07 Augustus 2011

Ons behoort mekaar lief te hê soos Christus ons lief het met selfopofferende liefde

Joh. 13 v 31 tot 35 ;  Teksvers Joh. 13 v 34
7 Aug. 2011

Lof-Psalm Ps. 118 v 1 & 12(OAB)
Na Wet Ps. 119 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 30 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 133 v l & 2 (OAB)

Inleiding

As daar net een ding is wat jy vir iemand kan sê kort voordat jy hom gaan verlaat, wat sal dit wees? Watse raad sal jy vir daardie persoon hê sodat hy sal weet wat om te doen as jy nie meer daar is nie?

Christus Het ook raad gehad vir sy dissipels kort voor sy kruisdood. Hy moes hulle daarop voorberei, want hulle het dit nog steeds nie verstaan nie, ten spyte daarvan dat Hy hulle alreeds voorheen daarvan vertel het. In die gedeelte waarna ons geluister het, vertel Hy hulle weer daarvan deur vir hulle daarop te wys dat God verheerlik sal word deur sy selfopofferende liefde aan die kruis en dat hulle daarom ook selfopofferende liefde teenoor mekaar behoort te bewys. Voordat Christus vir sy dissipels sê wat Hy van hulle verwag, wys Hy eerstens vir hulle waarom Hy verwag dat hulle liefde teenoor mekaar behoort te bewys. Die rede wat Hy gee is dat:

God verheerlik word deur ’n pad van selfopofferende liefde

In Joh. 13v18-30 hoor ons hoe Jesus sy verraaier uitwys. Tog verstaan sy dissipels nie wat Judas doen nie. Ons teks begin daar waar Judas vertrek om sy verraaierswerk te gaan doen. Hiermee word die proses in werking gestel wat op die uiteinde op Jesus se kruisdood gaan uitloop. Die kruisdood was net vir misdadigers bedoel. Die Romeine het dit as straf gebruik vir die volke wat hulle oorwin het om misdadigers onder daardie volke te straf. ’n Romeinse burger kon nie gekruisig word nie. Om deur middel van die kruisdood te sterf, was ’n absolute vernedering in daardie tyd.

Christus weet dat Hy daardie selfde nag nog in hegtenis geneem sal word omdat Judas reeds besig was om Hom te verraai. Hy het geweet dat Hy op die kruis gaan sterf en tog se Jesus (Joh. 13 v 31&32):
31 “Nou word die Seun van die mens verheerlik , en God word deur Hom verheerlik. 32 En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik.
Christus wys hiermee wat werklike liefde beteken. Dit kom nie deur met mag en krag te oorwin nie, maar wel deur selfopofferende liefde.

Wanneer ’n Romeinse generaal ’n veldslag gewen het en daardeur sy vyand oorwin het, het hy ’n optog deur die strate gelei waarin hy sy mag vertoon het. Al die buit is aan die volk vertoon asook die slawe hy gevang het. So het hy sy mag vertoon sodat hy daardeur verheerlik kan word. Teenoor dit wys Christus dat God anders is as mense. Jesus verslaan nie sy vyand deur mag en krag nie. Hy doen dit deur Homself aan ’n vervloekte kruishout te offer.

God kry die eer omdat Christus in gehoorsaamheid sy eie lewe opoffer en daardeur sy liefde bewys. Sy dissipels verstaan dit nog nie en daarom verduidelik Hy wat dit beteken (Joh. 13 v 33):
My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.
Dit is nie iets wat iemand namens Christus kan doen of iets waarmee Hy gehelp kan word nie. Dit is iets wat net Christus alleen kan doen. Net Hy alleen kan die doodstraf vir die sonde dra, want dit is net Christus wat die dood kan oorwin. Voordat Christus sê wat Hy van sy dissipels verwag, wys Hy hulle eers wat Hy verwag deur self die voorbeeld te stel en vir ons te wys dat God verheerlik word deur ’n pad van selfopofferende liefde.

Ons behoort ook selfopofferende liefde teenoor mekaar bewys

In Joh. 13v34 sê Jesus vir sy dissipels:
Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

In die Afrikaanse vertaling klink hierdie soos ’n klipharde opdrag wat ons maar net moet doen of ons wil of nie. Tog kan liefde nie afgedwing word nie. Dit is iets wat ons uit onsself moet gee omdat ons dit wil gee en dit is dan ook inderwaarheid soos dit in die Grieks weergegee word. Ons sou Joh. 13v34 ook soos volg kon vertaal:
Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle behoort mekaar lief te hê. Soos Ek julle liefhet, behoort julle mekaar ook lief te hê.

Hierdie opdrag om lief te hê is eintlik ’n baie ou opdrag. Reeds in Lev. 19v18 sê die HERE vir Israel:
Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.
Tog is daar in Jesus se opdrag iets nuuts by. Hy vervang die gedeelte “soos jouself” met “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” Hiermee wys Jesus op die radikale aard van die liefde wat Hy vra. Hoe lyk Jesus se liefde wat Hy vir ons wys?

Dis onselfsugtige liefde:

Dis nie liefde wat jou eie belang voorop stel nie. As gevolg van die sondeval is die liefde wat ons natuurlik gee grootliks op selfsug gebaseer. Dit het ten diepste die doel dat ek gee met die oog om self iets daaruit te wen. Vanweë ons sondige aard is die liefde wat ons aan ander gee, dikwels daarop gemik om my eie geluk te verseker. Ek gee liefde, maar eintlik doen ek dit om self voordeel daaruit te trek. As daar vir my ’n voordeel in is dan sal ek liefde gee, maar as daar nie vir my iets in is nie dan sal ek nie liefde gee nie! Teenoor dit wys Jesus ons wat werklike liefde is. Jesus se liefde het nooit enige selfsug in nie. Jesus dink nooit daaraan watse voordeel dit vir Hom inhou nie. Jesus se enigste begeerte is om Homself te gee vir almal wie Hy liefhet.

Dis opofferende liefde
Dis liefde wat alles vra. Jesus het alles gegee. Hy het niks teruggehou nie en het selfs sy lewe gegee. Ons is soms ook bereid om baie op te offer vir diegene wat naby aan ons is en wat vir ons liefhet. Christus het egter sy lewe opgeoffer vir mense wat Hom gehaat het soos ons hoor in Rom. 5v8:
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Ons dink so dikwels dat liefde vir ons geluk moet bring. Liefde kan egter eers baie pyn teweeg bring voordat dit geluk bring. Soms vereis liefde pynlike opoffering van ons.

Dis liefde wat verstaan

Jesus het vir drie jaar saam met sy dissipels geleef. Hy het al hulle swakhede en foute geken en ten spyte daarvan dat hulle Hom teleurgestel het, het Hy hulle nog steeds liefgehad. Hy het geweet dat Petrus drie maal gaan ontken dat hy Jesus geken het. Tog het Jesus Petrus nie verwerp nie. Jesus ken ook al ons swakhede en tog is Hy nog steeds lief vir ons. Ons vra so dikwels, moet ek nog steeds liefhê as ek weet dat daardie persoon my maar net weer gaan teleurstel. Jesus is steeds lief vir ons selfs al stel ons Hom teleur. Jesus se liefde verstaan ons tekortkominge. 

Dis liefde wat vergewe

Jesus het geweet dat sy dissipels Hom in die steek gaan laat in sy diepste uur van nood en beproewing. Hulle het nooit werklik verstaan waarom Hy as mens aarde toe gekom het nie. Jesus se dissipels het onder mekaar gestry, hulle het gesukkel om te verstaan wat Hy vir hulle wou sê en op die uiteinde was hulle ’n klomp lafaards. Tog het Jesus niks teen hulle gehou nie. Nie een van ons is perfek nie en soms doen ons dinge wat diegene wat na aan ons is baie seer maak. Liefde wat nie kan vergewe nie gaan op die uiteinde dood en verander in haat. Jesus stel vir ons hier die perfekte voorbeeld deurdat Hy al ons sondes op Hom geneem het. Daarom sê God ook vir ons in Kol 3v13:
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het.

Soos Jesus ons liefhet behoort ons mekaar ook lief te hê.

Na hierdie gebod se die Here vir ons in Joh. 13v35:
As julle mekaar liefhet, 
sal almal weet dat julle dissipels van My is.

Hieruit is dit duidelik dat liefde ’n kenmerk is van navolgers van Jesus. Dis nie ’n voorwaarde om Jesus se liefde te verdien nie. Wanneer ons hierdie onvoorwaardelike liefde ook in ons lewens opmerk, dan kom ons agter dat Jesus se liefde besig is om ons te verander. As dit nog nie so duidelik in ons lewens is nie, moet ons sterker vashou met geloof wat die Heilige Gees vir ons gee aan Jesus se verlossings daad aan die kruis en begin lewe vanuit die lewe wat Hy met sy opstanding vir ons verwerf het.

Het u al daaraan gedink dat daar moontlik mense is wat God se liefde in ons lewens kan waarneem en dat hulle daardeur ook van God se liefde bewus kan word en daardeur verander kan word? Wanneer ons mekaar liefhet is ons daarmee ook besig om vir die wêreld te wys hoe lyk dit binne God se koninkryk.

Omdat Jesus ons onvoorwaardelik lief het, behoort ons mekaar ook lief te hê net soos Jesus ons lief het. Dit is met ’n liefde wat onselfsugtig is, ’n liefde wat bereid is om alles op te offer, ’n liefde wat verstaan en ’n liefde wat vergewe.

Geliefdes, kom ons wees lief vir mekaar net soos Christus ons lief het.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking