19 Januarie 2012

As Jesus Christus ons verhoudings beheer sal ons mekaar opbou en nie afbreek nie.


Skriflesing Kol. 3v18 tot 4v1 Teksverse Kol. 2 v 13 & 14



Lit 27 Nov 2011 RB
 Ps. 92 v 1 na die Votum
 Ps. 119 v 7 na die wet
 Ps. 84 v 3 na gebed
 Ps. 133 v 1 en 2 slotsang

Hoe lyk ons verhoudings? Verhoudings is een ding wat alle mense in gemeen het en dit is ons verhoudings wat bepaal of ons gelukkig is of nie. Die stand van ons verhoudings bepaal die kwaliteit van ons lewens. ’n Mens se gesindheid oefen ’n groot invloed op die sukses van verhoudings uit. As ek ’n kritiese en veroordelende ingesteldheid het, dan sal dit ook in my verhoudingslewe deurskemer. Daar is niks wat so afbrekend is in ’n verhouding as ’n ingesteldheid van dat my goedkeuring en liefde vir jou bepaal word deur jou vermoë om aan my standaarde te voldoen nie. In kort kom dit daarop neer dat jy eers vir my moet wys dat jy goed genoeg is vir my liefde en aanvaarding.

Dit is veral binne ons naby verhoudings hier binne in die huisgesin dat so ’n gesindheid groot skade kan aanrig. Die verhouding van man en vrou, en ouers tot hulle kinders. Die opdrag aan vrouens om aan hulle mans onderdanig te wees beteken nie dat die vrou die man se vloerlap moet wees nie. Dit beteken dat die vrou die man se rol en posisie moet respekteer en dat sy dit nie vir hom moet moeilik maak om sy rol in die gesin te vertolk nie. In Spreuke 25v24 hoor ons:
Liewer bo-op ’n dak woon as saam met ’n twisgierige vrou onder een dak.
’n Vrou wat heeltyd krities is teenoor haar man se doen en late kan die lewe vir hom hel maak.

Aan die ander kant moet die man ook nie sy magsposisie misbruik om sy vrou sleg te behandel nie. In die meeste gevalle in vandag se samelewing is die vrou nog steeds net so afhanklik van haar man as wat vrouens in die destydse samelewing was. Mans moenie so teenoor hulle vrouens optree dat hulle begin bitter word nie. Die man se opdrag is dat hy sy vrou moet liefhê. Dit beteken dat hy sy vrou se belange eerste moet stel. In Ef. 5v 25 hoor ons:
Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.
Broeders, is ons werklik bereid om ons lewens vir ons vrouens af te lê?

Kinders kry die opdrag om aan hulle ouers gehoorsaam te wees en aan die ander kant kry vaders die opdrag om nie heeltyd by kinders fout te soek sodat hulle moedeloos word nie. Die een ding wat kinders soek (en ons is almal kinders in hierdie opsig) is aanvaarding. Die grootste fout wat ons kan maak is om te dink dat ons net deur streng reëls waar ons op die hoogste standaard aandring en deur middel van konstante kritiek daardie standaard handhaaf liefde kan gee. Dit beteken nie dat daar nie huisreëls moet wees nie. Dit gaan daaroor oor hoe dit toegepas word. Ons liefde vir ons kinders moenie bepaal word deur hulle vermoë om reëls te gehoorsaam nie.

In ons moderne samelewing het ons nou wel nie meer slawe nie, maar tog is daar in ons teks sinvolle beginsels in die voorskrifte wat vir die slawe van destyds van toepassing was. Die dilemma vir slawe en eienaars het ingekom waar eienaars en slawe Christene geword het. Slawe is oor die algemeen net as besittings beskou en nou is hulle en hulle eienaars broers in Christus. Die beginsel wat hier na vore kom is dat ons, ons werk so moet doen asof ons dit vir die Here doen. In elke beroep waarin ons staan, is ons deur die Here daargestel en daarom moet ons, ons werk ook eerbaar doen. Die ander beginsel wat na vore kom is dat mense wat in ’n toesighoudende posisie staan billik moet optree teenoor die mense wat onder sy toesig staan. Die implikasie is dat ons teenoor ons ondergeskiktes moet optree soos wat ons verwag die Here teenoor ons moet optree.

Die probleem is egter dat ons dikwels in ons verhoudings baie krities en veroordelend optree en ons is aan beide die uitdeel en ontvang kant van kritiek en veroordeling in ons verhoudings. Die rede waarom dit so is, is omdat ons verhouding met die Here deur sonde versteur is. Ons diepste vrees is die vrees dat ons nie goed genoeg is nie. Dit is daardie vrees dat as ons geweeg gaan word en dat ons te lig bevind sal word en dit word ten diepste gedryf deur die sonde besef hier diep binne in ons. Wanneer ons aan die ontvangkant is in ’n verhouding wat deur kritiek en oordeel gedryf word kwyn ons naderhand weg, want maak nie saak hoe hard jy probeer nie, op die uiteinde is dit net nie goed genoeg nie. Daarom dat mens dikwels vind dat mense steeds bly vasklou in ’n verhouding waar die een party in die grond in vertrap word. Dit is daardie soeke na aanvaarding. As ek net nog so ’n bietjie gewig kan verloor sal my man of kêrel vir my lief wees. As ek net probeer om beter punte te kry sal my ma of pa vir my lief wees. Die probleem is dat ons naderhand moed opgee en of heeltemal wegkwyn of aan die anderkant heeltemal in rebelsheid reageer.

Ons skuldgevoel oor ons eie onbevoegdheid dryf ons egter ook dikwels om aan die uitdeelkant van oordeel en kritiek in ons verhoudings te wees. Dit kom daaruit oor hoe ons die Here in ons lewe ervaar. As ons nie die genade van God verstaan nie sal ons God as veroordelend ervaar en dan sal dit ook in ons verhouding met mense so deurskemer. As ons in ons verhouding met die Here heeltyd probeer om sy genade te verdien met goeie gedrag sal dit ook in ons verhoudings met die mense om ons deurskemer. As ons by daardie punt gekom het dat ons teen God se gesag rebelleer sal dit ook in ons verhoudings deurskemer. Dit is eers wanneer ons God se genade wat Hy deur Jesus Christus se soenverdienste aan die kruis vir ons gegee het verstaan en ervaar dat ons werklik verlos kan word van die slawebande van ’n veroordelende en kritiese gesindheid.

In Kol. 2v13 & 14 hoor ons:
13Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.
Dit is eers wanneer ons verstaan dat Jesus Christus al ons skuld weggeneem het, dat ons bevry word van ’n veroordelende of rebelse gesindheid. Want dan is ek nie meer in beheer nie, maar Jesus Christus is in beheer van my lewe. Wanneer Jesus Christus in beheer is van my lewe sal sy liefde ook in my lewe en in my verhoudings begin deurskemer.

In Spreuke 4v23 sê die Here vir ons:
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.
As my hart vol oordeel en kritiek is, word my lewe deur oordeel en kritiek gekenmerk. As my hart egter vol van liefde is, sal my lewe deur liefde gekenmerk word. In 1 Joh. 4v19 sê die Here vir ons dat ons kan liefhê omdat God ons eerste liefgehad het. God se liefde vir ons beteken dat Hy die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak het, deur dit aan die kruis te spyker. Daardeur het Hy dit vir goed weggeneem.

Hou met die geloof wat die Heilige Gees vir ons gee vas aan God se genade in die soenverdienste van Jesus Christus. Laat Jesus Christus ons verhoudings beheer, dan sal ons mekaar opbou en nie afbreek nie.
Amen

Volhard in geloof deur jou oë te vestig op Jesus Christus


Skriflesing:   Heb. 11 v 1 tot 12 v 3; Teksvers Heb. 12 v 1
Liturgie  13 Nov. 2011
na Votum Ps. 100 v 1 & 4  (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 1 & 5 (OAB)
Na gebed Ps. 40 v 4  (OAB)
Slotsang Ps. 146 v 1 & 3 (OAB)

Inleiding

Waar kry ons krag vandaan om enduit vol te hou in hierdie lewe? Daar kom tye in mens se lewe wat ons moedeloos raak. Die lewe raak net te veel en dan sien ek nie meer kans om aan te gaan nie. Ek stoei met siekte, finansies, die toekoms lyk vir my donker. Dit lyk of alles besig is om agteruit te gaan en ek weet nie of daar vir my en my kinders nog ’n toekoms in die land is nie. Die ergste is wanneer ek begin moeg raak in my geloofslewe. Ek voel nie meer lus om Bybel te lees nie. Daar gaan dae, selfs weke om dat ek nie bid nie en as wel die dag bid dan voel dit vir my leeg en sinneloos. Ek twyfel of God nog werklik vir my omgee.

In Hebreërs 12 v 1-3 gebruik die Here ’n wedloop as voorbeeld om vir ons te leer waar om krag vandaan te kry wanneer die lewe te veel word. Die wedloop wat hier beskryf word is nie maar net ’n gewone wedloop by ’n atletiek byeenkoms nie. Dit is nie ’n 100 m resies wat vinnig agter die blad is nie. Ons sou dit veel eerder met ’n Comrades maraton kon vergelyk. ’n Gewone maraton is 42 km lank. Die Comrades is twee keer so ver, ongeveer 90 km lank en dit staan bekend as ’n ultra maraton. Met ’n ultra maraton gaan dit nie soos met ’n gewone wedloop daaroor oor wie wen nie. Dit is in elk geval net ’n paar uitgesoekte atlete wat die vermoë het om ’n Comrades maraton te wen. Vir die res gaan dit eerder of jy die uithou vermoë het om die wedloop te voltooi. Kan ek vir 90 km hardloop om die eindpunt te haal? Dit is hoe die lewe is. Kan ek enduit volhou in hierdie lewe?

Waar kry ons krag vandaan om enduit vol te hou in hierdie lewe? In Heb. 12 verduidelik die Here vir ons waar ek krag kan kry om enduit vol te hou in die lewe. Om dit te verduidelik gebruik Hy die voorbeeld van ’n wedloop. Om ’n antwoord te kry op die vraag moet ons kyk na die wenners. Wenners in hierdie sin beteken diegene wat die wedloop voltooi het. Dan moet ons kyk na onsself en vir die antwoord moet ons kyk na Jesus Christus. In kort sê die Here vir ons: “Volhard in geloof deur jou oë te vestig op Jesus Christus.”

In die eerste plek, kyk na die wenners.

In Heb. 12v1 verwys die Here na ’n groot skare geloofsgetuies. Letterlik staan daar ’n groot wolk van geloofsgetuies. Die Griekse metafoor wat hier gebruik is verwys na ’n skare toeskouers wat in ’n atletiek stadion sit en wat soos een massa opstaan om die atlete aan te moedig. Hierdie toeskouers is die mense wat alreeds die geloofswedloop voltooi het en ons hoor van hulle in Hebreërs 11. Abel wat ’n beter offer as Kain gebring het. Henog wat in die hemel opgeneem is sonder om te sterf. Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses, die Israeliete wat droogvoets deur die dooie see gegaan het. Ragab die prostituut by Jerigo, Die rigters Gideon, Barak, Simson en Jefta. Dawid, Samuel en die profete en al die ander geloofshelde waarvan die name nie genoem word nie. Hulle het almal die wedloop van die lewe voltooi.

Dit is belangrik dat ons kennis moet neem dat hierdie mense wat as voorbeelde vir ons voorgehou word nie perfekte mense was nie. Dit wat uitgelig word is hulle geloof en vertroue in die Here en Hy hulle deur al moeilike tye gedra het. Dit is geloof wat hulle deur gedra het en dit is wat die Here vir ons sê. As Ek hulle deur die lewe gedra het, hoekom sal ek julle nie dra nie? Geloof beteken dat ons glo dat God ons ook deur die lewe en al sy moeilikhede sal dra net soos Hy al die geloofshelde van die verlede deur die lewe gedra het.

In die tweede plek, kyk na jouself.

In Heb. 12v1b se die Here vir ons:
laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding  hardloop
Hier moet ons so bietjie na onsself kyk om te bepaal wat dit is wat ons doen wat die lewe vir ons moeilik maak. ’n Atleet wat aan ’n wedloop deelneem gaan tog nie ’n sak vol swaar klippe saamdra nie, veral nie as daardie wedloop 90 km ver is nie! Wat is hierdie klippe wat ons saam met ons dra deur die lewe? klippe soos byvoorbeeld sorge, bekommernisse, swaarmoedigheid en moedeloosheid. klippe soos om ’n obsessie oor geld te hê of om jouself te haat omdat jy volgens jou mening nie mooi genoeg, slim genoeg of sterk genoeg is nie. klippe soos om op jouself gefokus te wees om net jouself raak te sien. ’n Kritiese gesindheid waar ek net die slegte in ander mense raaksien en net dit wat goed is in my eie lewe. Dan kla ek omdat niemand van my hou nie en hoe swaar dit is. Verkeerde vriende wat ’n swak invloed in my lewe het en my op ’n pad van verderf lei om maar enkele voorbeelde te noem. Hierdie dinge hang nou saam met sonde wat ons so maklik verstrik. Dit gaan nie veel sin maak om ’n lys te maak van hierdie sondes nie, want mens kan so maklik een of twee uitlaat of selfs sondes noem wat nie eintlik in hierdie omstandighede en tyd van toepassing is nie. Met so ’n lys verwys ons net na die simptome van sonde. Die eintlike wortel van sonde is ongeloof. In wese is ongeloof ’n gebrek aan vertroue in God. In kort moet ons gaan kyk wat dit in ons lewe is wat die lewe vir ons swaarder maak as wat nodig is. Daarmee saam moet ons, ons ongeloof dit wil sê die gebrek in vertroue aan God se sorg wat so dikwels in ons lewens na vore kom agterlaat.

Die vraag is nou hoe kry ons reg om te glo dat God ons sal help net soos Hy die geloofshelde van die Bybel en die tallose ander wat ons nie eens van weet nie, gehelp het. Hoe kry ons reg om daardie twyfel in God se sorg wat ons so verlam, neer te lê? Hoe kry ons reg om daardie sondes in ons lewens wat soos ’n swaar ysterbol met ’n ketting aan ons vasgemaak is, agterwee te laat. Hoe kom ons los van die dinge wat ons terughou in die lewe?

Ons moet na Jesus kyk!

In Heb. 12v1b en 2a sê die Here vir ons:
laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.
Jesus is die begin en die einde van ons geloof. Ter wille van ons het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins. Ons Here het vir ons die Nagmaal gegee om ons geloof sterk te maak. Net soos wat brood en wyn ons liggame voed, voed God deur sy Gees ons geloof wanneer ons Nagmaal gebruik. Die eindpunt van die wedloop waarmee ons besig is, is Jesus Christus. Ons geloof in Jesus Christus gee vir ons die krag om enduit te volhard. Dit help ons om nie geestelik moeg te raak en uit te sak nie. Kom laat ons nou met die gebruik van Nagmaal volhard in geloof en daardeur ons oë te vestig op Jesus Christus.
Amen

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is


Skriflesing:   1 Tess. 5 v 12 - 28
Liturgie  6 Nov. 2011
na Votum Ps. 18 v 1  (OAB)
Na Wet Ps. 38 v 1 & 17 (OAB)
Na gebed Ps. 33 v 5 & 11   (OAB)
Slotsang Ps. 133 v 1 & 2 (OAB)

Inleiding

Wat is ons reaksie op die genade wat ons van God ontvang? Ons vier volgende week as die Here wil weer Nagmaal waar ons weer op ’n sigbare wyse gaan sien hoe groot God se genade in ons lewens is. Ons gaan in die brood en die wyn sien hoe Jesus Christus vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout vasgespyker is. Ons het hierdie week geleentheid om ons voor te berei op Nagmaal. Dit behels onder andere dat ons opnuut weer nadink en besef hoe onmoontlik dit is om onself van die sondeslawerny te verlos. Verder ook dat ons weet waar ons wel verlossing van hierdie sondeslawerny kan vind en dan ook dat ons, ons opnuut weer voorneem om soos verloste kinders van God te leef. Rom. 12v1 som dit mooi op:
op grond van die groot ontferming van God: Gee  julleself aan God as lewende  en heilige  offers  wat vir Hom aanneemlik  is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Hoe gee ons onself aan God as ’n heilige offer? God gee vir ons in sy Woord baie praktiese riglyne hoe om dit te doen. Ons gaan vanoggend fokus op die riglyne wat Hy aan die gemeente in Tessalonika gegee het omdat dit ook vir ons gemeente van toepassing is. Eerstens net ’n kort agtergrond oor hierdie brief aan die gemeente in Tessalonika.

Agtergrond

In Handelinge 17 hoor ons dat die gemeente in Tessalonika tydens Paulus se tweede sendingsreis in Asië tot stand gekom het. Verder hoor ons ook dat Paulus nie baie lank in die gemeente kon preek nie. Dit was nie veel meer as drie weke voordat hy vir sy lewe moes vlug nie. In hierdie eerste brief aan Tessalonika hoor ons dat Paulus baie bekommerd was oor die welstand van die jong gemeente wat hy so inderhaas moes verlaat. Daarom het hy vir Timoteus gestuur om te gaan kyk hoe dit in die gemeente gaan. Timoteus het teruggekom met die blye berig dat dit baie goed gaan in die gemeente, maar dat hulle tog sekere geloofskennis ontbreek het. Hulle was veral onkundig oor die wederkoms van Jesus Christus en daarom fokus Paulus in die twee briewe wat hy aan die gemeente geskryf het om hulle baie spesifiek ten opsigte van die wederkoms te onderrig en dat alles wat hulle doen juis op hierdie Christelike hoop van die wederkoms gerig moet wees.

In die tweede helfte van die brief gee hy dan ook baie praktiese riglyne aan die gemeente hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus. In ons teks gedeelte vind ons ’n samevatting daarvan. Daarin leer ons (1) hoe ons optrede teenoor die ampsdraers in die gemeente behoort te wees; (2) hoe ons onderlinge verhoudings behoort te wees en (3) hoe ons verhouding teenoor God behoort te wees. Uit hierdie riglyne kan ons ook leer hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus. Wat behoort ons reaksie te wees op die genade wat ons van God ontvang? Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is.

Hoe moet ons optrede teenoor die ampsdraers wees?

U het heel moontlik die afgelope week besoek ontvang van u ouderling en indien nie sal u in die komende week deur hom besoek word. In 1 Tess. 12 & 13 sê die Here vir ons:
Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.

Slaan ag op die onderwysing wat hulle uit die Woord aan julle bring en wees dankbaar vir wat die bediening in julle lewens beteken. As dit nodig is dat ons deur hulle tereggewys moet word dan moet ons besef dat hulle dit in opdrag van die Here doen. As daar iets is in my lewe is wat nie reg is nie en die ouderling wys my daarop, dan moet ek besef dat die Here deur die ouderling met my praat. Wees dankbaar vir die werk wat die diakens doen en ondersteun hulle werk. Leef in vrede met mekaar saam. Moenie in ’n stryd met die ampsdraers van die gemeente betrokke raak nie.

Hoe moet ons onderlinge verhoudings wees?

Omdat ons die Here se persoonlike liefde ervaar behoort daardie liefde ook in ons onderlinge verhoudings sigbaar te wees. In 1 Tess 5V14-15 sê die Here dan ook vir ons hoe ons teenoor mekaar moet optree.
Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. Sorg dat niemand ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.
Ons moet op mekaar ag gee en verkeerde gedrag moenie goedgepraat word nie. In Tessalonika was daar ’n klomp mense wat onder die voorwendsel van die wederkoms opgehou werk het en so op hulle gelowiges begin teer het. Sulke gedrag was onaanvaarbaar.

Verder moet ons mekaar ook ondersteun. Daar kom tye in mens se lewe wanneer jy baie broos is weens verskeie omstandighede soos siekte, hartseer en sulke dergelike dinge. In sulke omstandighede moet ons mekaar ondersteun en daar wees vir mekaar. Die opdrag om met almal geduldig te wees wys ons weereens daarop dat ons optrede deur liefde vir mekaar gemotiveer moet word.

Moenie ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. As iemand ons te na gekom het dan moet ons hulle vergewe. Vergifnis beteken nie om die ander persoon net so seer te maak soos hy/sy my gemaak het nie! Ons moet mekaar se belange op die hart dra, met ander woorde ons moenie ons eie belange voorop stel nie.

Hoe moet ons verhouding met God wees?

In 1 Tess 5v16 – 22 sê die Here vir ons:
Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesië uitsprake van dié wat die boodskap van God verkondig, geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.
Ons moet blymoedig wees. Met ander woorde moenie altyd met ’n lang gesig rondloop asof die hele wêreld op jou skouers druk nie. Ons moet IN alle omstandighede dankbaar wees omdat ons weet dat die Here ons dra deur die moeilike tye. Dit is inderdaad soos ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely dat ons in voorspoed dankbaar moet wees en in teenspoed geduldig moet wees in die vaste vertroue dat Here alles ten goede laat meewerk.

Bid gedurig. Dit beteken nie dat ons heeldag op ons knieë moet wees nie, maar dat ons in alle tye biddend moet leef. Gebed is ons kommunikasie kanaal met God. Moet dit nie afskeep nie. Paulus vra ook in vers 25 dat die gemeente vir hom moet bid. Geliefdes bid julle gereeld vir julle dominee? Sonder julle gebede kan ek nie my werk behoorlik doen nie. Ons moet vir mekaar bid.

’n Verhouding sonder kommunikasie kan tog nie werk nie. Ons praat met God deur gebed, maar ons moet ook na Hom luister wanneer Hy met ons praat deur prediking en ook persoonlike Bybelstudie. Deur nie by die prediking uit te kom nie en ook nie Bybel te lees nie, staan ons die werking van die Heilige Gees teë, want die Gees werk deur die Lewende Woord van God. Die Gees werk nooit los van die Woord nie. Om aan die Here gehoorsaam te wees beteken dat ons doelbewus die goeie sal kies en wegbly van dit wat sleg is.

In 1 Tess 5v23 & 24 bid Paulus dan ook dat God die gemeente in die totaliteit van hul menswees sal bewaar sodat hulle onberispelik sal wees wanneer Jesus weer kom. Die verlossing in Jesus Christus is volmaak en daarom kan ons volkome vertrou dat Hy ons volkome sal verlos van die slawebande van die sonde. In vers 24 spreuk Paulus dan ook die vaste vertroue uit dat God dit sal doen omdat HY getrou is.

Slot

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is. Ons doen dit deur die leiding van die ampsdraers in die gemeente te respekteer. Ons doen dit deur mekaar in liefde te ondersteun en mekaar se belange te dra. Ons doen dit deur in ’n lewendige verhouding met God te leef deur in gebed met Hom te praat en om na Hom te luister in die woordverkondig en persoonlike Bybelstudie. Laat ons daarom op grond van die groot ontferming van God onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is.
Amen

Terwyl julle vashou aan die hoop wat God gee, moet julle die belange van julle gemeenskap bevorder!


Skriflesing:   Jeremia 29 ; Kernverse:Jeremia 29:5-7 en 10b
Liturgie  23 Okt. 2011
na Votum Ps. 146 v 1   (OAB)
Na Wet Ps. 130 v 1 & 2  (OAB)
Na gebed Ps. 31 v 1 & 3  (OAB)
Slotsang Ps. 146 v 3 & 8 (OAB)


Inleiding
Vir baie van ons voel dit nog vreemd om in hierdie nuwe Suid Afrika te lewe. Ons voel ook dikwels ontuis in die samelewing waar nuwe skokke, soos onbeheerste misdaad, verkragting en kapings, ons telkens tref. Daarom kom daar soms `n lam gevoel oor ons, `n gevoel dat ons dalk vreemdelinge in ons omgewing geword het. Is dit dalk amper soos die ballinge in Babel moes gevoel het? Wat daarby kom is dat ouderdom en `n ongeneeslike siekte ons ook laat vra: hoekom leef ek nog en wat is die sin daarvan as ek niks meer kan doen en my bewegings so ingeperk word?

Hoe moet ons hierdie situasie hanteer? Hoe kan ons die betekenis van hierdie tyd verstaan en hoe kan ons gemotiveer word om te lewe soos iemand wat voel sy/haar lewe is nog sinvol? Hierdie besondere hoofstuk aan die eerste groepie ballinge in Babel help ons vandag nog hiermee. Ons teksgedeelte kan eintlik so saamgevat word as `n tydige woord aan ons: Terwyl julle vashou aan die hoop wat God gee, moet julle die belange van julle gemeenskap bevorder!

Twee aspekte staan baie skerp uit:
·        Hou vas aan die hoop wat God gee!
·        Bevorder die belange van julle gemeenskap!

1.  Hou vas aan die hoop wat God gee
In hierdie hoofstuk is daar ’n warm briefwisseling tussen Jerusalem en Babel.

Jeremia skryf eers ’n lang brief en stuur dit saam met betroubare manne, Elasa en Gemarja, na die ballinge in Babel om hulle teen die valse profesie van die selfaangestelde profete te waarsku: name wat genoem word, is Agab, Sedekia en Semaja.

Semaja, ’n valse profeet in Babel, reageer skerp op Jeremia se brief deur te skryf aan die priester Sefanja, wat dissipline moes uitoefen in Jerusalem. Daarin vra hy dat die priester Jeremia moet stilmaak.

In ’n derde brief, een wat Jeremia skryf, reageer hy op Semaja se brief en waarsku dat God Semaja sal straf deur hom kinderloos te laat sterf. In hierdie preek val die klem op Jeremia se eerste brief aan die ballinge.

Wie was hierdie ballinge?

Dit was die eerste groep, leiers en belangrike en waardevolle persone, wat ongeveer in 597 vC, so tien jaar voor die val van Jerusalem en die vernietiging van die tempel in 586, na Babel weggevoer is. Hulle was nie té pessimisties oor die wegvoering nie, want die valse profete het hulle verseker dat hulle na twee jaar sal terugkeer. In Jerusalem het alles nog normaal gelyk, want ’n nakomeling van Dawid, Sedekia, was koning. In die stad het almal nog met hulle gewone lewe aangegaan en die tempel het gestaan en die offerdiens is onderhou. Hulle sou teruggaan, al moes hulle ’n rebellie teen die onderdrukkers in Babel voer, so het die valse profete hulle aangemoedig.

Jeremia kry berig van wat die gesindheid in Babel is en hy is hewig ontsteld oor die onrealistiese verwagting. Hy sê vir die ballinge en vir hulle valse profete wat God se woorde is. God sê: “Ék het julle weggevoer na Babel!” Die Here se manier van doen is dikwels vir ons met die eerste ervaring daarvan, vreemd en onverstaanbaar. Tog kan ons daaraan vashou dat Hy volkome in beheer van alles is, watter onaangename ervaringe ons ook al beleef.

Dieselfde God wat hulle weggevoer het, gee aan hulle ’n vaste belofte: “Ek sal presies oor 70 jaar vir Babel straf, julle onder my sorg neem en julle bymekaar maak en terugbring na julle vaderland.”

Die effek van Jeremia se brief is nie vertroostend nie, maar eintlik vernietigend vir die ballinge. Oor 70 jaar ... Nog 70 jaar hier! Die valse profete se boodskap is baie meer aanvaarbaar: oor 2 jaar! Dit kan nog, maar om te dink ek sien my ouers nooit weer, of my familie of my verloofde of my land of die tempel van die Here. Dan glo ek liewer die profete in Babel. Maar die Here leer dat die mense wat nou in Juda agtergebly het deur swaard, hongersnood en plae geteister sal word en ’n bespotting vir die volke sal wees. Hulle is soos slegte vye wat onbruikbaar is.

God weet wat Hy vir die ballinge beplan. Hy sê dit ook en in die “Ek weet wat Ek vir julle beplan”, word die “weet” baie sterk beklemtoon! Hy wil nie die ballinge seermaak nie, maar in die 70 jaar sy tug oor die volk uitoefen, ’n nuwe begin maak, hulle lei tot ware bekering. Daarom moet hulle vashou aan die hoop wat God gee. Hulle moet téén hoop óp hoop vertrou, soos wat Abraham dit gedoen het (oa toe hy op was om Isak te gaan offer). Sewentig jaar is kort in die oë van die Here, maar dit is die leeftyd van drie geslagte. Wie bly hoop en elke volgende geslag laat vashou aan die hoop, het ’n vaste punt van hoop. Die ballinge kan maar die tyd aftel: nog 40 jaar, nog 30, 20, 10, nog net vyf. Nou is dit die tyd! God sal hulle bymekaarmaak en terugbring op sy tyd. God bepaal die tyd waarop die hoop werklikheid sal word. Daar mag egter nie valse hoop wees nie.

Hoop is so belangrik vir die ballinge om te kan doen wat God hulle beveel.

God se beloftes is soos die saad van hoop wat klaar daar is, maar wat deur volharding moet groei en sterker word. Met die koms en sterwe en opstanding en hemelvaart van Christus het daar vir ons ook hoop aangebreek. Ons kan ook van 70 praat, maar dan nie letterlik nie. Tien en sewe was die volheidsgetalle in die Bybel en 10x7 is die tyd van volheid.

Ons hoop op die wederkoms is net so belangrik om te kan doen wat God ons beveel terwyl ons op aarde lewe. Hoop is om verseker te weet dat Christus wat reeds gekom het, wat sy belofte in die Ou Testament van die Messias wat sou kom, vervul het, dat hierdie Christus weer sal kom en alles nuut sal maak: Ons en die nuwe hemel en aarde. Wie nou voel hy/sy is in ballingskap mag vashou daaraan dat God verseker weet wanneer Hy sal kom om sy vyande te straf en ons by ons ewige bestemming uit te bring.

2.  Bevorder die belange van julle gemeenskap!
Terwyl die ballinge vashou aan die hoop, moet hulle die belange van die gemeenskap bevorder. Hulle moet dus die ballingskap aanvaar en nie net vol heimwee verlang na die ou dae nie.

Hulle moet bou en plant en kinders kry en vermeerder.

Hulle moet ’n gemeenskap bou wat na 70 jaar sterk in die geloof is, suiwer in hulle manier van lewe, en dan teruggaan na hulle eie land. By God werk dit dikwels so dat ’n geleentheid om ’n nuwe begin te maak, kan lei tot ’n sterk gemeenskap met vaste beginsels wat goed gemotiveer is. Toe die Israeliete Kanaän binnegegaan het, het hulle lande gekry wat reeds geploeg was, wingerde wat druiwe gedra het, olyflanings, huise wat klaar gebou was, maar hulle het hierdie gawes deur die eeue vertrap.

Nou moet hulle deur selfwerksaamheid ander karaktereienskappe ontwikkel. Hulle moet self plant en bou en so met die basiese dinge begin. God sal hulle beskerm en lei en selfs in die vreemde kan hulle, hulle huise aan Hom wy en die eerste vrugte van die oes aan Hom gee. Hulle kan kinders hê en ’n gesonde gemeenskap bou.

Die ballinge het merkwaardige vryheid gehad. Hulle kon vry beweeg, ’n normale lewe lei, behalwe dat hulle nie na Juda kon terugkeer nie. Hulle was die goeie vye! Deur hulle werk kan hulle die land van die Babiloniërs help herstel wat deur die lang oorlog teen die Assiriërs verwoes is. Die feit dat hulle kon trou, sonder dat hulle ouers (wat dalk agtergebly het) vir hulle vrouens gekies het, is simbool van hulle nuwe geleenthede wat hulle kan benut. Hulle kan ’n nuwe leefwyse begin!

Maar nie net plant en bou en kinders hê nie.

Hulle kan in die vreemde bid, en hulle móét bid vir die vrede en voorspoed van die stad. Dit is ’n absoluut merkwaardige opdrag en die enigste in die Ou Testament waar opdrag gegee word om vir vyande en ongelowiges te bid. In die Nuwe Testament beveel Jesus dit in die Bergrede, Paulus vra in Romeine 12:21: oorwin die kwaad deur die goeie (vgl ook Tit 3:1-3; 1 Pet 2:18). God bemoedig hulle om te bid en belowe Hy sal luister. Die volk het gedink God is nie in ’n vreemde land nie en jy kan Hom nie in die vreemde soek en tot Hom roep nie. Nou leer Jeremia hulle dat God grense deurbreek en dat die vreemde land nie noodwendig onrein is nie. As hulle die belange van die stad bevorder, is hulle tegelyk ook besig om hulle eie belange as nuwe geloofsgemeenskap te bevorder.

God se doel met die ballingskap was om hulle vir Hom af te sonder en sterk te maak, maar ook om hulle bloot te stel aan die vreemde om gevorm te word. Hulle kry daarby ’n missie om God se Koningskap in die vreemde te proklameer.

Wie hierdie opdrag uitvoer, ook in die omstandighede van vandag wat vir ons vreemd is, word bevry van selfbejammering en ’n passiewe gesindheid, negatief en nie lus om alles te gee nie. God gee aan hulle iets om voor te lewe, al weet hulle, hulle sal self nie lewend uit die ballingskap kom nie: hulle kan plant en bou en so entrepreneurs en ondernemers in die vreemde word. Hulle kan deur intensiewe voorbidding vir die heidense stad en die ongelowiges, hulleself geestelik verryk. As hulle die vestiging in Babel aanvaar, dan hou die Here sy verhouding met hulle in stand ten spyte daarvan dat hulle ver van die tempel en die heilige land af is.

Hulle kan bid, God soek en Hom vind.

Die klem verskuif van ’n formalistiese godsdiens na ’n intiem persoonlike verhouding met God. So leer hulle nuwe wyses van aanbidding om God in die Gees en in waarheid te aanbid.

Die wonder vir die opkomende geslagte is dat Jeremia hierdie beloftes op skrif gestel het. Sy brief kan bewaar word dwarsdeur die 70 jaar en elke keer weer moed aan die volgende geslagte gee.

Wat sê dit vir ons wat ná die koms van Christus lewe?

Die lyn van die geskiedenis loop so: Die ballinge het na ongeveer 70 jaar in die vreemde teruggekeer en in die stukkende land weer geplant en huise gebou, selfs die tempel herbou. Maar die bekering was van korte duur. In Maleagi se tyd is hulle maar weer die slegte vye.

Die ware tempel, die Christus Self, moes afgebreek word om te doen wat die ballingskap nie kon doen nie. Hy het met sy opstanding ware bevryding uit die ewige ballingskap van die dood gebring. Hy het selfs sover gegaan om elkeen wat in Hom glo saam met Hom uit die dood op te wek en saam met Hom laat opvaar na die hemel.

Maar Hy het ons nie onmiddellik ewig daar laat woon nie. Ons moes eers terug na die wêreld om ’n nuwe gemeenskap met Christus as Hoof te bou. Daarom is ek en jy hier, maar hierdie wêreld is nie ons woning nie. Ons het ’n lewende hoop dat ons òf by ons sterwe òf by die onverwagse wederkoms van Christus, onmiddellik by Hom sal wees.

Hierdie hoop moet ons vashou. Ons is nie bloot stof wat weer stof sal word nie. Ons het ’n ewige bestemming. Wie aan hierdie hoop nie vashou nie, sal in die grootste pessimisme en selfbejammering en verbittering verval.

Maar terwyl ons hierdie hoop vashou, moet ons die belange van ons samelewing bevorder. En ons het ’n ongemaklike samelewing. Dinge het drasties verander en ons worstel om te weet wat ons rol hierin is. Dalk is die misdaad- en verkragtingsberigte so neerdrukkend dat ons dink aan padgee uit hierdie land. Dan is die boodskap van Jeremia 29 steeds vir ons. Die Here se manier van doen is dikwels vir ons, wanneer ons dit op ’n nuwe manier ervaar, vreemd en onverstaanbaar, maar Hy is ook hierin altyd volkome in beheer.

Wat sê dit vir ons oor ons verblyf nou op hierdie plek? Twee dinge: Werk en hoop. Hou vas aan die hoop op Christus se koms en al die ander beloftes, veral die belofte dat die Heilige Gees ons sal lei. Maar bou en plant en bid en soek God en maak so jou aardse lewe vol betekenis.

·        Jongmense, God sal julle hier gebruik om entrepreneurs en kreatiewe denkers te wees, wat die belange van die hele land bevorder.
·        Ons hoogs bejaardes kan nog bid vir vrede en voorspoed, selfs vir wie hulle as God se vyande beskou. Hulle kan die boodskap van God se beloftes vir die volgende geslagte helder en duidelik oordra en so die volgende geslagte se hoop versterk.
·        Ons moenie net kritiseer nie, maar betrokke raak by die plekke waar daar geleenthede is, selfs by die plaaslike, provinsiale en landsregering.
·        Ons moet harder werk by ons werkplekke wat nou groter behoefte aan kreatiewe aksie en ondernemingskap het.

Want deur die belange van ons samelewing te bevorder, bevorder ons ook die belange van die kerk van Christus. Ons het immers die Heilige Gees om ons in alles te begelei. So kan ons meehelp om, waar land, werksplek en samelewing deur swak bestuur en korrupsie en ander faktore agteruitgegaan het, weer op te bou .

Hierdie nuwe begin, anders as waaraan ons gewoond was, sal tot versterking van ons persoonlike verhouding met die Here lei. Dit sal nuwe karaktereienskappe by ons ontwikkel en ons sal nie vassteek by heimwee na die verlede nie. Ons sal die kwaad deur die goeie oorwin.

Dit geld ook vir almal wat terminaal siek is: God laat daardeur sy krag, wat in ons swakheid werk, deurbreek en sigbaar word. En dit alles is nie soetsappige toesmeerstories nie. God het, soos met Jeremia se brief, dit alles vir ons in die Bybel gesaghebbend gegee.

Slot
God se beloftes is soos die saad van hoop wat klaar daar is. Hoe sterker ons vashou aan die sekerheid van sy wederkoms, hoe sekerder sal sy wederkoms vir ons nader kom. Terwyl ons vashou aan die hoop wat God gee, moet ons die belange van ons omgewing bevorder. Plant en bou en neem inisiatief en bid vir almal en soek die Here. Hy sal Hom laat vind!
Amen

In tye van verandering moet ons doelbewus ons vertroue in die Here plaas


Genesis 49v29 – 50v26 Teksvers Genesis 49v17d
Liturgie  16 Okt. 2011
na Votum Ps. 1 v 1 & 2  (OAB)
Na Wet Ps. 19 v 1 & 4  (OAB)
Na gebed Ps. 66 v 1 & 7  (OAB)
Slotsang Ps. 84 v 1 & 6 (OAB)

Geliefde gemeente,
Elke mens word in hierdie lewe aan verandering blootgestel. In Suid-Afrika het ons die afgelope paar jare 'n oormaat van veranderings beleef. Hierdie veranderings bring by baie mense groot onsekerheid. 'n Mens hoor hierdie onsekerheid in vrae wat ons vra:
?        Gaan ons nie maar dieselfde paadjie loop as Zimbabwe nie?
?        Is daar nog vir ons kinders 'n toekoms in hierdie land?
?        Sal ons as die Kerk van die Here nog in Suid-Afrika geleentheid gebied word om met ons werk voort te gaan?

Naas al die veranderings wat in ons land plaasgevind het, vind daar dikwels ook drastiese veranderings in mense se persoonlike lewens plaas. Wanneer 'n mens byvoorbeeld jou werk verloor, of jou gesondheid verswak, of iemand naby aan jou sterf, verander jou lewe drasties en ontstaan daar by jou vrae oor die toekoms.

Watter leiding gee God in sy Woord aan ons om Hom steeds te dien in tye van verandering? In die gedeelte wat ons vandag gelees het, het ons gehoor hoe Josef se broers aan verandering blootgestel was. Nadat hulle saam met hulle pa uit Kanaän na Egipte getrek het en in die Gosenstreek kom bly het, was hulle baie dankbaar dat Josef nie op hulle wraak geneem het oor alles wat hulle hom aangedoen het nie. Hulle kon vir baie jare rustig met hulle lewe daar in die Gosenstreek voortgaan.

Toe sterf hulle pa en skielik verander hulle hele situasie. Hulle besef dat dit dalk nou juis die geleentheid was waarvoor Josef gewag het. Nou kan hy hulle en hulle kinders laat doodmaak. Hulle pa, vir wie Josef ontsag gehad het, is nie meer daar nie en niks hou Josef dus terug om wraak te neem nie. Hoor wat vra hulle in Genesis 50:15:
"En as Josef nog steeds 'n grief teen ons het en ons nou gaan terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het? "

Hulle vrees blyk duidelik uit die boodskap wat hulle vir Josef stuur. Die boodskapper moet hom daaraan herinner dat hulle pa gesê het dat Josef hulle moet vergeef vir wat hulle gedoen het, en hulle verklaar hulself bereid om Josef se slawe te wees (Gen. 50:17-18).

Was die optrede van die broers verkeerd? Was hulle vrees ongegrond? Hoewel 'n mens verstaan dat hulle erg bekommerd was oor wat nou gaan gebeur, moet 'n mens nie vergeet wat vooraf alles gebeur het nie. Josef het reeds aan hulle die versekering gegee dat hy nie gaan wraak neem nie. Hy het vir hulle verduidelik dat God die kwaad wat hulle gedoen het, vir sy volk ten goede gebruik het, Soos ons in Genesis 45v5-8 hoor:
5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God.

Die feit dat hulle iemand na hom gestuur het om vir hulle lewe te pleit, openbaar dus duidelik dat hulle Josef nie vertrou het nie. 'n Mens sou hulle wantroue in Josef nog kon verstaan, want Josef was maar net 'n mens en hy kon sy beloftes aan hulle verbreek en hulle laat doodmaak het.

Daar is egter nog ’n aspek wat ons in gedagte moet hou. Jakob se versoek om die familiegraf in Kanaän begrawe te word. Hiermee bevestig Jakob sy absolute vertroue en geloof in God se beloftes. God het ’n eie vaderland belowe en met hierdie versoek reik Jakob vooruit om deel daarvan te wees. Jakob se seuns openbaar egter nie dieselfde vertroue in God se beloftes nie, ten spyte daarvan dat hulle bely dat hulle Hom dien.
Hulle optrede openbaar dat dit nie net vir Josef is wat hulle wantrou nie. Die Here het so pas deur hulle vader Jakob aan hulle en hulle nageslagte baie spesifieke seëninge toegese en tog tree hulle op asof hulle nie die beloftes ontvang het nie.Nog erger! Hulle tree op of die Een wat aan hulle die beloftes gemaak het, nie betroubaar is nie en nie die vermoë het om sy beloftes gestand te doen nie. Hulle optrede wys dat hulle die Here wantrou!

Geliefdes, ons moenie dat verandering en onsekerhede in ons lewe ons by daardie punt bring dat ons nie die Here vertrou nie.

Kom ons stel dit positief:
In tye van verandering moet ons doelbewus ons vertroue in die Here plaas.
Hoe kan ons doelbewus ons vertroue in die Here plaas?
 (1) Ons kan dit doen deur eerstens te onthou dat God in tye van verandering vir ons omgee en dat Hy altyd betroubaar is teenoor ons. Ons moenie in tye van verandering soos Josef se broers optree nie, so asof die Here ver buite ons situasie staan en nie by ons lewens betrokke is nie.  Ons weet immers hoe betrokke God by ons lewens is. Ons weet dat Hy deur sy Seun in ons wêreld ingekom het en dat HY met sy offer aan die kruis en sy oorwinning oor die dood ons sy kinders gemaak het.

God se omgee vir ons en sy trou teenoor ons staan vas en dít is vir ons 'n vaste fondament wanneer dinge onseker raak in tye van verandering.  Josef het gehuil oor sy broers hom gewantrou het (vgl. vers 17). Hoe hartseer is dit nie as ons God wantrou nie!

Omdat ons weet dat God vir ons omgee en dat ons Hom kan vertrou weet ons dat:
(2) ons verder ons vertroue doelbewus in die Here kan plaas deur erns te maak met sy beloftes.
Ek moet sy beloftes ken en ek moet verstaan wat dit vir my inhou in die tyd van verandering. So moet ek byvoorbeeld weet wat dit beteken wanneer die Here beloof dat Hy altyd by sy kinders is. Ons is sy kinders op grond van die soenverdienste van Jesus Christus. Die genade in Jesus Christus kom van God af en Hy is getrou daarom kan ons Hom ook vertrou om vir ons, sy kinders te sorg.

Ek moet weet dat dit nie beteken dat alles met my in tye van verandering voorspoedig sal gaan nie. Ek moet egter ook weet wat dit wel beteken dat Hy beloof dat Hy altyd by my is:
•   Omdat Hy by my is, sal ek van Hom die krag kry om dit wat met my in die tyd van verandering gebeur, te kan dra.
•   Omdat Hy by my is, sal Hy aan my die vermoë gee om te wag totdat die onsekerheid wat saam met die verandering kom, verbygaan.
•   Omdat Hy by my is, weet ek dat Hy my deur sy Woord en Gees in die onseker tyd sal lei in my besluite en optrede.
•   Omdat Hy by my is, is ek seker dat Hy sal sorg dat alles, (ook die terugslae wat ek mag ervaar) vir my ten goede mee werk.
God se beloftes is nie net vir die hier en nou nie. Dit is ook ’n belofte van ’n ewige vaderland waar ons altyd by God sal wees sonder al die verdriet en hartseer van hierdie wêreld. Selfs al gebeur die ergste en ons moet doodgaan, dan weet ons dat ons nog steeds by God sal wees.

(3) Om net te weet wat die beloftes van die Here vir my beteken is ongelukkig nie genoeg nie. Om doelbewus ons vertroue in die Here te plaas, vereis dat ons in tye van verandering ook met ons dade ons vertroue in die Here moet plaas. My optrede moet wys dat ek werklik die Here vertrou.

Josef se broers het 'n mooi belydenis uitgespreek, Hulle het bely dat hulle dieselfde God as Josef dien soos ons hoor in Genesis 50:17.  “Ons dien ook die God van u vader.” Hulle optrede het egter hierdie belydenis weerspreek. Hulle dade het getuig dat hulle God nie vertrou nie.

Om dus te sê dat ek weet dat die Here betroubaar is en dat Hy vir my omgee, en dat ek sy beloftes ken en dat Hy my sal bystaan in tye van verandering is een ding. Die vraag is geliefdes: “wys my optrede dat ek werklik op die Here vertrou?” Dit is iets anders om volgens dit wat jy weet en bely, op te tree. Jou dade kan maklik jou belydenis weerspreek.

Kom ons kyk na twee praktiese voorbeelde van optredes wat openbaar dat ons die Here nie vertrou nie:
•  Wanneer ons as gelowiges in 'n tyd van verandering slegs 'n "sit-en-wag-houding" inneem, wys ons dat daar by ons 'n gebrek aan vertroue is.

As ek die Here vertrou, sal ek besef dat ek juis in 'n tyd van verandering deur God geroep word om op te tree. Met die Woord as rigsnoer en in afhanklikheid van die Gees,  moet die gelowiges biddend leiding gee. Ons moet gebruik maak van die geleenthede om deel te neem aan die proses van verandering.

Is daar nie by te veel van ons 'n "sit-en-wag-houding" nie? Wag ons nie voortdurend dat ander iets doen om die situasie te verbeter nie, terwyl die Here dalk vir ons die insig, vermoë en geleentheid gee om op te tree? Ek moet met my optrede vir diegene om my wys dat ek die Here vertrou.

•   Die tweede voorbeeld van gelowiges wat in hulle optrede wantroue in die Here openbaar, is wanneer hulle in 'n tyd van verandering voortdurend sug en kla en na die verlede verlang, die verlede toe alles so vas en seker was. 'n Mens dink aan Gideon. Toe die Here aan hom die versekering gee dat Hy by hom is, kla Gideon dat dit wel in die verlede so was, maar dat dit nou nie meer so is nie (Rigters 5:13).

Toe die Here vir Gideon verseker dat Hy aan hom die krag sal gee om die Israeliete uit die mag van die Midianiete te verlos, sug Gideon dat hy dit nie kan doen nie, want hy kom uit die geringste familie (Rigters 5:15).

Die Here sê vir ons in Pred. 7:10:
Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ’n mens so sê nie.
Sugtende en klaende mense en mense wat net altyd na die verlede verlang, maak almal om hulle lam!

Daarteenoor vra die Here juis van sy kinders om vanuit die sekerheid wat hulle by Hom vind met hulle optrede aan ander moed te gee. Dink maar aan die voorbeeld van Paulus op sinkende skip wat die ander aangespoor het om iets te eet sodat hulle krag kan kry vir dit wat vir hulle voorlê.

Deur ons voorbeeld moet ons die ander aan spoor om in die verandering die Here te vertrou en aan Hom gehoorsaam te wees.

SLOT
Josef se broers het die verandering in hulle omstandighede nie goed hanteer nie. As 'n mens mooi daaroor dink, was hulle optrede eintlik skokkend. Vir Josef was hulle optrede so 'n groot skok dat hy daaroor gehuil het.

Wat doen ons in tye van verandering?
Kom laat ons doen wat die Here van ons vra. Kom laat ons met die krag van die Heilige Gees doelbewus ons vertroue in die Here plaas.

•   In tye van verandering moet ons onthou dat
  God vir ons omgee en dat Hy altyd betroubaar is teenoor ons.
•   Kom ons maak seker dat ons sy beloftes ken en dat ons verstaan wat dit vir ons beteken in tye van verandering.
•   Kom ons vertrou die Here deur nie in verandering passief te wag en te kyk wat gaan gebeur nie, maar deur in afhanklikheid van die Here, leiding te gee.
•   Kom ons vertrou Hom deur nie ander lam te maak met 'n gekla en gesug nie en nie gedurig na ons verlede terug verlang nie.
•   Kom ons spoor ander met ons optrede aan sodat hulle ook in tye van verandering die Here vertrou en Hom gehoorsaam.

Kom ons plaas doelbewus ons vertroue in die HERE.
AMEN