26 Augustus 2012

By die Here is daar weer ’n geleentheid om weer te begin


26 Aug. 2012 Nagmaal (RB)
Mar 14:26-31 : Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Teksvers Mar 14:29
Luk. 22:54-62: Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my sonde en                             ellende.
Teksvers Luk. 22:62
Joh. 21:15-19 Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Teksvers Joh. 21:19
Sing    Lofsang:  Ps. 8 v 1 & 4       (OAB)
           Na wet:     Ps. 91 v 1 & 3     (OAB)
           Na gebed Ps. 86 v 1 & 3     (OAB)
           Tydens Nagmaal Ps. 23 v 3 & Ps. 116 (OAB)
           Slotsang   Ps. 18 v 1 & 2     (OAB)
Inleiding
Die verhaal van Petrus is kenmerkend van ons lewens saam met ons Here. Dit is ’n verhaal van bittere teleurstelling. ’n Verhaal van hartseer. ’n Verhaal van vergifnis. ’n Verhaal van ’n nuwe lewe saam met ons Here.

Voordat hy Jesus ontmoet het was Petrus ’n eenvoudige visserman sonder enige geleerdheid. Sy ontmoeting met Jesus verander sy hele lewe. Hy het ’n nuwe mens met nuwe doelwitte en prioriteite geword. Hy het egter nie ’n volmaakte mens geword nie, maar het nog altyd Simon Petrus gebly. Simon die seun van Johannes, Simon die voortvarende een. Simon die een wat eers gedoen en dan gedink het. Simon die een wat Jesus bitter teleurgestel het in sy uur van nood en benoudheid.

Wanneer ons na die lewe van Petrus kyk dan sien ons, ons eie lewens saam met die Here raak. Alhoewel ons ontmoeting met die Here ’n nuwe mens van ons gemaak het, bly ons nog steeds wie ons is. Die Here verander nie ons persoonlikheid en menswees nie. Hy gebruik dit in sy diens. Ons het nie nou skielik volmaakte mense geword na ons ontmoeting met die Here nie. Wat wel verander is dat ons nou nuwe doelwitte en prioriteite in ons lewens het.

In ons voorgelese gedeeltes hoor ons dat daar drie fases in Petrus se lewe saam met Christus was. Die eerste fase was die tyd van sy voortvarendheid. Kom ons noem dit die fase van voortvarende oppervlakkige Christenwees. Die tweede fase is Petrus se verraad & berou. Kom ons noem dit die dieptepunt van my sonde en ellende. Die derde fase is waar Petrus vergifnis ontvang. Kom ons noem dit God se genade in ons lewens.

Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Nadat Jesus sy dissipels van sy dood en opstanding vertel hoor ons in Mar 14:29 hoe Petrus ewe selfvoldaan verklaar:
“Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”
Kenmerkend van Christene wat in hierdie fase is, is ’n selfvoldane trotsheid. Dis tipies daai houding van die Fariseër wat saam met die tollenaar gebid het soos ons hoor in Luk 18:11 & 12:
O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’

Dis die Christene wat baie maklik hulle mede broers en susters veroordeel omdat hulle manier van aanbidding nie volgens hulle oordeel korrek is nie. Hoe maklik beland ons self nie ook daar nie? My lewe is reg, kyk maar self hoe goeie lewe ek ly! As die ander in die gemeente maar net soos ek kon wees soos Petrus verklaar, “al sal hulle ook, ek sal nie!” ’n Christen met so ’n houding en gesindheid is nie baie bruikbaar in God se koninkryk nie en doen selfs die koninkryk skade aan deur mense af te sit met hulle arrogansie en selfvoldaanheid. Die Here waarsku ons ook inderdaad daarteen soos ons hoor in 1 Kor. 10:12:
Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
Dit is inderdaad wat ook met Petrus gebeur het soos ons in die volgende deel van sy verhaal hoor.

Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my sonde en ellende
Kan u, uself indink hoe Petrus gevoel het toe hy opkyk en hy kyk in die hartseer oë van Jesus vas? Ons hoor so ietsie daarvan in Luk 22:62:
En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
Dit was nie maar net ’n oppervlakkige berou nie. Dit wat ons so maklik doen wanneer ons met ons sonde gekonfronteer word: ja ek het dit of dat gedoen, maar ...... en dan voer ons allerlei verskonings aan om ons sondige gedrag te regverdig. Hierdie oppervlakkige berou is nog steeds deel van die voortvarende oppervlakkige Christen! Petrus het ’n diepe berou gehad waar hy in absolute wanhoop besef het wat sy sonde aan die Here gedoen het.

Geliefdes, het u al opgekyk en die pyn en hartseer in Jesus se oë raakgesien? Besef ek werklik die erns van my sonde wat ek daagliks teenoor die Here begaan? Is ek al op daardie punt dat ek vra: “hoekom doen die Here nog moeite met my?” Geliefdes, voordat ek nie die dieptepunt van my sonde ellende ervaar nie sal ek nooit werklik die diepere betekenis van geloofsversterking van die Nagmaal ervaar nie. Daarom sê die Here ook vir ons in 1 Kor. 11:28:
Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink
Om werklik die troos van die Nagmaal te ervaar moet ons vooraf eers nadink oor ons sonde en vervloeking sodat ons, ons met ’n diepe berou daaroor voor God kan verootmoedig. Het ek al soos Petrus buitentoe gegaan en bitterlik gehuil oor my sonde en ellende? Wanneer ek op daardie punt kom is ek reg vir die genesende salf van God se genade. Dit bring ons by die derde deel van Petrus se verhaal:

Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Petrus het Jesus langs ’n vuur verloën en nou langs ’n vuur ervaar Petrus die helende salf van God se genade. Drie maal vra die Here vir Petrus of hy Hom liefhet en driemaal antwoord Petrus positief. Wanneer Jesus vir Petrus vra of hy Hom liefhet, vra Hy vir Petrus of hy lojaal teenoor Jesus is en of hy bereid is om homself op te offer. Die derde maal antwoord Petrus deur middel van totale onderwerping wanneer hy erken dat Jesus alles weet. Petrus het Jesus regtig lief, hoe skeef en krom sy optrede ook al is. Hy ken Jesus en het Hom werklik lief, al is sy menslike pogings vol gebreke.

Met die Nagmaal vra ons Here ook aan elkeen van ons: “het jy my waarlik lief?” Met die Nagmaal word God se genade en sy vergifnis opnuut weer aan ons bevestig. Die wonder van God se genade is dat Hy nie verwag dat ons volmaak moet wees voordat ons in sy diens kan staan nie. Al is ons menslike pogings ook krom en skeef, het Hy ons onvoorwaardelik lief. Daarom moet ons nie by die dieptepunt van ons sonde en ellende in wanhoop bly vassteek nie. Dit moet ons bring na die wonder van God se genade sodat ons daarin sy liefde vir ons kan ervaar.

Dan is dit moontlik dat ons ook die opdrag van die Here wat Hy aan Petrus gee, kan nakom: “Volg My!” Dan kan ons ook hier van die Nagmaaltafel opstaan en versterk in ons geloof werklik dissipels van Jesus wees. Dan kan ons navolgers van Jesus wees en so ook bruikbaar in sy Koninkryk waar ons die evangelie uitdra sonder dat dit vir ons moeite is.

Geliefdes kom ons gaan sit nou aan by die tafel van die Here om daar in ons geloof versterk te word want by die Here is daar weer ’n geleentheid om weer te begin!
Amen

22 Augustus 2012

Dit is net God wat sin en betekenis aan ons lewens gee


19 Aug. 2012 (RB)
Pred. 2:17-26; Teksvers Pred. 2:22
Sing   Lofsang: Ps. 48 v 1 & 5       (OAB)
           Na wet:    Ps. 48 v 4             (OAB)
           Na gebed Ps. 119 v 1 & 2   (OAB)
           Slotsang  Ps. 18 v 12 & 14  (OAB)

Het my bestaan in hierdie wêreld enige sin en betekenis? Dit is een van die belangrike vrae wat elke mens homself op een of ander tyd afvra. Hoekom is ek hier? Wat is my doel? Sou dit enige verskil gemaak het as ek nie hier was nie?

Dit is die vraag waarmee die Prediker homself besig hou in ons teks vanoggend:
Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?
Prediker is een van die boeke wat saam met Job en Spreuke as wysheidsliteratuur bekend staan. Hierin vind ons twee kategorieë, naamlik wysheid met die doel om onderrig te gee oor hoe mens moet lewe soos wat ons in Spreuke vind. Die ander kategorie is nadenkende wysheid waar die skrywers daarvan poog om die sin en doel van die lewe te bepaal soos wat ons in Job en Prediker vind.

As mens so deur die boek prediker lees, lyk dit dat die boek vir ons tyd geskryf is want daarin word die kwessies van ons tyd aangespreek. Sake soos die onvoorspelbaarheid van die lewe, die onsekerheid, onreg en wanhoop word bespreek. Die antwoord wat ons in Prediker hierop vind is skokkend. Telkemale hoor ons die refrein “dit kom tot niks. Dit is ’n gejaag na wind.” Nadat die skrywer homself bekendstel as die seun van Dawid en koning in Jerusalem in Pred.1:1 is sy volgende woorde:
Alles kom tot niks , sê die Prediker, tot niks.
soos ons hoor in Pred. 2:2. Hierdie woorde word dan telkemale weer herhaal as ’n slotsom van dit wat bespreek word.

Inderdaad word Prediker deur baie mense beskou as ’n pessimistiese depressiewe boek omdat dit die lewe as nutteloos, vrugteloos en sonder welslae beskryf. Dit bring ons by die ongemaklike vraag: “Het my bestaan in hierdie wêreld enige sin en betekenis?” Of anders gestel, “waarin soek ek na sin en betekenis vir my lewe?” Soek ek daarna deur rykdom na te jaag? Dit is belangrik dat ek daardie duur sportmotor besit, want dit wys darem vir die wêreld dat ek al iets bereik het! Ek glo die leuen van die satan dat as ek tog net ’n miljoenêr kan wees, dan sal ek gelukkig wees. Soek ek daarna in dit wat ek in die lewe kan bereik? Die mense moet sien wie en wat ek is. My posisie in die lewe gee vir my sin en betekenis. Soek ek dit in die najaag van fisiese plesier soos byvoorbeeld kos, opwinding, avontuur? Of soek ek daarna deur kennis na te jaag?

As ek by status of rykdom of plesier of geleerdheid sin en betekenis in die lewe soek, vind ek dat dit doelloos en leeg is soos die Prediker ook vir ons bevestig in Pred. 2:21:
’n Mens wat met wysheid en kennis gewerk en sukses behaal het, laat sy besittings na aan een wat glad nie daarvoor gewerk het nie. Dit is nie reg nie.
Ook dit kom dus tot niks.
As ons maar net na die lewens van die mense om ons kyk, sien ons die waarheid daarvan raak. Hoeveel mense wat skynbaar alles in die lewe het is sielsongelukkig! Besittings of rykdom of status kan mens nie gelukkig maak nie.

En dan kom ons maar weereens by die vraag:
Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?
Beteken dit dat mens nie moet hard werk om vorentoe in die lewe te kom nie? Mag ons nie die goeie in die lewe geniet nie? Mag ons nie ’n feesgeleentheid hou soos gisteraand se biltongete nie? Is dit wat ons in die lewe bereik inherent boos?

Glad nie geliefdes. Diegene wat deel is van God se uitverkore kinders, ervaar die lewe as ’n gawe van God en daarom kan die lewe ten volle geleef word soos ons dan ook hoor in Pred. 2:24-25:
Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?
Prediker is inderdaad ’n boek wat hoop bied en daarom moet mens nie net teen die negatiewe daarin vaskyk nie. Om die lewe ten volle te leef en geniet beteken nie dat ons nou maar net leef om ons eie selfsugtige begeertes te bevredig nie. Dit is veel eerder ’n erkenning dat alles wat ons in die lewe het, ’n gawe uit die hand van God is.

Prediker is ’n boek van hoop, want daarin leer die Here ons dat alhoewel die mens baie dinge kan bereik en baie rykdom en kennis kan vergader, dit sinloos en leeg is sonder God. Dit kom tot niks en dit is ’n gejaag na wind. In prediker leer die Here ons dat die lewe slegs sin en betekenis het wanneer ons dit buite onsself soek deur in die regte verhouding met God te leef soos ons hoor in Pred. 2:26:
Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap.

Die Here leer ons ook dat daar net een manier is hoe ons in die regte verhouding tot Hom kan leef. Ons kan dit slegs doen deur sy genade in Jesus Christus soos ons hoor in 1 Pet. 1:3-4:
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Deur God se genade in Jesus Christus kan ons as sy uitverkorenes die diepere sin en betekenis in die lewe ervaar juis ook in daardie dinge wat die Prediker so depressief gemaak het. Jesus Christus gee sin en betekenis aan die lewe en Hy wys vir ons dat dit wat die Prediker so baie gevrees het, naamlik dat alles met die dood tot ’n einde kom, nie waar is nie. Die dood is in Jesus Christus nie die einde nie, maar juis ’n heerlike deurgang tot God.

Hoe deel ek in hierdie wonderlike hoop? Ek deel daarin wanneer ek in geloof wat die Heilige Gees vir my gee vasgryp aan die genade van God dat Jesus Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het en dat Hy aan my die nuwe lewe geskenk het deur die sy opstanding uit die dood. Geliefdes, kom ons deel in hierdie hoop. Glo, glo in Jesus Christus, want dit is net God wat sin en betekenis aan ons lewens gee.
Amen