Skriflesing: Judas
Teksverse Judas v 20 – 23
Inleiding
Ons
het verlede week gefokus op die ampte van ouderling en diakens. Vandag kyk ons
so bietjie wat dit prakties beteken om in die amp van die gelowige te staan. D.w.s.
Wat verwag die Here van elke gelowige in sy kerk?
Wanneer
is die kerk nie meer relevant nie? Dit is wanneer die kerk maar net soos die
wêreld begin lyk. Wanneer Christene hulle identiteit as Christene begin
verloor. As daar geen verskil is tussen die kerk en wêreld nie, is die kerk nie
meer nodig nie. Nou moet ons mooi onthou, ONS IS die kerk!
Dit
wil sê wanneer my lewe maar net dieselfde as die ongelowiges se lewens lyk. Is
dit nie die rede hoekom ons kerke al hoe kleiner word nie? Omdat die kerk nie
meer relevant in die wêreld is nie omdat die kerk maar net soos die wêreld lyk.
Die
prediker het gesê dat daar niks nuuts onder son is nie en hierdie opsig is dit
ook waar. Dieselfde probleem waarmee ons vandag sukkel was ook ʼn probleem in
die vroeë kerk gewees. In hierdie brief roep Judas die gelowiges op om te stry
vir suiwer geloof om die probleem van
die kerk wat net soos die wêreld begin lyk aan te spreek. In Jud. 3 tot 19 word
aangetoon hoekom ons moet stry vir ware geloof en dan hoor ons hoe om te stry
vir ʼn ware geloof.
Die
aanhef van die brief gee vir ons ʼn baie duidelike riglyn oor hoe om die brief
te verstaan soos ons hoor in Jud. 1b & 2:
Aan
dié vir wie God die Vader geroep het, wat Hy liefhet en deur Jesus Christus
bewaar.
Mag
barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle geskenk word!
In
die brief wys Judas die gelowiges op hul roeping om vir die ware geloof te
stry, maar voordat hy dit doen wys Judas eers op dit wat die gelowiges van God
ontvang.
Net
soos die eerste lesers van die brief gee God vir ons ook wat Hy aan hulle gegee
het. God het ons geroep. Hy het ons lief en daarom bewaar Hy ons ook. God vra
nie meer as wat Hy reeds gegee het nie. As Christen het jy reeds alles wat jy
nodig het om as God se kind te kan lewe. Dit is belangrik dat jy moet verstaan
dat jy nie moet stry vir die ware geloof om gered te word nie.
God
het redding reeds vir ons uit sy liefde en genade gegee. Joh. 3:16:
God
het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in
Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Omdat
Hy ons gered het vra Hy van ons om te leef soos kinders van God wat Hy uit die
sonde gered het.
Hoekom moet ons stry vir
ware geloof?
In
Jud. 3-19 verduidelik Judas hoekom ons moet stry vir ware geloof. Die gevaar
bestaan altyd dat dwaalleer die kerk ongemerk kan binnedring. Daar was mense
wat voorgegee het dat hulle Christene is, maar uit die manier waarop hulle
gelewe het, was dit duidelik dat hulle nie aan die ware geloof vasgehou het
nie.
Hulle
het hul losbandigheid en sonde probeer goedpraat. Dit gebeur vandag maar nog
steeds. Mense van binne die kerk probeer die definisie van wat God met die
huwelik bedoel het verander. God is die outeur van die huwelik en wanneer jy
die huwelik anders benader as wat God bedoel het pleeg jy sonde. Bv. Die wêreld
se benadering om eers saam te bly voor die huwelik bevestig word. Dink verder
aan die groot debat wat probeer om ʼn huweliksverbintenis van dieselfde geslag
te regverdig.
Judas
bevestig dat mense wat willens en wetens sondig en aan God ongehoorsaam is,
definitief gestraf gaan word deur drie voorbeelde. Die volk Israel wat uit
Egipte verlos is, maar wat nie die beloofde land binnegaan het nie. Die engele
wat alhoewel hulle rein en heilig geskape is en by God geleef het, teen Hom in
opstand gekom het. Die inwoners van Sodom en Gomorra wat so vol sonde was dat
die Here hulle van die aarde af verdelg het.
Judas
haal ook uit ʼn paar buite Bybelse bronne aan om sy punt te staaf. Daarmee
impliseer hy nie dat hierdie buite Bybelse boeke ook in die Bybel moet wees en
daarom dieselfde gesag as die Bybel dra nie. Hy gebruik dit net as voorbeelde
wat die eerste lesers goed ken om te beklemtoon dat God die goddelose dinge wat
mense doen, straf.
Verder
haal Judas ook uit die leer van die apostels aan om sy punt verder te bevestig.
Een van die dwaalleringe wat vandag ook kop uitsteek is dat die mens niks van
God se straf wil weet nie. In hierdie brief hoor ons van die werklikheid van
God se straf en dat ons nie op sleeptou geneem moet word deur diegene wat God
se straf afmaak as niks en dat sonde daarom nie so erg is nie.
Wat
ook duidelik in hierdie brief uitgewys word is dat ons versigtig moet wees om
onsself in die posisie van regter en bevelhebber te plaas nie. In Jud. 9 hoor
ons:
Nie
eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry
het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te
beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou
straf.”
Migael
matig homself nie as regter of bevelhebber aan nie, maar erken dat die
alleenheerskappy en gesag aan God alleen behoort.
Die
plek om te begin is by myself. Dit gaan nie hier alleen oor sedeloosheid nie,
maar oor alle gedrag wat die Christen sy identiteit laat verloor en hom/haar
soos die wêreld laat lyk. Daar waar die praktyke van die sondige natuur soos
bv. onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap,
haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap,
uitspattigheid en al dergelike dinge ook my lewe teenwoordig is, moet ek teen
stry.
Hoe moet ons stry vir ware
geloof?
Die
manier hoe om hierteen te stry is om die suiwer geloof te bewaar. In Jud. 20-23
hoor ons dan ook presies hoe om dit prakties te doen:
Julle,
geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste
geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. Bly in die liefde van
God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus
Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee.
Oor
dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur
hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid
ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.
Jou
reaksie op vals leraars moet dus veral wees dat jy jou des te meer beywer om ’n
intieme persoonlike en lewende verhouding met die Here te hê. Dit is die beste manier om die invloed van
vals leraars te neutraliseer. Jy bou jou eie geloof deur ʼn lewe van gebed en
Bybel lees, ʼn lewe van liefde en ʼn lewe van verwagting.
Jy
lewe ʼn lewe van gebed deur ʼn
biddende Christen te wees wat in alles in afhanklikheid van God wil lewe. Die
troos is wanneer jy deur die krag van die Heilige Gees bid is dat jy kan weet
dat al is jou gebed ook krom en skeef, die Heilige Gees sal sorg dat jou
diepste behoeftes perfek by God gehoor sal word. Jy kan van twee dinge seker
wees. God hoor jou (deur die Heilige Gees) en God verhoor jou (deur Jesus
Christus)! Jy luister na God se stem wanneer jy Bybel lees.
Jy
lewe ʼn lewe van liefde wanneer jy
self eers goed verstaan wat die Bybelse liefde is waarvan Judas hier praat soos
ons ook in 1 Joh. 4 v 10 hoor:
Werklike
liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy
aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
Ware
liefde is selfopofferend. Verdiep jou daarin dat jy God se liefde onverdiend
uit genade ontvang en tree dan onselfsugtig, dienend en opofferend op teenoor
jou naaste.
Jy
lewe ʼn lewe van verwagting wanneer
jy met opgewondenheid die ewige lewe wat God vir jou gegee het, omhels met die
wete dat jy nou reeds die teenwoordigheid van God in jou lewe kan ervaar en dat
jy daarom ook met opgewondenheid uitsien na die terugkeer van Jesus. Moedig
jouself aan om getrou en gelowig aan die werk in die koninkryk van die hemel te
bly.
Jy
moet egter nie net na binne gefokus wees nie. Jy moet ook uitreik na ander. Dit
is egter belangrik dat jou eie verhouding met God reg is sodat jy na ander kan
uitreik. Jy reik uit na ander deur jou oor hulle te ontferm, nie te swyg oor
dit wat verkeerd is nie.
Jy ontferm jou oor ander deur om te gee
omdat jy besef hoe God Hom oor jou ontferm het en dat Hy jou ook as instrument
gebruik om Hom oor ander te ontferm. Help mense wat twyfel deur hulle met woord
en daad te wys dat ʼn lewe wat volledig op God vertrou moontlik is en dat dit
tot vrede en blydskap lei.
Verder
moet jy ook nie swyg oor dit wat
verkeerd is nie. Dit is soms nodig om ernstig met ander oor hul sonde te
praat. Dit sal egter eers vrugte afwerp nadat jy jou opreg oor hulle ontferm
het en vir hulle gewys het dat jy regtig omgee. Verder is dit ook belangrik dat
jy nie as regter optree wanneer jy dit doen nie.
Jy
moet egter ook versigtig wees deur te
onthou dat sonde ʼn aansteeklike siekte is. Paulus waarsku ons dan ook in 1
Kor.10v12:
Daarom,
wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
Bly
daarom altyd bewus van die feit dat dit nie jy is wat mense tot bekering bring
nie, maar dat dit die Heilige Gees is wat dit doen. God gebruik jou bloot as
boodskapper en instrument. Moet dus nie nalaat om die evangelie te verkondig
wanneer jy mense tot bekering roep nie.
Judas
se brief eindig soos dit begin met ’n positiewe versekering. God se krag stel gelowiges in staat om teen
vals leraars weerstand te bied. Daar is baie vals leraars en hulle is beslis
gevaarlik, maar solank as wat jy op God vertrou en dit met jou lewe bevestig,
sal vals leraars jou nie van stryk bring nie.
Maak
erns daarmee om jou geloof nie net te bely nie, maar ook om dit uit te leef.
Maak dit jou biddende voorneme, in die vaste verwagting dat jy sal beërf wat
God in Christus beloof het: die ewige
lewe, terwyl jy as onbevlekte nie net die heerlikheid van Christus aanskou nie,
maar ook daarin deel.
Stry
vir die ware geloof
Amen
