08 Junie 2025

Wat of wie is die kerk?


 

Lees Mat. 16:13-19 – teksverse Mat. 16:16, 18 & 19 

NGB Art. 27 & Heidelbergse Kategismus Sondag 52 vrae 54 en 55

1.      Inleiding

waarheen is Gereformeerde Kerk Bloemfontein Suidheuwels op pad?

Voordat ons daardie vraag kan beantwoord is dit nodig dat ons net weer vir onsself “uitmaak wat of wie is die kerk?”

Om te verstaan wat of wie die kerk is gaan ek net eers gou stilstaan by wat die kerk nie is nie.

2.      Wat is die kerk nie?

Die kerk is nie ʼn gebou nie. Tog praat ons dikwels van die gebou waar ons bymekaarkom as die kerk. ʼn Beter manier om na die gebou waar ons bymekaarkom te verwys is: ʼn kerkgebou. Tog is dit ook so dat wanneer ons na die gebou as kerk verwys, dan bedoel ons Doppers gewoonlik nie dat dit die kerk is nie. Ek glo ons bedoel daarmee dat wanneer ons van die gebou as kerk praat dat dit die plek is waar ons as kerk bymekaarkom.

Die kerk is ook nie ʼn institusie of organisasie nie. Ek dink ons maak meer dikwels die fout om so aan die kerk te dink en dit is ook waar die wanpersepsie van mense vandaan kom wanneer hulle die kerk as ʼn aparte entiteit van hulself sien. Die kerk maak sus of so en die kerk wil net voorskryf ens. Die ons en hulle sindroom hoort nie in die kerk nie.

Die kerk is ook nie die dominee of kerkraad of ouderlinge nie. Hulle is deel van die kerk, maar hulle is nie op hul eie die kerk nie.

Die kerk is ook nie ʼn sosiale klub nie. Dit klink logies dat nie is nie, maar dit is verbasend hoeveel mense in praktyk die kerk as ʼn klub uitleef. ʼn Klub soos bv. ʼn gholfklub is ʼn sosiale organisasie waarby mense met belange wat hulle deel aansluit en hulle besluit self tot watter mate en hoe gereeld hulle betrokke wil wees en watter saamkom geleenthede hulle wil bywoon. Dit is beslis nie kerk nie.

3.      Wat is die kerk dan?

Om die regte antwoord op die vraag te kry is dit belangrik dat ons kyk na wat die Bybel daaroor te sê het, want die grondslag van die kerk is die waarheid van die woord van God.

Die Griekse woord wat ons met ‘kerk’ vertaal is Ekklesia. Dit beteken letterlik uitgeroep. Daarom bely ons dat Christus uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is versamel.

In Mat. 16:18 hoor ons:

En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Die kerk van wie Jesus hier praat is al die gelowiges (lewendig en dood) van die begin tot die einde. Dit wil sê, dit is die somtotaal van al die gelowiges oor al die eeue heen. Ons praat hier van die universele onsigbare kerk. Daarom bely ons ook dat ons glo aan ʼn heilige, algemene Christelike kerk.

Die Bybel leer ons ook dat die kerk 'n plaaslike groep identifiseerbare gelowiges is wat aan Christus en mekaar toegewy is, wat saamwerk om God te verheerlik en sy sending te dien soos ons bv. in Hand. 14:23 hoor:

In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.

In hierdie geval is die Griekse woord ‘Ekklesia’ met ‘gemeente’ vertaal.

Dit is belangrik dat ons moet insien dat die Bybel nie na twee aparte tipes kerk verwys nie. In albei gevalle verwys dit na die kerk van Christus in verskillende gedaantes. Sien dit so. Die universele onsigbare kerk word sigbaar in die plaaslike gemeentes.

In die Bybel gebruik God ook verskillende beelde om vir ons te verduidelik wat die kerk is. Ek gaan hier net ʼn paar voorbeelde noem. Bv. Bruid van Christus (Ef. 5:25-28); Kudde van God (1 Pet. 5:2); Die Saailand van God (1 Kor. 3:9); Lewende boustene van ʼn geestelike gebou (1 Pet. 2:5).

Dan is daar ook die beeld van ʼn liggaam van Christus (Ef. 1:22-23). Laasgenoemde is een van die bekendste beelde en daarom verwys ons ook na die mense in die kerk as lidmate (ledemate). Ons is inderdaad die hande en voete van Jesus hier op aarde.

Die Bybel noem ook dat ons ʼn huisgesin is omdat ons kinders van God is (Joh. 1:12) en daarom verwys ons ook na mekaar as broeders en susters.

Al hierdie beelde druk een gedagte uit, nl. dat die kerk ʼn vergadering is. Almal saam is bv. die bruid van Christus, ens. Die kerk is ʼn vergadering en daarom is dit eintlik verkeerd om te vra: “wat is die kerk?” Ons moet eerder vra: “wie is die kerk?”

4.      Wie is die kerk?

In Sondag 21 vraag en antwoord 54 van die Heidelbergse Kategismus bely ons:

Die Seun van God verkies vir Hom uit die hele menslike geslag 'n gemeente aan wie Hy die ewige lewe gee.

Hoe doen Hy dit?

Hy kies hierdie gemeente uit deur sy Gees en Woord in die eenheid van ʼn ware geloof.

Hy vergader hulle van die begin van die wêreld af tot die einde toe, en verder beskerm en onderhou Hy hulle.

Ons bely ook:

dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly.

 

Wie is die kerk? Die kerk is die mense wat deur God uitverkies is; deur die bloed van Christus gekoop is; deur die Heilige Gees tot woning van die Heilige God gemaak is en daarom is die kerk heilig. Dit beteken dat die kerk die eiendom van die heilige God is. Ons behoort aan Hom en daarom is ons heilig.

Ons kan ook sê die kerk is Christelik, want die kerk behoort aan Jesus Christus. Hy is die hoof van die kerk en ons is die liggaam. Die kerk staan en val met die belydenis van Petrus wat ons in Mat. 16:16 hoor: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Ons is Christene omdat ons deur die Heilige Gees gesalf is tot lede van Christus. Verstaan U nou waarom die kerk van Christus radikaal anders as die wêreld daar buite is?

5.      Wat is die doel van die kerk?

Die doel van die kerk is om God te eer en om sy Koninkryk aan die wêreld sigbaar te maak. Een van die kenmerke van ʼn ware kerk is suiwere woordverkondiging. Deur woordverkondiging word die Koninkryk van God sigbaar. Die kerk wys vir die wêreld dat God regeer sodat Hy geken, aanbid en verheerlik kan word.

In Mat. 28:18-20 gee Jesus die opdrag aan sy kerk:

'Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”'

Die kerk moet die evangelie, die goeie nuus van die verlossing in Jesus Christus verkondig sodat elke uitverkore kind van God dit kan hoor en dit glo om weer met God versoen te word.

Deur suiwere woordverkondiging en die suiwere bediening van die sakramente (tweede kenmerk van ʼn ware kerk) word die gelowiges toegerus om uit te gaan in die wêreld om Jesus vir die wêreld te wys deur dit wat hulle sê en dit wat hulle doen.

Met ander woorde om sout en lig vir die wêreld te wees.

In Mat. 16:19 hoor ons:

Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Deur die sleutel van woordverkondiging van die evangelie word die Koninkryk van die hemel oopgesluit vir diegene wat dit glo, maar dit word ook toegesluit vir hulle wat nie die evangelie glo nie.

Deur die sleutel van die tug word die Koninkryk van die hemel toegesluit vir hulle wat hulle nie wil bekeer nie, maar oopgesluit vir diegene wat hulle berouvol aan die vermaning van die tug onderwerp en hulle bekeer.

Die tug is dan ook die derde kenmerk van ʼn ware kerk om te verseker dat ons getrou bly aan die woord. Die woord Gereformeerd beteken om te reformeer, dit wil sê om terug te verander na die woord toe.

Ons moet egter nie misverstaan wat die kerklike tug is nie. Dit is nie straf nie. Tug is ʼn liefdesmiddel om mense tot berou en bekering te bring.

Die kerk het alleen die gesag van die sleutels van die Koninkryk van die hemel in soverre hulle dit gebruik in ooreenkoms met die woord. Die gesag van die kerk berus in die woord en sodra die kerk afwyk van die woord, het hulle geen gesag meer nie.

6.      Die struktuur van die kerk

God is ʼn God van orde en daarom het Jesus ook ʼn struktuur in die kerk ingestel sodat alles ordelik kan verloop. Ons leer in die Bybel dat daar vier ampte in die kerk is, nl. Predikante, ouderlinge, diakens en gelowiges. Elkeen van die hierdie ampte is gelyk en nie een is hoër as die ander nie.

Die amp van predikant behels om herder en leeraar te wees wat die gemeente lei. Die amp van ouderling is kerkregering en daarom moet ons hulle ook daarvoor respekteer. Die amp van diakens is om die gemeente te lei om die liefdesdiens uit te oefen.

Die amp van die gelowige is profeet, priester en koning. Die amp van die gelowige is ook van toepassing op die ander ampte. As profeet moet ons Christus bely en ʼn profeet is ook die mondstuk van God. As priesters moet ons onself aan Hom toewy as lewende offers van dankbaarheid. En as konings moet ons koninklik stry teen die sonde en die duiwel en sy ganse ryk.

Wat is ons plig in die kerk?

Sondag 52 vraag en antwoord 55 spel dit vir ons uit:

55  Vraag:  

Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: 

Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. 

   Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en    met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te    wend.

7.      Slot

Die vraag wat elkeen van ons onsself moet afvra is: “Is ek ʼn ware lidmaat van die kerk?” Glo ek opreg in Jesus Christus as my enigste Verlosser en Saligmaker? Leef ek uit my geloof? Ontvlug ek die sonde en jaag ek die geregtigheid na? Het ek die ware God en my naaste lief?

Ons is nog nie volmaak nie, maar die vraag is: “stry ons deur die genade van die Heilige Gees ten bloede toe teen die sonde?”

Weet dat die ware is gelowige onvolmaak en daarom is die kerk ook onvolmaak.

Geliefdes, waarheen is Gereformeerde Kerk Bloemfontein Suidheuwels op pad? Ons kan net een doelwit voor oë hê. Ons moet ware kerk van ons Here Jesus Christus wees.

Amen

Wat bely ons t.o.v. die kerk:

NGB ARTIKEL 27
DIE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK

Ons glo en bely 'n enige katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. 

Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. 

En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat die voor Baäl gekniel het nie. 

Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot 'n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. 

Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.

Heidelbergse Kategismus SONDAG 21

54  Vraag: 

Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: 

Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en dat ek daarvan 'n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).

(a) Ef 5:26;  Joh 10:11;  Hand 20:28;  Ef 4:11-13.  (b) Gen 26:4;  Op 5:9.  (c) Rom 8:29;  Ef 1:10-13.  (d) Jes 59:21;  Rom 1:16;  10:14-l7;  Ef 5:26.  (e) Hand 2:42, Ef4:3-5.  (f) Ps 71:17, 18;  Jes 59:21;  1 Kor 11:26.  (g) Matt 16:18;  Joh 10:28-30;  Ps 129:1-5.  (h) 1 Joh 3:I4, 19-21;  2 Kor 13:5;  Rom 8:l0.  (i) Ps 23:6;  1 Kor 1:8, 9;  Joh 10:28;  1 Joh 2:19;  1 Pet 1:5.

55  Vraag: 

Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: 

Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a).  Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b).

(a) 1 Joh 1:3;  Rom 8:32;  1 Kor 12:12, I3;  1 Kor 6:17.  (b) 1 Kor 12:21;  13:1, 5;  Fil 2:4-8.


01 Junie 2025

’n Christin sê dankbaarheidslewe lyk radikaal anders as die wêreld daar buite!

 

Lees Matteus 5 - 7

1    Inleiding

Hoe moet ons dankbaarheidslewe lyk? Onthou dit is die derde ding van die drie dinge wat ons moet weet. (Ek is ʼn verlore sondaar. Ek word daarvan verlos wanneer ek glo dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het en hoe moet ek dankie sê).

Hier in Matteus 5 – 7 wat ook as die bergrede bekendstaan sê die Here vir ons hoe ons as Christene behoort te leef. Matteus 5-7 kan ook beskryf word as die grondwet van God sê koninkryk. Hoe moet die burgers in God sê koninkryk leef.

As ons so na die bergrede luister kan ons baie maklik sê, “SJOE! Dis baie gevra!” Daarom is dit baie belangrik dat ons goed moet kennis neem wat die Here vir ons daarin sê. Die bergrede stel nie die voorwaardes waaraan jy moet voldoen voordat jy ʼn burger van die Koninkryk kan wees nie. Christus praat nie hier met mense wat buite is en nog wil inkom nie.

Kyk mooi na hoe Jesus die Bergrede begin. Die Bergrede begin met God sê seën. Dit volg dieselfde lyn as die Wet wat God in die Ou Testament gee. Hy het eers sy volk uit Egipte verlos en dan gee Hy sy wet sodat sy volk kan weet hoe hulle moet leef. In die bergrede verduidelik Jesus vir die burgers van God sê Koninkryk wat dit beteken om volgens God sê wet te leef.

Hoe weet jy of jy ʼn burger van die Koninkryk van God is? Wanneer jy opreg glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is, dan kan jy met sekerheid weet dat jy ʼn burger in God sê Koninkryk is.

Die Bergrede begin by God en hoe Hy ons anders maak. Daardeur maak Hy dit vir ons moontlik om sy wil te doen. Jesus sê inleiding met die Bergrede is “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is”.

Dis nie uit eie krag wat jy volgens die grondwet van die Koninkryk van God moet leef nie. Dis deur God sê krag en daarom het Hy die Heilige Gees gestuur om ons te lei en by te staan daarin.

Dit is so dat die Bergrede duidelike eise stel, maar dit kom eers nadat die genade van God die grondslag daarvoor gelê het. Geen mens kan in eie krag aan die Bergrede gehoorsaam wees nie en ons hoef ook nie. God gee die krag. Gebruik dit! Doen dit uit dank vir sy genade!

2    Sout en Lig

Na die saligsprekinge in die Bergrede gebruik Jesus twee beelde om te verduidelik dat ʼn Christen sê lewe radikaal anders as die wêreld daarbuite moet wees. En baie belangrik, Hy begin weereens nie met wat ons moet doen en wat ons behoort te wees nie.

Hy begin met wat God ons gemaak het en hoe ons moet wees. Ons IS “sout vir die aarde” en ons IS “die lig vir die wêreld”.

Eers dan volg wat Hy van ons verwag. Jesus roep ons om daadwerklik te leef soos God ons gemaak het: om ons lig te laat skyn en om soos sout alle bederf teen te gaan.

God sê genade is soos energie wat ons in staat stel om radikaal anders te leef. Die gawes wat God skenk is die gereedskap wat Hy gee om ons roeping te vervul.

Christene moet ʼn verskil in die wêreld maak. Onthou egter: Die Here vra nie van jou om die hele wêreld te verander nie. Maak ʼn verskil binne jou leefwêreld.

Nadat die Jode uit Ballingskap teruggekeer het moes elkeen voor sy eie huis bou om die muur om Jerusalem weer op te bou. Wees lig en sout in jou eie huis. Daar waar jy werk. Daar waar jy by jou vriende bymekaarkom. Daar waar jy vreemdelinge ontmoet in die winkel en op straat.

Onthou net. Dit gaan nie sonder teenstand gebeur nie. Moenie die ontsettende mag van die sonde onderskat nie en moenie moedeloos word nie. Moenie dit uit eie krag probeer nie. Bid dat die Heilige Gees jou sal bystaan en lei.

Maar weet ook dat wanneer die Here in Mat 5:48 sê “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” beteken dit nie dat ons nou al perfek, sonder enige sonde kan wees nie.

Die Bybel stel dit baie duidelik dat ons in hierdie lewe steeds val en struikel soos ons bv. in 1 Joh. 1:8-10 hoor:.

8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Daar waar jy val en struikel, staan weer op. Bely jou sondes teenoor God en gaan dan voort om sout en lig te wees in die wêreld.

3    Die diepte van die wet.

Hier in die Bergrede maak Jesus die volle betekenis van die wet wat God reeds in Eksodus 20 gegee het nog duideliker.

Jesus stel nie die wet ter syde nie. Ons rigsnoer vir ons dankbaarheidslewe bly steeds die wet. Jesus het nie gekom om die wet te ontbind nie, maar om dit te vervul deur wat Hy self gedoen en gely het.

So ontvou Hy die wet in sy volle skerpte. Die wet reik veel dieper as wat ons dink, of wat die Fariseërs en Skrifgeleerdes daarvan gemaak het.

Sewe keer (die getal van volmaaktheid) stel Jesus die tradisionele beskouing van die godsdienstige leiers en ook dit wat ons so dikwels van die wet maak, teenoor wat die werklike betekenis van die wet is.

Bv. Moord. Dit begin in die hart en daarvolgens moet ons elkeen van ons erken dat ons moordenaars is. Egbreek begin reeds in die onkuise begeertes in jou hart. Op die uiteinde laat Hy dit uitloop op die groot gebod wat die vervulling van die wet is: Liefde.

Op die uiteinde mag ons nie onderskeid tref tussen vriend en vyand nie. Ons Vader diskrimineer nie. Hy skenk sy liefdegawes aan ons almal en daarom kan ons ook nie diskrimineer in ons liefde vir ons medemens nie.

Ons moet volledig en onvoorwaardelik gee aan almal wat die Vader op ons lewensweg plaas.

4    So leef ʼn Christen.

In Matteus 6-7 trek Jesus die kring nog wyer oor hoe ons orals en altyd as Christene behoort te leef. Die wêreld moet deur ons optrede kan sien dat ons kinders van ons hemelse Vader is.

Die onderwerpe wat Jesus uitlig is:

¨     Hulp aan die armes, hoe ons moet bid en as ʼn mens vas:
Doen dit vir God, en nie om daarvan ʼn vertoning voor mense te maak nie!

¨     Hoofsaak en bysaak:
Kry jou prioriteite reg. Is God en wat Hy beveel, sy Koninkryk en wat dit inhou, werklik nommer een in jou lewe?

¨     Oordeel en selfbeoordeling:
Vee eers voor jou eie deur voor jy die splinter uit jou buurman sê oog wil uithaal.

¨     Gebedsverhoring:
As mense mekaar help, hoeveel te meer sal God ons nie alles gee wat ons nodig het nie!

¨     Volharding:
Hou aan. Gee alles wat jy het want die einde is meer as die moeite werd.

¨     Verleiding:
Pas op vir mooi praatjies. Kyk na wat mense doen en lei daaruit af wat hulle werklike motiewe is.

¨     Daders van die woord:
Wat help dit om te weet wat reg is as jy dit nie ook doen nie?

Hiermee sluit Jesus die bergrede dan ook af en Hy onderstreep dat ons nie net maar moet praat nie. Ons moet dit wat Hy ons leer daadwerklik gaan doen!

5    Slot

God gee vir ons sy genade. Hy het ons so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Gaan nou en leef God sê genade uit in jou lewe deur die krag van die Heilige Gees. Wanneer jy uit genade leef sal jou lewe radikaal anders wees en dan sal jy sout en lig wees.

ʼn Christen sê dankbaarheidslewe lyk radikaal anders as die wêreld daar buite. Gaan uit. Wees sout en lig vir die wêreld.

Amen