Skrif: Jesaja 41:8-20
Teksvers Jesaja 41:10
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie,
Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek
help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
Sing:
Ps. 42-1 1 & 3
Inleiding
God sê vandag vir jou, “Moenie bang wees nie,
Ek is by jou.”
Jesaja 41 is oorspronklik gerig aan Juda wat in
die 6de eeu v.C. na Babilon weggevoer is. Hulle het alles verloor: hulle land, hulle
tempel en selfs hul identiteit. Hul is daar in de vreemde en hulle worstel met
die vraag of God hulle verlaat het.
Worstel jy ook soms met die vraag of God jou
verlaat het?
Hier in Jesaja 41 hoor ons hoe die Here sy
moedelose volk troos. Hierdie troos is nie net vir die Jode daar vere in die
verlede bedoel nie, dit is ook vir ons hier en nou bedoel. Veral vir elkeen van
ons wat vanoggend hier met die werklikheid van die dood van ’n geliefde
gekonfronteer word.
Die Here vat nie die werklikheid van ons
trane en hartseer weg nie, maar Hy gee ons die versekering dat sy troue
verbondsliefde ons as sy kinders dra deur verlies en droogte.
Ons gaan vandag by die volgende drie
hoofpunte stilstaan:
Ø Ons
identiteit in Christus.
Ø God
is teenwoordig in ons lewens.
Ø En
Waarheen is ons op pad.
Ons identiteit in Christus
Hier in Jesaja 41:8 & 9 hoor ons hoe God sy
volk herinner wie hulle is, nie wie hulle voel hulle is nie.
Vers 8 wys terug na die verbond wat God met
Abraham opgestel het waar God vir Abraham en sy nageslag beloof het dat Hy sy
troue verbondsliefde aan hulle gee.
Die Here identifiseer Israel as Sy dienaar. Hy
sê hier vir Israel dat hulle aan Hom behoort omdat Hy hulle gekies het. Hulle
hoef nie vir Hom te bewys dat hulle goed genoeg is vir Hom nie. Inteendeel,
wanneer die Here die naam Jakob gebruik, dan sê Hy inderdaad vir hulle dat
hulle net soos Jakob bedrieërs is, maar dat Hy hulle nogtans ten spyte daarvan
sy eiendom gemaak het.
Verder verseker Hy hulle ook dat Hy hulle
nooit weggegooi het nie. Selfs daar waar hulle in ballingskap weggevoer is, is
Hy nog steeds by hulle.
In Gal 3:29 sê die Here vir ons:
En
as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en
erfgename kragtens die belofte van God.
Net soos Israel aan die Here behoort, behoort
elkeen wat in Jesus Christus glo ook aan die Here omdat Hy jou uitgekies het.
Wanneer die lewe jou omdop, wanneer jy voor
die nare werklikheid van ’n oop graf van ’n geliefde staan, mag dit vir jou
voel of die Here jou verlaat het. Daar in Babilon het Israel gewonder of die
Here hulle verlaat het en hier in Jesaja 41 verseker Hy hulle dat Hy hulle
nooit verlaat het nie.
Geliefdes, hou vas aan die troos dat God jou
uit liefde gekies het. Jou sekuriteit lê in jou geloof in Christus omdat Hy jou
liefhet. Daar is niks, selfs nie eens die dood nie, wat jou van Christus se
liefde kan skei nie.
Die Here verseker ons in Joh. 3:16
God het die wêreld so
liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie
verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Glo jy in Jesus Christus? As jy sê ja, dan sê
God vanoggend vir jou: “Jy is myne want Ek het jou uitgekies. Ek sal jou nooit
verlaat nie.”
God is teenwoordig in ons lewens
As jy aan die Here behoort dan is Hy
teenwoordig in jou lewe. In Jesaja 41:10 sê die Here vir ons hoe Hy in
ons lewens teenwoordig is:
Ø
Moenie bang wees nie, Ek is
by jou,
Ø
moenie bekommerd wees nie,
Ek is jou God.
Ø
Ek versterk jou, Ek help
jou, Ek hou jou vas,
Ø
met my eie hand red Ek jou.
Dink net daaraan, dit is God wat die hemel en
die aarde geskep het wat belowe om jou nooit te laat gaan nie. Hy is almagtig
en Hy kan dit doen, maar die ware essensie van die troos lê daarin dat God nie net
sê Hy kan dit doen nie. Hy sê vir ons dat Hy dit WILL doen omdat Hy lief
is vir ons.
In Jes. 41:13 herhaal die Here weer:
Ø
Ek is die Here jou God en Ek
vat jou hand,
Ø
Ek sê vir jou: Moenie bang
wees nie want Ék help jou.
In Jes. 41:14 herhaal Hy weer:
” Moenie bang wees nie, al is jy niks meer as
'n wurm nie, Jakob, al is jy klein, Israel. Ék help jou, sê die Here jou
Verlosser, die Heilige van Israel.
In vergelyking met die grootsheid van God se
almag is ons niks, maar tog maak Hy moeite met ons.
Die Here lê absolute klem daarop dat ons nie
hoef bang te wees nie want Hy is teenwoordig in ons lewens.
Jesus het die Heilige Gees as Trooster en
Helper gestuur om by ons te wees na sy Hemelvaart. Hy is elke oomblik van elke
dag saam met jou. As jy hom nodig het, is Hy net ’n gebed oproep ver.
Waarheen is ons op pad?
Wanneer God in jou lewe teenwoordig is,
verander jou lewe. Jes. 41:17-20 beskryf vir ons hoe die Here die woestyn
in ’n tuin verander en hoe Hy nuwe lewe bring waar alles dood lyk.
In Openbaring 21 hoor ons van ’n nuwe hemel
en ’n nuwe aarde waar God alles nuut maak. Die woonplek van God gaan by die
mense wees. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by
hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal
daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die
dinge van vroeër het verbygegaan.”
Die dood is nie die einde nie. Daar is lewe
na die dood. Christus se opstanding waarborg dit. Ons is op pad na ’n nuwe
hemel en ’n nuwe aarde waar ons ewig saam met God sal wees.
God verander die woestyn van ons swaarkry en
moeite hier op aarde na ’n tuin waar daar koeltebome is en soos die skaduwee
van seders, olyfbome, platane en dennebome rus en lafenis bied vir vermoeides
gee die skaduwee van God se teenwoordigheid rus vir vermoeide harte.
Samevatting
Die Here vat nie die werklikheid van ons
trane en hartseer weg nie, maar Hy gee ons die versekering dat sy troue
verbondsliefde ons as sy kinders dra deur verlies en droogte.
Vir elkeen wat in Jesus Christus glo as sy
enigste Verlosser en Saligmaker sê God vanoggend: “Jy is myne want Ek het jou
uitgekies. Ek sal jou nooit verlaat nie.”
As jy aan die Here behoort dan is Hy
teenwoordig in jou lewe en omdat Hy teenwoordig is in jou lewe, kan jy met
sekerheid sê:
Die Here is met my.
Die Here is my God.
Hy sal my versterk.
Hy sal my help.
Hy sal my ondersteun.
Die Heilige Gees is elke oomblik van elke dag
saam met jou en Hy is net ’n gebed oproep ver.
God verander die woestyn van ons swaarkry en
moeite hier op aarde na ’n tuin waar daar koeltebome is en die skaduwee van sy
se teenwoordigheid gee rus vir vermoeide harte.
Daar is niks wat ons van die liefde van
Christus kan skei nie, selfs nie eens die dood nie. Die dood is alleen maar ’n deurgang
na die ewige heerlikheid saam met God waar daar geen hartseer, pyn, lyding of
dood meer is nie.
God sê vandag vir elkeen van ons, “Moenie bang
wees nie, Ek is by jou.”
Amen