27 Jan. 2013 (RB)
Dan. 3 Teksverse Dan. 3:17-18
Sing
Lofsang: Ps. 31 v 1 & 3 (OAB)
Na
wet: Ps. 103 v 2 (OAB)
Na
gebed Ps. 33
v 5 & 6 (OAB)
Slotsang Sb 14-2 (Al sou die vyeboom nie bot
nie)
Inleiding
Word
u ook soms moedeloos oor die uitdagings wat ons in die gesig staar? Waar die
kerk op ’n stadium ’n baie belangrike deel van die samelewing uitgemaak het,
word die invloed van die kerk al hoe kleiner. Verlede jaar het die NG Kerk met
ongeveer 4 gemeentes gekrimp en in ons eie kerkverband gaan dit nie veel beter
nie. Op die platteland sukkel gemeentes om te oorleef en word dit deesdae as ’n
luuksheid beskou om twee of drie gemeentes van verskillende denominasies op die
klein dorpies te hê.
Verder
is daar al hoe meer onrus wat in die land aan die broei is soos die geweldadige
betogings in Sasolburg en ander Vrystaatse dorpe die afgelope week. Dink maar
aan die geweld wat hoogty gevier het met staking van plaasarbeiders in die
onlangse verlede. Op persoonlike vlak gaan dit nie veel beter nie. Dit raak
deesdae ’n stryd om te oorleef met brandstofpryse en kragtariewe wat die hoogte
inskiet om van kospryse nie eens te praat nie. Dan kom daar ook nog ander
probleme wat baie van ons tref soos siektes, huwelike wat verbrokkel en nog
vele meer. As ons so na ons samelewing van vandag kyk, dan moet ons erken dat
dit maklik is om moedeloos te raak!
Daniel
se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego, was ook in ’n situasie waar hulle
maklik moedeloos kon word. Hulle was van die eerste ballinge wat in 605vC uit
Jerusalem deur koning Nebukadneser van Babel weggevoer is. In hierdie verhaal
van Daniel se drie vriende in Daniel 3 hoor ons hoe Koning Nebukadneser ’n
groot beeld gemaak het wat met goud oorgetrek was. Hy het ’n wet uitgevaardig
dat almal voor die beeld moet buig en dit aanbid. Daniel en sy drie vriende
Sadrag, Mesag en Abednego weier egter om te buig en die beeld te aanbid.
Sadrag, Mesag en Abednego word by die koning verkla wat daartoe lei dat hulle
in ’n baie warm vuuroond gegooi word. Sadrag, Mesag en Abednego kom egter niks
oor nie! Saam met hulle is ’n engel wat hulle beskerm. So word hulle gered uit
die vuur, hulle klere is nie eens gebrand en een van hulle ruik na rook nie.
In
hierdie verhaal waar Daniel se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego voor die
keuse te staan gekom het of hulle sou buig of nie voor die goue beeld wat
koning Nebukadneser opgerig het, leer ons hoe God sy kinders beskerm in tye van
krisis. Al wat Hy van ons verwag is getrouheid. Die wyse waarop ons te midde
van beproewings leef dra dikwels ’n boodskap uit na ander sodat dit hulle oë
kan open om God raak te sien. Die twee hoofsake wat in hierdie verhaal uitstaan
is:
1)
Vertrou op die HERE en
2)
Soms moet ons in die vuuroond beland.
Vertrou
op die HERE
Hierdie
drie vriende van Daniel vertrou so sterk op God dat hulle God steeds vertrou al
red Hy hulle nie uit die vuuroond nie, want hulle weet dat selfs die dood hulle
nie van God se troue liefde kan skei nie. Hulle bly getrou aan die HERE selfs
tot in die uiterste omstandighede. Aanvanklik was dit makliker, daar waar hulle
as te ware tussen al die mense weggesteek was. Die koning kon hulle nie sien
nie, maar toe hulle verkla is en hulle voor die koning verskyn bly hulle steeds
getrou aan die HERE. Die koning bied hulle nog ’n kans om voor die beeld te
buig. Hierdie keer is daar geen uitkomkans nie. As hulle nie buig nie, gaan
hulle summier in die brandende vuuroond gegooi word!
Ten
spyte van die doodsgevaar waarin hulle verkeer, bly hulle egter steeds op die
HERE vertrou. Wanneer die koning ewe vermakerig vra: “watter god sal julle
uit my mag kan red?” antwoord hulle
Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om
ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy
dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld
wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”
Dit
is maklik om as deel van ’n massa ons vertroue op die HERE te stel. Toe Daniel
se drie vriende daar met die inwyding van die beeld as te ware tussen die massa
versteek was buite die sig van die koning was die kanse goed dat hulle nie tot
verantwoording geroep sou word nie. Die ware toets het gekom toe hulle voor die
koning gestaan het. Hulle het vertrou dat die HERE hulle kon red uit die oond
en uit die mag van die koning, maar hulle het ook rekening gehou daarmee dat
die HERE dit dalk anders sou beskik. Selfs as die HERE hulle nie uit die oond
gered het nie, het hulle nog steeds getrou gebly aan Hom.
Die
ou duiwel gebruik vandag nog die strategie wat die koning gebruik het. Hy dreig
dat verskriklike gevolge ons sal tref en dan vra hy ook ewe smalend “watter
god sal julle uit my mag kan red?” Sy doel hiermee is dat ons die HERE moet
wantrou. Dit was sy doel toe hy vir Eva gevra het “Het God werklik gesê
julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” Dit is nog steeds sy doel
wanneer hy ons omstandighede aan ons voorhou. Wanneer hy vir ons wys dat ons
gemeente klein en swak geword het met min vooruitsigte dat ons weer die
gloriedae van ons verlede sal beleef toe ons vorige kerkgebou te klein geword
het en ons hierdie kerkgebou moes bou sodat daar plek kan wees vir almal.
Wanneer hy vir ons wys hoe die wêreld aan die brand gesteek word deur
geweldadige betogings. Wanneer die gedagte by ons opkom dat daar nie meer ’n
toekoms vir ons in hierdie land is nie. Die gedagte dat ons gemeente sy einde
nader dan is dit of ons hoor “watter god sal julle uit my mag kan red?”
Wat
is ons reaksie wanneer die ou duiwel vir ons vra “watter god sal julle uit
my mag kan red?” Wat sal my reaksie wees wanneer die dokter vir my moet sê
“ek is jammer, maar die kanker het versprei en daar is nie veel wat ons daaraan
kan doen nie.” Wat sal my reaksie wees wanneer die ouderdom se greep al hoe
sterker word en ek al hoe swakker word? Daniel se vriende het besef dat daar ’n
moontlikheid is dat die HERE hulle nie uit daardie spesifieke omstandighede sou
red nie en nog steeds het hulle in vertroue aan die HERE bly vashou.
Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u
god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.
Soms
moet ons in die vuuroond beland
Daniel
se drie vriende het geglo dat God kon keer dat hulle in die vuuroond beland,
maar hulle het ook geweet dat God anders kon besluit. Oor die algemeen glo ons
ook dat God kan keer dat slegte gebeure in ons lewens plaasvind. Soms laat Hy
dit egter toe omdat Hy ’n groter doel daarmee het. Die HERE het toegelaat dat
Sadrag, Mesag en Abednego in die vuuroond gegooi word. Dit beteken egter nie
dat Hy hulle in die steek gelaat het nie. Hy het ’n beskermengel gestuur om
hulle teen die onheil te bewaar. Wanneer God toelaat dat slegte gebeure in ons
lewens plaasvind dan laat Hy ons nie in die steek nie. Die satan wil graag hê
dat ons moet glo dat ons God nie kan vertrou nie en dat Hy ons in steek laat.
Dit is ’n leuen net soos alles wat die satan ons van wil oortuig leuens is.
Moet hom nie glo nie!
God
laat ons nooit in die steek nie en wanneer Hy toelaat dat moeilike omstandighede
oor ons pad kom moet ons weet dat Hy dan besondere sorg aan die dag lê om ons
daardeur te dra. God laat soms toe dat ons in die vuuroond beland omdat Hy ’n
groter doel daarmee het wat ons nie altyd kan raaksien nie. Sadrag, Mesag en
Abednego het in die vuuroond beland sodat die HERE dit kon gebruik om die Jode
wat later in ballingskap weggevoer is te bemoedig. Later toe die Jode moes
toekyk hoe hulle tempel deur Antioges van IV Epifanes ontheilig is, gebruik die
HERE die ballingskapverhaal van Daniel en sy drie vriende Sadrag, Mesag en
Abednego om hulle te bemoedig. Hy gebruik vandag nog hierdie gebeure om ons te
bemoedig dat Hy met ons sal wees te midde van moeilike omstandighede.
Hoe
weet ons dat ons net soos Daniel se vriende op die HERE kan vertrou en dat ons
nie die satan se leuen moet glo dat God nie betroubaar is nie? God self oortuig
ons daarvan. Hy het mens geword om ons van die sondegreep van die satan te
verlos. Toe die duiwel Hom in die woestyn versoek het, het Hy nie toegegee nie.
Die duiwel wou Hom oortuig Hy die maklike pad kon vat en die smarte van die
kruis kon vryspring. Jesus het egter geweet dat Hy deur die vuuroond van die
kruis moes gaan en daarom antwoord Hy die duiwel soos ons hoor in Mat 4:11:
“Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die
Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”
Toe
Hy egter deur die vuuroond gegaan het was Hy alleen. Daar was niemand wat Hom
kon dra nie. Hy is nie ongeskonde uit die oond gered nie. Sy liggaam is gebreek
en sy bloed is uitgestort sodat ons nie die smarte van die ewige verdoemenis
hoef te dra nie. Ons weet ons kan die HERE vertrou omdat die Heilige Gees ons
oortuig dat Jesus ons verlos het van die ewige verdoemenis en daarom kan ons
ook soos Daniel se vriende die duiwel antwoord wanneer hy ons vra “watter
god sal julle uit my mag kan red?” Dan kan ons met vertroue antwoord:
Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om
ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy
dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld
wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”
Die
wyse waarop ons te midde van beproewings leef dra dikwels ’n boodskap uit na
ander sodat dit hulle oë kan open om God raak te sien. Waar koning Nebukadneser
voorheen smalend gevra het “watter god sal julle uit my mag kan red?”
erken hy nou “daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red
nie.”
Slot
Die
ou duiwel probeer ons oortuig dat ons die HERE nie kan vertrou nie en dan wys
hy ons al die slegte omstandighede wat ons in die gesig staar. Dan vra hy ewe
smalend “watter god sal julle uit my mag kan red?”
Die
HERE kan ons red van die vuuroonde in die lewe, maar soms is dit nodig dat ons
deur ’n vuuroond van die lewe moet gaan. Wanneer dit gebeur verwag God
getrouheid van ons. Dan moet ons weet dat ons die HERE kan vertrou omdat Jesus
ter wille van ons alleen deur die vuuroond van die kruis gegaan het. Daarom kan
ons weet dat wanneer ons in ’n vuuroond beland die Here ’n doel daarmee het en
dat ons Hom kan vertrou omdat niks ons van sy liefde kan skei nie, selfs nie
eens die dood nie! Daarom geliefdes, wanneer ons voor die vuuroond van die lewe
staan, vertrou die HERE dat Hy ons sal vashou, selfs wanneer ons deur ’n
vuuroond moet gaan. Vertrou op die HERE, selfs al moet ons in die vuuroond
beland.
Amen