Lees:
Joh. 1v1 tot 18; Teksvers Joh. 1v12 & 13
en Sondag 9
Heidelbergse Kategismus
Ons bely as Christene dat ons ʼn lewende hoop het.
Selfs wanneer ons omstandighede donker lyk, is ons nie wanhopig nie. Ons is
selfs nie bang vir die dood nie, want ons weet dat selfs wanneer ons liggame
sterf, is dit nie die einde nie. Ons weet daar wag vir ons ʼn ewige heerlikheid
wat niemand van ons kan wegneem nie.
Hoekom hou ons vas aan hierdie lewende hoop?
In 1
Joh. 2 v 3 sê die Here vir ons:
Kyk watter groot
liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit
ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.
Dit wil sê, God is ons Vader wat vir ons sorg en
daarom het ons hoop vir nou en vir die toekoms. Daarom bely ons ook elke Sondag
“Ek glo in God die Vader, die Almagtige Skepper van hemel en aarde.”
Die hoofgedagte van hierdie belydenis is: “Die
Skepper is my Vader” In hierdie belydenis gaan dit nie soseer oor
die detail van die skepping of hoe dit plaasgevind het nie. Die hoofsaak van
die belydenis gaan oor die Persoon, die Ewige God wat die hemel en die aarde
uit niks geskep het en wat my verhouding met Hom is.
Dit gaan dus nie hier oor die skepping op sigself
nie, maar veel eerder oor wie dit is wat geskep het. In Ps. 19v2 hoor ons die
wonderlike skeppingslied wat getuig oor die almal van God:
Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
As ons die wonder van God se skepping aanskou, dan
sê dit vir ons iets van die almag en die grootheid van die Skepper wat dit uit
niks uit tot stand gebring het. Dan kan ons ook maar net saam met Dawid die
wonder van God besing soos hy dit in Ps. 8v2 doen:
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
Maar daarmee saam kom die vraag dan ook na vore: “waarom
sou die almagtig God wat die hemel en die aarde geskep het Homself met ons
klein nietige mense bemoei?”
Ps. 8 v 4 & 5:
4 As ek u hemel aanskou, die
werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het,
5 wat is die mens dan dat U aan
hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
In ons belydenis lê die sleutel. Ons bely “Ek glo
in God die Vader....” Ons verwys na God as ons Vader omdat Hy Homself so in sy
ewige Woord openbaar. Hierin lê die sleutel van ons verhouding met God. Ons
verwys nie na Hom as my alleen God nie, want dit sou ’n verkeerde verhouding
aandui. As ek na God verwys as my God, dan kom daar so ’n sweempie van beheer
en manipulasie deur.
My God.....?
Met ander woorde God is my besitting wat ek
aangeneem het. Die inisiatief van die verhouding lê dus by my! Heeltemal in
stryd met die Skrif!
Nee geliefdes, ons bely, dit wil sê ons glo vas en
seker dat God, die Vader van Jesus Christus ter wille van sy Seun Christus ook
my Vader is. As dit van my as mens afgehang het sou ek nooit vir God gekies het
nie. Die mens het dan juis in rebelse opstand teen God se gesag sy rug op God
gedraai en God verwerp.
(Vgl. Joh. 1v11)
Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie
aangeneem nie.
En tog deur God se genade word almal nie verwerp
nie. Daar is sommiges wat tot God mag nader soos die Here ook vir ons in
Joh. 1v12 en 13 sê:
12 Maar aan almal wat Hom
aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te
word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n
mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.
Gedring deur die Heilige Gees neem die uitverkore
kinders van God, Jesus Christus se verlossingsdaad aan die kruis deur geloof
aan en daardeur kry hulle die voorreg om kinders van God genoem te word.
Elkeen wat glo dat Jesus Christus vir sy of haar
sondes aan die kruis gesterf het en dat Jesus vir hulle die ewige lewe verwerf
het met sy oorwinning van die dood, mag vir die ewige God wat die hemel en die
aarde geskep het, Vader noem.
Geliefdes, sien u die verskil tussen net my God en
ons belydenis se my God en Vader? My God alleen dui op ’n baie manipulerende
verhouding tussen God en die mens waar die mens in beheer is, terwyl my God en
Vader dui op ’n baie intieme verhouding.
Die verhouding tussen ’n pa en sy kind is baie nou en intiem. Ons beleef dit ook wanneer ons klein kleuter kindertjies vir ons pappa sê. En dit is inderwaarheid ook die vlak van ons verhouding met ons Hemelse Vader.
(Vgl. Rom. 8 15)
Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat
julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot
kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.
Abba is ’n Aramese woord wat aanvanklik deur kleuters gebruik is en kan inderwaarheid as pappa vertaal word. Abba Vader dui dan ook op die kinderlike vertroue wat ons as kinders van God in Hom het. Sien u die Groot verskil geliefdes?
My God: arrogant, manipulerend met die
inisiatief wat van my af uitgaan teenoor Abba Vader wat op ons absolute
kinderlike vertroue in God ons Vader dui. Met Abba Vader kom al die inisiatief
van God en nie van ons nie. God wat sy Seun uitstuur en die Heilige Gees wat
vir ons die geloof gee om Jesus Christus se verlossingsdaad ons eie te maak.
Daarom glo ons ook vas en seker dat die ewige Vader
van ons Here Jesus Christus ter wille van sy Seun Christus ook ons God en Vader
is. Ons glo dat Hy die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep
het en ook dat Hy dit deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en
regeer.
Omdat God ons Vader is weet ons verseker dat ons
met kinderlike vertroue op Hom kan staatmaak.
In Joh. 1v16 sê Hy vir ons:
Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.
Uit die oorvloed van God se genade weet ons dat Hy
ons met alles wat vir liggaam en siel nodig is sal versorg. Ons vertrou ons
Vader met kinderlike vertroue en daarom weet ons ook dat Hy al die kwaad wat Hy
in hierdie jammerdal oor ons beskik, tot ons beswil sal verander. In die
prediking oor Sondag 10 sal ons in meer detail op hierdie aspek ingaan.
Ons vertrou dat God ons Vader vir ons sal sorg
omdat Hy dit as Skepper van hemel en aarde KAN doen, maar meer
nog Ons vertrou op God omdat Hy dit WIL doen as ons Vader. Die
werklike troos lê daarin dat ons vir seker weet dat God dit wil doen en dat Hy
kan, want Hy is die Skepper van Hemel en aarde.
Elkeen wat Jesus Christus aangeneem het, dié wat in
Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Wanneer ons dus bely
:
“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en
aarde”
Dan doen ons dit in die wete dat God, die Skepper
van hemel en aarde, in Christus my Vader is op wie ek kan
vertrou.
Geliefdes, wanneer ons die slaggate op ons
lewenspad tref, hou vas aan die hoop dat ons ’n Hemelse Vader het op wie ons
kan vertrou. In daardie seerkry en hartseer dae, gaan na jou Hemelse Pappa
sodat Hy jou met sy liefde kan toevou. Hoeveel te meer gaan ons nie die
vreugdes van die lewe geniet wanneer ons dit met ons Hemelse Vader kan deel
nie.
Geliefdes hou vas aan die hoop dat die Almagtige
God en Skepper van die Hemel en die Aarde in Christus ons Vader is op wie ons
kan vertrou en daarom het ons hoop vir die toekoms.
Amen
