22 Apr. 2012 (RB)
Skriflesing: Open 2 v 18 - 29. Teksvers: Open.
2 v 20
Sing
Lofsang: Ps. 92 v 1 (OAB)
Na
wet: Ps.
112 v 1 (OAB)
Na
gebed Ps. 119 v 63 (OAB)
Slotsang Ps. 107 v 1 (OAB)
Het u al ooit ’n vrug
geëet wat van buite heerlik en aanloklik lyk, maar binne is ’n vrotkol of ’n
wurm? Van buite lyk dit so lekker, maar binne is dit glad nie so lekker nie!
Die brief aan die gemeente in Tiatire waarsku ons teen so ’n situasie binne die
kerk van die Here. Op die oog af ’n goeie welvarende gemeente, maar binne in is
daar ’n kanker wat die hele gemeente kan lamlê.
Tiatira was ’n welvarende
handelstad waar wol, leer en linne goedere asook gekleurde materiaal gemaak is.
Daar was skoenmakers, bronssmede, pottebakkers en slawe handelaars. As gevolg
van hierdie industrieë wat daar in Tiatira was, was daar baie gildes of
vakbonde soos ons dit vandag ken. Hierdie vakbonde was die spil waarom die
sosiale, politieke en godsdienstige lewe van die stad gedraai het. Elke vakbond
of gilde het ’n eie god of godin as beskermer gehad aan wie groot feeste gewy
is. Om vir die gemeenskap aanvaarbaar te wees, was dit dus nodig om te deel in
hierdie feeste en afgodspraktyke wat daarmee gepaard gegaan het. As jy nie deel
was van hierdie gildes of vakbonde nie, was dit bykans onmoontlik om ’n
kommersiële bestaan te maak. Dit is binne hierdie omstandighede wat die
gemeente in Tiatira moes funksioneer.
Hierdie brief is dan ook
in die eerste plek aan dié gemeente gerig om hulle te waarsku teen valsheid
binne die kerk. Hierdie brief volg dan ook die patroon van die ander ses briewe
wat ons in Openbaring vind. Daar is ’n inleidende gedeelte wat die
Skrywer bekendstel, ’n briefliggaam wat die probleem en oplossing
uitspel en ’n gevolgtrekking met ’n belofte vir diegene wat luister na
die Gees.
In die inleidende
gedeelte stel Christus Homself bekend met ’n spesifieke eienskap soos in
elk van die ander ses briewe ook gedoen word. In elk van die sewe briewe word
daar ’n verskillende eienskap van Christus bekendgestel en gesamentlik gee dit
’n beeld in totaliteit van wie en wat Christus werklik is.
In hierdie brief word daar
drie eienskappe van Christus uitgelig:
i. Christus is die Seun van God. Die beklemtoning
van Christus as Seun dui daarop dat Hy die enigste ware Seun van God is in
teenstelling met die aanbidding van Apollo die seun van Zeus wat die
hoofgodsdiens in Tiatira was.
ii Sy oë vlam soos vuur. Die vlammende oë
simboliseer Jesus se deurdringende insig en oordeel. Niks ontsnap sy aandag nie.
iii Sy voete is soos geelkoper. Dit simboliseer sy
standvastigheid en duursaamheid.
In
die briefliggaam word die gemeente se situasie uitgespel soos ons hoor
in Open 2:19 hoor:
Ek weet alles wat julle doen.
Christus
ken hulle situasie. Hy weet wat hulle sterkpunte is, liefde, geloof, diens en
volharding. Hy weet wat ook wat hulle swakpunt is, naamlik dat hulle Isebel
laat begaan. Hierdie swakpunt stel vir ons die regte perspektief op die goeie
punte wat genoem is, want daarin lê ’n ernstige waarskuwing. ’n Kerk kan op die
oogaf baie goed lyk, maar tog is dit nie ware kerk van die Here nie. Dit is
moontlik dat die kerk vol is met baie aktiwiteit omdat die mense daar deel van
die kerk is om vermaak te word. Hulle wil net gesus word eerder as wat hulle met
hulle sonde gekonfronteer word. In wese is dit op die uiteinde net ’n hoogs
suksesvolle Christian klub eerder as wat dit waarlik liggaam van Christus is.
In
ons teksvers hoor ons dat daar ’n sekere Isebel was wat die kerk wou verlei.
Dit herinner mens aan Isebel in die Ou Testament, die vrou van koning Agab wat
afgodsdiens in Baalaanbiding onder die volk ingevoer het. Ons weet nie veel van
hierdie vrou nie. Wat wel duidelik is, is dat sy nie die kerk wou vernietig
nie, maar sy wou nuwe praktyke in die kerk inbring wat effektief die gemeente
se geloof vernietig het.
Daar
is twee maniere hoe sy dit bewerk het soos ons hoor in Open 2v20:
Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy
doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te
bedrywe en afgodsoffervleis te eet.
Die
verleiding tot onsedelikheid en die eet van vleis wat aan afgode geoffer is.
Beide hierdie praktyke hou verband met mekaar en het ten doel om die fokus en
vertroue op Christus alleen te vernietig. In die Ou en Nuwe Testament word
owerspel telkemale as beeldspraak gebruik om die volk van God se ontrouheid aan
Hom uit te beeld. Dink maar aan die boek Hosea waar hy met ’n prostituut moes
trou om die volk se ontrouheid aan die Here aan te dui. In die Nuwe Testament
word die kerk as die bruid van Christus uitgebeeld. Wanneer ’n bruid ontrou is
aan haar man is dit owerspel.
In
Open 2v24 hoor ons hoe diegene wat by hierdie leer van Isebel betrokke was, die
“diep geheimenisse van die satan” leer ken het. Satan se hoofdoel is ’n
teenstander en verleier en dit is ook wat die naam satan letterlik beteken. In
die Bybel sien ons ook dan dat hy ten doel het om die mens van God afvallig te
maak. In Tiatira kon iemand net deel van die gildes word as hulle meegedoen het
aan die feeste wat aan die gilde se beskermgod gewy is. Die leer van Isebel het
dan ook behels dat die gelowiges daaraan kon deelneem. Die effek daarvan was
dat hulle hul geloof in Christus moes vermeng met die afgodsdiens aan die gilde
se gode en daarmee het hul effektief van die Here af weggedraai. Binne die
gemeente was daar dus die kanker van diegene wat ’n veelgodery voorgestaan het.
Die
vraag is geliefdes, “wat het hierdie brief met ons as gemeente te doen?” Ons
het tog nie meer guldes of vakbonde wat van ons verwag om mee te doen aan
feeste wat aan afgode gewy is nie. Maar tog, as ons mooi gaan kyk dan sal ons
sien dat die gevaar wat die gemeente in Tiatira bedreig het net so groot
probleem vir die kerk van die Here in hierdie tyd is. Ons leef in ’n wêreld wat
al hoe meer vyandig is teenoor die Christendom. Die samelewing verwag al hoe
meer van die Christene om aan te pas by wêreldse standaarde, om praktyke wat
die Bybel ons leer sondig is, te aanvaar.
Ons
leef in ’n wêreld wat die valse teenstelling maak tussen geloof en wetenskap en
wat van ons verwag om die kern van ons geloof (Jesus wat as Seun van God vir
ons sondes gesterf) te versaak. Ons leef in ’n wêreld wat van ons verwag om die
Christelike geloof te sien as net nog een van die vele wêreldgelowe en dat dit
op gelyke voet daarmee staan. Hiervolgens het die Christelike geloof nie die
enigste bron van waarheid nie, maar het ons net ’n stukkie van die groter
waarheid beet. Die valse leer dat Jesus nie die enigste verlosser is nie en ook
dat Hy nie God is nie. Die valse leer dat God maar net ’n onpersoonlike mag is
wat geen invloed op hierdie wêreld het nie. Dat die mens in homself oor die mag
besit om sy eie saligheid te bewerk. Die hele beweging wat elemente van die
Oosterse spiritualiteit soos meditasie in die kerk inbring. Die valse leer dat
die Bybel nie die Woord van God is nie, maar dat dit slegs ’n menslike geskrif
is van die mens se nadenke oor God. Die hele gedagtegang dat daar nie iets soos
sonde is nie en dat ons maar net wêreldse liefde en vrede moet najaag en dat
die mens dit self sonder God kan bereik.
Maar
nog nader. Ons is so geneig om te dink dat hierdie dinge daar buite en ver van
ons is. Dit is egter nader aan die lyf as wat ons dink. Daar waar ons binne ’n
beroep staan en daar soms van ons verwag word om ons beginsels prys te gee om
die besigheid se belange op so ’n onetiese manier te bevorder. Daar waar mense
binne die kerk is wat wêreldse praktyke soos saambly in die plek van die
huwelik stel. Jong mense wat met dwelms eksperimenteer en hulself blootstel aan
okkultiese invloede wat daarmee gepaard gaan. Die misbruik van drank kom
algemeen voor en selfs kinders is daarby betrokke.
Die
Here waarsku ons baie ernstig teen hierdie wanpraktyke en sy oordeel daaroor
sal nie uitbly nie soos ons hoor in Open 2v22 en 23:
Kyk, Ek gee haar aan ’n siekbed oor, en die mense wat met haar
owerspel gepleeg het, aan swaar lyding—as hulle hulle nie van haar praktyke
bekeer nie. Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal
al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van
die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.
Vir
die wat getrou aan die Here is en nie deel in die vermenging van die wêreld se
valse godsdiens nie troos die Here. Elkeen wat vashou aan die Bybelse leer dat
Jesus nie net nog een van die Verlossers is nie of selfs dat Hy die hoof
Verlosser is nie, maar bly by die waarheid dat Hy die enigste Verlosser is,
ontvang die belofte dat hulle die verleiding van hierdie wêreld sal oorwin en
dat hulle die môrester as prys sal ontvang. In Open 22v16 hoor ons:
“Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die
gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is
die helder Môrester.”
Ons
ontvang die troos dat ons deur Jesus, wat die helder Môrester is, ware
gemeenskap met God hê
Pasop
vir die valsheid in die kerk wat deur die verleiding van hierdie wêreld kom en
hou vas aan die waarheid dat Jesus die enigste Verlosser is wat ons met God kan
versoen.
Amen