04 Maart 2014

Hoe werklik is God in my léwe?

2 Feb. 2014         1 Johannes. Teksvers 1 Joh. 5:20

Lof-Psalm     Sb. 2-4 v 1 & 3  
Na Wet         Sb. 9-3 v 1 & 2  
Na Gebed     Ps. 18-1 v 1 & 2
Slotsang       Ps. 118-1 v12 & 14

Inleiding
Hoe werklik is God in jou lewe? Is God maar net ’n teoretiese figuur of is Hy iemand wat deel is van jou lewe? Vir baie mense is God maar slegs ’n karakter in ’n sprokiesverhaal. Iemand soos Rooikappie wat ons almal ken, maar Hy is nie werklik iemand in ons lewens nie. Dalk is Hy bietjie meer realisties soos die hoofkarakter in ’n roman of avontuurverhaal. Solank as wat mens die boek lees is die karakter iemand met wie ons vertroud is, maar ons weet dat daardie karakter net binne-in die storieboek bestaan. Dalk is Hy meer werklik soos byvoorbeeld die skrywer van die roman of speurverhaal. Ons weet van hom, maar hy is nog steeds nie deel van ons lewe nie. Of is Hy iemand werklik wat ons ken en met wie ons ’n verhouding het?

Dink maar aan die verskil wat daar is wanneer ek ’n storieboek lees teenoor wanneer ek ’n brief van ’n geliefde lees. Is die Bybel maar net soos ’n storieboek en God die Vader, Jesus Christus en die Heilige Gees maar net denkbeeldige karakters soos die in ’n storieboek? Of lees ek die Bybel soos ek ’n brief van ’n geliefde sou lees? Die denkbeeldige karakters in ’n storieboek bestaan nie buite die storieboek nie. As dit ’n goeie storie is kan ek my inleef in die boek, maar wanneer ek klaar is met die storie weet ek dat die karakters nie werklik bestaan nie. Wanneer ek egter ’n brief van ’n geliefde lees is daardie geliefde ’n werklike persoon en hoor ek as te ware haar stem wanneer ek die brief lees. Daar is ’n groot verskil tussen bogenoemde alternatiewe.

Hoe werklik is God in my léwe? Is Hy maar net ’n denkbeeldige karakter in ’n storieboek? Of is Hy iemand werklik met wie ek verhouding het?

Om God te ken
In 1 Johannes word daar baie klem daarop gelê op wat dit beteken om God waarlik te ken. Dwarsdeur die brief word daar verwys na wie God ken en wie Hom nie ken nie. Om God te ken hou ook ’n besondere voorreg in soos ons in 1 Joh. 3:1 hoor:
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.
Hoe word mens ’n kind van God? Die Here sê vir ons in 1 Joh. 5:1
Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ’n kind van God
Die Heilige Gees oortuig ons dat dit die waarheid is en daarom glo ons soos ons hoor in 1 Joh. 5:6
Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid.

Hoe leer ons God dus werklik ken? In ons teksvers 1 Joh. 5:20 vat die Here dit mooi saam:
En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus.
Deur Jesus Christus leer ons God dus waarlik ken. Sonder Jesus bly God maar net ’n denkbeeldige karakter.

Hoe weet ons dat ons God ken?
In 1 Joh. 2:3 tot 6 sê die Here vir ons:
3As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. 4Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. 5Wie sy woord egter gehoorsaam—in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 6Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.
Gehoorsaamheid aan God se gebooie is vir ons ’n bewys dat ons God ken. Wanneer daar by ons ’n begeerte is om lief te hê dan wys dit vir ons dat ons kinders van God is. As daar nie by my ’n brandende begeerte is om aan God se gebooie gehoorsaam te wees nie, beteken dit dat ek God nie ken nie.

Daar is net een manier om God te leer ken, deur geloof in Jesus Christus. Luister na wat die Heilige Gees ons leer soos ons hoor in 1 Joh. 2:27?
Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle  alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly.
Luister ons na die Gees of bedroef ons die Gees? Is Jesus Christus en sy verlossing ’n werklikheid in my lewe? Is dit ’n hartsaak of is dit maar net ’n akademiese kopsaak? Is Jesus Christus vir my ’n werklike persoon of is Hy maar net vir my ’n karakter in ’n Bybelse storie? Geliefdes moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.  (Ef. 4:30)

Luister na die waarskuwing van die Here wat ons in 1 Joh. 2:15-17 hoor.
15Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 16Die wêreldse dinge—alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit—kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 17En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.

Wat beteken dit om God te ken?
Ons ontvang die ewige lewe soos ons weer hoor in 1 Joh. 5:11-12
God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.
Om God te ken beteken dat ons lewe en dat ons verlos is uit die doodsheid van die sonde soos ons teksvers 1 Joh. 5:20 weereens bevestig:
En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe.

Wat beteken dit prakties geliefdes? Dit beteken dat ons God persoonlik ken en dat ons daarom na Hom as ons Vader toe kan gaan met ons vreugdes en ons vrese. Dit beteken dat daar by ons al hoe meer ’n begeerte is om soos Hy te wees. Dit beteken dat ons lewens deur liefde regeer word in plaas van deur haat en selfsug. Dit beteken dat ons begin uitreik na mense en hulle nood raaksien. Dit beteken dat ons nie net hulle fisiese nood raaksien nie, maar dat ons hulle geestelike behoefte om God te ken ook raaksien.

By elke mens is daar ’n diep geestelike behoefte wat alleen deur God vervul kan word. Wanneer ek God persoonlik ken word daardie behoefte in my gevul en onstaan daar ’n diep brandende deernis vir mense wat God nog nie ken nie. Daar is by my ’n omgee vir mense en dat ek die gemeenskap wat ek met God het ook wil deel met hulle wat God nog nie ken nie. Dit is die opdrag wat Jesus aan sy kerk gee om God aan verlore mense te gaan bekendstel.

Slot
Hoe werklik is God in jou lewe? Ken ons God persoonlik of is Hy maar net nog ’n storieboek karakter in ons lewens. Ons leer God persoonlik ken in sy Seun, Jesus Christus. Wanneer ons Hom leer ken ontvang ons die ewige lewe.

Geliefdes kom ons bly weg van die afgode af sodat ons in gemeenskap met die enigste ware God, Vader, Seun en Heilige Gees kan leef.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking