22 Mei 2011

Sonder Jesus Christus is ek dood in my sonde, maar saam met Hom lewe ek

Jona 3; teksvers Jona 3 v 4
22 Mei. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 91 v 1(OAB)
Na Wet Ps. 103 v 1 & 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 40 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 118 v 1 (OAB)

Nog net veertig dae en Reddersburg word verwoes! Hoe sou u reageer op hierdie preek? Die kortste preek van alle tye! Sou dit ’n effek op die mense van Reddersburg hê as ek deur die strate loop en dit uitroep? Dit is in wese wat Jona daar in die strate van Nineve amper drie duisend jaar gelede gepreek het. Nog net veertig dae en Nineve word verwoes! Dit is seker een van die kortste preke in die geskiedenis en tog het dit gelei tot een van die grootste wonderwerke van alle tye. In ’n groot stad is van die mees onbelangrikste persoon tot by die koning van daardie stad bekeer en hulle het weggedraai van al die geweld en boosheid waarmee hulle besig was!

Wat doen ons met die Woord van God wat tot ons kom? Gryp ons dit aan asof ons lewe daarvan afhang of nie? Nog net veertig dae en Nineve word verwoes! Hoe reageer ons op die dringende waarskuwing wat week na week tot ons gerig word? Sal die mense van Nineve ook op die oordeelsdag teen ons getuig soos die Here ons waarsku in Mat, 12v41? ’n Preek van vyf kort Hebreeuse woorde. Dis al wat die mense van Nineve gehad het: Nog net veertig dae en Nineve word verwoes! En tog het hulle berou gehad en hul bekeer. Ons het soveel meer! En hier staan een wat groter is as Jona! Jesus Christus! Ons het vandag weer die voorreg om die Heilige Nagmaal van die Here te vier. Gryp dit ons aan die hart? Is daar werklik ’n begeerte by ons om deur die geloof ook met Nagmaal al hoe nader aan die Here te kom. Is dit my begeerte om die Here nog beter te leer ken?

Nog net veertig dae en Nineve word verwoes! Dit klink na ’n ongenaakbare dreigende boodskap. En tog is daar binne in hierdie boodskap al die genade en liefde van God ingesluit. Die Hebreeuse woord wat met verwoes vertaal word beteken letterlik omgedop, omgekeer. Hierdie omkeer of omdop het ’n negatiewe en ’n positiewe betekenis. Aan die negatiewe kant beteken dit omkeer om te verwoes net soos wat ’n skinkbord vol glase verwoes sal word as mens dit vat en dit geweldadig omkeer. Dit is dan inderdaad ook hoe die mense van Nineve hierdie preek verstaan het. Daarom ook dat hulle erns gemaak het daarmee. In Jon. 3v5 & 6 hoor ons dat hulle in God geglo het en dat hulle rouklere aangetrek het om hulle voor God te verootmoedig. Daarmee het hulle hul sonde teenoor God erken omdat hulle geglo het dat God inderdaad sal doen wat Hy deur sy profeet aangekondig het.

Daar is egter ook ’n positiewe konnotasie aan die betekenis van die woord verbonde, naamlik ’n omkeer van ’n verkeerde pad. ’n Verandering van dit wat verkeerd is na dit wat reg is. Want alhoewel God ons waarsku teen die gevaar van verwoesting, is dit nie wat Hy wil hê met ons moet gebeur nie. In Joh. 3v17 sê Hy vir ons:
God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
In hierdie verhaal is dit duidelik dat Jona sowel as die inwoners van Nineve hierdie positiewe kant ook raakgesien het. Dit was die hele rede vir Jona se opstand teen die Here en waarmee hy nie saamgestem het nie. Hy wou nie gehad het dat die Here die Assiriërs van hulle verkeerde pad laat terugdraai nie. Hy wou gehad het dat die Here se straf hul moes tref. Die inwoners het dit ook raakgesien want hulle het berou getoon en die Koning het dit ook so verstaan daarom het hy in Jon 3v9 gesê:
Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.
Hulle hoop wat hulle gehad het was ook nie ongegrond nie want in Jon 3v10 hoor ons:
Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle, hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

Nog net veertig dae en Nineve word verwoes! Hiermee waarsku die Here teen die verwoesting wat geweld ook in ons lewens teweeg sal bring as ons aanhou daarmee. As ons aanhou om met gevoelens van bitterheid en haat rond te loop sal dit eventueel ons lewens verwoes en al ons lewensvreugde steel. As ons aanhou om al ons bekommernisse self te probeer dra gaan dit ons naderhand in die grond in druk. ’n Lewe sonder God waar God heeltyd eenkant toe gestoot word lei op die uiteinde net tot verwoesting.

Maar genadiglik staan daar ook in hierdie preek van Jona: “Nog net veertig dae en Nineve word getransformeer of verander.” Deur sy woord en sakramente verander die Here ons harte weg van ons ou sondige natuur na ’n nuwe lewe saam met Hom. Hy doen dit deur Jesus Christus wat aan ’n vervloekte kruishout gesterf het om ons sondes op Hom te neem. Al wat ons moet doen is om dit met geloof wat Hy vir ons gee vas te gryp. Dit is inderdaad wat ons ook met Nagmaal herdenk.

Wanneer ons Nagmaal gebruik dan is daar ook twee moontlikhede daarin opgesluit. As ons Nagmaal gebruik sonder om Jesus Christus se verlossing met geloof te omhels dan eet en drink ons ’n oordeel oor onsself soos die Here vir ons in 1 Kor. 11v29 sê:
want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself.

As Jesus Christus se verlossingswerk nie ’n werklikheid in ons lewens is nie, dan beteken die tekens van brood en wyn vir ons absoluut niks nie. Aan die ander kant lê daar in die Nagmaal die krag van God opgesluit om ons geloof te versterk. As Jesus Christus se verlossingswerk vir ons werklik is dan groei ons geloof met die gebruik van Nagmaal. Dan help dit ons om weg te draai van die bitterheid en haat wat so algemeen deel is van ons menslike natuur. Dan help dit ons om positief na die toekoms te kyk te midde van al die onsekerhede wat ons in die gesig staar omdat ons dit nie alleen aandurf nie, maar omdat ons dit saam met God aandurf.

Wat beteken hierdie Nagmaal vir ons? Moedeloosheid en verwoesting omdat ons nie werklik in geloof aan Jesus Christus se verlossing vashou nie? Of beteken dit vir ons ’n nuwe lewe waar ons die toekoms vol moed aanpak omdat ons weet dat God hier regs langs my is wanneer ek die lewe aandurf? Dan sal ek dit regkry om te vergewe en daardie gevoelens van bitterheid en haat een kant toe te stoot. Dan sal ek die onsekerhede van die toekoms met vertroue aanpak. Dan sal ek nie bang wees vir die tekort aan finansies nie. Dan sal ek nie bang wees vir daardie operasie wat vir my lê en wag nie want ek sal weet dat die ek dit nie alleen aandurf nie.

Daarom moet ons onthou: Sonder Jesus Christus is ek dood in my sonde, maar saam met Hom lewe ek

Geliefdes kom ons vier nou die Heilige Nagmaal met die volle geloof dat Jesus Christus se verlossing ook vir my ’n werklikheid is.
Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking