26 Oktober 2025

Waar was God toe dit gebeur het?

 


Psalm 22 

Teksvers Ps. 22:2

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

Waar was God toe dit gebeur het? Waar was God toe die inbrekers ons in ons huis oorval het? Waar was God toe die ongeluk gebeur het? Hoekom het Hy dit nie gekeer nie? So is daar so baie situasies in ons lewe wat aanleiding gee tot hierdie vrae. Elkeen van ons beleef op een of ander stadium die ellende van die lewe en dit is een van die tergendste vrae wat daar oor die lewe is. Hiermee saam probeer die satan ons oortuig dat God nie omgee nie.

Waar was God toe dit gebeur het? Dit is ’n vraag wat deur al die eeue heen maar net dieselfde bly. Die omstandighede wat aanleiding tot die vraag gee het dalk verander, maar die noodroep bly dieselfde. Ons weet nie wat Dawid se omstandighede was toe hy Psalm 22 gedig het nie. Moontlik was dit toe hy vir sy lewe moes vlug toe Saul hom wou doodmaak. Moontlik daardie keer toe sy eie seun Absolom sy troon wou afneem. Ons weet nie, maar wat wel duidelik in die Psalm is, is dat dit die dieptes van ellende beskryf wat Dawid op ’n stadium ervaar het.

Die diepste nood wat ’n gelowige kan beleef is die ervaring dat God ons verlaat het. Dit is die ervaring wat Dawid verwoord in Ps. 22:2

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

Ons hoor hierin sy intense pyn wat hy beleef het. Die God wat my God is. Die God met wie ek ’n persoonlike verhouding het, het Hom van my onttrek. Hy was nie daar toe ek Hom nodig gehad het nie!

Sy teleurstelling is nog meer intens as ons luister na wat sy voorvaders beleef het in soortgelyke omstandighede soos ons hoor in Ps. 22:5

Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered

Sy ervaring is egter presies die teenoorgestelde. Hy voel soos ’n wurm, ’n voorwerp van bespotting. Sy situasie is so hopeloos dat mense vir hom lag en met hom spot omdat hy in sulke omstandighede nog steeds aan die Here bly vashou. As hy dan so baie van die Here hou, laat Hy hom dan red. So klink die spotstem van hulle wat op hul eie vermoëns staatmaak.

Tog het hy in die verlede ervaar dat God daar is. Dis dan God wat hom sy eerste lewenslig laat sien het en van sy geboorte by hom betrokke was. Dit is wat sy lyding soveel erger maak. Dit voel vir hom of God hom in die steek gelaat het.

Dit is wat lyding aan ’n mens doen. Dit laat jou voel of jy so weerloos is soos water wat uitgestort is. Dis asof jou bene uitmekaar val en jou hart so sag soos was word. Dit voel vir jou of jou lewe net so min as ’n potskerf werd is soos ons hoor in Ps. 22 v 16.

Ek is so min werd soos 'n potskerf,

my tong kleef aan my verhemelte,

U laat lê my asof ek dood is.

Hierdie beeld wat die digter gebruik, verwys na die erdepotte wat destyds in Israel gebruik is. Solank die erdepot heel is, is dit nuttig omdat mens allerlei goed daarin kan bere. Maar as dit gebreek is, is dit niks werd nie. Al wat mens met die stukkende potskerwe kan doen wat oorbly is om dit weg te gooi. Dit is wat lyding doen. Daardie gevoel dat God my in die steek gelaat het en dat ek nikswerd is nie. Groter nood kan geen mens hom voorstel nie.

Wat doen mens wanneer jy in so ’n situasie verkeer? Wat het Dawid gedoen? Ten spyte van sy negatiewe ervaring, vlug hy nog steeds na God toe, want hy weet daar is niemand anders wat kan help nie. Ps. 22:12 – 22 beskryf sy gebed om hulp. Hy beskryf sy lyding in beeldryke taal. Sy vyande is soos wilde beeste uit Basan wat hom omsingel. Hulle is soos verskeurende brullende leeus wat op hom afstorm.

Wat doen mens wanneer jy in so ’n situasie verkeer? Jy wend jou na God toe in gebed en jy stort jou hart teenoor Hom uit. Jy beskryf vir Hom presies hoe jy voel. Al jou emosies van woede en vrees stort jy voor die Here uit. Dit help nie om die emosies wat jy ervaar te onderdruk nie, want hulle is daar. Die Here verstaan dat jy so voel en daarom kan en moet jy dit vir Hom vertel.

Psalm 22 beskryf die intense lyding van ’n mens wat swaar gely het, maar dit beskryf ook sy dank teenoor die Here wat hom van sy smart verlos het. Alhoewel dit vir Dawid gevoel het dat die Here hom in die steek gelaat het en dit soms vir ons ook so voel, is die werklikheid dat daar net een mens in die hele geskiedenis van die mensdom is wat werklik deur God verlaat was.

In Mat 27:45-46 hoor ons hoe Jesus uitroep

45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

God is al deur die eeue ontelbaar baie keer aangeroep met die klag: “My God, waarom het u my verlaat?” Waar was God toe dit gebeur het? Maar tog was hierdie klag nog net een keer waar, naamlik toe Jesus dit aan die kruis uitgeroep het.

Hierdie middelste van sewe kruiswoorde is die dieptepunt van Jesus se lyding. Dit volg na drie ure van duisternis en stilte waar God en mense geswyg het. Wat het in daardie drie ure gebeur? Die Seun van God het die ewige dood van Godverlatenheid gely. Daarom kan elkeen wat glo in die verlossing van Jesus Christus verseker weet dat hulle nooit weer Godverlatenheid sal ervaar nie. Daarom kon Dawid ook in hierdie gebed waar hy sy ellende in gebed teenoor God verwoord, in die laaste gedeelte God ook dank vir die verlossing wat Hy gee.

Waar was God toe dit gebeur het? Hy was daar! Dit is Hy wat jou deur die krisis gedra het! Dit is Hy wat by jou is waar jy midde in die krisis staan. Dit is Hy wat die uitkoms gegee het. Dit is Hy wat jou vashou wanneer die aanslae van die lewe op hulle felste op jou afstorm. God is daar.

Ons moet verstaan dat God ons nie altyd uit die situasie neem nie. In hierdie wêreld is ons nog steeds onderwerp aan die gevolge van sonde. Die diepste nood wat ’n persoon kan ervaar, is om van God vervreem te wees. Dit is wat Jesus kom herstel het. Dit is wat Jesus kom herstel het. Met sy kruisdood en opstanding, het Hy die gebroke verhouding tussen God en mens herstel. Ons is egter nog in die wêreld en ons voel nog die nagevolge van die mens se opstand teen God. Ware vrede is nie om vry te wees van moeilike omstandighede nie, ware vrede vind ons in die teenwoordigheid van God.

Wanneer ons in moeilike omstandighede beland voel dit soms of God nie daar is nie, maar Hy is daar en dit is wat Dawid op die uiteinde ook besef het, naamlik dat God ook midde in sy moeilike omstandighede daar was. Daarom verklaar Dawid dat hy voor almal sal getuig wat God vir hom gedoen het en dit is waaroor ons ook moet getuig. Jesus het die skeidsmuur wat sonde tussen ons en God geplaas het, weggeneem en daarom kan ons verseker wees dat God ons nooit alleen sal laat nie. Deur sy Gees is Hy elke oomblik van elke dag by jou. Ons verstaan nie altyd hoekom sekere omstandighede oor ons pad kom nie, maar ons moet vertrou dat God in beheer is en dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.

In Ps. 22:28-29 hoor ons

Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer.

Alle volke sal Hom as koning erken, want die koningskap behoort aan die Here; Hy heers oor die volke.

Hier sien ons dat God besig is om die gebrokenheid van die sondige wêreld te herstel. Dit is die lewende hoop waaraan ons vashou. Daar kom ’n tyd waar ons nie meer aan die ellende van hierdie wêreld onderwerp gaan wees nie. Dit gee ook vir ons ’n perspektief op die huidige werklikheid waarin ons leef. Selfs die gebrokenheid van hierdie wêreld is nie groter as God nie. Wat is die ergste wat die ergste wat met ons kan gebeur in hierdie lewe? Ons kan ons lewe verloor en selfs wanneer dit gebeur, is God steeds daar. Die liggaamlike dood is nie die einde nie, maar slegs die begin van ’n ewigheid saam met God. Daarom hoef ons ook nie die dood te vrees nie.

Waar was God toe dit gebeur het? Hy is daar. Hy laat ons nooit alleen nie, selfs al voel dit soms of Hy nie daar is nie. Wanneer dit voel of God jou verlaat het, neem steeds jou toevlug tot Hom. Jesus het eenmaal ware Godverlatenheid ervaar sodat elkeen wat in Hom glo nooit weer sonder God sal wees nie. Wanneer die lewe vir jou te veel word, stort jou hart teenoor Hom uit en weet dat Hy daar is en dat Hy jou nooit alleen sal laat nie. Selfs al gebeur dit dat jou lewe geneem word is Hy steeds daar.

Wanneer jy in jou nood na God toe vlug en nie weg van Hom af nie sal jy ’n nuwe perspektief daarop ontdek sodat jy Hom selfs midde in jou nood kan loof en prys. Hou in vertroue vas aan God se genade en weet dat Hy daar is, selfs al voel dit nie altyd so nie.

Amen

19 Oktober 2025

By Jesus is dood nie regtig dood nie en daarom kan ek ook lewe

 

Joh. 11:1-44; Teksverse – Joh. 11:25 & 26

Wat is lewe? Wat is ware lewe? Wat is dood en wat veroorsaak die dood? Lewe, dood, twee begrippe wat onlosmaaklik deel is van elke mens se bestaan. Met hierdie verhaal van Lasarus verduidelik die Here vir ons wat dit beteken om waarlik te leef en wat veroorsaak dood.

Jesus was besig om die mense te leer toe Hy die ontstellende berig ontvang dat sy goeie vriend Lasarus siek is. By die aanhoor van die nuus tree Jesus baie vreemd op. Hy verklaar dat die siekte nie op die dood sal uitloop nie, en Hy is ook nie juis haastig om na Lasarus toe gaan nie!

Wanneer Jesus uiteindelik by Lasarus en sy susters uitkom groet Marta met so half verwytend: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.” Sy glo, maar tog is dit nog net ’n teoretiese abstrakte geloof wat nog nie werklik ’n impak op haar lewe het nie. Toe Jesus die graf wou oopmaak waarsku sy: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Vir haar is die opstanding van haar broer net ’n teoretiese geloofsaak wat nie praktiese implikasies in haar lewe het nie.

Voel ons nie ook dikwels so nie? Ons bid tot die Here en dan wag ons en ons wag. Dit is dan wanneer ons die fout maak om te dink dat God nie omgee nie. Soms sê ons ook dat ons God vertrou, maar dit bly maar net ’n teoretiese saak wat nie werklik ’n impak op ons lewens het nie.

Dit is dan wanneer ons moet verstaan dat God besig is met iets wat beter is as wat ons nou vra en dat ons ook moet vertrou dat Hy wel uitkoms sal gee. Ons moenie vra en dan dink dit sal nie gebeur nie. Soms moet ons wag op die Here met die wete dat sy vertragings met sy seën gepaardgaan. Toe Jesus die berig van Lasarus se siekte ontvang het Hy vir sy dissipels gesê

“Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

Hiermee verduidelik Jesus dat die opwekking van Lasarus wys op die betekenis van sy se eie opstanding uit die dood. Sy dissipels het gehoor dat Lasarus se dood ’n groter doel gehad het, maar Marta en Maria het dit nie geweet nie. Hulle moes net vertrou en geduldig op die Here wag.

Wanneer Jesus by Marta kom verstaan sy nog steeds nie toe Hy vir haar vertel dat Lasarus gaan opstaan uit die dood nie. Sy glo in ’n opstanding wat eendag daar ver teen die einde gaan plaasvind. Jesus sê vir haar egter vir haar dat dit nou gaan gebeur, maar nog steeds verstaan sy nie. Dan sê Jesus vir haar:

“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

Hierin lê ’n geweldige troos vir elke gelowige met die versekering dat ek sal lewe al het ek gesterwe as ek in Jesus Christus glo. Dit sê ook vir my dat as ek eers die ewige lewe ontvang het, dat ek dit nooit in alle ewigheid weer sal verloor nie.

Jesus se “Ek is” uitspraak is baie belangrik. Marta se stelling dat sy in die opstanding glo is vir haar nog net ’n abstrakte begrip sonder dat dit nog werklik betekenis vir haar het. Jesus stel dit as ’n feit wat met Hom as persoon geïdentifiseer word. Hy sê nie dat Hy die dooies sal laat opstaan nie. Hy IS die opstanding want Hy is die lewe. Hy beklemtoon dat die mens alleen onsterflik kan wees deur onlosmaaklik in geloof aan Hom verbind te wees. Teenoor die Fariseërs wat die opstanding aan die einde verkondig, kom sê Jesus nou ook dat ons deur Hom die opstanding en lewe in die hede kan ervaar. Dit kan nie deur die dood vernietig kan word nie. Lewe bly gebonde aan Jesus Christus deur geloof. Elkeen wat glo in Jesus, betree die ewige lewe en sal geestelik in alle ewigheid nooit sterwe nie.

Voordat Jesus vir Lasarus opwek gebeur daar egter eers iets baie belangriks. Jesus huil! Die Jode wat daar was het gedink dat Jesus hartseer was omdat Lasarus gesterf het. Maar dit is nie hoekom Jesus gehuil het nie. Hy het tog geweet dat Hy binnekort vir Lasarus gaan opwek. Jesus se trane wys vir ons dat Hy omgee vir ons hartseer en pyn in die lewe. Hy is nie ongevoelig vir ons swaarkry in die lewe nie.

Jesus huil oor die sonde wat soveel ellende in die lewe veroorsaak. Hy huil oor die sonde wat ons so maklik in ’n doodloopstraat laat beland. Jesus huil oor my sondes! Jesus huil omdat Hy mens geword het en dat Hy daarom weet wat se hartseer ons in die lewe ervaar. Jesus huil vir ons en ook saam met ons!

Dan bewerk Jesus die wonderwerk van Lasarus se opstanding toe Hy met ’n harde stem roep” “Lasarus kom uit!” Die wonder lê nie daarin dat Hy Lasarus wat al vier dae dood was weer lewend gemaak het nie, want Lasarus sou tog weer liggaamlik sterf.

Die wonder is dat Jesus die mag het om die ewige lewe te gee aan elkeen wat in Hom glo. Vir die ongelowige beteken die dood die einde, maar iemand wat in Jesus glo, bly lewe al het hy ook fisiek gesterf.

Omdat Jesus vir ons sê “Ek is die opstanding en die lewe” kan elkeen wat in Hom glo sê:

·       Ek is vergewe

·       Ek is weer heel gemaak

·       Ek is weer herstel as God se kind

·       Ek is weer vry van die slawebande van die sonde

·       Ek is weer lewendig en ek lewe ’n lewe van oorvloed

·       Ek is beskerm

·       Ek is geliefd

·       Ek is voorspoedig

·       Ek is ’n oorwinnaar

·       Ek is geseënd en

·       Ek is ’n seën vir ander.

In die plek van hopeloosheid het ek hoop vir die toekoms omdat ek weet dat die toekoms in God se hand is. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek weet dat God my nooit alleen sal laat nie. God sal my nooit eenkant gooi en van my vergeet nie. Die tydelike hartseer wat ek in hierdie lewe ervaar sal verander in vreugde omdat ek weet dat ek ewig saam met God is.

Die opwekking van Lasarus wys op die betekenis van Jesus se eie opstanding uit die dood en die groot betekenis wat dit vir ons het wat in Jesus Christus glo. By Jesus is dood nie regtig dood nie en daarom kan ek ook lewe. Solank as wat dit egter net ’n teoretiese geloof is, hou dit nog nie veel troos in nie. Kom ons gryp Jesus se verlossing met geloof aan sodat die lewe wat daar in Hom en sy opstanding is prakties deel van my lewe kan word want by Jesus is dood nie regtig dood nie.

Amen


12 Oktober 2025

Hoekom is daar lyding en boosheid in die wêreld?

Struikelblokke op ons pad van geloofsgroei –

Hoekom is daar lyding en boosheid in die wêreld?

1 Pet. 1 v 3 tot 9 teksverse 1 Pet. 1 v 6 & 7a
 

Iets wat nie groei nie, is besig om dood te gaan. So is dit ook met jou verhouding met God. As daar nie geloofsgroei is nie, is jou verhouding met God besig om agteruit te gaan. Wanneer ons praat van geloofsgroei dan beteken dit eenvoudig om God beter te leer ken om sodoende nader aan God te beweeg.

Een van die struikelblokke op die pad van geloofsgroei is die moeilike vraag “hoekom is daar soveel lyding en boosheid in die wêreld teenwoordig?” Hoe kan ’n liefdevolle God toelaat dat daar soveel lyding in die wêreld is? Waarom laat Hy toe dat ouers ’n onskuldige driejarige kind so verwaarloos en mishandel dat sy doodgaan? Waarom laat God toe dat ’n natuurramp duisende mense se dood veroorsaak?

Hoekom keer God nie daardie selfmoord bomaanvaller wat onskuldige mense met sy aanval teiken? Hoekom laat God toe dat ek deur ’n ongeneeslike siekte afgetakel word? Hoekom laat God toe dat my geliefde stelselmatig deur so ’n verskriklike Altsheimers siekte vernietig word?

Vir sommige mense is dit so ’n groot struikelblok dat hulle heeltemal wegdraai van God af. En dan redeneer hulle: As God liefdevol is, sal Hy nie wil hê dat onskuldige mense ly nie. As Hy almagtig is sal Hy sy almag gebruik om lyding te keer. As daar ’n liefdevolle en almagtige God is soos die Bybel ons leer, dan behoort daar nie lyding in die wêreld te wees nie.

Daar is egter lyding in hierdie wêreld en daarom kan die God wat die Bybel aan ons voorhou nie bestaan nie. So redeneer hierdie mense.

Dit is inderdaad ook ’n baie moeilike vraag vir gelowiges om te beantwoord. Hoe beantwoord jy as gelowige die aanklag dat God nie omgee nie of dat Hy nie in staat is om lyding te keer nie? Die maklike manier is om ’n kop in die sand benadering te volg deur bg. vraagstuk te systap. Die probleem met hierdie benadering is dat dit die ou duiwel ’n geleentheid gee om jou geloof aan te val, veral wanneer jy op jou kwesbaarste is. Veral daar waar jy die aanslag van lyding en boosheid persoonlik aan die lyf voel. Wanneer die lewe om jou donker word en jy binne in die storm staan, tik die ou duiwel jou op die skouer en sê: “Sien jy. Kyk na die gemors waarin jy nou is. Voel jy die pyn? Ek het jou mos al gesê, jy kan God nie vertrou nie. Hy gee nie vir jou om nie. Hy kan jou nie help nie. Dit is beter om van Hom af weg te draai.”

Waar vind ons antwoorde op hierdie moeilike lewensvrae? Daar is net een plek waar jy antwoorde kan vind. By God self in sy Woord. Wat sê God vir ons oor hierdie onmoontlike vraagstuk? Hoe kan God liefdevol en almagtig wees en nie lyding dadelik tot niet maak nie? In ons teks gee God vir ons ’n antwoord op hierdie moeilike vraag. In 1 Pet 1 v 6 hoor ons:

selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings

God kan keer dat lyding plaasvind, maar Hy laat dit net vir ’n kort tydjie toe. Binne sy almag en raadsbesluit laat Hy soms lyding toe vir ’n kort tydjie. In die perspektief van God se ewigheid is lyding inderdaad net ’n kort tydjie.

Die vraag wat nog onbeantwoord is, is egter: “Gee God dan nie om nie?” Om hierdie vraag te antwoord moet ons kyk na wat God gedoen het. Hy het Homself aan die voorfront van lyding geplaas. In Jesus Christus het God die diepste diepte van pyn en lyding ervaar. Een ding is seker! God gee om. Hy gee soveel om dat Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Ons hoor in 1 Pet. 1 v 3 & 4 dat God se ontferming so groot is dat Hy ons ’n nuwe lewe geskenk het deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. En dit gee vir ons ’n ’n lewende hoop op ’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word.

As ons net so bietjie terugstaan om perspektief te kry. Wat is die ergste wat met jou hier op aarde kan gebeur? Dit is dat jy jou lewe kan verloor en selfs dit kan jou nie van God se liefde skei nie. Die dood is nie meer ’n hopelose einde nie. Dit is slegs ’n deurgang na ’n ewige heerlikheid saam met God. In 1 Pet 1 v 4 is die belofte dat die gelowige se erfenis onverganklik, onbesmet en onverwelklik is. Daar is dus niks wat dit ongedaan kan maak nie. Dit is ’n vaste sekerheid wat op God se karakter gewaarborg word.

In 1 Pet 1 v 5 hoor ons dat geloof die sleutel is om hierdie erfenis wat God belowe te kry. Die wonderlike troos:

En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.

In 1 Pet. 1 v 7 hoor ons dat jou geloof deur middel van lyding getoets word. Omdat geloof die sleutel is vir jou versoening en verhouding met God is dit selfs kosbaarder as goud en net soos die suiwerheid van goud met vuur getoets word, word die egtheid van jou geloof deur die vuur van lyding getoets.

Dit is hier waar die tekkie die teer slaat. Wanneer jy binne in die chaos van pyn en lyding staan moet jy bly glo dat God net jou beste belang op die hart dra. Jy moet glo en vertrou dat God in beheer is, veral wanneer dit vir jou lyk of alles buite beheer is. Jy moet God vertrou en jou ore sluit vir die aanklag van die duiwel wat jou probeer oortuig dat jy God nie kan vertrou nie. Hoe meer jy op God vertrou, hoe hegter word jou verhouding met Hom, veral wanneer jy nie die uitkoms kan sien nie.

Daar is kere waar ons kan sien hoe God se belofte dat alles ten goede meewerk waar is. Daar is egter ook baie kere waar dit nie duidelik is nie en dit is hier waar jou geloof en vertroue in God jou deurdra. Om te bly vertrou dat binne die groter prentjie van God se raadsplan dat selfs dit wat vir my sinneloos lyk steeds sin maak.

Dit is soos ’n legkaart te bou van derduisende stukkies. As ek net na die een of twee legkaart stukkies kyk wat hier voor my is, sien ek nie die geheel van die prent wat die legkaart vorm raak nie. God se legkaart is groter as die grootste legkaart waaraan ons kan dink. God se legkaart is groter as die heelal wat so groot is dat ons nie werklik die grote daarvan kan begryp nie.

Wanneer jy in geloof God vertrou, veral wanneer jy geen uitkoms kan sien nie, gee God die belofte dat jy met onuitspreeklike en heerlike blydskap vervul sal word. Dit bou jou verhouding met God en jy sal ervaar hoe God ’n werklikheid binne jou lewe is.

Geliefdes, moenie dat jou geloofspad saam met God belemmer word deur die vraagstuk van lyding nie. Moenie val vir die duiwel se leuen dat jy God nie kan vertrou nie. Hou jou oë op die kruis en opstanding van Jesus Christus. Bly glo dat God in beheer is en jy sal ervaar hoe jy op jou geloofspad nader aan God beweeg.

Amen


05 Oktober 2025

Liefde vra opoffering!

 Dit is egter die moeite werd, want dit wat jy terug ontvang is baie meer as wat liefde jou kos.


Teks 1 Joh. 3 v 11 – 24

Teksverse 1 Joh. 3 v 11, 16 & 23

GK BSH & RB 5 Okt. 2025

Die Here sê vir ons dat ons mekaar moet liefhê, maar liefde is nie altyd wat ons dink dit is nie. As jy nie weet wat liefde is nie, is dit onmoontlik om God se liefdesgebod te gehoorsaam en daarom is dit belangrik dat ons seker moet maak dat ons weet wat liefde werklik is. Aangesien God liefde is, is sy lewende Woord die enigste betroubare bron om te leer wat liefde is.

In ons teks leer God ons wat liefde werklik is. Liefde is nie maar net ’n emosie wat mens lekker laat voel nie. Liefde is totaal anders as wat die wêreld as liefde voorhou. Die wêreld definieer liefde as dit wat jy ontvang en daarom moet jy seker maak dat jy soveel as moontlik moet ontvang, selfs al is dit nodig om moord te pleeg daarvoor soos wat Kain gedoen het.

Ware Godgegewe liefde is egter radikaal anders. Dit is nie wat jy ontvang nie, maar dit wat jy gee. Liefde is “doen”! Liefde vra opoffering.

Om liefde te gee gaan jou baie duur kos!

Waarom sou mens liefde wou gee as dit jou so duur gaan kos? Want om liefde te gee is om te lewe. Indien jy nie liefde gee nie bly jy in die doodsheid van die sonde. Dit is egter die moeite werd om die prys te betaal wat liefde vra, want dit wat jy terug ontvang is baie meer as die prys wat liefde jou kos.

In 1 Joh. 3 v 12 tot 15 hoor ons wat liefde nie is nie. In vers 12 hoor ons hoedat Kain se afguns en jaloesie daartoe aanleiding gegee het dat hy sy broer vermoor het. Kain se afguns het tot haat oorgegaan en haat het tot moord gelei. Haat is nie die teenoorgestelde van liefde nie. Haat is gebrek aan liefde. Liefde is lewe en daarom is haat dood soos ons hoor in 1 Joh. 3 v 14&15:

Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood.

Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.

In die voorafgaande verse het ons gehoor wat liefde nie is nie. Nou sê die Here vir ons 1 Joh. 3 v 16 wat liefde wel is:

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

Liefde is doen. Liefde vra opoffering. Liefde vra ’n duur prys! Om lief te hê vra dat jy jouself moet prysgee.

Jesus het die absolute prys van liefde betaal. Hy het meer as net sy lewe gegee. Hy het Homself gegee. Hy het mens geword en daarmee sy Godheid prys gegee. Hy het ook die grootste prys betaal, naamlik Godverlatenheid. Hy het die prys betaal wat geen mens ooit kan betaal nie.

Die liefde wat Jesus Christus aan ons bewys is die diepste grond van Liefde. Jesus openbaar hier liefde in volmaaktheid. Dit is om alles van jouself te gee teenoor Kain wat alles vir homself opgeëis het met die moord op sy broer.

Hierdie liefde wat Jesus aan ons bewys het, het Hy gedoen omdat Hy dit wou doen. Hy is nie gedwing om dit te doen. Hiermee word ’n belangrike eienskap van liefde openbaar. Dit is iets wat jy vrywillig moet gee. Dit is nie iets wat met dwang afgedwing kan word of gevat word nie.

Verder is liefde nie goedkoop nie. As jy liefde wil gee, moet jy verstaan dit is ’n duur prys wat gevra word. Die prys van liefde kan wees dat jy met jou lewe moet betaal. Nie net in die fisiese sin nie, maar ook in ’n geestelike sin. Om lief te hê vra dat jy die lewe van jou eie ek en selfsug moet prysgee. Liefde vra dat jy eers aan die behoeftes van jou broer of suster moet dink voordat jy aan jou eie behoeftes dink. Dit is soos die ma wat honger bly omdat sy die laaste stukkie kos vir haar kind gee.

In 1 Joh. 3 v 18 volg nou ’n baie konkrete voorbeeld uit die gewone daaglikse lewe van wat liefde werklik is. Wie aardse besittings het en gerieflik lewe danksy sy rykdom, maar raaksien en tog toesien hoe sy broer gebrek ly, is sonder gevoel vir hom.

Liefde is nie maar net ’n sentiment, ’n saak van mooi woorde of lippetaal nie. Solank as wat liefde nog net ’n voorneme of sentiment is, is dit nog nie werklike liefde nie. Liefde word werklik wanneer dit in dade wat in opregtheid gedoen word oorgaan. Jy begin eers werklik die vreugde van God se liefde in jou hart ervaar wanneer jy prakties begin liefhê. As jy ongevoelig is teenoor jou broeder, beroof jy jouself van God se liefde.

Hierin lê ’n groot geheimenis opgesluit. As jy ’n som geld in jou beursie het en jy begin dit uitdeel gaan dit minder word en as jy aanhou uitdeel gaan dit naderhand klaar raak. Hoe minder jy uitdeel, hoe meer geld gaan jy in jou beurs oorhou.

Met liefde werk dit egter anders. Hoe meer jy liefde uitdeel, hoe meer word God se liefde in jou lewe. As jy egter suinig is met die uitdeel van jou liefde word God se liefde in jou lewe al hoe minder.

Die volgende geheimenis is in hoe jy liefde ontvang. God verwag nie van jou om eers liefde uit te deel voordat jy ontvang nie. In 1 Joh. 4 v 19 sê Hy vir ons:

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.

God gee vir jou liefde en al Hy wat Hy vra is dat jy die liefde uitdeel wat Hy reeds vir jou gegee het.

Hoe kry jy deel in die liefde van God? In 1 Joh. 3 v 22 hoor ons jy kry deel daarin wanneer jy sy gebooie gehoorsaam.

wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind

Dit is hier waar mens so maklik die spoor byster raak deurdat vers 22 gelees word sonder om vers 23 in ag te neem en waar jy dan jou eie definisie byvoeg van wat dit beteken om God se gebooie na te volg. Wanneer jy dit doen dan volg jy die wêreldse pad van oordeel en haat.

1 Joh. 23 verduidelik wat die Here bedoel wanneer Hy sê dat ons sy gebooie moet gehoorsaam.

En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.

Ons hoor in vers 23 die hart van die Evangelie. Glo in God se Seun, Jesus Christus. Glo dat Jesus sy lewe vir jou afgelê het om jou te verlos van die slawebande van jou sonde. Glo dat Hy die dood oorwin het met sy opstanding en dat Hy daarmee aan jou die ewige lewe gee. Verdiep jou in die liefde van Jesus Christus. Sien raak hoe groot God se liefde vir jou werklik is.

Wanneer jy dit doen, dan sal jy beleef hoe God se liefde in jou hart brand en wanneer God se liefde in jou hart brand kan jy nie anders as om jou broers en susters lief te hê nie. Dit is soos om ’n pot water op ’n warm stoofplaat te plaas. Die water in die pot kan nie anders as om warm te word en naderhand te kook nie. Indien jy egter die pot van die plaat afhaal, dan word die water koud.

God se liefde vir jou in Jesus Christus is soos die hitte van die warm stoofplaat. Jou geloof in die evangelie van Jesus Christus is soos om die pot water op die stoof te plaas. Die uitdeel van God se liefde is soos die water wat kook.

Wanneer jy egter soos Kain die pad van vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns begin volg is dit soos om die pot van die stoof af te haal. Dan is dit nodig dat jy terugkeer na die evangelie van God se liefde vir jou.

Waar kry jy die geloofsoortuiging vandaan om in die evangelie van Jesus Christus te glo? God self gee dit vir jou deur sy Gees. Wanneer jy dus worstel om die prys te betaal om lief te hê, weet dat die Heilige Gees met jou besig is. As die Heilige Gees nie met jou besig is nie, sal jy nie omgee dat jy nie liefhet soos God van jou vra nie. God belowe ons dat Hy sy Gees gee aan elkeen wat vra. Bid dat die Heilige Gees ook in jou lewe werksaam sal wees.

Geliefdes, wat is liefde? Die bron van liefde is God, want God IS Liefde. Die wese van Liefde is Jesus Christus se liefdesdaad aan die kruis. Die opdrag van Liefde is dat ons mekaar moet liefhê.

Liefde vra opoffering! Betaal die prys van opoffering wat liefde vra, want dit wat jy terug ontvang is baie meer as wat liefde jou kos. God se liefde vir jou gee vir jou die ewige lewe. Leef daardie lewe met die uitdeel van God se liefde wat Hy so oorvloedig aan jou skenk.

Amen