20 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Hand. 1:1-15 & 2:1-15 ; Teksvers:
Hand. 1:8
Sing
Lofsang: Ps. 66 v 1 (OAB)
Na
wet: Ps.
130 v 1 & 2 (OAB)
Na
gebed Sb. 4-8 v 1 & 2 (Sb 5 in swart Psalmboek)
Slotsang Ps. 105 v 1 & 3 (OAB)
Ons het in die week weer die
hemelvaart van ons Here herdenk. Met Jesus se hemelvaart het daar ’n baie
duidelike skeidslyn in die geskiedenis van die mensdom aangebreek. Die tyd
tussen die derde en die laaste van die groot gebeure in die mensdom se
geskiedenis het aangebreek. Die vier groot gebeure in die wêreld se geskiedenis
is:
i Die Skepping
ii Die sondeval
iii Christus se
eerste koms as mens na die aarde toe
iv Christus se
wederkoms wanneer Hy kom om die wêreld te oordeel en om sy uitverkore kinders
na Hom toe te neem.
Die tyd waar Christene deur die
Gees die koninkryk van Jesus Christus vestig waar hulle ook al kom het
aangebreek.
Maar voordat die kerk kon uitgaan
om teenoor die hele wêreld van Jesus se koninkryk te getuig; soos ons in ons
teksvers hoor; moes daar eers ’n belangrike gebeurtenis plaasvind. Christus
moes sy Gees stuur soos Hy beloof het in Joh. 14:16
Ek sal die Vader
vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees,
naamlik die Gees van die waarheid.
Voordat die Heilige Gees gekom
het, het die volgelinge van Jesus hulle eenkant afgesonder en hulle het volhard
in gebed soos ons hoor in Hand. 1:12-15. Die kerk was ook baie klein, net
omtrent 120 gelowiges.
Na die uitstorting van die Heilige
Gees op Pinksterdag sien ons egter ’n heel ander prentjie van die kerk. In
plaas daarvan om hulle af te sonder, gaan hulle uit en getuig soos ons hoor in
Hand. 2:14 & 15:
Toe staan Petrus
saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek
hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle
verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie
dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre.
Hulle het hulle ook nie laat
afskrik deur negatiewe kommentaar nie. Alhoewel daar sommige mense was wat
hulle van dronkenskap beskuldig het, het hulle hul nie daaraan gesteur nie.
Petrus getuig selfs in die aangesig van teenkanting.
Die gevolg hiervan is
wonderbaarlik soos ons hoor in Hand. 2:41:
Dié wat sy woorde
aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by
die getal van die gelowiges gevoeg.
Binne ’n dag groei die kerk van
120 na meer as 3000 en dit het ook nie daar opgehou nie. In Hand. 4:4 hoor ons
dat binne enkele dae daarna die getal gelowiges aangegroei het tot omtrent vyf
duisend. Spoedig het die kerk oor die hele Romeinse ryk versprei soos ons hoor
in die res van die boek Handelinge. Daarvandaan het die kerk oor die hele
wêreld heen versprei.
Daar is egter ook ’n ander sy van
hierdie sukses verhaal. In die week het ek gelees hoe die kerk in Amerika
krimp. Die afgelope jaar het daar ongeveer 3000 gemeentes ontbind. Hier in
Suid-Afrika lyk die prentjie ook nie veel beter nie. Die lidmaattal daal of bly
konstant ten spyte daarvan dat die land se bevolking bly toeneem.
Nou is die vraag: “Hoekom gebeur
dit?” In die lig van ons teksvers kan ons maklik sê dat dit gebeur omdat die
kerk nie gehoor gee aan die sending opdrag nie. Dit is waar, maar dit is nie
die oorsaak nie, dit is maar slegs ’n simptoom van die onderliggende rede. Kom
ons luister net weereens mooi wat die Here vir ons in ons teksvers sê.
Maar julle sal
krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies
wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die
uithoeke van die wêreld.
Uit ons teks is die antwoord
duidelik. Dit is slegs wanneer die krag van die Heilige Gees aktief werksaam is
dat die kerk op so ’n manier van Christus se wonderdade getuig dat ongelowiges
daardeur by die kerk bygevoeg word.
Hoe lyk ons situasie? Is ons
getuienis oor die verskil wat Jesus in ons lewens gemaak het effektief of selfs
erger, het ons getuienis daaroor stil geraak? Ons is so geneig om te dink dat
sending in ver lande moet plaasvind. Ons teksvers wys egter vir ons dat daar ’n
volgorde is. Eers in Jerusalem, dit wil sê hier by ons, in ons eie dorp. Daarna
Judea en die uithoeke van die wêreld. Hoeveel mense is ons op Reddersburg?
Ongeveer die helfte is lidmate by die vier gemeentes op die dorp. Waar is die
ander? Maar nog nader. Hoeveel van ons wie se name in die lidmaat register is,
is maar net op papier lidmate?
Wat is die rede dat daar ’n
louheid of selfs ’n doodsheid in die kerk is? Dit kan tog nie wees omdat ons
nie die Heilige Gees ontvang het nie. God se beloftes staan tog vas en na die
Pinkster gebeure het elke gelowige die Heilige Gees ontvang. Die uitstorting
van die Heilige Gees is nie iets wat weer en weer moet gebeur nie! Die Here sê
vir ons wat die rede is. In Ef. 4:30 hoor ons dat ons die Gees kan bedroef en
in 1 Tess. 5:19 hoor ons dat ons die werking van die Gees kan
teenstaan. Wanneer ons dit doen dan kan ons tog nie verwag dat die Gees se krag
in ons werksaam moet wees nie, want die Gees werk nie met dwang nie. Hy werk
uit liefde en liefde dwing nie.
Hoekom bedroef ons die Heilige
Gees? Sonde is die oorsaak dat ons die Gees bedroef en teenstaan. Sonde
veroorsaak dat ons verveeld raak met God en sy reëls. Herken ons die sonde in
ons lewens? Erken ek nog enigsins dat daar sonde in my lewe teenwoordig is? Dit
is eers as ek op daardie punt kom wat ek besef dat ek sonder God verlore is,
dat ek werklik by God se genade kan uitkom. Dit is eers wanneer God se genade
in my lewe lewendig is dat ek werklik daarvan kan getuig. Eers wanneer ek in
verwondering besef hoe groot God se genade in my lewe is, dat ek werklik kan
begin leef uit daardie genade en dat ek werklik die krag van die Heilige Gees
in my lewe kan ervaar.
Deur die Nagmaal wys die Here op
’n sigbare wyse vir ons hoe sy genade lyk sodat ons geloof in Jesus se
verlossing daardeur versterk kan word. Daardeur word ons weereens herinner aan
Christus se soenverdienste en deur geloof kry ons deel daaraan. Kom laat ons
aansit by die tafel van die Here sodat ons daardeur ook kan ervaar hoe die krag
van die Heilige Gees in ons lewens ’n werklikheid word.
Amen