Teks: Pred. 4v17 - 5v6; Ef. 3v14 – 20.
Teksvers Pred. 5v3
Liturgie
na Votum Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Slotsang Ps. 68 v 1 (OAB)
173 jaar gelede het ons
voorvaders ’n gelofte teenoor die Here afgelê. Daarmee het hulle ’n verpligting
op ons geplaas omdat daardie gelofte onder andere gemeld het dat: “ons ook
aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook
vir die opkomende geslagte” Alhoewel daar sommige van ons volkgenote is wat
daarteen rebelleer, bly ons gebonde aan daardie gelofte. Die Here waarsku ons
dat ons versigtig moet wees wanneer ons ’n vrywillige gelofte teenoor Hom aflê
soos ons hoor in Pred. 5v3:
As jy
aan God ’n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou
nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal.
Op ’n ander plek in Deut.
23V21-23 sê die Here:
21“Wanneer jy ’n gelofte
aflê teenoor die Here jou God, moet jy nie traag wees om dit na te kom nie,
anders sal die Here jou God jou tot verantwoording roep en sal jy skuldig wees.
22 Wanneer jy nie ’n gelofte aflê nie, sal jy nie skuldig wees nie, 23
maar as jy vrywillig ’n gelofte teenoor die Here jou God aflê, moet jy
versigtig wees met wat jy sê en moet jy die gelofte nakom.
Die vraag is nou of ons
daardie gelofte wat afgelê is nakom? Voordat ons dit kan doen moet ons net eers
kortliks weer gaan kyk presies wat die gelofte behels en wat daartoe aanleiding
gegee het. Wat het aanleiding tot die gelofte gegee?
Die Voortrekkers in Natal
het totale uitwissing in die gesig gestaar. Dit het met hulle bitter ellendig
gegaan.
• In Febr. 1838 is Piet Retief en sy afvaardiging
op ʼn verraderlike wyse deur Dingaan by sy kraal vermoor.
• Kort daarna volg die gruwel massamoorde
teen die hange van die Drakensberge: Moordspruit, Bloukrans,
Weenen.
• In April het
Piet Uys en sy seun Dirkie in ’n mislukte vergeldingspoging by Italeni
gesneuwel
• Om sake te vererger trek Andries Potgieter terug na Transvaal
• In Aug./Sept.
seëvier die doodsengel weer eens toe ’n maselepidemie die reeds moedelose en
verswakte Voortrekkers nog verder uitgedun het.
• Die kroon op
hulle ellende was toe die 41 jarige Gerrit Maritz op 23 Sept. aan die Klein
Tugela sterf.
Die Voortrekkers was nou
uitgedun, leierloos, moedeloos – ja, weerloos uitgelewer. Hulle het vir hulself
geen toekoms meer in die vooruitsig gestel nie. In sy voorsienigheid beskik God
dat die bekwame Andries Pretorius twee maande later (in Nov.) hom by die
Voortrekkers in Natal aansluit. Binne enkele dae het hy op baie bedrewe wyse
die hele situasie daar in Natal opgesom en besluit dat daar nie anders kan as
om in geloof teen Dingaan op te tree nie.
Dit word vertel dat toe
die boere kommando opgeruk het na die vesting van Dingaan, Sarel Cilliers en
Andries Pretorius volgens gewoonte alleen vooruit gery het. Dit was volgens
oorlewering by dié geleentheid terwyl hulle oor die gevare en probleme van hul
onderneming en die geweldige getalle oormag van die vyand gepraat het, dat
Sarel Cilliers aan die generaal voorgestel het dat hulle ’n gelofte voor die
Here God moet aflê – hulle moet hul krag van Hom alleen soek.
Op die aand van 7 Des 1838
is die gelofte die 1ste maal afgelê in die vorm van ’n erediens onder leiding
van Sarel Cilliers. Die gelofte kan kortliks soos volg uiteengesit word:
Die voorneme om ’n gelofte te
doen:
"Hier staan ons voor
die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen
Voorwaarde
dat as Hy ons sal beskerm
en ons vyand in ons hand sal gee,
Belofte
1) ons die dag en datum
elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring,
2) en dat ons 'n huis tot
sy eer sal oprig waar dit Hom behaag,
3) en dat ons ook aan ons
kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die
opkomende geslagte
Doel:- om aan God alleen die eer te
gee
want die eer van Sy naam
sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te
gee."
Die gelofte is daarna elke
aand herhaal en op Sondag 16 Des 1838 het God die onmoontlike moontlik gemaak.
Minder as 500 Boere kommandolede het ’n oormag van meer as 10 000 Zoeloe
krygers verslaan. Nie een van die boeremagte is gedood nie en slegs ’n paar het
ligte snywonde opgedoen. God het aan die noodroep van sy kinders gehoor gegee
en Hy het hulle beskerm en die vyand in hul hand gegee. Hiermee is egter ’n
verpligting op die nageslag van die verbondmakers geplaas.
Wat is die verpligting wat
op ons as die nageslag geplaas is? In kort dat ons moet herdenk dat die Here in
’n tyd van nood vir ons voorvaders uitkoms gegee het en dat ons dit aan die volgende
geslag moet oordra sodat die Here se Naam daardeur geëer kan word. Nou kom ons
weer by die vraag wat ons in die begin gevra het, het ons die verpligting van
die gelofte nagekom? As ons doodeerlik moet wees dan moet ons sê “NEE”. Dit is
eers na 1910 dat 16 Des. as ’n nasionale gedenkdag ingestel is. Tot watter mate
het ons werklik aan ons kinders oorgedra hoe God vir ons voorvaders in tyd van
nood gesorg het? Tot watter mate getuig ons lewens daarvan dat ons net van God
afhanklik is om vir ons te sorg? Gee ons met dit wat ons doen en sê die eer aan
God alleen? Nee geliefdes, ons lewens getuig eerder van rebelse opstand teenoor
God!
Toe Sarel Cilliers daardie
gelofte in die week voor die slag van Bloedrivier teenoor die Here afgelê het,
het die Here geweet dat ons nie 100% getrou gaan wees aan die beloftes wat
gemaak is nie. Ten spyte daarvan het Hy nog steeds in sy groot genade gehoor
gegee aan die pleidooi van die Voortrekkers, want Hy het lank reeds van sy kant
af ’n ewige verbond met sy uitverkore kinders aangegaan waarin Hy sy ewige trou
beloof het. Alhoewel ons nie getrou die beloftes kan nakom wat ons teenoor die
Here maak nie, is daar Een wat wel 100% getrou in alles is en was. In Heb. 3v1
& 2:
Daarom,
broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping,
moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof
wat ons bely. Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het
Watter troos kan ons
daaruit put? Toe die toekoms vir ons voorvaders donker gelyk het na die moord
op Retief, Andries Potgieter wat na Transvaal teruggetrek het en die dood van Maritz
het hulle, hulle krag in die Here en in sy groot mag gesoek (Ef. 6v10).
Hulle het deur die Heilige Gees krag ontvang om innerlik sterk te word.
(Efesiërs 3:16). Christus het deur die geloof in hulle harte gewoon en hulle
was in sy liefde gegrondves. (Efesiërs 3:17). Hulle was in staat om saam met al
die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus
gestrek het! (Efesiërs 3:18).
Hier is baie dinge wat die
toekoms vir ons ook donker laat lyk. Die ekonomie wat maar net nie op dreef wil
kom nie. Die dreigemente van ons plase wat deur herverdeling van grond afgevat
kan word. Regstellende aksie wat ons en ons kinders van loopbaangeleenthede
ontneem. Die golf misdaad en korrupsie wat so oor ons spoel. Ons kan en ons
moet net soos ons voorvaders ons krag in die Here en in sy groot mag soek. Ons
kan dit alleen doen wanneer ons deur die Heilige Gees krag ontvang om innerlik
sterk te wees. Ons kan dit alleen doen wanneer Christus deur die geloof in ons
harte woon en wanneer ons in sy liefde gegrondves is. Dit is eers wanneer ons
Christus soek vir wie Hy is en nie omdat hy net nuttig is vir die seëninge wat
Hy gee nie. Dit is eers wanneer ons Christus onweerstaanbaar vind net vir wie
Hy is dat ons werklik op God kan vertrou.
In wese behels die gelofte
dat ons, ons kinders van God se troue verbondliefde leer. God is getrou aan sy
verbond, daarom is daar vir ons hoop in ’n toekoms wat donker lyk.
Amen