30 Junie 2011

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Moenie bekommerd wees oor die voorspoed van die goddeloses nie, want God sal reg en geregtigheid laat geskied.
Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
Psalm 37 ;  teksvers Ps. 37 v 4
12 Jun. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 1 & 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 30 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 34 v 1 , 2 & 5 (OAB)
Inleiding
Het u al ooit gewonder waarom dit soms lyk of dit net goed gaan met mense wat hulle nie juis aan God en sy gebod steur nie terwyl dit lyk of gelowiges swaarkry? As ons so na die berigte in die nuus luister van boosdoeners wat skotvry loskom terwyl die slagoffers van geweld en misdaad alleen ly. In die week was daar weer ’n berig van aangeklaagdes wat skotvry uit die hof gestap het omdat die saak teen hulle nie behoorlik voorberei is nie. In ’n ander berig het ons gehoor van ’n veroordeelde misdadiger wat in ’n hoë posisie aangestel is. En dan wonder ons hoe gaan al die praatjies oor nasionalisering van plase sonder vergoeding ons raak?
Agtergrond
Hierdie saak van waarom die boosdoeners lekker lewe terwyl dit met regverdiges swaar gaan is ’n probleem wat al ’n baie ver pad kom. Dis ’n saak wat Dawid ook gepla het. Hier in Psalm 37 word twee lewenshoudings teenoor mekaar gestel, naamlik die gelowiges teenoor ongelowiges. Die gelowige merk soms dat dit goed gaan met die goddelose terwyl hy swaarkry, en dit ontstel hom.

In hierdie Psalm gee God vir ons die perspektief om hierdie teenstrydigheid van bose mense se voorspoed teenoor regverdige mense se swaarkry te verstaan. In verse 1 tot 4 kry ons die perspektief van die goddelose se verganklikheid teenoor die gelowige se sekerheid en vertroue op die Here, wat aan die mens gee wat hy nodig het.

In verse 5 tot 11 hoor ons van die bidder se sekerheid oor die Here se sorg. Die leiding wat hy hier gee is dat God die mens nie in die steek laat nie, ook nie tydens ons aardse lewe nie. In verse 12 tot 15 sien ons dat daar waar die goddelose soms die regverdige se lewe bedreig dit in die hand van die Here is. In verse 14 tot 15 sien ons dat die goddelose sal omkom deur sy eie strikke en wapens.

In verse 16 tot 26 kry ons die perspektief dat rykdom nie die belangrikste ding in die lewe is nie omdat dit ook maar tog vergaan. Fisieke geweld weeg ook nie op teen die mag van die Here nie. Ons sien dat Here sorg vir sy kinders in tye van gebrek, veral as hulle nie gierig is nie, maar hulp aan ander verleen. In verse 27 tot 40 word die gedagtes van die eerste gedeelte van die Psalm herhaal om dit te beklemtoon en by ons dubbeld terug te bring.

In hierdie Psalm kry ons ’n opsomming van die kern waaroor Israel se geloof gegaan het. Vertrou die Here. Doen goed. Verlustig jou in die Here en as jy al hierdie dinge doen dan sal God vir jou gee wat jy die meeste begeer, naamlik Homself. Hierdie Psalm is ’n wysheidspsalm wat vir ons waarhede oor God en die mensdom leer. God se sorg vir die regverdiges en sy straf vir boosdoeners word op verskeie maniere aan ons oorgedra.

Wat beteken hierdie Psalm prakties vir ons? In hierdie Psalm word die kontras gestel tussen die regverdige en die goddelose. Wie word as regverdig gereken? Toe hierdie Psalm gedig was is die regverdiges die uitverkore volk van God gewees. Wie is vandag die uitverkore kinders van God? Elkeen wat in Jesus Christus glo. Wanneer ons dus die onderskeid maak tussen regverdiges en goddeloses moet ons onthou dat regverdiges alleen op grond van God se genade regverdig is. Dit is die dilemma wat ons vandag nog mee sukkel. Die oënskynlike voorspoed van boosdoeners in vergelyking met Christen gelowiges wat swaarkry. In Psalm 37 leer die Here ons wat ons reaksie moet wees teenoor die oënskynlike voorspoed van boosdoeners. In die eerste plek leer die Here ons wat ons nie moet doen nie teenoor wat ons wel moet doen.

Wat moet ons nie doen nie?
Ons moet ons nie onstel oor skelms nie en ons moenie daaroor bekommer nie, soos ons hoor in vers 1. Ons moet onself nie daaroor kwel nie. Met ander woorde, ons moet ons nie daaroor moeg maak met bekommernis nie. Verder moet ons ook nie afgunstig wees oor die materiële voorspoed van goddelose mense nie soos die Here vir ons sê in vers 7. Moet jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ’n skelm nie.

In Vers 8 sê die Here vir ons:
Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie:
dit bring net ellende.
Die Here waarsku ons om nie ’n haatdraende bitterheid te ontwikkel nie. Ons mag dink dat dit ’n geregverdige woede teen die boosheid is, maar dit is nie want die wraak kom ons nie toe nie soos die Here in Rom. 13v19 sê:
Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.
Die Here verskaf ook ’n rede waarom ons nie ’n kwaadwillige woede teenoor boosdoeners moet koester nie want dit bring net ellende. Die Here weet dat woede en bitterheid ’n mens se lewe verwoes omdat dit al jou vreugde steel. Hy weet dat afguns soos ’n sweer in jou broei.

Die perspektief wat die Here hier gee is dat ons reaksies van onsteltenis en woede uit ’n verkeerde motivering spruit. Ons sien die materiële voorspoed van skelms en dan dink ons dat genoeg geld en besittings geluk sal bring. Dan val ons maar net weereens vir daardie leuen : “as ek maar net ’n miljoenêr kan wees dan sal ek gelukkig wees.” Die Here leer ons dat ware geluk nie in geld en besittings gevind kan word nie. Die skelm kry miskien baie geld en besittings, maar dit bring vir hom geen geluk nie. Daarom moet ons nie kwaad word en afgunstig wees oor die skelm se materiële voorspoed nie want dit is nie werklik ware voorspoed nie.

Teenoor hierdie verkeerde reaksies van ons wys die Here ook vir ons wat die regte reaksie moet wees. Daarom sê Hy vir ons Wat ons wel moet doen wanneer ons die materiële voorspoed van skelms en boosdoeners raaksien.

Wat moet ons dan wel doen?
Ons moet die Here vertrou en ons moet aanhou goeddoen (vers 3). Ons moet ons vreugde in die Here vind (vers 4). Ons moet ons lewe aan die Here oorlaat en Hom vertrou (vers 5) en ons moet geduldig op die Here wag terwyl ons Hom in stilte vertrou (vers 7). Wanneer ons die materiële voorspoed van die onregverdige raaksien dan moet ons net op die Here vertrou. Vers 4 vat dit mooi saam:
Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

God gee vir ons hier die sleutel van ware geluk en vrede in ons lewens. Die mens se diepste begeerte is na God self, want God is die enigste ware bron van vrede en geluk. Sonde verwring egter die mens se begeerte en dit bring skeiding tussen die mens en God. Die wortel van sonde is dat die mens sy vreugde in iets anders as God self soek omdat sy begeerte nie meer op God self gerig is nie. Dit is soos ’n kind wat net die lekkers wil hê wat sy pa bring, maar hy wil niks met sy pa self te doen hê nie. Waarom is ons ongelukkig wanneer ons sien dat ’n goddelose baie besittings het? Ons dink dat daardie besittings geluk bring. Ons maak egter ’n fout wanneer ons so dink, want al die besittings in die wêreld beteken niks sonder God nie. Rykdom is op sigself nie boos nie. Rykdom sonder God se seën bring egter nie geluk nie, dit bring net ongeluk.

Daarom sê die Here vir ons: “soek jou vreugde en geluk in die Here alleen. Moenie jou vreugde en geluk in rykdom en baie besittings soek nie.” Hoe vind ons vreugde in die Here? Ons kan dit alleen doen deur ons geloof in Jesus Christus. Ons moet met die geloof wat die Heilige Gees vir ons gee vashou aan die verlossing van sonde wat Jesus Christus vir ons gegee het. Jesus Christus verlos ons van die begeerte om ons geluk in iets anders soos rykdom en besittings te soek. Hy bring ons terug na die ware bron van vreugde, vrede en geluk naamlik God Drie-enig.

Dan eers kan ons werklik op God vertrou. Dan eers kan ons aanhou goed doen. Dan eers kan ons geduldig op die Here wag en in stilte op Hom vertrou. Dan eers sal ons op die Here vertrou dat Hy sy beloftes sal nakom en die uitkoms op sy tyd gee. Dan eers sal ons verstaan dat die oënskynlike voorspoed van die goddelose geen ware voorspoed is nie, omdat voorspoed sonder God eintlik ’n valse geluk is.

Slot
Wanneer ons soms merk dat dit goed gaan met die goddelose terwyl ons swaarkry, moet ons nie ontsteld word. Ons moet aanhou goed doen en ons vrede in die Here soek deur ons geloof in Jesus Christus.

Moenie bekommerd wees oor die voorspoed van die goddeloses nie, want God sal reg en geregtigheid laat geskied. Moenie die fout maak om te dink dat rykdom en besittings opsigself geluk bring nie. Kom ons vind ons vreugde in die Here met die vaste vertroue dat Hy vir ons sal gee wat ons harte begeer, ware gemeenskap met God Drie-enig.                                                   
Amen

12 Junie 2011

Loof die God van die hemel! Aan sy liefde is daar geen einde nie

Psalm 136 ;  teksvers Ps. 136 v 26
12 Jun. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 42 v 1 & 7 (OAB)
Na Wet Ps. 1 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 91 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 136 v 1 & 20 (OAB)

Inleiding
Loof die God van die hemel! Aan sy liefde is daar geen einde nie. Kan ons nog steeds die God van die hemel loof wanneer dit in die middel van die winter heeldag sonder ophou reën terwyl dit bitter koud is en die ooie besig is om te lam en ons weet dat daar verseker van daardie klein lammetjies gaan verkluim? Kan ek Hom loof as my huis binne in ’n dam water staan? Kan ek die Here loof as my huwelik maar net nie wil uitwerk nie? Kan ek die God van die Hemel loof wanneer ek al die onreg hier rondom my aanskou? Eerder as om die Here te loof voel dit nie vir ons eerder of Ps. 42v4 eerder ons omstandighede beskryf nie?
Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my:
“En waar is jou God nou?”

Wanneer moet ons die Here loof? Kan ons die Here net loof en prys en dank wanneer dit goed gaan met ons? Is die woorde van Job in Job 2v10 nie ook vir ons waar nie?
As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?
Aan die ander kant is die vraag ook: “waarvoor moet ons die Here loof en dank?” In Psalm 136 antwoord die Here hierdie vraag.

Psalm 136 is ’n Psalm wat in die tempel met beurtsang gesing is. Die voorganger het die eerste deel van elke versreël voorgehou waarna die volk geantwoord het met:
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
In hierdie Psalm leer ons God ken deur wie Hy is, deur sy skeppingsdade en deur sy verlossingsdade. In die eerste plek hoor ons in verse 1 tot 3 wie God is. In vers 1 is die verwysing na sy verbondsnaam JHWH (in Hebreeus) wat ons met HERE vertaal. In vers 2 hoor ons van Hom as die oppermagtige God en in vers 3 as die magtigste van alle maghebbers.

Hierna word God se koninklike majesteit voorgehou deur middel van sy skeppingsdade soos ons hoor in verse 4 tot 9. In vers 4 word hierdie skeppingsdade as magtige dade aan ons voorgehou en dan van vers 5 tot nege word daar in meer detail daaroor ingegaan. God het die hemel en die aarde geskep en hy het die son en die maan en die sterre geskep. Hierin word die grootsheid en die almag van God beskryf. Wanneer ons die grootsheid en die wonder van God se skepping aanskou dan besef ons weereens net dat God baie meer is as wat ons ooit sal kan verstaan.

Dan word sy verlossingsdade beskryf in verse 10 tot 22. In verse 10 tot 15 hoor ons hoe die Here sy volk veilig uit Egipte uitgelei het en in verse 16 tot 22 hoor ons hoe die Here sy volk op hul pad na die beloofde land Kanaän bewaar het. In verse 23 tot 25 hoor ons hoe die Here vir sy volk sorg.

Hierdie beskrywing van God word toegevou deur middel van die refrein wat dwarsdeur die Psalm loop:
Aan sy liefde is daar geen einde nie
Hierin word beskryf wie God in Homself is, eindelose liefde wat vir ewig aanhou.
Die Hebreeuse woord wat hier met liefde vertaal is word in die Ou Afrikaanse Vertaling met goedertierenheid vertaal. In sommige Engelse vertalings word dit met “loving-kindness” vertaal en ook met “steadfast love”. Die woord beteken letterlik liefde wat mens kan vertrou omdat God onderneem het om dit te gee. God verbind Homself daartoe om die liefde te gee en dat daar geen einde aan hierdie liefde sal wees nie.

Dit is uit hierdie eindelose liefde waaruit God se majesteit in sy skeppingsdade voortspruit en ook sy genade in sy verlossingsdade. Die grondrede waarom ons God moet loof en dank is: Aan sy liefde is daar geen einde nie. Ons kan op God se liefde vertrou omdat dit ewigdurend is en dat niks ons daarvan sal kan skei nie soos Hy in Rom. 8v38-39 vir ons sê:
38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Ons maak so dikwels die fout om God vir die verkeerde redes te wil loof en prys. Hoekom dien ons God? Omdat Hy God is! Ons dien Hom tog nie oor al die seëninge wat Hy vir ons gee nie. As dit die rede is hoekom ons God dien, dan dien ons Hom nie werklik nie. As ons God alleen dien vir die gawes wat Hy vir ons gee dan gebruik of sal ek eerder sê misbruik ons Hom om ons eie selfsugtige begeertes te bevredig.

Wat is die bewys dat God as die gewer van alle goeie gawes vir ons kosbaar is? Lê die bewys daarvoor nie juis in ons bereidheid om al die goeie gawes weg te laat om God te kry nie. Wil ons vir God hê of wil ons eerder net die gawes hê wat van Hom af kom? Dis eers as ons God dien om die regte rede dat ons hom kan loof in goeie en slegte tye. Dan word ons belydenis in vraag en antwoord 28 van Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus ’n werklikheid in ons lewens:
Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees.  Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel.

Dit is egter so dat ons nie altyd geduldig in teëspoed is nie. Waarom sukkel ons daarmee? Dis omdat ons as gevolg van die mag van die sonde steeds sukkel om God te vertrou. Met ander woorde ons vertrou nie dat Aan sy liefde is daar geen einde nie. Op grond van God se troue verbondsliefde en sy goedertierenheid verlos Hy ons egter nog steeds van die slawekettings van die sonde. God se liefde is die rede waarom hy sy volk uit die slawerny van Egipte verlos het. Sy liefde is die rede waarom Hy ons ook uit die sondeslawerny verlos soos Hy vir ons sê in 1 Joh. 4v9-10:
9 Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10 Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
Deur Jesus Christus word ons weer met God versoen en daarom kan ons ook midde in ons swaarkry die God van die hemel loof want aan sy liefde is daar geen einde nie. Dit is waarom iemand met kanker nog steeds blymoedig kan wees. Dit is hoekom ons steeds dankbaar kan wees teenoor die Here al het ons verliese gely as gevolg van die week se nat koue.

Die Here is nie onsimpatiek teenoor ons wanneer ons swaarkry nie en daarom nooi hy ons ook uit in Mat. 11v28 uit:
Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Dit is slegs wanneer ons, ons laste na Jesus toe bring dat ons vrede sal kry, want vrede is nie ’n gebrek aan teëspoed nie, maar wel in die teenwoordigheid van God. Dit is slegs deur middel van Jesus wat ons in die teenwoordigheid van God kan kom. Geliefdes, kom ons gaan na Jesus toe en dan sal ons ook die God van die hemel kan loof want aan sy troue verbondsliefde is daar geen einde nie!
Amen

05 Junie 2011

Jesus is ons volkome en enigste Verlosser en Saligmaker

Mat. 1 v 18 – 25; teksvers Mat. 1 v 21
5 Jun. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 48 v 4(OAB)
Na Wet Ps. 91 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 84 v 3 (OAB)
Slotsang Ps. 107 v 1 (OAB)

SONDAG 11
29  Vraag:  Waarom word die Seun van God genoem:  Jesus, wat Verlosser beteken?
Antwoord:  Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a) en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).
(a) Matt 1:21;  Heb 7:25.  (b) Hand 4:12;  Joh 15:4, 5;  1 Tim 2:5;  Jes 43:11;  1 Joh 5:11.
30  Vraag:  Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?
Antwoord:  Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem (a).  Slegs een van twee dinge is immers moontlik:  of Jesus is nie 'n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met 'n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is (b).
(a) 1 Kor 1:13, 30, 31;  Gal 5:4..(b) Heb 12:2;  Jes 9:6;  Kol 1:19, 20;  2:10; 
1 Joh 1:7.

Inleiding
Ouers kies gewoonlik met baie sorg ’n naam vir hul kind uit, want ’n mens se naam is baie belangrik. Ons word gewoonlik vies as iemand ons name verkeerd spel of verkeerd uitspreek, met reg ook, want jou naam sê wie jy is. Dit identifiseer my as die unieke mens wat ek is.

God het ook baie sorg aan die dag gelê met die naam van sy Seun. Daarom het Hy spesiaal ’n engel gestuur om vir Josef presies in te lig wat hy God se Seun moes noem. (Vgl. Mat 1v21):
jy moet Hom Jesus noem

Jesus is die Griekse weergawe van die Hebreeuse naam Jesua/Josua. In die Bybel het name baie spesifieke betekenisse. So beteken byvoorbeeld die naam Jakob bedrieër. Die naam was nogal gepas want kyk net hoe het Jakob sy pa, sy broer en sy oom Laban bedrieg!

Die Hebreeuse naam Jesua/Josua in die Ou Testament beteken die Die Here is heil, redding, verlossing. In die Ou Testament was daar twee persone met die naam Jesua/Josua wat ’n besonderse rol gespeel het, naamlik Josua, die opvolger van Moses wat Israel in Kanaän ingelei het (Jos. 1 e.v.) en Josua (of Jesua), die hoëpriester, wat saam met Serubbabel die Jode uit die ballingskap in Babel na Kanaän teruggelei het (Esra 2:2; 3:2, 9; Sag.3)

Iets van die betekenis van die naam en werk van Jesus as die groot Verlosser wat sou kom, word in hulle optrede geopenbaar. Trouens, beide van hulle lei Israel uit ’n situasie van ontbering en verdrukking die land Kanaän in waar hulle rus kan vind: die eerste Josua na die omswerwinge in die woestyn; die tweede Josua na die ballingskap in Babel. Hierin is daar ’n heenwysing na Jesus wat God se uitverkore kinders uit die sonde slawerny na vryheid saam met God lei.

Wanneer die Here vir Josef deur middel van ’n engel sê wat sy Seun se Naam moet wees, verduidelik Hy ook wat dit beteken.
jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Met hierdie verduideliking van die Naam sê God baie meer as wat ons gewoonlik met ’n naam doen. Dit sê nie net alleen wie sy Seun is nie, maar dit vertel ons ook iets van die karakter van sy Seun. Verder spel die Naam, Jesus, ook sy Seun se lewensroeping uit. Met die Naam wat God aan sy Seun gee, vertel Hy ons presies wie en wat sy Seun is en vertel Hy ook daarmee vir ons wat sy Seun se doel is.

Hierdie verduideliking sluit aan by die betekenis van die Hebreeuse naam Jesua of Josua, maar dit vertel ons ook ’n bietjie meer oor die verlossing wat van die Here af kom. Jesus verlos ons van die wurggreep wat sonde op ons lewens uitoefen. Sonde is die oorsaak van al die ellende wat ons in hierdie lewe ervaar. Sonde het geweldige gevolge want die straf vir die sonde is die ewige dood.

Jesus verlos ons van hierdie doodstraf omdat Hy in ons plek met sy vervloekte kruisdood die straf gedra het en met sy opstanding het Hy die dood oorwin. Die ander Naam van God se Seun Immanuel beskryf ook vir ons sy liefdevolle karakter. Die mens kan niks doen om homself te verlos nie en daarom kom God self na ons toe in die persoon van sy Seun. Immanuel, God met ons. Daarom bely ons ook in vraag en antwoord 29 van die Heidelbergse Kategismus dat God sy Seun Jesus noem wat Verlosser beteken omdat Hy ons van al ons sondes verlos en dat net Hy dit kan doen.

Wat beteken hierdie belydenis oor die betekenis van Jesus se Naam vir ons vandag? Dit gee vir ons die antwoord op ’n probleem wat baie Christene mee sukkel. As Jesus ons van die sonde verlos, waarom sukkel ons dan nog elke dag met sonde? Maartin Luther het hierdie probleem van ons soos volg beskryf: “gelyktydig geregverdig en sondig” Daarmee het hy beskryf wat elke Christen mee worstel. Ons is alreeds verlos van die straf van die sonde, maar ons het Jesus ook daagliks nodig om ons van die mag van die sonde te verlos.

Dit is hierde tweede deel oor die verlossing van die mag van die sonde wat ons so dikwels vergeet en daarom sukkel ons met sonde in ons lewens wat steeds ’n houvas oor ons het. Dit is hoekom Christene so sukkel met sondes soos byvoorbeeld onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap. Die oplossing vir hierdie probleem van ons is nie om maar net nog harder te probeer nie. Dit is soos om vir die atleet wat van inspanning flou geword het te sê: “toe, toe, probeer net nog so bietjie harder!” Dit is dikwels wat ons probeer doen. Ek het alweer kwaad geword. Ek sal maar net nog harder moet probeer om my humeur in toom te hou.

Dit is egter nie die antwoord nie! Dit help nie as ons in eie krag harder probeer nie. Dan is ons inderdaad besig om ons saligheid by onself te soek en daarmee verloën ons, ons enigste Verlosser Jesus. Die antwoord lê nie daarin dat ons harder moet probeer nie, maar wel daarin dat ons die evangelie, dit wil sê die goeie nuus oor wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het beter moet verstaan en dan vanuit die krag wat die Heilige Gees in ons lewens uitoefen te lewe. Jesus het gekom om ons van ons sondes te verlos, dit wil sê van die straf van die sonde die ewige dood, maar ook die mag van die sonde. Al wat ons moet doen is om hierdie verlossingswerk van Jesus met geloof vas te gryp.

Hoe doen ons dit prakties? In Gal. 5v16 sê die Here vir ons:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.
In hierdie daaglikse stryd wat ons nog steeds teen die sonde voer sal ons slegs oorwin as ons, ons deur die Heilige Gees laat beheers. Hoe doen ons dit? Ons moet elke dag bid dat die Heilige Gees beheer oor ons lewens oorneem, want die Here gee vir ons die belofte in Luk. 11v13:
As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.
Jesus verlos ons van die skuld van die sonde, dit wil sê Hy verlos ons van die ewige dood. Hy verlos ons egter ook van die mag van die sonde, dit wil sê daardie houvas wat die sonde nog steeds oor ons het. Jesus verlos ons volkome van die sonde en deur die Heilige Gees kry ons deel daaraan. Ons daaglikse stryd teen die mag van die sonde is nie ’n hopelose stryd nie. Bid daarom daagliks tot die Here sodat Jesus se verlossing ook ten opsigte van die mag van die sonde ’n werklikheid in jou lewe word, dan sal ons deur sy krag ook die totale verlossing van sonde kan geniet want Jesus is ons volkome en enigste Verlosser en Saligmaker.
Amen