15 Mei 2011

God se onbeperkte genade is groter as ons rebelsheid teenoor Hom!


Jon. 1v17 – 2v10; teksverse Jon. 2 v 4
15 Mei. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 18 v 1 - 2(OAB)
Na Wet Sb. 9 - 1 v 1 - 11 (OAB)
Na Gebed Ps. 30 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 116 v 1 , 2 & 5 (OAB)

Daar is ’n ou Chinese spreukwoord wat sê: “Pasop waarvoor jy wens, want jy mag dit dalk kry” Daar diep in die ingewande van die vis het Jona die waarheid van hierdie spreukwoord besef. Hy het van God weggevlug en nou besef hy wat dit beteken om ver van God af te wees.  Die oomblik toe Jona oor die rand van die skip gegooi is, was daar nie meer omdraai kans vir hom nie. Hy was in opstand teen God en nou het hy besef wat die volle konsekwensies daarvan was.

Vir Jona het dit gevoel of asof die Here van hom af weggedraai het. Hy kon niks meer doen om uit sy benarde situasie te kom nie. Toe hy die geleentheid gehad het om te bid vir verlossing, het hy dit nie aangegryp nie. Die skeepskaptein het hom wakker gemaak en hom beveel om te bid, maar hy het nie. Dit is eers waar hy nou in ’n hopelose situasie is dat hy bid. In hierdie gebed van Jona is daar twee aspekte wat duidelik uitstaan, naamlik Jona se benarde situasie waaraan hy absoluut niks kon doen nie en die Here se eindelose genade aan die ander kant.

In hierdie gebed leer ons dat God se onbeperkte genade groter is as ons rebelsheid teenoor Hom!

Hierdie gebed is dan ook in die vorm van ’n Psalm en daar is verskeie ooreenkomste met verskillende Psalms soos byvoorbeeld met Ps. 18, 30, 42 en 120. Wat duidelik na vore kom is dat dit ’n danklied teenoor die Here is. Eerstens word daar ’n opsomming van die situasie in vers twee gegee. Dan beskryf Jona in verse drie tot ses hoe hy al hoe verder van die Here af wegsink tot in die onderste dieptes van die doderyk. Eers word hy deur die golwe en die strome rondgegooi. Dan sak hy dieper af en terwyl hy dieper afsak voel dit vir hom of hy van die Here af weggestoot word en al wat hy kan doen is om die Here te aanskou (vers 4). Dan sak hy nog verder af totdat die seegras om sy kop draai totdat hy op die diepste punt deur grendels van die graf toegesluit is. Daar is absoluut niks wat Jona aan sy situasie kan doen nie.

Dan beskryf hierdie danklied van Jona hoe die Here hom gered het. In Jon 2v7 hoor ons:
Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink,
en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel.
En in Jon 2v9 sluit Jona sy gebed af met:
Terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n offer bring;
wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.

Wat ’n mooi lofpsalm is dit nie oor die Here se redding nie! Dit is duidelik dat Jona baie dankbaar is dat die Here hom gered het. Daarom bid hy dan ook hierdie dankgebed terwyl hy nog in die vis se ingewande is met die volle vertroue dat die Here hom ook daaruit sal red.

Wanneer ons egter verder na die verhaal van Jona luister dan is daar tog iets wat mens pla oor hierdie gebed van Jona. Veral wanneer ons by hoofstuk vier kom. In Jon. 4v2 hoor ons:
Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

Jona is gered, maar hy het geen berou getoon vir sy opstandigheid teenoor die Here nie! Selfs nadat hy gered is, is hy nog steeds ontevrede omdat die Here genade betoon het aan die Assiriërs! As ons dan ook ’n bietjie fyner na hierdie gebed oplet dan sien ons dat Jona redelik selfgesentreerd is daarin. Hy verwys ten minste 17 keer na homself in die gebed. Verder kom sy veroordelende gesindheid ook daarin voor. In Jon 2v8 hoor ons:
Dié wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon.
Jona verwys tog sekerlik nie na die matrose op die skip wat in die begin na hul afgode gebid het nie, want hulle het dan teen die einde tot die Here gebid. Hierin skemer Jona se veroordeling van die Assiriërs tog deur. Hy wil nie hê dat die Here genade teenoor hulle betoon nie. Nee, wat hy wil hê is dat die Here hulle moet straf.

Hier is dus spanning teenwoordig. As gevolg van Jona se opstandigheid teenoor die Here het hy in Here af weggevlug en dit het veroorsaak dat hy in groot moeilikheid beland het. Die Here het hom laat besef dat sonde skeiding maak tussen die mens en die Here en wat dit beteken om weg van sy teenwoordigheid te wees. Uit sy groot genade het die Here hom gered en tog ten spyte daarvan is Jona nog steeds opstandig teenoor die Here!

Is Jona se probleem nie ook maar ons probleem nie? In hierdie verhaal van Jona is daar ook ’n profesie wat in Jesus vervul is. Net soos Jona drie dae en drie nagte in die vis was, was Jesus drie dae en drie nagte in die in die graf. Hierdie profesie wys dan na Jesus heen wat ons verlos van ons opstandige rebelsheid teenoor die Here. In Jesus Christus word ons van ons sondes verlos en staan ons voor God asof ons nooit enige sonde gedoen het nie. Tog is dieselfde spanning wat by Jona teenwoordig was nog steeds by ons teenwoordig. Ons is verlos van die slawebande van die sonde, maar ons val tog so dikwels weer daarin vas. Net soos Jona bly ons ook maar opstandig teenoor die Here. Ons weet dat ons Hom ten volle kan vertrou om vir ons te sorg en tog twyfel ons so dikwels. Die Here sorg vir ons en tog wil ons so dikwels vir Hom voorskryf hoe Hy dit moet doen. Is ons nie ook maar voorskriftelik teenoor wie Hy mag genade betoon en wie nie? Die Here moet teenoor my genade betoon, maar teenoor die mense wat ek as my vyande sien moet Hy asb. tog geen genade betoon nie! Hy moet hulle straf sodat ek my in hul leed kan verlekker!

As ons in hierdie lig na Jona kyk, dan wonder mens of Jona dan opreg dankbaar was? Is ons dan opreg dankbaar teenoor die Here? Jona was opreg dankbaar geliefdes en hy het gebid, dit wat hy in staat was om te bid. Hierin sien ons dan ook duidelik God se eindelose genade raak. Ten spyte daarvan dat Jona se gebed eintlik op homself gerig was en ten spyte daarvan dat hy nog nie werklik berou het nie neem God sy gebed aan. Die Here is nie van Jona afhanklik om genade te betoon nie. Jesus se verlossing is ook nie van ons doen en late afhanklik nie. Die Here gee sy genade onvoorwaardelik. Jona moes nog ’n pad saam met die Here stap soos ons sal hoor in hoofstukke drie en vier.

Die Here stap met ons ook ’n pad. Dit is waaroor voorbereiding vir die Nagmaal ook gaan dat ons moet besef dat God se onbeperkte genade groter is as ons rebelsheid teenoor Hom. Ons kom nie na die Nagmaal toe omdat ons nou sonder sonde is nie. Inteendeel ons kom na die Nagmaal toe omdat ons net soos Jona ook nog stoei teen ons eie onvolmaaktheid. Tog is ons ook dankbaar vir ons verlossing, wat ons dan ook met Nagmaal herdenk, net soos Jona dankbaar was terwyl hy nog in die Vis se ingewande was. Jona het vooruitgekyk daarna om ook uit die vis verlos te word. Net so kyk ons vooruit na die dag wanneer ons ook ten volle verlos kan word van ons eie sondige natuur en ons in volmaaktheid sonder hartseer trane of pyn vir altyd saam met God kan wees.

Geliefdes, kom ons berei ons dan nou ook in hierdie week voor om met dankbaarheid ons verlossing te herdenk met die wete dat die Here met ons gebreke geduld het en dat Hy ons sal lei en help om daarvan ontslae te raak omdat God se onbeperkte genade groter is as ons rebelsheid teenoor Hom.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking