15 Februarie 2015

Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.

1 Tim 1 teksvers 1 Tim 1:15
15 Feb. 2015 GKE

Sb 12-3 v 1 & 2
Sb 9-1 v 1 & 11
Ps. 143-1:1
Gebed na die preek SB 10-1 v 1 - 4
Sb 3-4 v 1 – 5

Inleiding
Twee weke gelede het ons gehoor dat die kerk van die Here onsigbaar word in die wêreld wanneer die kerk aan die sondige wêreld gelyk word. Verlede week het ons gehoor hoedat ’n verkeerde verstaan van wat kerkwees eintlik is ons as kerk kan verhoed om ’n verskil te maak in hierdie wêreld. Hierdie week gaan ons na nog ’n rede kyk wat kan veroorsaak dat die kerk onsigbaar word in die wêreld (dit wil sê, die kerk is nie meer effektief om die koninkryk van God in die wêreld sigbaar te maak nie). Hoogmoed, wat ’n groot struikelblok vir ’n Christen kan wees. Ek begin dink dat ek so ’n bietjie beter as ander mense is. Ek kyk so bietjie neer op ander mense. Ek is darem nie sleg soos hulle nie. Mense wat nie op my standaard is nie gaan in die hel brand. Mense wat nie my godsdiens rituele of tradisies onderhou of op my manier aanbid nie is in die moeilikheid by God.

Hoogmoed is ’n klip waaroor ons as Doppers baie maklik val. Hoogmoed is een van die sondes wat die Here haat soos ons in Spr. 6:16 – 19 hoor
Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het:
oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, ’n getuie wat lieg
en iemand wat rusie stook tussen broers.
Hoogmoed word 1ste genoem!

Hoogmoed is nie net ’n probleem van ons tyd nie. Dit is iets wat deel is van die mense se geskiedenis vanaf die vroegste jare. Dis hoogmoed wat die satan tot ’n val gebring het en dit is hoogmoed wat veroorsaak het dat die mens in opstand teen God se gesag gekom het. Hoogmoed was ook ’n probleem in Efese waar Timoteus gearbei het. In hoofstuk 1 van die eerste brief wat Paulus aan Timoteus geskryf het om hom te bemoedig gee Paulus vir Timoteus raad oor hoe om die probleem aan te spreek.

Paulus gee aan hom ’n opdrag wat ons in twee dele kan onderskei. Hy moet keer dat sekere dinge nie plaasvind nie en daar is sekere dinge wat wel gedoen moet word.

Wat mag nie gebeur nie?
In 1 Tim 1:3b & 4 hoor ons
Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied. Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee.
Vals leerstellings is nie altyd so maklik om te onderskei nie omdat die mense wat hulle daarmee besig hou dit baie subtiel en onskuldig inbring. Hier vind ons ’n paar riglyne wat ons kan help om dit te onderskei.

Lei dit tot onenigheid? Mense hou so maklik aan rituele en tradisionele gebruike vas. Die argument van “maar ons het nog altyd sus of so gemaak” word dikwels in ’n twisgesprek gebruik waarmee daar gepoog word om iemand se gewete te bind. Met ander woorde as jy nie op my manier aanbid nie is jy in die moeilikheid by God. Dit dui dikwels op ’n vorm van hoogmoed.

Is ons besig met teologiese haarklowery? Daar in Efese het dit gegaan oor geslagsregister. Geslagsregisters was in daardie tyd baie belangrik vir die Jode want daarmee kon hulle bewys dat hulle van Joodse afkoms (dit wil sê die uitverkore volk) was. Die valse leerstelling wat hierin vasgevang is, is dat jou Joodse afkoms jou saligheid verseker. Ons stry nie vandag meer oor geslagsregisters nie, maar daar is baie ander sake waaroor ons wel stry. Dink maar aan die debatte wat vandag in die kerk woed.

Die sake waaroor gestry word is dikwels so ingewikkeld dat dit jou eintlik hoofpyn gee wanneer jy probeer bepaal wat is nou eintlik reg en wat is verkeerd. As ’n teologiese saak nie ly tot Jesus se verlossingswerk en liefde bevorder nie moet mens versigtig wees daarvoor.

Dan word die wet (dit wil sê die Skrif) dikwels aangehaal om ’n standpunt te regverdig. Paulus gee hier vir ons duidelik die doel van die wet. Die hooftaak van die wet is om aan te toon wat sonde is. Ons gebruik so dikwels die wet (die Bybel) om ander se sonde raak te sien. As ek nie op daardie punt kom dat die wet (Bybel) my oortuig van die sonde in my eie lewe nie, dan moet ek myself die vraag afvra of ek nie dalk in die valstrik van hoogmoed getrap het nie.

Ons moet versigtig wees om nie soveel tyd aan die klein puntjies in die Bybel spandeer nie dat ons nie meer tyd het vir die hoofsaak, dit wil sê die evangelie in die Bybel het nie. Hiermee het ons gehoor wat die evangelie nie is nie.

Wat is die evangelie dan wel?
Die woord evangelie is ’n Griekse leenwoord wat goeie nuus beteken. In ons teks hoor ons wat is hierdie goeie nuus is. In 1 Tim. 1:14 hoor ons wat die fondament van die evangelie is:
Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.
God se genade en nie omdat ek so oulik of goed is nie. Wat is genade? Dit is God se liefde wat jou opsoek wanneer jy niks het om in ruil te gee nie.

Dan hoor ons wat die hart van die evangelie is in 1 Tim 1:15
Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.
Jesus Christus het as ’n eenvoudige mens in die wêreld ingekom. Hy het die prys van die sonde betaal sodat sondaars verlos kan word. Dit is die waarheid van die evangelie. Die valstrik van hoogmoed is in stryd met die evangelie. Hoogmoed sê: “kyk hoe goed en oulik is ek. Omdat ek so goed en oulik is, is God verplig om my saligheid vir my te gee. Dit gaan nie oor God nie, maar oor myself! Kan u insien hoe hoogmoed in die pad staan van ’n Christin se koninkrykswerk. Wanneer dit net oor myself gaan sien ek nie die nood van ander mense raak nie.

Teenoor dit staan die evangelie. Deur God se genade gee Hy vir my, my saligheid deur middel van Christus Jesus wat in die wêreld gekom het om sondaars te verlos. Dan voeg Paulus in 1 Tim 1:15 by: Van die sondaars wat Jesus gekom het om te verlos, is ek die grootste! Ons kan gerus so bietjie na onsself kyk en vra: “het ek al ooit so van myself gedink?” Die grootste sondaar onder al die sondaars wat daar is!

Ons vier DV oor twee weke die Heilige Nagmaal en daarom is ons nou in ’n tyd van voorbereiding. Voorbereiding gaan ten diepste daaroor dat ek bietjie introspeksie doen en biddend vir God vra om die hoogmoed van my sonde uit te wys. Voordat ek nie onder diepe besef van my eie onvermoë om my saligheid te bewerk kom nie, sal ek nooit die werklike diepte van God se genade in Christus Jesus begryp nie. As ek ook soos Paulus kan bely dat onder die sondaars wat Jesus gekom het om te verlos dat ek die grootste is, dan sal die Nagmaal my geloof versterk sodat ek ook saam met Paulus kan bely (vgl. 1 Tim 1:16):
God was my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kan wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.

Slot
Geliefdes, laat ons hierdie week ingaan met die vaste voorneme om die goeie stryd te stry en vas te aan die geloof terwyl ons nie in stryd met ons gewetens optree nie. Onthou die kern van ons geloof is die goeie nuus (evangelie) naamlik Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking