05 Junie 2011

Jesus is ons volkome en enigste Verlosser en Saligmaker

Mat. 1 v 18 – 25; teksvers Mat. 1 v 21
5 Jun. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 48 v 4(OAB)
Na Wet Ps. 91 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 84 v 3 (OAB)
Slotsang Ps. 107 v 1 (OAB)

SONDAG 11
29  Vraag:  Waarom word die Seun van God genoem:  Jesus, wat Verlosser beteken?
Antwoord:  Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a) en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).
(a) Matt 1:21;  Heb 7:25.  (b) Hand 4:12;  Joh 15:4, 5;  1 Tim 2:5;  Jes 43:11;  1 Joh 5:11.
30  Vraag:  Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?
Antwoord:  Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem (a).  Slegs een van twee dinge is immers moontlik:  of Jesus is nie 'n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met 'n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is (b).
(a) 1 Kor 1:13, 30, 31;  Gal 5:4..(b) Heb 12:2;  Jes 9:6;  Kol 1:19, 20;  2:10; 
1 Joh 1:7.

Inleiding
Ouers kies gewoonlik met baie sorg ’n naam vir hul kind uit, want ’n mens se naam is baie belangrik. Ons word gewoonlik vies as iemand ons name verkeerd spel of verkeerd uitspreek, met reg ook, want jou naam sê wie jy is. Dit identifiseer my as die unieke mens wat ek is.

God het ook baie sorg aan die dag gelê met die naam van sy Seun. Daarom het Hy spesiaal ’n engel gestuur om vir Josef presies in te lig wat hy God se Seun moes noem. (Vgl. Mat 1v21):
jy moet Hom Jesus noem

Jesus is die Griekse weergawe van die Hebreeuse naam Jesua/Josua. In die Bybel het name baie spesifieke betekenisse. So beteken byvoorbeeld die naam Jakob bedrieër. Die naam was nogal gepas want kyk net hoe het Jakob sy pa, sy broer en sy oom Laban bedrieg!

Die Hebreeuse naam Jesua/Josua in die Ou Testament beteken die Die Here is heil, redding, verlossing. In die Ou Testament was daar twee persone met die naam Jesua/Josua wat ’n besonderse rol gespeel het, naamlik Josua, die opvolger van Moses wat Israel in Kanaän ingelei het (Jos. 1 e.v.) en Josua (of Jesua), die hoëpriester, wat saam met Serubbabel die Jode uit die ballingskap in Babel na Kanaän teruggelei het (Esra 2:2; 3:2, 9; Sag.3)

Iets van die betekenis van die naam en werk van Jesus as die groot Verlosser wat sou kom, word in hulle optrede geopenbaar. Trouens, beide van hulle lei Israel uit ’n situasie van ontbering en verdrukking die land Kanaän in waar hulle rus kan vind: die eerste Josua na die omswerwinge in die woestyn; die tweede Josua na die ballingskap in Babel. Hierin is daar ’n heenwysing na Jesus wat God se uitverkore kinders uit die sonde slawerny na vryheid saam met God lei.

Wanneer die Here vir Josef deur middel van ’n engel sê wat sy Seun se Naam moet wees, verduidelik Hy ook wat dit beteken.
jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Met hierdie verduideliking van die Naam sê God baie meer as wat ons gewoonlik met ’n naam doen. Dit sê nie net alleen wie sy Seun is nie, maar dit vertel ons ook iets van die karakter van sy Seun. Verder spel die Naam, Jesus, ook sy Seun se lewensroeping uit. Met die Naam wat God aan sy Seun gee, vertel Hy ons presies wie en wat sy Seun is en vertel Hy ook daarmee vir ons wat sy Seun se doel is.

Hierdie verduideliking sluit aan by die betekenis van die Hebreeuse naam Jesua of Josua, maar dit vertel ons ook ’n bietjie meer oor die verlossing wat van die Here af kom. Jesus verlos ons van die wurggreep wat sonde op ons lewens uitoefen. Sonde is die oorsaak van al die ellende wat ons in hierdie lewe ervaar. Sonde het geweldige gevolge want die straf vir die sonde is die ewige dood.

Jesus verlos ons van hierdie doodstraf omdat Hy in ons plek met sy vervloekte kruisdood die straf gedra het en met sy opstanding het Hy die dood oorwin. Die ander Naam van God se Seun Immanuel beskryf ook vir ons sy liefdevolle karakter. Die mens kan niks doen om homself te verlos nie en daarom kom God self na ons toe in die persoon van sy Seun. Immanuel, God met ons. Daarom bely ons ook in vraag en antwoord 29 van die Heidelbergse Kategismus dat God sy Seun Jesus noem wat Verlosser beteken omdat Hy ons van al ons sondes verlos en dat net Hy dit kan doen.

Wat beteken hierdie belydenis oor die betekenis van Jesus se Naam vir ons vandag? Dit gee vir ons die antwoord op ’n probleem wat baie Christene mee sukkel. As Jesus ons van die sonde verlos, waarom sukkel ons dan nog elke dag met sonde? Maartin Luther het hierdie probleem van ons soos volg beskryf: “gelyktydig geregverdig en sondig” Daarmee het hy beskryf wat elke Christen mee worstel. Ons is alreeds verlos van die straf van die sonde, maar ons het Jesus ook daagliks nodig om ons van die mag van die sonde te verlos.

Dit is hierde tweede deel oor die verlossing van die mag van die sonde wat ons so dikwels vergeet en daarom sukkel ons met sonde in ons lewens wat steeds ’n houvas oor ons het. Dit is hoekom Christene so sukkel met sondes soos byvoorbeeld onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap. Die oplossing vir hierdie probleem van ons is nie om maar net nog harder te probeer nie. Dit is soos om vir die atleet wat van inspanning flou geword het te sê: “toe, toe, probeer net nog so bietjie harder!” Dit is dikwels wat ons probeer doen. Ek het alweer kwaad geword. Ek sal maar net nog harder moet probeer om my humeur in toom te hou.

Dit is egter nie die antwoord nie! Dit help nie as ons in eie krag harder probeer nie. Dan is ons inderdaad besig om ons saligheid by onself te soek en daarmee verloën ons, ons enigste Verlosser Jesus. Die antwoord lê nie daarin dat ons harder moet probeer nie, maar wel daarin dat ons die evangelie, dit wil sê die goeie nuus oor wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het beter moet verstaan en dan vanuit die krag wat die Heilige Gees in ons lewens uitoefen te lewe. Jesus het gekom om ons van ons sondes te verlos, dit wil sê van die straf van die sonde die ewige dood, maar ook die mag van die sonde. Al wat ons moet doen is om hierdie verlossingswerk van Jesus met geloof vas te gryp.

Hoe doen ons dit prakties? In Gal. 5v16 sê die Here vir ons:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.
In hierdie daaglikse stryd wat ons nog steeds teen die sonde voer sal ons slegs oorwin as ons, ons deur die Heilige Gees laat beheers. Hoe doen ons dit? Ons moet elke dag bid dat die Heilige Gees beheer oor ons lewens oorneem, want die Here gee vir ons die belofte in Luk. 11v13:
As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.
Jesus verlos ons van die skuld van die sonde, dit wil sê Hy verlos ons van die ewige dood. Hy verlos ons egter ook van die mag van die sonde, dit wil sê daardie houvas wat die sonde nog steeds oor ons het. Jesus verlos ons volkome van die sonde en deur die Heilige Gees kry ons deel daaraan. Ons daaglikse stryd teen die mag van die sonde is nie ’n hopelose stryd nie. Bid daarom daagliks tot die Here sodat Jesus se verlossing ook ten opsigte van die mag van die sonde ’n werklikheid in jou lewe word, dan sal ons deur sy krag ook die totale verlossing van sonde kan geniet want Jesus is ons volkome en enigste Verlosser en Saligmaker.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking