl. Mat. 5v38-39):
38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ 39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.
Dit alles moet uitloop op die vervulling van die liefdes gebod. Ons moet selfs teenoor ons vyande liefde betoon. Net soos ons Vader moet ons nie in ons liefde diskrimineer teen ons medemens nie, maar ons moet ons liefde volledig en onvoorwaardelik gee aan almal wat die Vader op ons lewenspad geplaas het.

In Mat. 6 en 7 sê Christus vir ons hoe ’n Christen moet leef. Ons hulp aan armes moet so wees dat ons nie ons eie eer daardeur soek om aan ander te wys hoe goed ons is nie. Ons moet dit doen in nederigheid vir God sonder om ’n groot vertoon daarvan te maak. Ons moet ons prioriteite reg kry sodat dit wat God ons beveel om te doen nommer een is ons lewens. Ons moenie ander veroordeel nie, want ons is self ook nie sonder sonde nie. Ons moet met vertroue in gebed tot ons Vader nader met die wete dat Hy vir ons sal gee wat ons nodig het. Ons moenie moed opgee nie. Ons moet ons nie laat verlei nie en ons moet daders van ons woord word. Moenie net mooi praatjies maak nie, maar doen werklik wat God van ons verwag.

As ons so luister na dit wat Christus ons beveel om te doen, dan moet ons erken dat dit werklik ’n uitdaging is wat ons op ons eie moeilik kan nakom. Daarom moet ons weereens onthou dat ons nie hiermee God se genade moet probeer verdien nie. Dit moet ons reaksie wees op God se genade wat ons nie in eie krag moet aanpak nie want Christus belowe ons in Mat. 28v20:
En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

Na sy hemelvaart het Hy die Heilige Gees gestuur om ewig by ons te bly. Daarom kan ons alles onderhou wat Hy ons geleer het. Wanneer ons dit in geloof en uit die krag van die Heilige Gees doen, is dit ’n liefdestaak wat ons met vreugde vir God doen. Dan is dit nie ’n moeitevolle werk nie maar is dit ’n liefdesdiens wat ons graag sal en wil doen.

Wanneer ek myself ’n Christen noem dan doen ek dit omdat ek in Hom glo en sy volgeling is wat doen wat Hy my beveel om te doen.
Amen