06 Februarie 2015

In Jesus Christus IS jy ’n nuwe mens. Daarom LEEF soos ’n nuwe mens

Inleiding
Ons sit met ’n probleem. Die kerk is besig om onsigbaar te word. Dit raak al hoe moeiliker om die kerk van die wêreld te onderskei want daar is soveel gelowiges wat in twee wêrelde leef. ’n Sondagwêreld en ’n weeksdagwêreld. Gewoonlik is die Sondagwêreld ook van so ’n korte duur dat niemand dit eers raaksien nie. Net so ongeveer ’n uur per week en dan gaan ek maar weer aan met my weekswêreld waar God en sy gebod nie sigbaar is nie. Verder is dit deesdae ook so dat al hoe meer Christene ook nie eers daardie uur per week in die Sondag wêreld is nie.

Moet ook nie die fout maak om te dink dat hierdie nou al weer ’n preek is oor swak erediensbywoning nie want swak erediensbywoning is maar net ’n simptoom van ’n groter probleem. Paulus waarsku hieroor wanneer hy sê: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie.” Die vraag wat ons vir onsself moet afvra is: “tot watter mate is ons onsigbaar vir die wêreld daarbuite omdat ons ook maar net soos die wêreld begin lyk?” As ons soos die wêreld begin lyk is die volgende vraag wat kan ons daaraan doen?

Die Here weet dat dit nie altyd so maklik is om prakties as ’n Christen in hierdie wêreld te leef nie, veral nie waar die algemene opvatting is dat jou godsdiens ’n baie private aangeleentheid is en dat jy nie ander mense daarmee moet pla nie. Daarom het Hy vir ons Rom. 12 gegee wat mooi vir ons verduidelik hoe die Christelike lewenspraktyk lyk en hoe ek dit kan beoefen.

Die nuwe lewe in Christus
Dit is belangrik dat ons moet verstaan dat dit nie hier gaan oor ’n stel reëls wat ek moet nakom nie. Dit is nie iets wat ek moet doen om my redding te verseker nie. Die motivering lê nie in my goeie dade nie, maar in iets buite myself, naamlik God se genade soos ons in Rom. 12:1a hoor
En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God:
Die Christelike lewenswandel gaan oor hoe jy jou lewe moet leef om dankbaarheid aan God te bewys vir die redding wat jy reeds ontvang het.

Hier word vir ons vier beginsels aangedui waarop ’n nuwe lewe in Christus gebou word, naamlik die motief, die wese, die metode en die mikpunt. In die eerste plek moet my motief vir so ’n nuwe lewe in Jesus Christus wees dat ek moet leef op die fondament van God se liefde wat my vrygespreek en verlos het.

In die tweede plek is die wesenskenmerk van ’n nuwe lewe in Christus sy opofferende liefde. Jesus het vir my die heerlikheid van God afgelê en mens geword. Hy het selfs sy menswaardigheid opgegee en Hy is as misdadiger behandel. Hy het selfs sy lewe vir my afgelê en in my plek aan ’n vervloekte kruishout gesterf. Die uitstaande kenmerk van God se ontferming is sy opofferende liefde en daarom moet dit ook ’n kenmerk wees van my nuwe lewe in Christus.

Die derde kenmerk is baie prakties, naamlik die metode. Met ander woorde hoe doen ek dit? Ons vind hier in ons teks twee voorskrifte. Eerstens wat moet ek nie doen nie en tweedens wat moet ek wel doen.

Wat moet ons nie doen nie? “Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie.” Hoe lyk die sondige wêreld? In Rom. 1:24 tot 29 hoor ons hoe lyk die selfsug van hierdie wêreld. Byvoorbeeld hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Hulle handhaaf ’n onsedelike lewenswyse.

Verder is hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Hulle skinder en praat kwaad; hulle haat God, hulle is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers; hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig. As Christus ons vrygekoop het van die slawebande van sulke sondige praktyke, dan kan en mag dit nie meer deel van ons lewe wees nie. As dit nog deel van die kerk se lewenspraktyk is dan is die kerk soos sout wat verslaan het en daarom nutteloos geword het. As die kerk net soos die wêreld lyk en optree dan word die kerk onsigbaar in die wêreld, en daarom die opdrag:“Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie.”

Wat moet ek wel doen? Die manier hoe ons van die selfsug van hierdie wêreld ontsnap is dat God ons verander. Verander in hierdie sin beteken nie maar net ’n klein koersveranderinkie nie, nee dis ’n radikale verandering in jou lewe. Jy moet ’n metamorfose ondergaan, met ander woorde jy moet verander soos wat ’n larwe wat ’n skoenlapper word. Dit is nie iets wat jy self uit eie krag kan doen nie. Dit is God wat dit doen. Die manier waarop God jou verander is deur jou nuut te laat dink. Hierdie verandering is ook nie iets wat van buite af op jou afgedwing word nie.

Die vernuwing van jou lewe begin dus van binne af en werk deur tot elke tot in elke deel van jou lewenspraktyk. Jy is dus nie passief in die proses nie en daarom is dit belangrik dat jy tyd saam met God in jou binnekant lewe afstaan. God gebruik sy Woord om jou denke te vernuwe en wanneer jy besig is met Bybellees, Bybelstudie erediensbywoning werk die Heilige Gees in jou lewe. Met God se genade begin jy onderskei wat tussen God se wil en jou eie wil. Wanneer jy aktief begin soek na wat God se wil in jou lewe is kom jy agter dat God besig is om jou denke te vernuwe.

Wanneer God jou denke vernuwe begin jy anders dink oor jou gebedslewe, jou deelname aan eredienste en Bybelstudie. Jy begin anders dink oor jou verhouding met mense en ander gemeentelede. Jy begin aktief deel word van die gemeente. Jy begin om jou lig te laat skyn. Deur jou en die ander gemeentelede se optrede begin die kerk sigbaar word as ’n ligbaken in die wêreld wat vir die wêreld hoop bring.

Die mikpunt van ’n nuwe lewe in Christus is die laaste kenmerk is wat hier beskryf word, naamlik ’n lewe wat God goed en aanneemlik is en volmaak is. Uit ons eie sal ons nooit die volmaaktheid bereik wat God verlang nie, maar deur ons geloof in Jesus Christus wat vir alle onvolmaaktes gesterf het bereik ons volmaaktheid. In die proses is God besig om ons te verander na die beeld van sy Seun.
Slot
Ons sit met ’n probleem dat die kerk soms onsigbaar word in die wêreld. Ons hoef nie moedeloos te word nie want God sê vir ons hoe om die probleem te oorkom.
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Kom ons wees sigbaar in die wêreld deur die lig van God se genade uit te dra. In Jesus Christus IS jy ’n nuwe mens. Daarom LEEF soos ’n nuwe mens

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking