14 Augustus 2011


1 Joh. 2v28 – 3v24; teksvers 1 Joh. 3v1
14 Aug. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm    Sb 12-3 v 1 & 2 (Enigste Here, enkele Wese Art 1 NGB)
Na Wet        Sb 9-3 v 1 & 2 Voor u wet, Heer, staan ons skuldig Rom. 13v8-14
Na Gebed    Ps 40 v 4 (OAB)
Slotsang      Sb 2-4 v 1 & 3 (SB 33) Wat ’n liefde beryming van 1 Joh. 3v1-4

SONDAG 13
33  Vraag:  Waarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem terwyl ons tog ook kinders van God is?
Antwoord:  Omdat alleen Christus die ewige natuurlike Seun van God is (a), terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem is (b).
(a) Joh 1:14;  Heb 1:1, 2;  Joh 3:16;1 Joh 4:9;  Rom.  8:32.  (b) Rom 8:16;  Joh 1:12;  Gal 4:6;  Ef 1:5, 6.
34  Vraag:  Waarom noem jy Hom ons Here?
Antwoord:  Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).
(a) 1 Pet 1:18, 19;  2:9;  1 Kor 6:20;  1 Tim 2:6;  Joh 20:28.
Inleiding
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook! Dit is een van die beelde wat die Here gebruik om ons verhouding met Hom aan ons te verduidelik. Ons staan in ’n verhouding tot God soos wat ’n kind teenoor sy ouer is. God is ons ouer en ons is sy kinders. Ons belydenis in Sondag 13 van die Heidelbergse Kategismus handel juis oor ons verhouding met God vanuit ’n perspektief van ouer en kind.

In die eerste plek word die oënskynlike teenstrydigheid verklaar van Jesus as die eniggebore Seun van God terwyl ons ook kinders van God genoem word. In die tweede plek word die betekenis van Jesus se naam as ons Here verklaar. Ons kan tereg Sondag 13 van die Heidelbergse Kategismus soos volg opsom:
Jesus Christus, die eniggebore Seun van God maak ons kinders van God en daarom is Hy ons Here.

In die eerste plek staan ons stil by die vraag:
Hoe is dit moontlik dat ons kinders van God kan wees as Christus die eniggebore Seun van God is?
Christus is alleen die ewige natuurlike Seun van God. In Joh. 1v1&2 sê God vir ons:
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2 Hy was reeds in die begin by God.
Hieruit is dit duidelik dat Christus van ewigheid af die Seun van God is. Net so ewig as wat die Vader is, net so ewig is die Seun. Jesus het nie eers die Seun van God geword toe Hy in Betlehem gebore is nie. Met sy geboorte in Betlehem het Hy ’n menslike natuur ter wille van ons aangeneem.

In 1 Joh. 3v16 hoor ons:
Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.
Christus wat God is, was bereid om ’n menslike gestalte ter wille van ons aan te neem en Hy was ook bereid om die prys vir ons sondes te betaal sodat ons tot kinders van God aangeneem kan word. Dit is dan die verskil tussen ons en Christus. Jesus Christus is van ewigheid af die eniggebore Seun van God en Hy maak ons kinders van God.

Wat beteken dit vir ons om kind van God te wees? Met ander woorde watse verskil maak dit in ons lewens? Dit hou vir ons groot voordele in soos byvoorbeeld dat dit ons help om sonde te oorwin omdat Christus wat geen sonde in Hom het nie, gekom het om die sonde weg te neem soos ons hoor in 1 Joh. 3v5:
Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie.
Ons stry daagliks teen die sonde in ons lewens en elkeen van ons weet tog watter sondes daar in ons lewens is waarmee ons sukkel. Die feit dat ons kinders van God is beteken dat ons nie moedeloos hoef te word in die stryd nie, omdat ons in Christus daardie sondes kan oorwin.

Verder beteken dit dat ons liefde teenoor ons medemens kan betoon soos ons hoor in 1 Joh. 3v11 naamlik dat ons mekaar behoort lief te hê. Dit is dan ook waaroor verlede week se preek gehandel het, naamlik dat mekaar behoort lief te hê net soos Christus ons lief het.

Om ’n kind van God te wees beteken ook dat ons nie meer hoef bang te wees vir die ewige oordeel nie. In 1 Joh. 3v19-21 hoor ons:
19 Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons, ons gewete voor Hom tot rus bring. 20 As ons gewete ons veroordeel—God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.
21 Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan;
’n Kind van God hoef nie met skuldgevoelens rond te loop nie want ons word nie deur vrees gemotiveer nie, maar deur liefde. Die liefde van God wat in ons brand, maak dat ons teen die sonde stry en dat ons ook vir mekaar lief is.

As kinders van God is ons in ’n sekere sin dan ook broers en susters van Jesus Christus. Hiermee kom die vraag dan noodwendig op:
“Waarom noem ons dan vir Jesus ons Here?”
Die naam Here het beteken dat jy die eiendom is van die persoon wat jy so noem en dat hy jou baas is. Ons is inderdaad die eiendom van Jesus Christus omdat Hy ons met sy kosbare bloed losgekoop het van die sondeslawerny waarin ons vasgevang was soos ons hoor in 1 Pet 1 v 18-19:
Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

In 1 Joh. 1v5 hoor ons dat Jesus gekom het om ons sondes weg te neem. Daar is net twee moontlikhede soos ons hoor in 1 Joh. 3v6:
Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie
Of ons staan onder die heerskappy van die sonde, of ons staan onder die heerskappy van God. As mens onder die heerskappy van sonde staan, dan is jy op jouself ingestel. Selfsug is die hoofkomponent van jou verdedigings arsenaal. In alles wat ek doen of sê volg ek net een doelwit na, naamlik hoe sal dit tot my voordeel strek en weë die een wat daardie doelwit dwarsboom! Dan word my lewe gekenmerk deur konflik en onmin.

My huwelik is ’n slagveld waar ek en my huweliksmaat teen mekaar wedywer en wanneer dit wel in die skeihof eindig soos dit so dikwels die geval is, dan verhoog ons die wedywering na die volgende vlak waar ons, ons kinders as slaanstokke gebruik om mekaar mee by te kom. In hierdie wedywering hou ons die mooiste verskonings voor dat ons dit ter wille van die kinders doen en soms is ons so suksesvol hiermee dat ons dit self ook glo! Die gevolg is baie stukkende kinders wat vir die res van hulle lewens met die letsels spook. In my loopbaan jaag ek die hoogste pos na en alles word daarvoor opgeoffer. My vrou, my kinders, my kollegas. Niks is te duur wat nie geoffer kan word in my najaag van my eie persoonlike doelwitte nie.

Aan die ander kant is ’n lewe wat onder Christus se heerskappy staan. Christus het ’n baie duur prys betaal om my van die heerskappy van die sonde te verlos. Hy moes met sy kosbare bloed betaal, dit wil sê Hy moes sy lewe gee soos ons hoor in 1 Joh. 3v16:
Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.

Omdat Jesus Christus egter ook God is kon Hy die dood oorwin sodat Hy ook aan ons die lewe kan gee. Dit is ’n lewe wat onder sy heerskappy staan waar ons verlos is van die slawekettings van die sonde. Daarom is ons nie meer gebonde aan die sonde-selfsug wat net my eie voordeel najaag nie. Nou kan ons ook in gehoorsaamheid God se gebooie nakom sonder dat ons gewete ons aankla. In 1 Joh. 3v23 sê God vir ons wat Hy van ons verwag:
En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons behoort mekaar lief te hê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.
U het verlede week gehoor wat dit beteken om mekaar lief te hê. (As u vir een of ander rede nie verlede week se erediens kon bywoon nie, is u welkom om ’n afskrif van die preek by my te kry).

Wanneer ons onder die heerskappy van God staan, dan mag ons nie weer terugval in ons ou sondige praktyke soos toe ons nog onder die heerskappy van sonde gestaan het nie. Dit is soos ’n persoon wat op die doodstraf in die tronk gewag het en vrygelaat is omdat iemand sy lewe daarvoor gegee het en nou val ons maar net weer terug sodat hy weer in die dodesel opeindig. God weet egter dat ons swak is en dat ons op ons eie dit nie kan regkry om nie in sonde te verval nie en daarom help Hy ons om daardie vryheid te behou soos ons ook hoor in 1 Joh. 3v24:
Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.
Die Heilige Gees help ons om die gebod van God na te kom, naamlik om te glo dat Jesus Christus ons tot kinders van God laat aanneem het en dat ons daarom nou mekaar kan liefhê volgens die gebod wat Hy ons gegee het.

Ons vier volgende week as die Here wil die Heilige Nagmaal en daarom moet ons ook in hierdie week gaan nadink hoe groot ons sonde en ellende was toe ons nog onder die heerskappy van die sonde gestaan het. Verder moet ons ook onthou hoe ons deur Jesus Christus ons Here daarvan verlos is en tot kinders van God gemaak is sodat ons ook getroos na die Nagmaal van die Here kan kom en ons geloof daardeur versterk kan word sodat ons daarvandaan vorentoe soos ware kinders van God kan leef. Geliefdes onthou: Jesus Christus, die eniggebore Seun van God maak ons kinders van God en daarom is Hy ons Here.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking