27 Jun. 2012 (RB)
Skriflesing: Gal. 2:11-21 & Gal.
5:13-26
Teksverse Gal.52:16 & 5:13
& 16
Sing
Lofsang: Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Na
wet: Ps.
86 v 1 & 3 (OAB)
Na
gebed Ps. 84 v 1 & 6 (OAB)
Slotsang Ps. 18 v 1 & 2 (OAB)
Inleiding
Seerowers
laat Suid-Afrikaners vry. Dit is een van die koerant opskrifte hierdie week.
Bruno Pelizzari, wat 20 maande gelede saam met sy meisie, Debbie Calitz, deur
Somaliese seerowers ontvoer is, het gesê hy is bly om sy vryheid terug te kry.
Sou dit nie baie eienaardig wees as hulle twee weer willens en wetens hulself
as gyselaars by die seerowers gaan aanmeld het nie?
As
mens ’n gevange was en jy word dan vrygelaat wil mens nie maklik weer ’n slaaf
of gevange word nie, maar tog is daar so baie gelowiges wat hulself weer slawe
maak nadat Christus hulle van die slawerny van sonde vrygelaat het. Dit is oor
hierdie eienaardige gedrag van Christene dat Paulus hierdie brief aan die
gemeente in Galasië geskryf het.
Daar
is twee maniere waarop ’n vrygekoopte gelowige weer ’n slaaf word. Of jy word
’n slaaf van die wet of jy word ’n slaaf van die sonde. Altwee is ewe erg en
het verwoestende gevolge in ’n mens se lewe omdat beide mens wegneem van
Christus se genade.
Agtergrond
Die
gemeente in Galasië het veral die gevaar geloop om weer ’n slaaf van die wet te
word. Nadat Paulus die gemeente gestig het en hy daarna weer op ander plekke
besig was met sendingwerk het daar dwaalleraars gekom en ’n vals leer in die
gemeente ingebring. Dit was Joodse Christene wat gemeen het dat die geloof in
Jesus Christus nie genoeg was om deel van God se volk te word nie. Hulle het
vir die gelowiges in Galasië gesê dat daar nog bykomende vereistes was waaraan
hulle moes voldoen voordat hulle deel van God se volk kon word. So het hulle
byvoorbeeld van die gelowiges in Galasië verwag om hulself te laat besny en om
die Joodse feesdae stiptelik na te kom soos ons hoor in Gal 4:10:
Julle hou aan om besondere dae en maande,
feesgeleenthede en jare te vier.
Dit
is dan ook hierdie dwaalleer wat Paulus in sy brief aanspreek. Die kern
boodskap in hierdie brief is dat mens alleen op grond van geloof in Jesus
Christus vrysgespreek word en dat dit onmoontlik is om self jou verlossing te
verdien. Die gevare wat in hierdie brief aangespreek word is vandag nog steeds
teenwoordig in die kerk van die Here en daarom is dit noodsaaklik dat ons
daarop bedag moet wees.
Wanneer
die kerk toelaat dat hulle ingesuig word in hierdie dwaalleer hou hul op om
kerk van die Here te wees omdat hulle van die waarheid afwyk. Dan kan hulle ook
nie hulle roeping vervul om die evangelie; dit wil sê die goeie nuus van die
verlossing in Jesus Christus uit genade alleen; aan die wêreld te verkondig
nie. Die twee gevare waaraan ons vandag in die prediking gaan aandag gee is of
’n slaaf van die wet of ’n slaaf van die sonde.
Slaaf
van die wet
Hoe
word mens ’n slaaf van die wet? Jy word ’n slaaf van die wet wanneer jy
bewustelik of onbewustelik begin om allerlei voorskrifte vir jouself en ander
voor te hou om die Here te dien soos Petrus byvoorbeeld gemaak het soos ons
hoor in Gal. 2:11 & 12:
11Toe Sefas egter later na
Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede
duidelik verkeerd was. 12Voordat daar van Jakobus se mense aangekom
het, het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe dié
mense daar aankom, het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang
was vir die voorstanders van die besnydenis.
Dit
spruit voort uit interpretasie van hoe die wette wat Moses in die eerste vyf
boeke van die Bybel gegee het nagekom moet word. Neem byvoorbeeld die voorskrif
in Eks. 23:19 dat ’n boklam nie in sy ma se melk gekook mag word nie. Die Jode
se interpretasie daarvan is dat mens nie vleis en melk of self ’n melkproduk
soos kaas mag saam eet nie. Hierdie interpretasie is mensgemaakte reëls. In die
praktyk kom dit daarop neer dat jy hierdie reëls MOET nakom, anders is jy jou
saligheid kwyt en so word jy ’n slaaf van die wet.
Dit
plaas ’n geweldige swaar las op ’n mens omdat ons ten spyte van die beste
bedoelings nie 100% getrou al die reëls kan nakom nie. Daarmee saam kom dan die
oordeel soos ons hoor in Gal 3:10 wat ’n aanhaling uit Deut. 27:26 is:
Maar almal wat staat maak op die onderhouding van
die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus ’n vloek op
elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan
nie.”
Wat
het dit dan nou met ons te doen? Ons hou tog nie meer by die Joodse gebruike
van destyds nie. Die beginsel bly egter dieselfde. Sodra mens allerlei reëls en
voorskrifte begin voorhou van dit mag en dit mag nie dan raak mens besig met ’n
wettiese godsdiens net soos die Judaïste wat daar in die gemeente in Galasië
besig was. Is ons kerke se groot stryd met watter berymings ons mag sing en nie
mag sing nie ook nie maar besig om op ’n wettiese godsdiens af te stuur nie? Om
nou maar ’n enkele voorbeeld te noem.
Wanneer
mens so wetties raak, dan word mens gewoonlik ook baie veroordelend teenoor
diegene wat nie daarby inpas nie. Dink maar net hoe venynig is gelowiges met
mekaar oor die en die ander strydpunte daaroor. En so vertoon ons al hoe meer
die karaktereienskappe van ons sondige natuur waar vyandskap, haat, naywer,
woede, rusies, verdeeldheid, skeuring aan die orde van die dag is soos ons hoor
in Gal. 5:19-21.
Die
troos is egter dat ons nie nodig het om slawe van die wet te wees nie want die
Here sê tog baie duidelik vir ons in Gal 2:16:
En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek
word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus
te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons
vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie,
want geen mens word
vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.
Dit
is alleen op grond van mens se geloof in Jesus Christus dat ons vrygespreek
word!
Wanneer
hierdie waarheid so duidelik verkondig word kom die vraag noodwendig op: “Maak
hierdie leer van genade dan nie van ons onverskillige mense nie?” Maar net soos
ons slawe van die wet kan word, kan ons ook slawe van die sonde word.
Slaaf
van die sonde
Hierteen
waarsku die Here ons ook baie duidelik soos ons hoor in Gal. 5:13:
Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet
net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien
mekaar in liefde.
Christus
het ons bevry van die slawebande van die sonde. Daar is geen vryheid in die
sondige praktyke van onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens,
towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns,
dronkenskap, uitspattigheid en al sulke dergelike dinge nie!
Dit
is nie die lewe nie. Dit is die dood! Wanneer Jesus ons vrygemaak het moet ons,
ons lewe deur die Heilige Gees laat lei soos ons hoor in Gal. 5:16:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God
beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur
nie.
Wanneer
ons dit doen dan sal die vrug van die Gees duidelik in ons lewens sigbaar wees
soos ons hoor in Gal.5:22:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde,
vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid
en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.
Slot
Geliefdes
pasop vir die gevare daarvan om weer ’n slaaf van die wet of ’n slaaf van die
sonde te word. Kom ons soek ons vryheid in Jesus Christus en nie in die
nakoming van allerlei voorskrifte soos wat ons mag aantrek of nie aantrek nie
of dit mag ons op ’n Sondag doen en dit nie. Wanneer ons, ons lewens deur die
Gees laat lei dan sal ons outomaties so aantrek dat dit tot eer van die Here
strek en sal dit wat ons doen lei tot liefde, vreugde, vrede, geduld,
vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Ons
moenie weer slawe van die wet of sonde word nie. Kom ons vind ons vryheid in
Jesus Christus want in Christus is ons nou kinders van God en nie meer slawe
nie.
Amen