10 Julie 2011

Ek is ’n Christen omdat ek in Hom glo en sy volgeling is wat doen wat Hy my beveel om te doen

Skriflesing: Mat. 4 v 18 – 21; 28 v 16 – 20 teksverse: Mat. 28 v 18 – 20
Sondag 12 Heidelbergse Kategismus.
09 Jul. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 48 v 1 & 5 (OAB)
Na Wet Sb. 9-1 v 1 & 11 (Sb 26 in swart Psalmboek)
Na Gebed Ps. 119 v 39 (OAB)
Slotsang Ps. 119 v 1 & 2 (OAB)
Sondag 12 Heidelbergse Kategismus.
31  Vraag:  Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord:  Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het (c);  tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f);  tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).
(a) Ps 45:8;  Heb 1:9;  Jes 61:1;  Luk 4:18.  (b) Deut 18:15;  Hand 3:22;  7:37;  Jes 55:4.  (c) Joh 1:18;  15:15.  (d) Ps 110:4.  (e) Heb 10:12, 14;  9:12, 14, 28.  (f) Rom 8:34;  Heb 9:24;  1 Joh 2:1;  Rom 5:9, l0.  (g) Ps 2:6;  Sag 9:9;  Matt 1:5;  Luk l:33;  Matt 28:18;  Joh 10:28 Op 12:10, 11.
32  Vraag:  Waarom word jy 'n Christen genoem (a)?
Antwoord:  Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).
(a) Hand 11:26.  (b) 1 Kor 6:15.  (c) 1 Joh 2:27;  Hand 2:17.  (d) Matt 10:32;  Rom 10:10.  (e) Rom I2:1;  1 Pet 2:5, 9;  Op 1:6;  5:8, 10.  (f) 1 Pet 2:11;  Rom 6:12, 13;.  Gal 5:16, 17;  Ef 6:11;  1 Tim 1:18, 19.  (g) 2 Tim 2:12;  Matt 25:34.
Inleiding
Waarom noem ek myself ’n Christen? Het u al ooit werklik hieroor nagedink? Die maklike en vinnige antwoord is omdat ek in Christus glo. Is dit werklik al? In die Kategismus beantwoord ons die vraag soos volg:
Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het sodat ek sy Naam kan bely, myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer.
Wat beteken hierdie belydenis van ons prakties?

In Mat. 28 v 18 tot 20 sê die Here vir ons baie prakties wat dit beteken. In die eerste plek hoor ons:
Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.
Dit gee vir ons die grondrede waarom ons Christene wil wees. Christus is die ewige Koning wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat Hy vir ons verwerf het beskerm en bewaar soos ons ook bely in vraag en antwoord 31 van die Heidelbergse Kategismus. Christus het hierdie Koningskap nie deur mag en geweld verkry nie. Hy het dit verkry deur Homself te offer soos ons hoor in 1 Kor. 15v3-4:
Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.
Dit is die evangelie, die goeie nuus. Dit is wat ons moet glo.

Wat beteken hierdie geloof prakties vir ons? As ek werklik glo dat daar ’n God is aan wie ek my bestaan te danke het en dat Hy alleen bepaal waar ek my ewige bestemming gaan deurbring, dan sal ek Hom onvoorwaardelik dien. As ek werklik glo dat Christus vir my sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy deur sy opstanding aan my die ewige lewe gee dan sal ek Hom onvoorwaardelik dien!

Wat beteken dit om Christus te dien? Dit beteken dat ons sy dissipels moet wees. Christus het sy eerste dissipels geroep (vgl. Mat. 4v19) Kom hier! Kom saam met My. Dit is wat dit beteken om ’n dissipel te wees, iemand wat Christus volg en by Hom leer. Jesus beveel sy eerste dissipels om Hom te volg, dit is om by Hom te leer en te doen wat Hy hulle leer. Net voor sy hemelvaart gee Hy dan ook die opdrag aan sy dissipels (vgl. Mat 28v19):
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels

Dit is dan ook die opdrag wat Christus aan sy kerk gee. Voordat ons egter dissipels kan gaan maak is dit belangrik dat ons self eers moet weet wat ’n dissipel is en dat ons self eers dissipels moet wees. In Mat. 28 v 19 & 20 hoor ons dat daar twee goed betrokke is by die maak of word van dissipels:
1) doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees
2) leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Deur die doop word ons ingelyf in die gemeenskap van die gelowiges en daarmee kry ons ook deel aan God Drie-Enig, Vader Seun en Heilige Gees.

Die tweede aspek is dat ons moet leer om alles te onderhou wat Christus ons beveel het. Geloof in Jesus Christus beteken dus dat dit meer is as net om iets te weet of ’n emosionele lekker gevoel. Dit beteken dat ons in navolging van Christus ook moet doen wat Hy vir ons sê om te doen. Hierdie doen beteken egter nie dat ons God se genade daardeur moet verdien nie. Hierdie doen is die reaksie op God se genade. Wanneer ons in die kategismus bely dat ek:
myself as 'n lewende dankoffer aan Hom toewy en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel stry
is dit die reaksie wat God se genade in ons wakker maak. God gee eers voordat Hy vra en Hy vra nooit meer as wat Hy reeds gegee het nie.

Ons moet dus alles onderhou wat Christus ons beveel het en deur dit te doen leer ons ook ander hoe om dit te doen. Hoe onderhou ons alles wat Christus ons beveel het? Die bergpredikasie in Mat. 5 tot 7 gee vir ons ’n baie praktiese voorbeeld daarvan. In Mat. 5v13-16 hoor ons:
13“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
14“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Net soos sout smaak aan kos gee en kos bewaar moet die Christen se lewe ook anders wees as die verderf en verval van die sondige wêreld. Die Christen moet die goeie in die lewe bewaar en sy lewe moet soos ’n lig skyn in die donker wêreld daarbuite. God se genade is soos energie: dit stel ons in staat om aktief te wees en om te werk. Die gawes wat God aan ons skenk is die gereedskap wat Hy vir ons gee om ons roeping as Christen mee te vervul. Ons talente is nie status simbole waarmee ons moet spog nie, ons moet dit gebruik om ons medemens te leer om dissipels te word.

In Mat. 5v17-48 hoor ons hoe ons prakties sout en lig in die wêreld moet wees. Moenie haatdraend wees nie. Moord begin in ons kwade gevoelens teenoor mekaar. As daar onmin tussen ons is, moet ons dit uitklaar deur mekaar te vergewe. Ontrou en onkuisheid begin by ons verkeerde begeertes (vgl. byvoorbeeld Mat 5v27):
Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg
Moenie valslik ’n eed sweer nie. As ons, ons woord gegee het, dan moet ons dit nakom. (Mat. 5v37):
Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’

Moenie wraak sweer nie (vgl. Mat. 5v38-39):
38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ 39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.
Dit alles moet uitloop op die vervulling van die liefdes gebod. Ons moet selfs teenoor ons vyande liefde betoon. Net soos ons Vader moet ons nie in ons liefde diskrimineer teen ons medemens nie, maar ons moet ons liefde volledig en onvoorwaardelik gee aan almal wat die Vader op ons lewenspad geplaas het.

In Mat. 6 en 7 sê Christus vir ons hoe ’n Christen moet leef. Ons hulp aan armes moet so wees dat ons nie ons eie eer daardeur soek om aan ander te wys hoe goed ons is nie. Ons moet dit doen in nederigheid vir God sonder om ’n groot vertoon daarvan te maak. Ons moet ons prioriteite reg kry sodat dit wat God ons beveel om te doen nommer een is ons lewens. Ons moenie ander veroordeel nie, want ons is self ook nie sonder sonde nie. Ons moet met vertroue in gebed tot ons Vader nader met die wete dat Hy vir ons sal gee wat ons nodig het. Ons moenie moed opgee nie. Ons moet ons nie laat verlei nie en ons moet daders van ons woord word. Moenie net mooi praatjies maak nie, maar doen werklik wat God van ons verwag.

As ons so luister na dit wat Christus ons beveel om te doen, dan moet ons erken dat dit werklik ’n uitdaging is wat ons op ons eie moeilik kan nakom. Daarom moet ons weereens onthou dat ons nie hiermee God se genade moet probeer verdien nie. Dit moet ons reaksie wees op God se genade wat ons nie in eie krag moet aanpak nie want Christus belowe ons in Mat. 28v20:
En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

Na sy hemelvaart het Hy die Heilige Gees gestuur om ewig by ons te bly. Daarom kan ons alles onderhou wat Hy ons geleer het. Wanneer ons dit in geloof en uit die krag van die Heilige Gees doen, is dit ’n liefdestaak wat ons met vreugde vir God doen. Dan is dit nie ’n moeitevolle werk nie maar is dit ’n liefdesdiens wat ons graag sal en wil doen.

Wanneer ek myself ’n Christen noem dan doen ek dit omdat ek in Hom glo en sy volgeling is wat doen wat Hy my beveel om te doen.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking