Heidelbergse Kategismus Sondag
17
45 Vraag: Watter nut het
die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord:
Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die
geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a).
Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek
(b).
Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare
waarborg van ons salige opstanding (c).
(a) Rom. 4:25; 1 Pet 1:3;
1 Kor. 15:16. (b) Rom. 6:4; Kol 3:1, 5;
Ef. 2:5, 6. (c) 1 Kor. 15:20, 21.
Inleiding
Met Paasfees herdenk ons in
besonder die kruisdood en opstanding van ons Here. Dit is egter nie iets wat
net tot een maal ’n jaar beperk is nie. Jesus se opstanding het ’n effek op
elke dag van ons lewe en daarom herdenk ons inderdaad elke Sondag sy opstanding
waaruit ons, ons krag vandaan kry om die lewe wat Hy met sy opstanding vir ons
gegee het, te gaan lewe.
Ons bely elke Sondag:
Christus
het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde
dag opgewek, volgens die Skrifte.
Maak hierdie belydenis enigsins
’n verskil in ons lewens?
Watter
nut het die opstanding van Christus vir ons?
Dit beteken doodeenvoudig:
“Maak Christus se opstanding ’n verskil in my lewe?”
En
as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof
ook sonder inhoud.
As Christus nie opgestaan
het nie, dan is ons almal besig om vanmore ons tyd te mors. Dan kan ons maar
net sowel die kerkdeure toesluit en iets anders gaan doen. Dan help dit nie dat
ons Bybellees en bid nie. Dan het ek 15 jaar van my lewe vermors om te gaan
studeer en predikant te word. As Christus nie opgestaan het nie, dan was al die
tyd en moeite wat ons as kerk van die Here daaraan bestee het tevergeefs!
In 1 Kor. 15 v 17 tot 19
hoor ons:
as
Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange
in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons
net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die
bejammerenswaardigste van alle mense.
Jesus Christus se opstanding
is een van die kern aspekte van ons geloofslewe en daarom MOET dit ’n verskil
in ons lewens maak.
In 1 Kor. 15 v 20 hoor ons hoe
Paulus triomfantlik uitroep:
Maar
nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.
Omdat die Here dit vir ons
in sy lewende Woord sê, weet ons dat Christus se opstanding ’n verskil in ons
lewens KAN maak!
Daar is drie areas wat ons
hele lewe omvat, naamlik die lewe wat agter ons lê (my verlede), die lewe
vorentoe (die toekoms hier op aarde) en dit wat na die dood vir ons voorlê. In
Kort kan ons sê: “Jesus se opstanding waarborg dat ons waarlik léwe, nou en in
die toekoms!”
My verlede het nie meer ’n
houvas op my nie!
Die mens is ’n slaaf van sy
verlede. Dit wat in my verlede gebeur het is dikwels die tronk wat my vashou en
keer dat ek die wonderlike geleenthede wat voor my lê kan aangryp. Elke
verkeerde ding wat ek in die verlede gedoen het en elke verkeerde ding wat met my
gebeur het, is soos slawekettings wat my vasbind en vashou. Dit bind my vas aan
alles wat sleg en verkeerd is in hierdie lewe. Dit bind my vas aan my sondige
natuur sodat ek nie daarvan kan loskom nie.
Die
praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid,
losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies,
verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike
dinge.
My sondige verlede keer dat
ek loskom van verkeerde begeertes wat dan aanleiding gee tot onsedelikheid,
onreinheid, losbandigheid.
In 1 Kor. 15 v 22 sê die
Here vir ons:
Net
soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus
lewend gemaak word.
Die
Here het deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat
Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak
Dit beteken eenvoudig dat die
sonde in ons verlede geen houvas op ons het nie en dat ons nie meer voor God
skuldig staan daaroor nie omdat Christus met sy opstanding die dood oorwin het
en daarmee het Hy die straf vir die sonde (die dood) ten volle betaal.
Ek kan nou die lewe leef wat
God vir my beplan het.
In 1 Pet 1v3 hoor ons
Aan
God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot
ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus
Christus uit die dood.
Die tweede groot verandering
wat Christus se opstanding in my lewe teweeg bring is dat ek nou ’n nuwe lewe
het. Daarom is onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery,
vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns,
dronkenskap en uitspattigheid nie meer deel van my lewe nie.
In Gal 5 v 22 hoor wat die
vrug van die Gees is:
Die
vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld,
vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
My lewe word deur vreugde en
vrede gekenmerk. Ek is dankbaar teenoor die Here wanneer dit goed gaan met my.
Ek beleef die Here se seën in die groot en klein dinge in my lewe. Wanneer ek
byvoorbeeld in die oggend wakker word is ek dankbaar teenoor die Here dat ek
nog ’n dag het om te lewe. Wanneer die beproewings in die lewe soos siekte en
al die ander moeilikhede wat ons in die lewe ervaar, oor my pad kom, dan is ek
geduldig en blymoedig omdat ek weet dat die Here my nie in die swaarkry dae
verlaat nie. Inteendeel ek ervaar hoe die Here my deur die swaarkry dae dra.
Wees
geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos
die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
Ons het ’n lewende hoop waaraan
ons vashou
Daar is een ding in die lewe
waarvan ons seker is, naamlik dat elkeen van ons een of ander tyd gaan
doodgaan. Vir baie mense is daar egter saam met hierdie sekerheid ook ’n groot
onsekerheid omdat hulle nie weet wat gaan van hulle word nie.
Hierdie
verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie
sterflike liggaam met die onsterflike. En wanneer hierdie verganklike liggaam
met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die
onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is
vernietig, die oorwinning is behaal.”
Die opstanding van Christus
is die belangrikste aspekte van ons geloofslewe wat ons lewens drasties verander.
In die eerste plek
beteken dit
my sonde verlede het nie meer ’n houvas op my nie.
In die tweede plek
beteken dit
ek kan nou hiervandaan vorentoe die lewe vol liefde leef
wat
God vir my beplan het.
In die derde plek beteken
dit
ons hoef nie meer vir die dood bang te wees nie,
want ons het ’n lewende hoop om ewig saam met God te wees
sonder hartseer, dood of pyn.
Mat 11 v 28 aan ons rig:
“Kom
na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is,
en Ek sal julle rus gee."
Glo in
Jesus.
Glo dat
Hy vir jou sondes aan `n vervloekte kruishout gesterf het.
Glo dat
Hy opgestaan het.
Hou in geloof vas aan die verlossing wat Jesus met sy kruisiging en opstanding vir jou gegee het en leef die nuwe lewe vol liefde wat Christus vir jou gee, want
Jesus
se opstanding waarborg
dat
ons waarlik léwe, nou en in die toekoms!
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking