30 Des. 2012 (RB)
2 Tim. 4 v 6 – 18 Teksverse 2 Tim. 4 v 7 & 8a
Sing
Lofsang: Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Na
wet: Ps. 38 v 1 (OAB)
Na
gebed Ps. 20
v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 23 v 1
& 2 (OAB)
Inleiding
Hier
teen die einde van die jaar kyk ons terug na die jaar wat verby is en ons kyk
ook vorentoe na die jaar wat vir ons voorlê. In hierdie tweede brief wat Paulus
aan Timoteus skryf om hom uit sy dodesel te bemoedig kyk hy ook terug oor sy
lewe en kyk hy vorentoe vir dit wat vir hom voorlê. Hiermee wil Paulus dan vir
Timoteus bemoedig vir die pad wat voorlê en gee die Here aan ons ook
perspektief wanneer ons vorentoe kyk vir dit wat vir ons voorlê.
Uit
ons teksverse is daar twee aspekte waarop ons gaan fokus, naamlik:
’n
Terugblik op die verlede en ’n vorentoe blik oor hoe om die toekoms te benader.
’n
Terugblik op die jaar wat verby is
In
ons teksgedeelte hoor ons die afskeidsgroet van Paulus kort voor sy
teregstelling. Dit is ’n aangrypende openbaring van triomf van die genade in
die lewe van die kind van God. Ons kan dit inderdaad as ’n oorwinningslied uit
die dodesel beskryf. Paulus is vir ’n tweede keer in die tronk en hierdie keer
is daar nie hoop dat hy vrygelaat gaan word nie soos in 2 Tim 4:6 hoor:
Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer
uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.
Die
beeld wat hier gebruik word is ’n beeld uit die offervoorskrifte van die Ou
Testament. Die drankoffer is die laaste deel van die hele offerproses. Met hierdie
beeld verduidelik Paulus dat mens se hele lewe aan die Here gewy moet word,
veral die laaste deel van jou lewe. In die kerk van die Here tree mens nie af
nie, maar moet jy enduit volhou soos wat ons dan ook in 2 Tim 4:7 hoor:
Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die
wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.
Paulus
gebruik hier ’n beeld waarin hy sy lewenspad met ’n wedloop vergelyk. Uit dit
wat Paulus hier sê is dit duidelik dat hierdie wedloop nie maklik was nie. As
ons terugkyk na die lewenspad wat ons die afgelope jaar geloop het is ek seker
dat elkeen van ons sal kan getuig dat dit beslis nie maklik was nie. Dit is
veral die geloofswedloop wat soms bitter moeilik was. Hoeveel keer het ons nie
geval wanneer versoekings oor ons pad gekom het nie? Elkeen van ons weet waar
die swakplek in ons geloofsmondering is. Een van die groot struikelblokke is
dat ons nie altyd vertrou dat God ons sal dra nie. Het dit nie ook maar
telkemale die afgelope jaar gebeur nie?
Uit
Paulus se getuienis is dit duidelik dat hy die wedloop nie in eie krag voltooi
het nie. Hy het die wenstreep bereik omdat hy deur sy geloof gedra is. As ons
so terugkyk dan kan ons ook maar net getuig dat God ons deur die genade van
geloof gedra het. As ons na die laagtepunte, daardie benoude tye van die
afgelope jaar kyk, dan is een ding duidelik, God het ons gedra! Daardie keer
toe ek nie meer kans gesien het nie, het God my gedra. Daarom is ek nou hier.
Dit
is egter ook belangrik dat ons moet raaksien hoe God ons deur die goeie tye die
afgelope jaar gedra het. Ons moet sy seënende hand raaksien in ons lewens.
Wanneer Paulus sê dat hy die goeie stryd gestry het en die wedloop voltooi het,
bedoel hy dat hy enduit die Here se genade in sy lewe raakgesien het en dat hy
enduit op die Here vertrou het om hom te dra in sy roeping waarvoor die Here
hom geroep het.
Wanneer
ons terugkyk oor die afgelope jaar dan sien ons hoe die Here ons deur die goeie
en swaar tye gedra het.
Kyk
vooruit na die toekoms
Met
die nuwe jaar wat hier vlak voor ons lê kyk ons ook vooruit na die toekoms.
Wanneer Paulus vorentoe kyk dan sien hy dat die oorwinnaarskroon , dit wil sê
die lewe by God op hom wag. Hierdie oorwinnaarskroon is ’n uitbreiding op die
wedloopbeeld wat hy gebruik. By die atletiekbyeenkomste van destyds is ’n
lourierkrans aan die wenners oorhandig. Dit het dan ook die draer van die
lourierkrans sekere voordele gegee soos eerbewyse, gratis etes en uitnodigings
na vername persone se huise.
So
word die oorwinnaarskroon hier dan ook as ’n beeld gebruik om die ewige lewe
saam met God aan te dui. Die heerlikheid van die ewige lewe, waar die gelowige
verlos word van die gevolge van die sondige wêreld is die finale fase hiervan.
Die wonderlike troos is dat die ewige lewe nou reeds begin deurdat ons deur ons
geloof kan vashou aan God se genade ook in hierdie lewe totdat ons Here Jesus
Christus weer kom op die wolke soos Hy beloof het. Wanneer ons terugkyk dan
sien ons dat God ons gedra het en dit is deel van die ewige lewe saam met God.
Dit is wat vir ons hoop gee wanneer ons vorentoe kyk vir die jaar wat voorlê.
Die
wonderlike troos is dat hierdie oorwinnaarskroon vir my ook bedoel is soos ons
2 Tim. 4:8 hoor:
Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die
regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal
wat met verlange uitsien na sy koms.
Die
sleutel om hierdie oorwinnaarskroon te ontvang is geloof. Paulus het gelowig
end-uit volgehou om te vertrou op die Here. Dis my geloof wat vir my hoop gee
vir die toekoms, my geloof in Jesus Christus, dat Hy vir my sondes aan ’n
vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy vir my die lewe gee met sy
oorwinning van die dood. Geloof dat ek op grond daarvan die oorwinnaarskroon
van die ewige lewe kry. Geloof dat God my sal dra deur die jaar wat voorlê.
Wat
beteken die oorwinnaarskroon van die ewige lewe vir my? Paulus was in die tronk
met die sekere wete dat sy dood ophande was. Die laksman kan enige oomblik kom
om die doodsvonnis te voltrek. Ten spyte daarvan dat ons nie in die tronk sit
met ’n doodsvonnis wat oor ons koppe hang nie is ons in ’n sekere sin in
dieselfde situasie as wat Paulus was. Nie een van ons weet wat die dag van more
vir ons inhou nie. Tog het Paulus nie in sak en as gesit nie. Hy het nog steeds
vir die toekoms beplan sodat hy elke oomblik wat hy op aarde was voluit kon
leef.
Omdat
hy weet dat God met hom is en hom dra gaan hy steeds aan met die lewe. Hy
hanteer die krisis van Demas se vertrek en reël dat die werk deur medewerkers
voortgaan soos ons hoor in die gedeelte van vers 9 tot 18. Ten spyte daarvan
dat ons nie weet wat die komende jaar vir ons inhou nie, kan ons steeds volgens
die beginsels wat hier gegee word gereed maak daarvoor. Ons moet end-uit voluit
werk. Ons moet sorg dat die werk van die Here, dit wil sê die uitbouing van sy
Koninkryk voortgaan.
Die
opmerkings wat Paulus oor sy teenstanders en diegene wat hom in die steek
gelaat het maak, leer ons dat ons die vergelding aan God moet oorlaat. Daar
waar mense in die jaar wat voorlê vir ons ’n struikelblok gaan wees, moet ons
nie wraak neem nie, maar die oordeel aan God oorlaat. Die oorwinnaarskroon van
die ewige lewe stel ons in staat om Paulus se belydenis in 2 Tim. 4:18 ons eie
te maak:
Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in
sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid!
Ons
moet weet dat God se beskerming baie wyer strek as net die beskerming teen
fisiese gevaar. Daar waar die Here fisieke gevaar in ons lewens toelaat moet
ons vertrou dat Hy steeds in beheer is met die wete dat Hy ons geestelike
redding en veilige aankoms in die hemelse koninkryk verseker .Ons moet met
geloof vashou aan sy belofte dat niks ons van sy ewige liefde sal skei nie.
Wanneer ons aan die jaar wat voorlê dink, kan ons verseker weet dat God ons sal
dra vir die jaar wat voorlê.
Slot
Deur
ons geloof weet ons dat God ons in die verlede deur goeie en slegte tye gedra
het. Alhoewel ons nie weet wat in die toekoms vir ons wag nie, kan ons weet dat
die Here ons sal dra sodat ons end-uit kan volhou. Ons geloof gee aan ons die
vaste vertroue dat God ons deur die onsekerhede van die jaar wat voorlê sal dra
en dat niks ons van sy liefde sal kan skei nie.
Geliefdes
kom ons pak die jaar wat voorlê in geloof aan sodat ons aan die einde daarvan
ook kan sê:
Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die
wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe
by God.
Amen