Son
3 Apr. 2016 GKE
Sing:
Ps.
9-1:1,7, 9 & 10
Ps.
38-1:1
Ps.
33-1:11
Ps.
103-1:1,2 & 9
’n
Kans om weer te begin. Om reg te maak waar ek verbrou het. Vir iemand in die
moeilikheid is, is dit ’n wonderlike vooruitsig. Dit is die goeie nuus wat die
Bybel ons vertel. By Jesus is daar weer ’n kans soos wat ons ook weereens in
hierdie verhaal van die vrou wat op owerspel betrap is hoor. Dit is ’n verhaal
van hoop vir elke verlore sondaar.
In
hierdie verhaal is daar drie partye. Daar is die vrou wat aangekla word. Dan is
daar die skrifgeleerdes en Fariseërs wat die vrou aankla by Jesus wat oor die
saak moet oordeel. Op die oog af is dit ’n eenvoudige saak. Die vrou is op
heterdaad betrap en sy is skuldig. Tot die dood toe skuldig, want Moses se wet
stel dit duidelik dat sulke vrouens gestenig moet word soos ons in Joh. 8:3
& 4 hoor. Watter ander uitspraak kan daar dan wees?
Tog
is daar baie meer aan die verhaal as net dit. As ek so na die verhaal luister
dan sien ek daardie arme vrou asof ek een van die omstanders is wat daar was. Ek
sien hoe verneder sy voel en hoe sy in skaamte haar kop laat hang want hier
word sy voor die bekende leermeester gebring. Haar sonde word in die openbaar
uitbasuin. Sy het owerspel gepleeg! Ons het haar op heterdaad betrap! Ek sien
die beskuldigende oë van die omstanders. Kan u uself indink hoe bang sy moes
gewees het want haar aanklaers eis haar lewe?
Moontlik
kan ons op hierdie punt dink, maar sy verdien dit. Sy is dan skuldig. Daar is
geen twyfel oor die getuienis daarvan nie en nêrens in die verhaal ontken sy
dit nie. As sy nie wil hoor nie, moet sy voel! Sy moes geweet het waarvoor sy
haar inlaat. Dis tog tipies die mens se reaksie wanneer ons nie in die
beskuldigingsbank staan nie. As ons eerlik met onsself wil wees dan moet ons
erken dit is hoe ons voel oor die lewe en die mense om ons. God se Wet is tog
duidelik oor owerspel. Ons kan tog nie sonde goedpraat nie!
As
ons na Jesus se reaksie en hantering van die saak luister dan noop dit ons
egter om weer te dink. Want as ek so oor die saak dink dat daardie vrou verdien
wat sy gekry het, dan plaas dit my in dieselfde kraal as die skrifgeleerdes en
Fariseërs wat haar aangekla het. En dit is ’n gedagte my nogal ongemaklik laat voel.
Hoekom voel ek ongemaklik om saam met die Skrifgeleerdes en Fariseërs gereken
te word? Hulle was tog die belangrike mense in die samelewing. Die Fariseërs
het bekend gestaan vir hul hoë agting vir die wet. Die Skrifgeleerdes het die
Skrif geken. Hulle was tog persone van aansien in die samelewing. En tog voel
ek ongemaklik om saam met hulle gereken te word. Hoekom?
Op
die oog af is dit hulle motief om te sorg dat die wet gehandhaaf word, maar as ons
na die detail van die verhaal kyk dan kom ons agter dat hulle motiewe tog nie
so suiwer is nie. Hulle was bereid om die wet so bietjie te buig om hulle saak
te pas. Hulle was kenners van die wet en kon tog nie die verskoning gebruik dat
hulle nie geweet het nie. Byvoorbeeld, waar is die man? As hulle die vrou op
heterdaad betrap het, moes hy tog ook daar gewees het! ’n Vrou kan tog nie
sonder ’n man owerspel pleeg nie! Hoekom word net sy aangekla?
In
Joh. 8:6 hoor ons:
Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle
iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla.
Hulle
optrede word nie soseer deur ’n afkeer van die sonde aangespoor nie. Hulle ware
motivering is om Jesus in ’n lokval te lei. As Jesus sou antwoord dat die vrou
gestenig moet word volgens die wet van Moses is Hy in stryd met die landswette
van sy tyd wat deur die Romeine daargestel was. Die Jode mag nie doodstraf
toegepas het nie en verder nog was owerspel volgens die Romeinse wette nie met
die dood strafbaar nie. Dit sou dus vir die skrifgeleerdes en Fariseërs rede
gee om Jesus by die Romeinse owerhede aan te kla as ’n oproermaker.
Sou
Jesus egter aan die ander kant geantwoord het dat sy nie gestenig moes word
nie, sou dit wys dat Hy die wet van Moses minag en dat Hy selfs owerspel
goedkeur. Dit sou dit vir hulle rede gee om sy aansien onder die volk skade aan
te doen en sou hulle Hom ook by die Joodse Raad kon aankla.
Wat
hulle dus eintlik hier wou doen is om Jesus aan te kla en die vrou was maar net
’n gerieflike verskoning wat hulle in staat sou stel om dit reg te kry. Hulle
motiewe was dus nie suiwer nie en hulle wou as te ware die wet misbruik om hul
eie selfsugtige nydige doelwitte na te jaag. Hulle pas die wet dus baie
selektief toe en ignoreer die gedeeltes wat nie hulle agenda pas nie. Byvoorbeeld
Lev. 19:18 word heeltemal geïgnoreer:
Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor
jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.
Wraak
en haat was hulle dryfveer, nie liefde nie.
In
sy antwoord wys Jesus hulle dat Hy die ware Regter is wat nie toelaat dat die
mens Hom aankla nie. Jesus se aanvanklike reaksie is om hulle te ignoreer en
met sy vinger op die grond te skryf. Daar is baie bespiegeling oor wat Jesus
daar geskryf het, maar dit help nie om daaroor te bespiegel nie, want die Skrif
sê nie vir ons wat Hy geskryf het nie. Wat ons wel hierin sien is dat Hy die
aanklaers tyd gee om weer te besin oor hulle aanklag. Wanneer hulle aandring op
’n antwoord, kry hulle iets wat hulle nie verwag het nie.
“Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het,
eerste ’n klip op haar gooi.”
Jesus
verander die aanklaers in die aangeklaagdes. Hy konfronteer hulle met hulle eie
sondigheid. Voordat jy iemand en op die uiteinde God aankla moet jy baie mooi
besin oor wat jou motiewe daarmee is.
Weereens
buk Jesus af om in die grond te skryf om hulle die geleentheid te gee om na
hulself in die spieël te kyk. En dit wat hulle gesien het was nie mooi nie. Een
vir een het hul weggedraai totdat net Jesus en die vrou alleen agtergebly het. Nadat
alles weggestroop is bly die mens naak voor God staan. Dis net ek en my sonde
wat daar voor God staan. Al my eie geregtigheid en selfregverdiging verdwyn
soos mis voor die son in die teenwoordigheid van God. Ek is skuldig, tot die
dood toe skuldig!
En
anders as mens sou dink is dit die beste posisie om in te wees, want dan sien
mens hoe groot God se liefde en genade werklik is. Met net Jesus en die vrou wat
agter gebly het, vra Hy haar:
“Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die
oordeel oor jou voltrek nie?”
Want
op die uiteinde is dit net God wat die oordeel kan voltrek. Die verrassende
einde van die verhaal is dat hierdie vrou wat die doodstraf verdien nie
veroordeel word nie. Inteendeel let op hoe sagkens praat Jesus met haar. Geen
verwyte en “hoekom het jy dit gedoen?” vrae nie! Net die sagte liefdevolle
antwoord: “Ek veroordeel jou nie.” Want Jesus gee om vir die sondaarmens wat
agter die sonde staan.
Beteken
dit dat Jesus nou die sonde ignoreer? Deur die vrou nie te veroordeel nie, het
hy nou vir gesê: “ag toemaar, owerspel (of watter ander sonde ook al) is nie so
erg nie”? Nee geliefdes, die Bybel is baie duidelik daaroor dat God se
Heiligheid geen sonde kan verduur nie. Jesus het haar nie veroordeel nie omdat
Hy haar oordeel op Homself geneem het. Die doodstraf wat sy verdien het, het Hy
ontvang.
Waar
pas ons in hierdie verhaal in? Is ons soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes wat
vol eie geregtigheid dit op ons neem om die oordeel uit te spreek? Ek is mos ’n
goeie mens. Ek is nie so sondig soos hierdie ander mense nie! En dan plaas ons
God ook sommer in die beskuldigingsbank. Ek verdien nie om so behandel te word
nie. Hoekom moet ek so opgeskeep sit met hierdie ander wat nog nie my vlak van
heiligheid beryk het nie? As almal tog net soos ek kon wees. As dit is waar ek
is dan moet ek gaan besin oor waar ek in die lewe staan. Pasop dat u nie rondom
u kyk en besluit, broeder of suster so en so moet oppas want hulle is net soos
daardie Skrifgeleerdes en Fariseërs. As ek so dink, is dit ’n duidelike teken
dat ek ook daar is en ek moet weet dat ek net soos die Skrifgeleerdes en die
Fariseërs in die verhaal êrens langs die pad voor die spieël gaan moet staan.
God het nogal ’n manier om mens op ’n ongewone tyd en manier met jou lewe te
konfronteer wanneer jy dit die minste verwag.
Dit
is nie maklik om in die spieël te kyk nie, en ons natuurlike reaksie is om soos
die Fariseërs en die Skrifgeleerdes weg te draai. Dit is maklik om ander mense
se lewens te beoordeel, maar as die kollig op my gedraai word is dit nie so
maklik nie. Die probleem is dat as ek wegdraai ek steeds onder die oordeel van
God staan.
Wat
nodig is, is dat ek soos daardie vrou voor God moet staan met my sonde oop en
bloot voor Hom. Daar is niks wat ek kan wegsteek nie. En wanneer ek dit doen
sal ek ook God se genade beleef. Want dan staan ek voor Jesus en ek hoor: “Ek
veroordeel jou nie want Ek het die oordeel in jou plek gedra.” Glo u dit,
geliefdes? Want dit is al wat God van ons vra. Glo dat Jesus die oordeel in jou
plek gedra het. Moenie soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes van Jesus wegdraai
nie.
Hierdie
verhaal van die owerspelige vrou begin met die hopeloosheid van aanklagte en
oordeel en dit eindig met hoop en vryspraak. Die vrou hoor dat sy vrygespreek
is en dan stuur Jesus haar weg met die woorde:
“Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen
nie.”
Sy
kry ’n kans om reg te máák, lief te hê en God te dank. “Moenie meer sonde doen
nie!” Met ander woorde “Ek het jou vry gemaak van jou ou sondige natuur. Jy is
nie meer vasgebind aan die haat, onmin en lelike sondigheid van hierdie wêreld
nie. Gaan nou en leef die liefde wat Ek in jou hart geplant uit.”
Geliefdes,
staan u ook voor God soos daardie vrou wat niks het om te gee nie? Dis net my
sonde wat oop en bloot hier voor God lê. Luister na God se genade wanneer Jesus
ook vir jou sê: “Ek veroordeel jou nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer
sonde doen nie.”
Vandag
het jy ’n kans om reg te máák, lief te hê en God te dank. Gebruik dit.
Amen