Wys tans plasings met die etiket 1 Korintiërs 15. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket 1 Korintiërs 15. Wys alle plasings

20 April 2025

Jesus se opstanding waarborg dat ons waarlik léwe, nou en in die toekoms.

3Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.

Heidelbergse Kategismus Sondag 17

45  Vraag:  Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Antwoord: 
Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). 

Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). 

Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).

(a) Rom. 4:25;  1 Pet 1:3;  1 Kor. 15:16.  (b) Rom. 6:4;  Kol 3:1, 5;  Ef. 2:5, 6.  (c) 1 Kor. 15:20, 21.

Inleiding

Met Paasfees herdenk ons in besonder die kruisdood en opstanding van ons Here. Dit is egter nie iets wat net tot een maal ’n jaar beperk is nie. Jesus se opstanding het ’n effek op elke dag van ons lewe en daarom herdenk ons inderdaad elke Sondag sy opstanding waaruit ons, ons krag vandaan kry om die lewe wat Hy met sy opstanding vir ons gegee het, te gaan lewe.

 Wat beteken dit vir ons dat Christus opgestaan het?

Ons bely elke Sondag:

Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.

Maak hierdie belydenis enigsins ’n verskil in ons lewens?

 Die vraag by Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus is:

Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Dit beteken doodeenvoudig: “Maak Christus se opstanding ’n verskil in my lewe?”

 In 1 Kor. 15 v 14 hoor ons wat die gevolge is as Christus nie opgestaan het nie:

En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.

As Christus nie opgestaan het nie, dan is ons almal besig om vanmore ons tyd te mors. Dan kan ons maar net sowel die kerkdeure toesluit en iets anders gaan doen. Dan help dit nie dat ons Bybellees en bid nie. Dan het ek 15 jaar van my lewe vermors om te gaan studeer en predikant te word. As Christus nie opgestaan het nie, dan was al die tyd en moeite wat ons as kerk van die Here daaraan bestee het tevergeefs!

 Die Christendom staan of val by die opstanding van Jesus Christus.

In 1 Kor. 15 v 17 tot 19 hoor ons:

as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

Jesus Christus se opstanding is een van die kern aspekte van ons geloofslewe en daarom MOET dit ’n verskil in ons lewens maak.

In 1 Kor. 15 v 20 hoor ons hoe Paulus triomfantlik uitroep:

Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.

Omdat die Here dit vir ons in sy lewende Woord sê, weet ons dat Christus se opstanding ’n verskil in ons lewens KAN maak!

 Watter verskil maak Jesus Christus se opstanding in jou lewe?

Daar is drie areas wat ons hele lewe omvat, naamlik die lewe wat agter ons lê (my verlede), die lewe vorentoe (die toekoms hier op aarde) en dit wat na die dood vir ons voorlê. In Kort kan ons sê: “Jesus se opstanding waarborg dat ons waarlik léwe, nou en in die toekoms!”

 Die eerste groot voordeel wat Christus se opstanding inhou is:

My verlede het nie meer ’n houvas op my nie!

Die mens is ’n slaaf van sy verlede. Dit wat in my verlede gebeur het is dikwels die tronk wat my vashou en keer dat ek die wonderlike geleenthede wat voor my lê kan aangryp. Elke verkeerde ding wat ek in die verlede gedoen het en elke verkeerde ding wat met my gebeur het, is soos slawekettings wat my vasbind en vashou. Dit bind my vas aan alles wat sleg en verkeerd is in hierdie lewe. Dit bind my vas aan my sondige natuur sodat ek nie daarvan kan loskom nie.

 In Gal 5 v 19 & 20 hoor ons ’n paar voorbeelde van so ’n sondige natuur:

Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.

My sondige verlede keer dat ek loskom van verkeerde begeertes wat dan aanleiding gee tot onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid.

 My sondige verlede gee aanleiding tot afgodsdiens en towery, dit wil sê ek vertrou op iets of iemand anders as die lewende God om my deur die lewe te help. Ek vind dit onmoontlik om by God troos te vind en ek probeer maar self regkom met die gevolg dat ek in absolute moedeloosheid verval elke slag as daar iets in my lewe gebeur wat nie goed is nie.

 Ek kry nie reg om die mense in my verlede te vergewe nie en daarom is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns deel van my lewe.

 My sondige verlede bind my vas aan dronkenskap en uitspattigheid. Dit maak dat mense hulle dronk drink om byvoorbeeld ’n geleentheid te vier. Dit maak dat kinders aand vir aand in kuierplekke rondhang sodra hulle onder hul ouers se toesig uit is.

 Jesus se opstanding maak ons los van hierdie sondes wat keer dat ons werklik die lewe leef wat God vir ons beplan het.

In 1 Kor. 15 v 22 sê die Here vir ons:

Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

 Daarom bely ons ook:

Die Here het deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak

Dit beteken eenvoudig dat die sonde in ons verlede geen houvas op ons het nie en dat ons nie meer voor God skuldig staan daaroor nie omdat Christus met sy opstanding die dood oorwin het en daarmee het Hy die straf vir die sonde (die dood) ten volle betaal.

 Die eerste ding wat Christus se opstanding in my lewe verander is dat my sondige verlede nie meer ’n houvas het op my nie.

 Die tweede voordeel wat Christus se opstanding inhou is:

Ek kan nou die lewe leef wat God vir my beplan het.

In 1 Pet 1v3 hoor ons

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

Die tweede groot verandering wat Christus se opstanding in my lewe teweeg bring is dat ek nou ’n nuwe lewe het. Daarom is onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap en uitspattigheid nie meer deel van my lewe nie.

 In die plek van hierdie sondige lewe waaraan ek verslaaf was het ek nou ’n nuwe lewe en daarom is die vrug van die Gees ook deel van my lewe.

In Gal 5 v 22 hoor wat die vrug van die Gees is:

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

My lewe word deur vreugde en vrede gekenmerk. Ek is dankbaar teenoor die Here wanneer dit goed gaan met my. Ek beleef die Here se seën in die groot en klein dinge in my lewe. Wanneer ek byvoorbeeld in die oggend wakker word is ek dankbaar teenoor die Here dat ek nog ’n dag het om te lewe. Wanneer die beproewings in die lewe soos siekte en al die ander moeilikhede wat ons in die lewe ervaar, oor my pad kom, dan is ek geduldig en blymoedig omdat ek weet dat die Here my nie in die swaarkry dae verlaat nie. Inteendeel ek ervaar hoe die Here my deur die swaarkry dae dra.

 My lewe word gekenmerk deur vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Ek dra nie wrokke en bitterheid in my rond nie en ek kry reg om na die Here te luister wanneer Hy in Kol 3 v 13 vir my sê:

Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

 In kort vind ek dit al hoe makliker om die Here se liefdesopdrag in sy wet na te kom. Wanneer ek struikel en val dan vind ek vergifnis en verlossing by Jesus en sy opstanding.

 Die tweede verandering wat Jesus se opstanding in ons lewens teweeg bring is dat ons nou die lewe kan leef wat God vir ons beplan het en daarom bely ons ook dat ons nou deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek is.

 Die derde voordeel wat Jesus se opstanding vir ons inhou is:

Ons het ’n lewende hoop waaraan ons vashou

Daar is een ding in die lewe waarvan ons seker is, naamlik dat elkeen van ons een of ander tyd gaan doodgaan. Vir baie mense is daar egter saam met hierdie sekerheid ook ’n groot onsekerheid omdat hulle nie weet wat gaan van hulle word nie.

 Christene wat met geloof vashou aan Christus se opstanding het nie laasgenoemde onsekerheid nie omdat ons ’n vaste hoop het waaraan ons vashou. In 1 Kor. 15 v 53 & 54 hoor ons:

Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike. En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

 Ons hoef nie meer bang te wees vir die dood nie omdat ons ’n lewende hoop het. Vir die Christen wat met geloof vashou aan Jesus se opstanding is die dood nie die einde nie, maar slegs ’n heerlike deurgang na die volgende bedeling waar ons ewig saam met God sal wees, verlos van die elende en hartseer van hierdie wêreld. Daarom bely ons ook dat die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding is.

 Slot

Die opstanding van Christus is die belangrikste aspekte van ons geloofslewe wat ons lewens drasties verander.

In die eerste plek beteken dit
       my sonde verlede het nie meer ’n houvas op my nie.

In die tweede plek beteken dit
       ek kan nou hiervandaan vorentoe die lewe vol liefde leef
       wat God vir my beplan het.

In die derde plek beteken dit
       ons hoef nie meer vir die dood bang te wees nie,
       want ons het ’n lewende hoop om ewig saam met God te wees
       sonder hartseer, dood of pyn.

 As hierdie lewensverandering nog nie deel is van jou lewe is nie, kom na Jesus Christus toe en neem sy uitnodiging aan wat Hy in

Mat 11 v 28 aan ons rig:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, 
    en Ek sal julle rus gee."

Glo in Jesus.

Glo dat Hy vir jou sondes aan `n vervloekte kruishout gesterf het.

Glo dat Hy opgestaan het.

 Hou in geloof vas aan die verlossing wat Jesus met sy kruisiging en opstanding vir jou gegee het en leef die nuwe lewe vol liefde wat Christus vir jou gee, want

Jesus se opstanding waarborg
   dat ons waarlik léwe, nou en in die toekoms!

Amen