Jon. 3 v 10 – 4 v 11; teksvers Jon. 4 v 2
29 Mei. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 48 v 1(OAB)
Na Wet Ps. 119 v 7 & 39 (OAB)
Na Gebed Ps. 66 v 7 & 9 (OAB)
Slotsang Ps. 32 v 1 & 6 (OAB)
Inleiding
Waaraan dink ons wanneer ons van Jona hoor? As ons van Jona hoor dan dink ons onwillekeurig aan die groot vis wat Jona ingesluk het omdat hy nie vir die Here wou luister nie. En tog is daar ’n ander tema wat net so duidelik in die verhaal voorkom. Storms! Die storm op die see, die storm van Nineve se dreigende verwoesting en die grootste storm van al drie: Die storm in Jona se hart! Een ding wat uitstaan in hierdie verhaal is woede. Woede wat ’n onkeerbare storm in die hart van Jona aansteek!
In hierdie verhaal kom daar twee aspekte wat lynreg teenoor mekaar staan hier in hoofstuk vier bymekaar, naamlik: Die storm van Jona se woede teenoor die kalmte van God se onvoorwaardelike genade en liefde. In hierdie verhaal leer ons dat Die storms in ons harte nie God se liefde kan inperk nie!
Die storm van Jona se woede
In Jon. 4v1 hoor ons:
Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword.
Die Afrikaanse vertaling van “baie kwaad” stel Jona se woede nog sag. In Hebreeus staan daar letterlik dat hy gebrand het van woede. Sy woede was soos ’n vuur wat in sy binneste gebrand het. Waarom was Jona so kwaad? In die eerste plek was hy kwaad omdat God genade betoon het aan die mense van Nineve soos ons hoor in Jon. 3v10:
Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle, hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.
Jona kon nie verstaan waarom die Here se genade ook vir mense buite Israel beskikbaar moet wees nie en hy kon veral nie verstaan waarom dit vir Israel se vyande beskikbaar moes wees nie. Jona weet dat die Here genadig is soos ons hoor in Jon. 4v2b:
Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.
Jona se groot probleem is egter dat hy nie wil hê dat die Here se genade aan ander beskikbaar moet wees nie. Hy is selfs bereid om te sterf eerder as om te sien hoe die Here genade betoon aan Israel se vyande!
Jona is ook nog kwaad omdat die Here nie genade betoon nie. Twee keer vra die Here hom of hy rede het om kwaad te word. Die eerste keer antwoord hy nie eers nie, maar die tweede keer toe die Here die skaduwee van die plant wegneem is hy ook kwaad. Jona is kwaad omdat hy wil hê die Here moet net aan die Israeliete genade betoon en nie aan die ander volke nie, veral nie Israel se vyande nie.
Jona se woede wys in ’n sekere sin ook na die Here se woede. Die inwoners van Nineve was vol boosheid en geweld en daarom is Jona na hulle toe gestuur. Daar is egter ’n baie groot verskil tussen Jona se woede en die Here se woede. Jona se woede is op mense gerig en hy wil hê dat daardie mense uitgeroei moet word. Teenoor dit is God se woede op die sonde gerig. Jona veroordeel mense terwyl God die verkeerde dade van mense veroordeel. Jona se woede is eie aan ons menslike natuur. Ons doel is gewoonlik dat mense gestraf moet word en dat hulle moet seerkry veral daardie mense wat my seergemaak het en wat ek as my vyande beskou. Solank dit nie oor myself gaan nie, moet die mens boet. As dit egter oor myself gaan dan moet daar genade en vergifnis wees. Ons probeer dikwels net soos Jona om God se liefde en genade in te perk. Deur God net vir myself te wil toeëien soos Jona gemaak het skep ons in ons gedagtes ’n eie klein god wat inderdaad ’n afgod is. Wanneer ons `n afgod in ons gedagtes skep wat iets anders is as die ware lewende God, dan ontketen ons die storms van rebelsheid in ons harte.
Teenoor hierdie afgod van ons staan die enigste lewende God wat vol liefde en genade is en daarom leer die Here ons ook in hierdie verhaal van Jona oor:
Die kalmte van God se onvoorwaardelike genade en liefde
God se doel is egter anders as ons eie selfsugtige doelwitte. Ons haat sondaars, maar God haat sonde en nie sondaars nie. Sy doel is dat mense moet wegdraai van hulle sonde en boosheid omdat hy weet dat die sonde wat mense doen hulself en ook die mense rondom hulle seermaak. Daarom staan die kalmte van God se onvoorwaardelike genade en liefde teenoor die storms van ons woede.
In hierdie verhaal van Jona leer ons werklik iets oor die liefdevolheid en besorgheid van God oor sy skepping soos dit so mooi saamgevat word in Jon. 4v2b:
Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.
Hierin word God se sagmoedigheid en sy deernisvolle liefde beskryf teenoor alle mense wat Hy geskep het. God is genadig en barmhartig. Barmhartig beteken dat hy meegevoel het met mense. Hy gee werklik om vir mense. Genade beteken dat ons niks hoef te doen om God se liefde te verdien nie. Hy gee dit onvoorwaardelik vir ons. Hierdie onvoorwaardelike liefde van God bereik ’n hoogtepunt in Jesus Christus soos ons hoor in Rom. 5v8:
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Ons weet dit is waar want hierdie profesie van Jona wys heen na Jesus Christus wat vir ons sondes gesterf het soos die Here ook vir ons sê in Mat. 12v40:
Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.
In ons teksvers word die Here se liefde ook beskryf as lankmoedig. Dit beteken dat Hy werklik geduld met ons het soos ons ook sien in sy optrede teenoor Jona. Ten spyte van Jona se opstandigheid teenoor die Here verloor Hy nie geduld met Jona nie. Uit ’n menslike oogpunt sou mens verwag dat die Here geduld moet verloor met Jona. Het Jona dan nie sy les geleer toe hy daar in die vis se maag was nie? Tog straf die Here nie vir Jona in ’n woedebui nie. Hy maak weereens moeite om vir Jona te leer dat Hy teenoor alle mense genadig is.
Jona gaan buite die stad en bou vir hom ’n skerm. Daar wil hy sit en wag om te sien of die Here maar nie tog van plan wil verander en die stad Nineve met sy wraak tref nie. Die skuiling wat Jona bou is egter nie goed genoeg om hom teen die brandende son te beskerm nie. Hierdie onvermoë van Jona gebruik die Here om vir Jona te leer van God se genade. Jona het niks gedoen om te verdien dat die Here vir hom ’n plant moet gee wat skaduwee maak nie. Inteendeel hy alles gedoen om dit nie te verdien nie! Die Here neem die plant weg en Hy stuur ’n skroeiende wind en ’n brandende son sodat Jona kan leer dat Hy teenoor alle mense genadig kan wees en nie net teenoor Jona nie.
Dit is op hierdie punt waar die boek Jona stomp eindig, want ons weet nie of Jona toe daardie les geleer het of nie! Tog is Jona se antwoord op die vraag van die Here se genade nie belangrik nie, want daardie selfde vraag word ook aan ons gerig. Kan ons besluit aan wie die Here genade moet betoon of nie? As ons sou antwoord net aan my en almal wat soos ek dink maar nie teenoor die mense van wie ek nie hou nie dan skiet ons onself ook eintlik in die voet. Want wat kan ek doen om die Here se genade te verdien? Niks nie. Dan sal ek ook vind dat die storms van woede en onvrede ook in my gemoed woed. As daar dan volgens my oordeel nie genade vir ander mense is nie, dan is daar ook nie vir my genade nie! As ek dan vir ander mense voorwaardes stel, dan geld daardie selfde voorwaardes vir my ook en dan is daar nie vir my hoop nie.
Dis egter op hierdie punt waar God se genade so helder skyn, want dit hang nie van my af nie want Die storms in ons harte kan nie God se liefde inperk nie! Hou daarom vas aan God se genade in Jesus Christus. Ons moet Glo dat Jesus Christus se bittere kruisdood en sy opstanding vir ons verlossing bring. Dan sal die storms in ons harte bedaar en dan sal God se liefde vir verlore sondaars ook in ons harte brand.
Amen