08 Mei 2011

In sy liefde reik God met onbeperkte genade uit na godsdienstige en Goddelose rebelle en Hy doen dit selfs met storms as dit nodig is!

Jon. 1; teksverse Jon. 1 v 15 & 17
08 Mei. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 147 v 1 (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 5 (OAB)
Na Gebed Ps. 119 v 39 (OAB)
Slotsang Ps. 32 v 1 (OAB)
Inleiding
Die kerk stem nie altyd met God se verlossings planne saam nie! Wie is hierdie kerk? Dit is elkeen van ons, want ons is die lewende boustene van God se kerk soos Hy dan ook vir ons sê in 1 Pet 2 v 5:
Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is
Met ander woorde Ons stem nie altyd saam met God se verlossingsplanne nie! Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons vir God wil voorsê nie?

Jona het ook gemeen dat hy beter as God weet. Daarom maak hy dan ook ’n ander plan wanneer die Here hom roep om ’n opdrag te gaan uitvoer.

Jona vlug
Jona kry ’n opdrag van die Here (vgl Jon 1v2)
“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”
Jona is egter glad nie van plan om te luister nie. Nee, hy maak ’n ander plan soos ons hoor in Jon 1v3:
Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ’n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.
Hy vlug weg van die Here se opdrag af. Nineve lê Oos van hom, maar Jona vlug na die mees westelike stad van die bekende wêreld van daardie tyd. Die Here sê gaan Oos, maar Jona gaan Wes.

Nie net vlug Jona van Oos na Wes nie, maar hy gaan ook af weg van die Here af. Hy gaan af na Joppe toe en later in die skip gaan hy af onder in die skip in om so vêr as moontlik van die Here af weg te kom.

Hoekom het Jona gevlug en wou hy nie doen wat die Here vir hom sê nie? In Jon 4v2 hoor ons:
Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

Jona stem nie saam met die Here nie en daarom vlug hy weg van die Here af. Jona wou nie gehad het dat die Here genade betoon aan Israel se aartsvyande die Assiriërs nie. Hoe dikwels het ons nie maar ook ons eie idees wat godsdiens nou eintlik behoort te wees nie. Net soos die Fariseërs van ouds maak ons ook ons eie mensgemaakte reëls en wee die een wat nie by ons reëls wil inval nie! Hoe dikwels tree ons wat die kerk is heeltemal teenoorgesteld op van wat God wil hê. Kom ek noem maar net een voorbeeld. Hoe dikwels loop ons nie met haat en oordeel in ons harte rond nie? Tog sê die Here baie duidelik vir ons dat ons mekaar moet vergewe (vgl. byvoorbeeld Kol 3v13)
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

Wat het Jona gedoen? Hy het van die Here af weggevlug. Dit is wat ons ook doen. Jona het op skip geklim na Tarsis toe om van die Here af weg te kom. Hy het gehoop dat hy daar tussen die heidene van God sal kan ontsnap. En ons? In sommige gevalle bly ons weg van die samekomste van die Here af. In ander gevalle maak ons, ons lewens vol met vormgodsdiens waar ons aan allerlei rituele en mensgemaakte reëls vashou. Die essensie van vormgodsdiens is dat mens godsdiens hou sonder dat God daarby betrokke is. Hierdie is ’n gunsteling strategie wat die kerk inspan. In ander gevalle maak ons, ons lewens so vol van die wêreldse dinge dat ons nie tyd het om by God uit te kom nie.

Jona het egter nooit by Tarsis uitgekom nie want in sy genade agtervolg God agtervolg ons met sy onbeperkte genade. Hy laat nie toe dat ons van Hom af wegvlug nie.

God se plan van verlossing sluit soms storms in!
Jona het gevlug Maar die Here het ’n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was ’n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek.

Geliefdes, het u al gewonder hoekom daar so baie storms in jou lewe is? Is dit nie dalk omdat ons van die Here af probeer wegvlug nie? God het ons te lief om ons maar net ongestoord op ’n verkeerde pad te laat voortgaan. As dit nodig is dat Hy ’n storm moet stuur om ons op die regte pad te bring, dan kan ons verseker wees dat Hy dit sal doen, want Hy is getrou. Hy laat vaar nooit die werke van sy hande nie.

In hierdie verhaal van Jona sien ons dat die storm in Jona se lewe ook ’n baie groot invloed gehad het op onskuldige mense. Die arme matrose het maar net hul werk gedoen en nou sit hulle in tamatiestraat! Wanneer die kerk, (dit wil sê ons) sy plig versaak dan het dit heel dikwels ’n slegte invloed op die ongelowige mense buite die kerk. Hoe dikwels gebeur dit nie dat die ongelowiges na ons kyk en tot die slotsom kom dat dit die laaste plek is waarby hulle betrokke wil raak nie. Wanneer ons vol haat en oordeel rondloop dan stoot dit heel dikwels mense weg eerder as wat dit mense aantrek.

Genadiglik laat die Here nie vir Jona alleen nie, want op die uiteinde het die storm wat die Here agter Jona aangestuur het vir hulle ’n groot voordeel ingehou. Hulle het die enigste lewende God leer ken. Aanvanklik probeer hulle alles wat hulle kan. Hulle bid tot hulle gode en as dit nie werk nie gooi hulle die skip se vrag in die see. Eienaardig genoeg het dit Jona nie veel geskeel nie. Hy het onder in die skip gaan lê en rustig aan die slaap geraak!

En dan gebeur ’n verrassende ding. Die kaptein van die skip wat God nie ken nie kom na Jona toe en hy beveel hom om tot God te bid. Die ongelowige buite die kerk wys die kerk op sy plig! En watter verskil maak dit nie in hul lewens wanneer Jona wel opstaan nie. Hy is nog nie waar hy moet wees nie. Hy toon nog geen berou nie en hy bid nog nie tot die Here nie. Hy bely wel dat die Here die enigste ware God is soos ons hoor in Jon. 1v9:
“Ek is ’n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.”

Selfs ten spyte van die gebrokenheid van die kerk gebruik God die kerk nog steeds in sy genade om ongelowige mense met Hom te versoen. Interessant dat die storm egter nie bedaar nie, maar dit word net al hoe onstuimiger. Solank as wat hulle nog hul eie kop volg word die storm erger. Jona het vir hulle vertel wat hulle moes doen, maar hulle het nog eers hul eie planne probeer soos ons hoor in Jon. 1v13:
Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle.
Solank as wat die wêreld hul eie kop volg sal die storms nooit bedaar nie en sal hulle nooit werklik die lewende God leer ken wat die see en die vasteland gemaak het nie.

Eers nadat hulle dit gedoen het, het daar kalmte en rustigheid gekom soos ons hoor in Jon. 1 v 15:
Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar.

Hoekom was dit nodig dat hulle Jona in die see moes gooi? Want die Here het hierdie gebeurtenis gebruik as profesie wat vooruit gewys het na die enigste Verlosser wat daar vir die wêreld is. In Jon. 1 v 17 hoor ons:
Toe stuur die Here ’n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.

In Mat 12v38-42 hoor ons:
38 Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil ’n wonderteken van u sien.”
39 Maar Hy antwoord hulle: “’n Slegte en afvallige geslag vra ’n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. 40 Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. 41 Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona! 42 Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!”

Die teken van Jona (dit wil sê Jesus Christus) het redding vir die matrose beteken en dit het teweeg gebring dat hulle Here aanbid het soos ons hoor in Jon 1 v 16:
Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom ’n offer gebring en geloftes afgelê.
Die Hebreeuse woorde wat met “baie bang” vertaal is, dra ’n baie ryker betekenis as net gewoonweg bang of vrees soos dit ook baie male vertaal word. Dit dra ook die betekenis van groot ontsag en eerbied. Die matrose het dus ’n groot ontsag en eerbied vir die Here gehad en daarom het hulle Hom aanbid.

Die teken van Jona het ook vir Jona besondere betekenis van verlossing vir Jona gehad. Ons gaan volgende week dieper daarop ingaan. Die belangrike is egter dat kerk wat in opstand teen die Here is en ook die ongelowiges buite kerk op net een manier met die Lewende God versoen kan word. Dit is deur Jesus Christus alleen.

slot
Laat ons daarom ophou om van die Here af weg te vlug en kom ons hou vas aan sy genade in Jesus Christus, want In sy liefde reik God met onbeperkte genade uit na godsdienstige en Goddelose rebelle en Hy doen dit selfs met storms as dit nodig is!                                                Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking