Wys tans plasings met die etiket veroordeling. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket veroordeling. Wys alle plasings

03 April 2016

Vandag het ek ’n kans om reg te maak, lief te hê en God te dank




Son 3 Apr. 2016 GKE

Sing:
Ps. 9-1:1,7, 9 & 10
Ps. 38-1:1
Ps. 33-1:11
Ps. 103-1:1,2 & 9

’n Kans om weer te begin. Om reg te maak waar ek verbrou het. Vir iemand in die moeilikheid is, is dit ’n wonderlike vooruitsig. Dit is die goeie nuus wat die Bybel ons vertel. By Jesus is daar weer ’n kans soos wat ons ook weereens in hierdie verhaal van die vrou wat op owerspel betrap is hoor. Dit is ’n verhaal van hoop vir elke verlore sondaar.

In hierdie verhaal is daar drie partye. Daar is die vrou wat aangekla word. Dan is daar die skrifgeleerdes en Fariseërs wat die vrou aankla by Jesus wat oor die saak moet oordeel. Op die oog af is dit ’n eenvoudige saak. Die vrou is op heterdaad betrap en sy is skuldig. Tot die dood toe skuldig, want Moses se wet stel dit duidelik dat sulke vrouens gestenig moet word soos ons in Joh. 8:3 & 4 hoor. Watter ander uitspraak kan daar dan wees?

Tog is daar baie meer aan die verhaal as net dit. As ek so na die verhaal luister dan sien ek daardie arme vrou asof ek een van die omstanders is wat daar was. Ek sien hoe verneder sy voel en hoe sy in skaamte haar kop laat hang want hier word sy voor die bekende leermeester gebring. Haar sonde word in die openbaar uitbasuin. Sy het owerspel gepleeg! Ons het haar op heterdaad betrap! Ek sien die beskuldigende oë van die omstanders. Kan u uself indink hoe bang sy moes gewees het want haar aanklaers eis haar lewe?

Moontlik kan ons op hierdie punt dink, maar sy verdien dit. Sy is dan skuldig. Daar is geen twyfel oor die getuienis daarvan nie en nêrens in die verhaal ontken sy dit nie. As sy nie wil hoor nie, moet sy voel! Sy moes geweet het waarvoor sy haar inlaat. Dis tog tipies die mens se reaksie wanneer ons nie in die beskuldigingsbank staan nie. As ons eerlik met onsself wil wees dan moet ons erken dit is hoe ons voel oor die lewe en die mense om ons. God se Wet is tog duidelik oor owerspel. Ons kan tog nie sonde goedpraat nie!

As ons na Jesus se reaksie en hantering van die saak luister dan noop dit ons egter om weer te dink. Want as ek so oor die saak dink dat daardie vrou verdien wat sy gekry het, dan plaas dit my in dieselfde kraal as die skrifgeleerdes en Fariseërs wat haar aangekla het. En dit is ’n gedagte my nogal ongemaklik laat voel. Hoekom voel ek ongemaklik om saam met die Skrifgeleerdes en Fariseërs gereken te word? Hulle was tog die belangrike mense in die samelewing. Die Fariseërs het bekend gestaan vir hul hoë agting vir die wet. Die Skrifgeleerdes het die Skrif geken. Hulle was tog persone van aansien in die samelewing. En tog voel ek ongemaklik om saam met hulle gereken te word. Hoekom?

Op die oog af is dit hulle motief om te sorg dat die wet gehandhaaf word, maar as ons na die detail van die verhaal kyk dan kom ons agter dat hulle motiewe tog nie so suiwer is nie. Hulle was bereid om die wet so bietjie te buig om hulle saak te pas. Hulle was kenners van die wet en kon tog nie die verskoning gebruik dat hulle nie geweet het nie. Byvoorbeeld, waar is die man? As hulle die vrou op heterdaad betrap het, moes hy tog ook daar gewees het! ’n Vrou kan tog nie sonder ’n man owerspel pleeg nie! Hoekom word net sy aangekla?

In Joh. 8:6 hoor ons:
Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla.
Hulle optrede word nie soseer deur ’n afkeer van die sonde aangespoor nie. Hulle ware motivering is om Jesus in ’n lokval te lei. As Jesus sou antwoord dat die vrou gestenig moet word volgens die wet van Moses is Hy in stryd met die landswette van sy tyd wat deur die Romeine daargestel was. Die Jode mag nie doodstraf toegepas het nie en verder nog was owerspel volgens die Romeinse wette nie met die dood strafbaar nie. Dit sou dus vir die skrifgeleerdes en Fariseërs rede gee om Jesus by die Romeinse owerhede aan te kla as ’n oproermaker.

Sou Jesus egter aan die ander kant geantwoord het dat sy nie gestenig moes word nie, sou dit wys dat Hy die wet van Moses minag en dat Hy selfs owerspel goedkeur. Dit sou dit vir hulle rede gee om sy aansien onder die volk skade aan te doen en sou hulle Hom ook by die Joodse Raad kon aankla.

Wat hulle dus eintlik hier wou doen is om Jesus aan te kla en die vrou was maar net ’n gerieflike verskoning wat hulle in staat sou stel om dit reg te kry. Hulle motiewe was dus nie suiwer nie en hulle wou as te ware die wet misbruik om hul eie selfsugtige nydige doelwitte na te jaag. Hulle pas die wet dus baie selektief toe en ignoreer die gedeeltes wat nie hulle agenda pas nie. Byvoorbeeld Lev. 19:18 word heeltemal geïgnoreer:
Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.
Wraak en haat was hulle dryfveer, nie liefde nie.

In sy antwoord wys Jesus hulle dat Hy die ware Regter is wat nie toelaat dat die mens Hom aankla nie. Jesus se aanvanklike reaksie is om hulle te ignoreer en met sy vinger op die grond te skryf. Daar is baie bespiegeling oor wat Jesus daar geskryf het, maar dit help nie om daaroor te bespiegel nie, want die Skrif sê nie vir ons wat Hy geskryf het nie. Wat ons wel hierin sien is dat Hy die aanklaers tyd gee om weer te besin oor hulle aanklag. Wanneer hulle aandring op ’n antwoord, kry hulle iets wat hulle nie verwag het nie.
“Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.”
Jesus verander die aanklaers in die aangeklaagdes. Hy konfronteer hulle met hulle eie sondigheid. Voordat jy iemand en op die uiteinde God aankla moet jy baie mooi besin oor wat jou motiewe daarmee is.

Weereens buk Jesus af om in die grond te skryf om hulle die geleentheid te gee om na hulself in die spieël te kyk. En dit wat hulle gesien het was nie mooi nie. Een vir een het hul weggedraai totdat net Jesus en die vrou alleen agtergebly het. Nadat alles weggestroop is bly die mens naak voor God staan. Dis net ek en my sonde wat daar voor God staan. Al my eie geregtigheid en selfregverdiging verdwyn soos mis voor die son in die teenwoordigheid van God. Ek is skuldig, tot die dood toe skuldig!

En anders as mens sou dink is dit die beste posisie om in te wees, want dan sien mens hoe groot God se liefde en genade werklik is. Met net Jesus en die vrou wat agter gebly het, vra Hy haar:
“Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
Want op die uiteinde is dit net God wat die oordeel kan voltrek. Die verrassende einde van die verhaal is dat hierdie vrou wat die doodstraf verdien nie veroordeel word nie. Inteendeel let op hoe sagkens praat Jesus met haar. Geen verwyte en “hoekom het jy dit gedoen?” vrae nie! Net die sagte liefdevolle antwoord: “Ek veroordeel jou nie.” Want Jesus gee om vir die sondaarmens wat agter die sonde staan.

Beteken dit dat Jesus nou die sonde ignoreer? Deur die vrou nie te veroordeel nie, het hy nou vir gesê: “ag toemaar, owerspel (of watter ander sonde ook al) is nie so erg nie”? Nee geliefdes, die Bybel is baie duidelik daaroor dat God se Heiligheid geen sonde kan verduur nie. Jesus het haar nie veroordeel nie omdat Hy haar oordeel op Homself geneem het. Die doodstraf wat sy verdien het, het Hy ontvang.

Waar pas ons in hierdie verhaal in? Is ons soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes wat vol eie geregtigheid dit op ons neem om die oordeel uit te spreek? Ek is mos ’n goeie mens. Ek is nie so sondig soos hierdie ander mense nie! En dan plaas ons God ook sommer in die beskuldigingsbank. Ek verdien nie om so behandel te word nie. Hoekom moet ek so opgeskeep sit met hierdie ander wat nog nie my vlak van heiligheid beryk het nie? As almal tog net soos ek kon wees. As dit is waar ek is dan moet ek gaan besin oor waar ek in die lewe staan. Pasop dat u nie rondom u kyk en besluit, broeder of suster so en so moet oppas want hulle is net soos daardie Skrifgeleerdes en Fariseërs. As ek so dink, is dit ’n duidelike teken dat ek ook daar is en ek moet weet dat ek net soos die Skrifgeleerdes en die Fariseërs in die verhaal êrens langs die pad voor die spieël gaan moet staan. God het nogal ’n manier om mens op ’n ongewone tyd en manier met jou lewe te konfronteer wanneer jy dit die minste verwag.

Dit is nie maklik om in die spieël te kyk nie, en ons natuurlike reaksie is om soos die Fariseërs en die Skrifgeleerdes weg te draai. Dit is maklik om ander mense se lewens te beoordeel, maar as die kollig op my gedraai word is dit nie so maklik nie. Die probleem is dat as ek wegdraai ek steeds onder die oordeel van God staan.

Wat nodig is, is dat ek soos daardie vrou voor God moet staan met my sonde oop en bloot voor Hom. Daar is niks wat ek kan wegsteek nie. En wanneer ek dit doen sal ek ook God se genade beleef. Want dan staan ek voor Jesus en ek hoor: “Ek veroordeel jou nie want Ek het die oordeel in jou plek gedra.” Glo u dit, geliefdes? Want dit is al wat God van ons vra. Glo dat Jesus die oordeel in jou plek gedra het. Moenie soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes van Jesus wegdraai nie.

Hierdie verhaal van die owerspelige vrou begin met die hopeloosheid van aanklagte en oordeel en dit eindig met hoop en vryspraak. Die vrou hoor dat sy vrygespreek is en dan stuur Jesus haar weg met die woorde:
“Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”
Sy kry ’n kans om reg te máák, lief te hê en God te dank. “Moenie meer sonde doen nie!” Met ander woorde “Ek het jou vry gemaak van jou ou sondige natuur. Jy is nie meer vasgebind aan die haat, onmin en lelike sondigheid van hierdie wêreld nie. Gaan nou en leef die liefde wat Ek in jou hart geplant uit.”

Geliefdes, staan u ook voor God soos daardie vrou wat niks het om te gee nie? Dis net my sonde wat oop en bloot hier voor God lê. Luister na God se genade wanneer Jesus ook vir jou sê: “Ek veroordeel jou nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Vandag het jy ’n kans om reg te máák, lief te hê en God te dank. Gebruik dit.

Amen