Jes. 43 v 1 - 4
Luister,
so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie
bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy
deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel
nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou
nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy vir My
kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.
This devotional is also available in English
Moenie bang wees nie. Dit is 'n gerusstelling wat soos 'n
goue draad deur die Bybel loop. Wanneer engele aan mense verskyn is hulle
eerste woorde gewoonlik: “Moenie bang wees nie.” Dink maar aan die engel Gabriel
se verskyning aan Maria. Direk nadat hy haar gegroet het, sê hy: “Moenie bang
wees nie.”
Die HERE sê vir ons dat ons nie moet bang wees wanneer
dit lyk of die wêreld op sy kop gedraai het nie. Moenie bang wees wanneer Covid
soos 'n veldbrand versprei nie. Moenie bang wees as jyself deur Covid
aangesteek word nie. Moenie bang wees wanneer die gebeure rondom jou soos 'n orkaan
verwoed alles deurmekaar waai nie.
Dit is belangrik dat ons moet raaksien dat die HERE nie sê
dat Hy die onstuimigheid gaan wegneem nie. Wat Hy wel sê is dat wanneer jy deur
die rivier met sy bruisende waters moet gaan of jy deur die vuur moet gaan, dat
Hy daar is vir jou. Jy is nie alleen nie.
Die HERE vat nie altyd die storms weg nie, maar Hy gee
vir ons die versekering dat wanneer ons deur die storm moet gaan dat Hy aan jou
sy is omdat jy as sy kind vir Hom kosbaar is. Selfs wanneer jy deur die vallei
van die dood moet gaan sal Hy jou nie alleen laat nie. Daar is niks wat jou van
die liefde van Christus kan skei nie, selfs nie eens die dood nie.
Die HERE gee hierdie belofte egter net aan sy kinders. Net
diegene wat in Jesus Christus glo as hul enigste Verlosser en Saligmaker is
kinders van God. Is jy 'n kind van God? Glo in Jesus Christus. Bely jou sonde
en erken dat jy as gevolg daarvan verlore is. Glo dat Jesus jou daarvan verlos
het met sy kruisiging en opstanding. Vertrou op God en moenie bang wees nie.
Kinders van God, moenie bang wees wanneer die lewensstorms
soos 'n verwoede orkaan rondom jou woed nie.
Amen