10 Februarie 2017

Wanneer jy nie God se teenwoordigheid ervaar nie, maak staat op wie Hy is.












Teksvers Ps. 22 v 2
5 Feb 2017 GKE
Sing
Ps. 23-1 v 1
Ps. 33-1 v 5
Ps. 86-1 v 1 & 6
Sb. 17-1 v 1 , 4 & 6

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? Dit is ’n hulproep van gelowiges oor al die eeue heen. Daar kom tye in ‘n mens lewe waar alles net verkeerd loop. Jy is nog besig om te probeer bepaal hoe jy die huidige krisis moet hanteer, dan slaan die volgende een jou ook onderstebo. Dit voel vir jou of jy heeltemal aan jou eie lot oorgelaat is en dat die Here nie eers jou nood raaksien nie. Jou gebede voel leeg en dit voel vir jou of daar geen antwoord is nie.

Het u al so gevoel geliefdes? Voel u dalk nou so? Wil u ook saam met die Psalmdigter uitroep: My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie. Moet tog nie so ver van my af weg bly nie, want die nood is naby en daar is niemand wat help nie. Here, moet tog nie so ver bly nie,  help my tog gou! Luister dan na hoe die Here ons hulproep met Ps. 22 antwoord.

As ons na die verlede en so om ons heen kyk is dit egter duidelik dat ons nie alleen staan in beproewing nie. Dit help om te weet dat daar ook ander gelowiges is wat deur beproewing geteister word, maar tog bied dit nie 100% troos nie. Om te voel dat God ver van my is, is ’n angswekkende gevoel.

In Ps. 22:2 & 3 hoor ons hoe verlore en verlate Dawid voel, maar dit wat hy volgende sê in vers 4 & 5 gee vir ons perspektief.
U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!
Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered.
Ten spyte daarvan dat Dawid verlore en verworpe voel fokus hy op twee waarhede. God regeer in heiligheid en Hy is getrou om sy om sy uitverkorenes te red.

Vertrou op die waarheid en nie jou gevoelens nie
Wanneer dit vir jou voel of God ver is, vertrou op sy karakter, wie Hy werklik is. God leer ons in sy Woord dat Hy oral teenwoordig is en dat Hy regeer. Dit voel dalk vir my of God ver is, maar die waarheid is dat Hy nie is nie. Die waarheid is dat ek nie alleen is nie.

Aan die ander kant beteken God se heiligheid dat ek nie verdien om naby God te wees nie. God leer ons ook in sy Woord van sy genade. Een van die sewe kruiswoorde wat Jesus uitgeroep het is juis Ps. 22v2. In Mat 27:46 hoor ons:
Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?
 
In Ps. 22 hoor ons die profesie van die enigste mens wat werklik deur God verlaat is. Jesus wat aan ’n vervloekte kruishout in ware Godverlatenheid gehang het sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Jesus Christus is ons waarborg dat ons altyd toegang tot God het.

Wanneer jy nie die krag van God se teenwoordigheid ervaar nie, vertrou op sy troue verbondsliefde waarmee Hy ons red. In Ps. 22:4-6 hoor ons hoe Dawid onthou het hoe God sy voorvaders gered het.

Wonder u soms of God jou dalk nie vergeet het nie? Het Hy dalk hierdie keer nie tyd om na my nood om te sien nie? Wanneer u so voel geliefdes, hou vas aan God se beloftes wat Hy in sy Woord vir ons gee. Die kruis verseker ons van God se genade en dat Hy na ons omsien.

Wanneer dit vir jou voel of God ver is, laat die waarheid jou gevoel verander.
Ons hoor hoe Dawid deur verskeie verse sy klagtes teenoor die Here uitstort. Hy onthou van God se heiligheid en sy verlossing. Tog is hy eerlik oor sy gevoelens. Ons bv hoor in Ps. 22:15 & 16:
Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword, dit smelt weg in my. Ek is so min werd soos ’n potskerf, my tong kleef aan my verhemelte, U laat lê my asof ek dood is.

Moenie skaam wees om jou hart teenoor die Here uit te stort nie. Om die waarheid van die Here se heiligheid en sy genade te ken beteken egter nie dat ons nie ons gevoelens teenoor die Here mag verwoord nie. Vertel die Here hoe jy die swaarkry in jou lewe beleef. Hy verstaan beter as enige een hoe jy voel. Praat met die Here.

Soos ons met Ps. 22 vorder hoor ons hoe iets merkwaardigs met Dawid gebeur. Terwyl hy sy hart teenoor die Here uitstort verander die waarheid sy gevoelens. In Ps. 22:23-25 hoor ons hoe sy wanhopige klagtes in sekerheid en vertroue verander.
U het my gebed verhoor! Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente, U in die volle vergadering prys. Julle wat die Here dien, prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob! Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel! Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.

Soos wat ons besig is met God se woord, word ons hopeloosheid verander in hoop. Dit is nie ons gevoelens wat bepaal of God naby of ver is nie. Dit is sy karakter, wie Hy is. En deur sy Woord leer ons God ken. Wanneer dit vir jou voel of God ver is, weet dat jy niks hoef te doen om God nader te bring nie, want Hy is reeds naby! God se genade word nie bepaal deur wat ons doen nie, maar wel deur wie en wat Hy werklik is.

Wanneer die lewe te veel word, hou vas aan God se beloftes. Moenie dat jou gevoelens jou op ’n dwaalspoor lei nie. Laat die waarheid van God se karakter jou gevoel verander. Neem Jesus se belofte in Mat. 11:28 ernstig op en kom na die enigste bron van vrede en rus.
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Amen