Waar is jy?
Lees Gen. 2v25 – 3v24 Teksvers Gen. 3v9
Sondag 8 Des 2024 Gereformeerde Kerk Kriel
Waar is jy?
Dis God se roepstem na verlore mense deur al die eeue heen sedert
daardie rampspoedige gebeure daar in die tuin van Eden. Genesis 3 beskryf vir
ons een van die sleutel gebeure wat ’n draaipunt in die geskiedenis van die
mensdom gemaak het.
In Genesis 1 en 2 hoor ons van die wonder van God se skepping, hoe Hy alles
uit niks geskep het en die hoogtepunt daarvan is toe God man en vrou geskep het
soos ons hoor in Gen. 2 v 25:
25Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.
Dit beskryf vir ons die perfekte samesyn tussen man en vrou soos God dit
beplan het. Hier is absoluut geen seksuele konnotasie hier nie. Hulle is
weerloos teenoor mekaar in eenvoudige onskuld. Dis die perfekte samesyn waar
daar geen sondige begeertes is om skaam oor te voel nie.
En dan kom daar ’n draaipunt in die geskiedenis van die mensdom. Die slang
kom met ’n oënskynlike heel eenvoudige vraag na die vrou toe. Ons hoor hier
egter ook wat die karakter van die slang was. Hy was listiger as al die wilde
diere van die veld. Met ander woorde, sy karakter en manier van doen was om
skelm te werk te gaan met een doel voor oë, naamlik om die onskuldiges te
mislei. Verder aan in die Bybel in Open. 12v9 & 20v2 hoor ons dat hierdie
slang eintlik die satan was wat hier met sy misleiding besig was.
En dit is sy doel met hierdie vraag ook. Misleiding. Hy vat die waarheid en
verdraai dit net so bietjie. God het gesê Hulle mag nie van die bome in die
middel van die tuin eet nie. Die slang laat egter die gedeelte van God se
opdrag oor die middel van die tuin weg, met ander woorde, hy vertel ’n leuen
wat klink soos die waarheid. Hoor mooi hoe vra hy die vraag:
“Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin
eet nie?”
Ek sien in my verbeelding die prentjie waar hy vol verbasing vra: “Het God
werklik so gesê? Ek kan dit amper nie glo nie.” Dis natuurlik alles deel van
die sagmaak proses om twyfel te saai oor God se karakter en sy intensie met
mens. Wanneer Eva hom sê “nee, dis nie wat God gesê het nie. Hy het net gesê
dat ons nie van die bome in die middel van die tuin mag eet nie, want as ons
dit doen sal ons sterf,” kom die ou slinkse slang terug met ’n volstrekte leuen
soos ons hoor in Gen. 3 v 4 & 5:
4Toe
sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5maar
God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan
sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”
En ongelooflik soos dit mag klink is dit genoeg vir Eva om in God se
goedheid te twyfel. In wese sê die slang vir haar: “Jy kan God nie vertrou nie.
Hy dra nie jou beste belang op die hart nie. Jy kan Hom nie vertrou om vir jou
te besluit wat is reg en verkeerd nie. Jy moet dit vir jouself besluit.” En die
ondenkbare gebeur. Eva glo eerder die slang as die vir God. Dit lei haar en
Adam om in rebelse opstand teen God te kom.
Dis die wortel van die sonde wat deurgetrek kan word na elke sonde wat die
mense pleeg. Opstand teen God se gesag. God / die dominee, ouderling, kerk
moenie vir my kom voorskryf nie. Die mens wat sy eie wil navolg en nie God se
gesag wil erken nie.
En hier is ’n belangrike punt wat ons moet verstaan. Die mens kan niemand
anders blameer vir sy sonde nie. Dit gaan hier oor wie hulle besluit het om te
glo. Dit was Eva se besluit om eerder die slang te glo as om God te vertrou.
Dit was Adam se besluit om haar na te volg in haar rebelse opstand teen God.
En hierdie opstand teen God het verskriklike gevolge gehad. Die breuk met
God lei onmiddellik tot ’n breuk tussen die man en vrou. Hulle besef dat hulle
kaal was en nou het dit ’n probleem geword. Daardie perfekte samesyn en
eenvoudige onskuld is nie meer daar nie en hulle probeer hierdie ongemak tussen
hulle met vyeblare wegsteek.
Maar nog erger. Hulle verhouding met God het drasties verander. Dit wat die
slang hulle beloof het, is glad nie wat gebeur nie. Hulle het voorheen God se
liefde ervaar en dit word nou vervang met vrees. Hulle is bang vir God en
daarom kruip hulle vir Hom weg. Nie dat dit hulle veel gehelp het nie, want wie
kan nou werklik vir die Alomteenwoordige, Alwetende God wegkruip!
En dit is hier in die verhaal waar ons werklik die karakter van God leer
ken en sien wie Hy werklik is. In plaas van om in woede die mens wat teen Hom
rebelleer het te verdelg, soek Hy die mens wat nou verlore is op. Hoor God se
liefde wanneer Hy vra “Waar is jy?”
En hier moet ons raaksien dat God presies weet waar die mens en sy vrou is.
Hy weet dat hulle nou vir ewig verlore is tensy Hy ingryp. God roep na die mens
om vir hulle die geleentheid te gee om hul verlorenheid raak te sien.
Sedert daardie verskriklike dag roep Hy steeds deur al die eeue heen na die
mens: “Waar is jy?” Ons hoor hierdie roepstem van God dwarsdeur die Ou
Testament. In elke verhaal hoor ons hoe God na die mens roep: “Waar is jy?”
Ek noem enkele voorbeelde. Nadat Dawid owerspel gepleeg het en daarna moord
gepleeg het kom God na Dawid en vra: “Waar is jy?” Toe die volk van Hom af
weggedraai het na die afgode van hul tyd hoor ons hoe God deur die profete
steeds na sy volk roep “waar is jy?” Kyk mooi na al die verhale van die Ou
Testament en u sal God se roepstem daarin hoor: “Waar is jy?”
En in die Nuwe Testament hoor ons God harder as ooit tevore roep: “Waar is
jy?” Jesus wat in wanhoop daar aan die kruis roep “My God My God, waarom het U
my verlaat?” is God se roepstem na verlore mense: “waar is jy?” Jesus het sy
lewe gegee sodat verlore sondaars gered kan word en so het Hy die vloek van die
ewige dood waarvan ons daar in Genesis 3 hoor, gebreek.
Geliefdes, sien u werklik God se liefde raak?
Ons leef in ’n wêreld waar God al hoe meer na die kantlyn toe gestoot word.
Ons lewens het so besig geraak dat ons amper nie meer tyd vir God in ons lewens
het nie. In plaas daarvan dat God die middelpunt van ons lewens is, het ons Hom
net so ’n terloopse klein plekkie in ons skedule gemaak en soms verdwyn selfs dit
ook.
Ons leef in ’n samelewing wat ons breinspoel om te glo dat die mens
wonderlik goed is. Selfs Christene trap in hierdie slaggat. Ek is mos ’n
Christin. Ek gaan darem kerk toe. Ek is nie ’n slegte mens nie, want ek is
darem nie so sondig soos die wêreld daar buite nie.
Geliefdes, my vraag aan u vanoggend is:
“Watter plek het God nog in jou lewe?”
Luister na Hom, want Hy roep jou vanoggend: “Waar is jy? Verstaan jy dat jy
in jouself ’n verlore sondaar is? Glo jy dat Jesus vir jou sondes gesterf het?
En geliefdes, as jy antwoord, ja ek glo, is dit in jou lewenswandel sigbaar?
Dra jy God se liefde uit na jou medemens toe?
Ek het op ’n keer ‘n Youtube video gesien waar ’n ateïs vra: “As jy werklik
met jou hele hart glo dat iemand wat nie in Jesus en sy verlossing glo nie, in
die ewige hel gaan brand, hoeveel moet jy iemand haat as jy dit nie vir hom of
haar vertel nie?”
Wanneer laas het jy vir iemand van Jesus se liefde aan die kruis vertel?
In die Ou Testament het God sy profete gebruik om verlore mense te roep:
“Waar is jy?” In die Nuwe Testament het Jesus met sy kruisoffer en opstanding
na verlore mense geroep: “Waar is jy?” Na Jesus se Hemelvaart het Hy die
Apostels en ook sy kerk aangestel om na verlore sondaars te roep: “Waar is jy?”
Geliefdes, Elkeen van ons wat bely dat ons in Jesus glo is sy se kerk, sy
bruid. Moenie die fout maak om jouself los van die kerk te sien nie. Kerk is
nie ’n institusie of organisasie of die dominee en kerkraad nie. Jy is sy kerk!
Jy is een van die lewende boustene van Jesus se kerk. Jy kan jouself nie
daarvan losmaak nie! Sy opdrag aan ons is om God se roepstem; “Waar is jy?;”
aan verlore sondaars uit te dra sodat hulle ook God se roepstem kan hoor.
Is hierdie opdrag van Jesus aan sy kerk, d.w.s aan elkeen van ons, nog ’n
werklikheid in jou lewe? Is God se roepstem “Waar is jy?” vir jou ’n erns? Is
die rede dat kerk al hoe meer kwyn nie juis omdat ons nie Jesus se opdrag
ernstig op neem nie?
Geliefdes, hoor jy die roepstem van God vanoggend: “Waar is jy?
Amen