30 Junie 2011

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Moenie bekommerd wees oor die voorspoed van die goddeloses nie, want God sal reg en geregtigheid laat geskied.
Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
Psalm 37 ;  teksvers Ps. 37 v 4
12 Jun. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 1 & 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 30 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 34 v 1 , 2 & 5 (OAB)
Inleiding
Het u al ooit gewonder waarom dit soms lyk of dit net goed gaan met mense wat hulle nie juis aan God en sy gebod steur nie terwyl dit lyk of gelowiges swaarkry? As ons so na die berigte in die nuus luister van boosdoeners wat skotvry loskom terwyl die slagoffers van geweld en misdaad alleen ly. In die week was daar weer ’n berig van aangeklaagdes wat skotvry uit die hof gestap het omdat die saak teen hulle nie behoorlik voorberei is nie. In ’n ander berig het ons gehoor van ’n veroordeelde misdadiger wat in ’n hoë posisie aangestel is. En dan wonder ons hoe gaan al die praatjies oor nasionalisering van plase sonder vergoeding ons raak?
Agtergrond
Hierdie saak van waarom die boosdoeners lekker lewe terwyl dit met regverdiges swaar gaan is ’n probleem wat al ’n baie ver pad kom. Dis ’n saak wat Dawid ook gepla het. Hier in Psalm 37 word twee lewenshoudings teenoor mekaar gestel, naamlik die gelowiges teenoor ongelowiges. Die gelowige merk soms dat dit goed gaan met die goddelose terwyl hy swaarkry, en dit ontstel hom.

In hierdie Psalm gee God vir ons die perspektief om hierdie teenstrydigheid van bose mense se voorspoed teenoor regverdige mense se swaarkry te verstaan. In verse 1 tot 4 kry ons die perspektief van die goddelose se verganklikheid teenoor die gelowige se sekerheid en vertroue op die Here, wat aan die mens gee wat hy nodig het.

In verse 5 tot 11 hoor ons van die bidder se sekerheid oor die Here se sorg. Die leiding wat hy hier gee is dat God die mens nie in die steek laat nie, ook nie tydens ons aardse lewe nie. In verse 12 tot 15 sien ons dat daar waar die goddelose soms die regverdige se lewe bedreig dit in die hand van die Here is. In verse 14 tot 15 sien ons dat die goddelose sal omkom deur sy eie strikke en wapens.

In verse 16 tot 26 kry ons die perspektief dat rykdom nie die belangrikste ding in die lewe is nie omdat dit ook maar tog vergaan. Fisieke geweld weeg ook nie op teen die mag van die Here nie. Ons sien dat Here sorg vir sy kinders in tye van gebrek, veral as hulle nie gierig is nie, maar hulp aan ander verleen. In verse 27 tot 40 word die gedagtes van die eerste gedeelte van die Psalm herhaal om dit te beklemtoon en by ons dubbeld terug te bring.

In hierdie Psalm kry ons ’n opsomming van die kern waaroor Israel se geloof gegaan het. Vertrou die Here. Doen goed. Verlustig jou in die Here en as jy al hierdie dinge doen dan sal God vir jou gee wat jy die meeste begeer, naamlik Homself. Hierdie Psalm is ’n wysheidspsalm wat vir ons waarhede oor God en die mensdom leer. God se sorg vir die regverdiges en sy straf vir boosdoeners word op verskeie maniere aan ons oorgedra.

Wat beteken hierdie Psalm prakties vir ons? In hierdie Psalm word die kontras gestel tussen die regverdige en die goddelose. Wie word as regverdig gereken? Toe hierdie Psalm gedig was is die regverdiges die uitverkore volk van God gewees. Wie is vandag die uitverkore kinders van God? Elkeen wat in Jesus Christus glo. Wanneer ons dus die onderskeid maak tussen regverdiges en goddeloses moet ons onthou dat regverdiges alleen op grond van God se genade regverdig is. Dit is die dilemma wat ons vandag nog mee sukkel. Die oënskynlike voorspoed van boosdoeners in vergelyking met Christen gelowiges wat swaarkry. In Psalm 37 leer die Here ons wat ons reaksie moet wees teenoor die oënskynlike voorspoed van boosdoeners. In die eerste plek leer die Here ons wat ons nie moet doen nie teenoor wat ons wel moet doen.

Wat moet ons nie doen nie?
Ons moet ons nie onstel oor skelms nie en ons moenie daaroor bekommer nie, soos ons hoor in vers 1. Ons moet onself nie daaroor kwel nie. Met ander woorde, ons moet ons nie daaroor moeg maak met bekommernis nie. Verder moet ons ook nie afgunstig wees oor die materiële voorspoed van goddelose mense nie soos die Here vir ons sê in vers 7. Moet jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ’n skelm nie.

In Vers 8 sê die Here vir ons:
Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie:
dit bring net ellende.
Die Here waarsku ons om nie ’n haatdraende bitterheid te ontwikkel nie. Ons mag dink dat dit ’n geregverdige woede teen die boosheid is, maar dit is nie want die wraak kom ons nie toe nie soos die Here in Rom. 13v19 sê:
Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.
Die Here verskaf ook ’n rede waarom ons nie ’n kwaadwillige woede teenoor boosdoeners moet koester nie want dit bring net ellende. Die Here weet dat woede en bitterheid ’n mens se lewe verwoes omdat dit al jou vreugde steel. Hy weet dat afguns soos ’n sweer in jou broei.

Die perspektief wat die Here hier gee is dat ons reaksies van onsteltenis en woede uit ’n verkeerde motivering spruit. Ons sien die materiële voorspoed van skelms en dan dink ons dat genoeg geld en besittings geluk sal bring. Dan val ons maar net weereens vir daardie leuen : “as ek maar net ’n miljoenêr kan wees dan sal ek gelukkig wees.” Die Here leer ons dat ware geluk nie in geld en besittings gevind kan word nie. Die skelm kry miskien baie geld en besittings, maar dit bring vir hom geen geluk nie. Daarom moet ons nie kwaad word en afgunstig wees oor die skelm se materiële voorspoed nie want dit is nie werklik ware voorspoed nie.

Teenoor hierdie verkeerde reaksies van ons wys die Here ook vir ons wat die regte reaksie moet wees. Daarom sê Hy vir ons Wat ons wel moet doen wanneer ons die materiële voorspoed van skelms en boosdoeners raaksien.

Wat moet ons dan wel doen?
Ons moet die Here vertrou en ons moet aanhou goeddoen (vers 3). Ons moet ons vreugde in die Here vind (vers 4). Ons moet ons lewe aan die Here oorlaat en Hom vertrou (vers 5) en ons moet geduldig op die Here wag terwyl ons Hom in stilte vertrou (vers 7). Wanneer ons die materiële voorspoed van die onregverdige raaksien dan moet ons net op die Here vertrou. Vers 4 vat dit mooi saam:
Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

God gee vir ons hier die sleutel van ware geluk en vrede in ons lewens. Die mens se diepste begeerte is na God self, want God is die enigste ware bron van vrede en geluk. Sonde verwring egter die mens se begeerte en dit bring skeiding tussen die mens en God. Die wortel van sonde is dat die mens sy vreugde in iets anders as God self soek omdat sy begeerte nie meer op God self gerig is nie. Dit is soos ’n kind wat net die lekkers wil hê wat sy pa bring, maar hy wil niks met sy pa self te doen hê nie. Waarom is ons ongelukkig wanneer ons sien dat ’n goddelose baie besittings het? Ons dink dat daardie besittings geluk bring. Ons maak egter ’n fout wanneer ons so dink, want al die besittings in die wêreld beteken niks sonder God nie. Rykdom is op sigself nie boos nie. Rykdom sonder God se seën bring egter nie geluk nie, dit bring net ongeluk.

Daarom sê die Here vir ons: “soek jou vreugde en geluk in die Here alleen. Moenie jou vreugde en geluk in rykdom en baie besittings soek nie.” Hoe vind ons vreugde in die Here? Ons kan dit alleen doen deur ons geloof in Jesus Christus. Ons moet met die geloof wat die Heilige Gees vir ons gee vashou aan die verlossing van sonde wat Jesus Christus vir ons gegee het. Jesus Christus verlos ons van die begeerte om ons geluk in iets anders soos rykdom en besittings te soek. Hy bring ons terug na die ware bron van vreugde, vrede en geluk naamlik God Drie-enig.

Dan eers kan ons werklik op God vertrou. Dan eers kan ons aanhou goed doen. Dan eers kan ons geduldig op die Here wag en in stilte op Hom vertrou. Dan eers sal ons op die Here vertrou dat Hy sy beloftes sal nakom en die uitkoms op sy tyd gee. Dan eers sal ons verstaan dat die oënskynlike voorspoed van die goddelose geen ware voorspoed is nie, omdat voorspoed sonder God eintlik ’n valse geluk is.

Slot
Wanneer ons soms merk dat dit goed gaan met die goddelose terwyl ons swaarkry, moet ons nie ontsteld word. Ons moet aanhou goed doen en ons vrede in die Here soek deur ons geloof in Jesus Christus.

Moenie bekommerd wees oor die voorspoed van die goddeloses nie, want God sal reg en geregtigheid laat geskied. Moenie die fout maak om te dink dat rykdom en besittings opsigself geluk bring nie. Kom ons vind ons vreugde in die Here met die vaste vertroue dat Hy vir ons sal gee wat ons harte begeer, ware gemeenskap met God Drie-enig.                                                   
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking