04 Desember 2012

Die ware betekenis van Christus se geboorte vervul ons met verwondering


2 Des. 2012 (RB - Nagmaal)
Luk. 2 v 1 – 20 Teksvers Luk. 2 v 19
Sing    Lofsang: Ps. 65 v 1               (OAB)
           Na wet:    Ps. 119 v 1             (OAB)
           Na gebed                                Ps. 86 v 3         (OAB)
           Slotsang  Sb. 2-4 v 1             (Sb 33 in Swart Psalmboek)

Word u nog met verwondering vervul wanneer u die goeie tyding hoor van Christus se geboorte? Raak u nog opgewonde wanneer u hoor?
Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
Desembermaand is die tyd van die jaar wanneer Christene weer oor die geboorte van Jesus nadink. Het hierdie Christus verhaal nog ’n impak op ons lewens?

In die Christus verhaal hoor ons hoe dit gebeur het dat die Koning van die heelal in ’n stal gebore is. Dit het so plaasgevind. Vooraf hoor ons eers hoe ’n eenvoudige jong meisie, Maria die byna ongelooflike nuus van ’n engel moet aanhoor dat sy wat nog steeds ’n maagd is, nou swanger is. Verder is dit nie net maar nog ’n gewone swangerskap nie. Die Seun wat gebore gaan word is die Koning wat uit die nageslag van Dawid gebore sou word en dat Hy as Koning tot in alle ewigheid sal regeer. Aanvanklik het Josef, haar verloofde homself voorgeneem om stilletjies van Maria te skei toe hy bewus geword het van haar swangerskap. Die Here het egter in ’n droom aan hom bekendgemaak dat Maria nie aan hom ontrou was nie, maar dat die swangerskap van die Here af kom.

Dan hoor ons hoe Josef en sy verloofde na Betlehem vir die volkstelling moes gaan. Anders as die sensusopnames vandag waar ’n sensusopnemer na jou huis toe kom, moes die Jode elkeen na die geboortestad van hulle stamvader gaan. Josef was gebore uit die geslag van Dawid en Betlehem was die geboortestad van Dawid. Daarom moes hy na Betlehem gaan vir die volkstelling.

Saam met hom het sy swanger verloofde Maria gereis. Die moeders hier by ons sal verstaan dat ’n reis op ’n donkie nie die maklikste ding vir ’n swanger vrou is nie, veral nie as sy hier op haar laaste is nie. So het dit toe ook gebeur dat sy geboorte geskenk het aan ’n Seun. Daar was egter nie vir hulle plek in die herberg nie en daarom moes hulle in ’n stal saam die diere ’n rusplek vind waar die kind toe gebore is. Maria het die kind in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê. So is die Koning van die heelal in die mees eenvoudigste en nederigste omstandighede gebore.

Die nuus van hierdie gebeurtenis word dan ook heel eerste aan die mees onbelangrikste mense in die samelewing, die skaapwagters bekend gemaak. Hulle aanskou ’n engelekoor wat God Prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!” Hierna gaan soek hulle die kind en vind Hom waar die engel vir hulle gesê het dat hulle Hom sal vind. Toe hulle die kind vind vertel hulle vir almal daar wat die engel aan hulle gesê het:
Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!

Hoe het die mense daar op hierdie nuus reageer? Die skaapwagters het aanvanklik groot geskrik en was bang. Toe hulle egter eers die wonder van die gebeure besef is hulle gevul met opgewondenheid en hulle kon nie wag om aan almal te vertel wat die Here aan hulle bekendgemaak het nie. Die mense aan wie die goeie nuus bekendgemaak is, was vervul met verwondering. Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink.

Hoe reageer ons op die nuus dat daar in die stad van Dawid die Verlosser, Christus die Here gebore is? Is daar by ons ook ’n borrelende opgewondeheid wat ons dring om dit aan almal wat ons teëkom oor te vertel? Is ons nog steeds verwonderd oor hierdie nuus? Is dit iets wat ons bybly en waaroor ons telkens weer nadink? Of is ons soos baie van die Jode van daardie tyd waaroor Jesus met weemoed uitgeroep het:
“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!

Wat is dit wat ons opgewonde maak oor Kersfees? Word die wonder van Jesus Christus in ons lewens ook vervang met blink liggies en groot Kersgeskenke? Hierdie tyd van die jaar is gewoonlik so besig dat ons nie eens meer tyd vir mekaar het nie. Kom ons kom weer by die ware betekenis van Jesus Christus se geboorte uit. Kom laat ons dit onthou en vir altyd bewaar soos wat mens iets kosbaars in jou lewe koester en bewaar en laat ons daaroor nadink oor wat dit werklik vir ons beteken.

Laat ons onthou dat ons verlore was en dat God self mens geword het om ons te vind. Laat ons onthou om nederig soos Christus te wees. Laat ons onthou dat God ons sterkte is en dat ons op sy krag alleen moet staatmaak. Laat ons onthou dat God die mislukkings in ons lewe weer kom heel maak en dat ons vir Hom baie kosbaar is, soveel so dat Hy bereid was om as eenvoudige mens gebore te word sodat ons nie verlore gaan nie. Laat ons onthou dat God elkeen van ons name in die palm van sy hand ingraveer het, dit wil sê Hy vergeet ons nooit nie. Laat ons onthou dat Hy altyd daar is wanneer die lewe te moeilik word en dat ons na Hom toe kan gaan wanneer die hartseer in die lewe vir ons te veel word. Laat ons onthou dat ons by God genade gevind het en dat Hy ons so lief het dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Kom ons raak in hierdie tyd weer stil oor die verwondering van Jesus Christus in ons lewens.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking